SOLDOEDIES SE OPERASIE OLIFANT

In my verbeelding sien ek ‘n peloton Joodse soldoedies doelgerig van ‘n gepantserde David-voertuig  spring om ‘n Arabierse vesting in die Gasastrook stormenderhand in te neem.

In werklikheid was dit nie dienspligtiges nie, maar ‘n spannetjie jong Israelse toeriste – mooi meisiekinders in ontspanningsdrag.  Die voertuig is nie vir militêre doeleindes ontwerp en gebou nie, maar is ‘n donkergroen Toyota wat as  ‘n safarivoertuig dien met ‘n wildtuinerige logo op die kajuit se deure.

Die vesting is toe ‘n groot olifant by die Krugerhek  – donker en dreigend in die sterk skemer skuins na 06:OO toe mense en voertuie vir die oggend se wildbesigtiging begin opdam.

Ek sit in die Honda en wag. Tokkie staan in die tou om vir ons ons Wildkaart-permitte te registreer.

“Elephant,” kreet ‘n aantreklike swartkop in ‘n wit bloes en donkerblou jeans skielik. Met ‘n akrobatiese sprong is sy van die agterbank op die Toyota se bak op die grond en agterom die Honda. Toe haar selfoon flits, bemerk ek die olifant onheilspellend naby.

Dis of haar maters ‘n opdrag van ‘n streng sersant-majoor gekry het. Almal tuimel van die Toyota af en woerts voor en agter verby my kar die bos in.  Flits, flits, flits.

Sal ek op die vlug slaan, wonder ek, want as die ou kwaad raak en storm is die Honda klaarblyklik op die onveiligste plek buite daardie hek op daardie oomblik.

Die volgende oomblik raak hy kwaad. Hy trompetter luid en swaai die ore.  Jy sien net meisiekinders retireer.  Ek klou net djie stuurwiel al hoe stewiger vas.

Gelukkig is die vinnige aftog van die meisies vir Oom Oli genoeg van ‘n ego-stimulant vir die dag.  Hy storm nie regtig nie.

Vinnig is almal terug op hul plekke op die groen Toyota.  Die olifant gaan rustig voort met sy aktiwiteit en Tokkie kom uit die kantoor met ons papiere in die hand, onbewus van die insidentjie waarby haar onskuldige man amper doodonskukdig betrek is.

Agterna wonder ek of die meisies se gedrag as dapper of dom beskryf moet word. Eintlik twyfel ek nie. Ek wonder ook of geen veiligheidswag die gevaarlike foto-avontuurtjie raakgesien het en kon ingryp nie. Dit is dalk my grootste besorgdheid.

 

DRIE GROTES

Middag uit Melkbos

Sommer ‘n lawwigheidjie n.a.v. nou die dag se foto van Tokkie by die walvis.

Ek herinner haar toe daaraan dat sy ook al saam met ‘n olifant afgeneem is in ‘n foto wat nogal taamlike opspraak onder vriende veroorsaak het. (Was o.m. op die buiteblad van my 60-boek, Halfpad Hemel Toe.)

En saam met my.

Saam met drie grotes dus.

Hier is ‘n kompilasie in dier voege.

Ek sou ook nog vir Tokkie by ‘n leeu (darem verdoof) en ‘n kameelperd kon byvoeg. Dan het ons ‘n splinternuwe Vyf Grotes of Groot Vyf, soos die meeste mense verkies om die olifant, leeu, buffel, renoster en luiperd te beskryf.

Terloops: daardie walvis had yslike swart en wit kolle. My beskrywing daarvan as ‘n orca word egter wyd bevraagteken. Was Die Burger dalk in die kol met sy “suidelike noorkapper”?

Weet iemand?

(Naskrif: Sien iewers ‘n suidelike noorkapper kan so groot raak soos 10 olifante. Sjoe!)

(HvD)