HALF NARE NAG IN WILDTUIN

Hendrik (links) en Chris by hul gedwonge oonagskuiling.

Hendrik (links) en Chris by hul gedwonge oonagskuiling.

‘n  Sabieparkse buurman, dr. Hendrik van Tonder, vertel op die Sabiepark-webwerf van die “half nare” Wildtuinervaring nadat sy voertuig se battery hom in die steek gelaat het. Hy en sy broer, Chris, ń Australiese burger, sal hul nag van ontbering naby die Mopani-ruskamp nie lig vergeet nie.

In Mopani het hulle  in ń hut gebly met ń pragtige uitsig oor die Pioniersdam. Na ‘n lekker ontbyt van spek en eiers vat hulle die Dipenipad al langs die oostelike grens, rigting Shingwedzi. Hulle vat niks ander in Hendrik se Prado saam nie en as net verkykers,  kameras, hul selfone en 500ml  water elk.

Die pad was doodstil wat ander motors betref, maar hulle  het heelwat wild gesien, veral groot olifanttroppe, ook  alleenloperbulleen hul askari’s.

Sowat 48km van Mopani is die Nyawutsi-voëlskuiling. Hulle het so 15 minute daar vertoef. Hendrik draai die sleutel om verder te ry, en … niks. Die battery was morsdood. Hoe maak ń narkotiseur en ń veearts om uit díe penarie te ontsnap?

Dit was warm, sommer baie warm, hul waterbotteltjies onder die halfpadmerk, geen selfoonontvangs, 300 meter van die Dipenigrondpad, en ergste van alles: op die laaste sowat 20 km het hulle geen ander voertuig teengekom nie. Dit was n Maandagmiddag,buite skoolvakansie in die noorde van die Park en gou het hulle besef hulle slaap moontlik die nag net daar.

Hulle  het die Prado gestoot tot teenaan die ingang van die skuiling en toe voorraad opgeneem: sowat 500 ml water tussen die twee,  ń pakkie XXX-pepermente, twee selfone met flitsies, kameras en verkykers. Verder net twee moedelose middeljarige mans sonder hul pille en brille. Teen 18h00 was dit donker en die muskiete bedrywig daar langs die water. Hulle  het maar in die kar gaan sit. Die ruite was gelukkig oop  want dit was stomend warm en hulle was baie,baie dors.

Hulle het die nag deurgebring in die voorste sitplekke en het oor baie dinge gesels (hulle sien mekaar maar sowat elke vyf jaar). Olifante was deur die nag om die watergat maar hulle kon nie hul hande voor hul oë sien in die nagdonkerte nie en die selfoonliggies was te lig in die broek.

Dit was ń eindelose,dorstige en warm nag en later het jy nie eens die muskiete probeer wegklap nie., vertel Hendrik.

Om 05h00 het ń reënbui uitgesak. Aangesien die ruite oop  was, het hulle bietjie nat geword. Hulle kon egter geen water opvang onder die twee groot appelblaarbome waaronder die motor gestaan het nie. Dit was toe dat Chris vra of sy broer seep by die ruitwasser se water gooi. Hulle kon van die water uittap en dit was skynbaar sonder enige byvoegsel gewees – toe drink hulle  water!

Die twee was toe meer positief oor die penarie, en het maar in die skuiling gaan sit en na die voëls en bome gekyk. Chris wou teen die tyd ń vuur maak en rookseine die lug instuur, maar ouens wat nie rook nie het dikwels nie vuurhoutjies by hulle nie en die Prado se sigaretaansteker benodig ń motorbattery wat krag lewer.

Toe kom Mark en sy vriend daar verby – twee manne in hul twintigerjare wat in Shingwedzi gekampeer het en op pad was na Satara. Hulle het die pap battery vervang met hul dieselbakkie s’n (nooit geweet ‘n dieselmotor kan ry sonder sy battery nie!) en Hendrik en Chris is vort Mopani toe vir water, kos en ń stortbad …. 22 ure nadat hulle by Nyawutsi gestop het. Mark het als weer reggepak in sy bakkie en sou hulle volg.

Drie ure later was die twee Samaritane nog nie in Mopani nie. Hendrik is na die Veldwagter toe en hulle is met twee voertuie uit om hulle te soek. Die soektog het niks opgelewer nie. Die die soekgeselskap is terug kamp toe.Daar staan hul bakkie toe! Die bakkie het gaan staan kort na Hendrik en Chris hulle verlaat het. Daar sit hulle toe met die dooie battery. Gelukkig was hulle reg vir kampeer en het begin kosmaak in die stofpad totdat ń weldoener hulle na Mopani kon sleep.

Mark en sy vriend is toe teerpadlangs na Satara nadat die vriendelike ouens by Mopani gereël het met Satara dat hulle laat by die kamp sou aankom.

Die twee Van Tonderbroers het die res van die dag geslaap en net ‘n broodjie vir aandete gehad. Die gebraaide tjops is terug  yskas toe; hulle was te moeg om te eet. Die volgende oggend het ń vriendelike man van Mopani se werkwinkel ‘n vragmotor en n paar reusekabels gebring om die Prado aan die gang te kry.

Hullr het ń nuwe battery op Phalaborwa gekoop en is sonder voorval terug Pretoria toe.

 

 

 

GRATIS ADVIES VIR DIE LAAN

Môre uit Melkbos

Weet nie waarom wroeg die Hillside Times se mense so in 7de Laan nie. Die hantering van sy penarie is tog vanselfsprekend: `n hoofberig op die voorblad waarin die omvang van die misleiding, bedrog en kwaadwilligheid van die hele aanslag op hom volledig oopgevlek word, ‘n aankondiging dat hy `n klag by die Polisie indien en onmiddellik `n onafhanklike ondersoek gelas na die hele nare spul, plus `n onvoorwaardelike apologie aan almal wat kon skade gely het weens die berekende onderduimsheid van die slinkse bedrieërs.

Hierdie advies kom kosteloos – hvd is een van daardie merkwaardige spesie: `n konsultant wat verniet werk.

Weet ook nie hoekom waag draaiboekskrywers hulle aan koerantsituasies sonder om koerantekundigheid in te roep nie. Hulle laat hulleself net onbeholpe en simpel lyk.

Vir laasgenoemde sal my advies egter geld kos as hulle op Melkbos sou kom raad vra! (hvd)

VOeLS EN HUL VERE

More uit Melkbos

Die skielike ontdekking dat iets aan kou klere skort, kan ontsenuend wees. ‘n Prysetiket het dalk weens ‘n oorsig op ‘n strategiese plek bly sit. Nou word aan almal uitgeblaker teen watter afgekibbelde prys jou klerekas by die Oosterse basaar vernuwe is.

Kollega Sarel Venter van Bloemfontein onthou ‘n insident toe Mike de Vries in so ‘n klerepenarie was, na aanleiding van my herinneringe aan ‘n heuglike Oostenrykse reis in my vorige blog.

In 1976, sy parlementjaar, was Sarel en Liesbeth een aand in Stellenbosch se stadsaal vir ‘n opvoering van Ipi Tombi. Hulle had komplimentêre kaartjies, verskaf deur ‘n buurman in Uniepark (Stellenbosch), prof. Roux de Villiers, destyds vise-rektor van Maties.

So sit hulle toe langs die rektorspaar, Mike De Vries en Renéé, ‘n dogter van die Pers se voormalige grootbaas Phil Weber.

Sarel vertel:

“Liesbeth sit toe regs van Mike, en in die skemerlig sien ek, as ek links kyk, kort-kort iets wit beweeg anderkant mý gade. Toe ek mooi kyk sien ek dit is ‘n prysetiket aan Mike se (nuwe) aandpak se linkermou, net bokant die hand.

“Toe ontdek Mike dit ook en begin dit diskreet lostorring. Hoogs geamuseer was ons aandag ‘n hele ruk lank nie juis by wat op die verhoog aangaan nie.

“Jare later, by ‘n dinee in Bloemfontein, dalk was dit met ‘n Volksblad-viering, sit ons toe saam met die De Vriese aan tafel. Hoe het ek nie gebrand om vir hom te vertel van daardie aand in Stellenbosch nie!”

Soos ek die gemoedelike Mike geken het, kon jy gerus maar vertel het, Sarel.

Soms kom ‘n element van moedswilligheid in so ‘n scenario na vore. Een van ons Melkbosse leraars, Francois Hanekom, kom op huisbesoek agter die lidmate betrag hom vraend. Riana het stilletjies agter op sy baadjie ‘n etiket geplak wat van ‘n nuwe kombuispot kom: “slow cooker”.

Herinner my aan een van Rykie van Reenen se stories wat telkens in nuwe gedaante afgestof word vir ‘n nuwe generasie. Dis van die oubasie wat in oorlogstyd op Durban se strand kerjakker met ‘n baaipakkie uit ou meelsakkies vervaardig. Voorlangs, op ‘n ongemaklike plek, word verkondig: “self raising”. (Agter was ook ‘n dubbelsinnige mededeling – kan om die dood nie onthou wat nie.)

Van ‘n dame is nie so lank gelede nie op die nimlike Durbanse strand ‘n vreemde foto geneem en wyd op die internet versprei. Haar baaipak was agterstevoor. Die rug was nogal laag gesny. Twee wippende dubbel D’s ontbloot in die branders!

Gé Korsten het my vertel van ‘n verleentheid op die Aula se verhoog in Pretoria. Hy en Mimi Coertze was in ‘n hartstogtelike toneel in ‘n opera. Hy kom agter onse Mimi loer-loer so suidwaarts van sy naeltjie en maak sulke betekenisvolle kopknikkies. Toe hy afyk, sien hy net die wit pant van sy hemp soos ‘n vlag by sy oop rits uitsteek.

Hy het eenvoudig rug gegee en die rits opgepluk – tot groot vermaak van die gehoor. Geen regisseur kon Verdi se sonore musiek met so ‘n spontane plesiertjie afwissel nie! (HvD)