ONTHOU TOG, LIEWE MENSE, DIS ‘N NUWE JAAR!

In my jare as nuusredakteur in die 60’s en 70’s was een van die eerste inskrywings in die dik dagboek op my lessenaar elke jaar: Herinner oor tjeks. ‘n Roetineberig was om mense daaraan te herinner dat die jaartal aangeskuif het.
Vergeet jy dit op jou tjek, het jy vir jouself ‘n bose boel sonde gesoek. So ‘n tjek is summier afgekeur. Dit was nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.
Tjeks bestaan natuurlik lankal nie meer nie. Maar wie van die ouer garde het nie ‘n keer of wat – dalk meer keer – die sware ontnugtering beleef van ‘n tjek wat geweier word nie? “VNT” is daarop geskryf: “Verwys na trekker”. Ons het sommer gepraat van ‘n tjek wat gehop het.
En nie almal wat vir hul geld gewag het, was ewe geduldig met jou ekskuse en verduidelikings oor nou “ligte mistykie”nie.
Die keer toe ek dit self oorgekom het, onthou ek met ‘n brandpyn in my buikholte. Dit was jare na my nuusredakteurskap. Trouens, ek was al afgetree. Ludie de Jongh van Melkbos het aan my huis bouwerk verrig en is weekliks per tjek vir sy dienste vergoed.
Toe kom hy – in Januarie 1999, as ek reg onthou – een oggend skoorvoetend hier aan met die slegte nuus. Absa weier my tjek.
Ek was woedend. Wat my nog ‘n paar kerwe kwater gemaak het, is dat kollega Piet Theron van Die Volksblad en sy vrou, Petro, op besoek was. Hulle kon nie juis anders as om agter te kom hoe die wind waai nie. Bittere verleentheid!
My rekening was by die Heerengracht-tak in die stad. Die bestuurder was die bedaarde Jurie Blom. Ek skree bra onbeskof in sy oor dat ek dadelik my rekening sluit. Absa sien my nie weer nie.
Later dring dit deur die arme Jurie en sy tak is onskuldig. Tjeks word sentraal hanteer deur mense vir wie jy net ‘n rekeningnommer is, nie ‘n gesig nie.
Nog later word die rede vir die weiering bepaal. Die uwe het vergeet om die jaartal met die jaarwisseling aan te pas. Sy tjek is dus reeds ‘n jaar oud.
Jammer, Ludie. Jammer, Jurie. Jammer, Piet en Petro, dat ek my so sleg gedra het.
Jare later loop ek en Jurie mekaar op die dek van ‘n vakansieskip raak. Hy stel my aan mev. Blom voor en verneem na my gesondheid. Toe, met ‘n skewe glimlaggie: “Is mnr. Van Deventer nog so kwaai?”

BY DIE “SAKTYD” VAN 2023

Terwyl 2023 in sy pylvak met versnelde pas na sy “saktyd” marsjeer (strompel?), diep ek weer ‘n  deerniswekkende vooraand-foto op van my oud-hoofredakteur by die dagblad Beeld, Schalk Pienaar. Oor enkele ure sou die eerste uitgawe van die rolpers kom.

Toe al in ‘n stryd teen kanker, dwaal Pienaar in afwagting op die vars koerant alleen deur ‘n verslaggewerskantoor waarin die tikmasjiene vir die nag stil geword het.

Dat die hoofredakteur diep in sy eie gedagtes versonke was, is aan sy lyftaal tasbaar. Verskeie vrae oor die nuweling moet immers in sy gemoed gemaal het. Die oorheersende: sou die toekoms vir sy koerant voorspoed inhou of mislukking?

Die simboliek van die foto by die jaarwisseling is treffend. So wag Suid-Afrika mos nou ook op die saktyd van die ou jaar en die verskyning van ‘n nuwe. Vrae oor wat in 2024 vir sy mense en vir die land wag, is in die media aan die orde.

Kom groter voorspoed – dalk ‘n nuwe daeraad – of wag maar weer mislukking en verdere agteruitgang? Eers as die nuwe jaar “op straat kom”, om ‘n koerant-idioom te gebruik, sal ons stadigaan die antwoorde begin kry.

Intussen dobber ons maar so hoop tussen hoop van sommige en die vertwyfeling van ander. Niemand weet werklik nie.

* Terloops, Beeld vier op 16 September 2024 sy 50ste verjaardag. Sy pad het hy oopgekap tot die enigste Afrikaanse dagblad in die noorde. Die Transvaler is weg, Die Vaderland is weg – so ook Hoofstad en Oggendblad in Pretoria. Maar die stryd was lank en moeisaam. En dis ver van volstry. In die digtale era het nuwe uitdagings gekom, nuwe eise, nuwe aanpassings en nuwe probleme.

Mag 2024 ons almal aangenaam verras

RESEP VIR HOOP

More uit Melkbos

Die eerste maand van die jaar 2012 het pas verby sy halfpadmerk gehuppel. Wonder hoeveel nuwe sogenaamde “Nuwejaarsvoornemens” (of uitgestelde spertye vir ou voornemens), hetsy formeel of speel-speel, het teen hierdie tyd al gesneuwel. Die ongeluk is dat sulke voornemens hoofsaaklik rigiede dissiplines vereis. En die vlees is, helaas, min kere opgewasse vir die wense van die gees.

Self geen uitblinker met die afdwing van eie dissiplines nie – het ek in die 80’s nie omtrent 13 keer opgehou rook nie! – hou ek gewoonlik maar verby as mense hul programme vir ‘n nuwe jaar uiteensit. Makliker om in ou spore te bly stap!

Met een vaste (Nuwejaars-)voorneme het ek egter op 1 Januarie uit die kerkie op Skukuza gekom. Dit is om voortaan positiewer te probeer dink en doen in hierdie dierbare land van ons waarin so baie dinge die laaste twee dekades so ingrypend op hul kop omgekeer is.

Ds Gerrie Doyer van Witrivier het daardie oggend vir ‘n handjie vol kerkgangers uit Jeremia 29:11 ‘n inspirerende boodskap gebring. Ek wil dit sommer ook die credo probeer maak vir my eie nuwe lewensjaar – nommer 72 – wat op 3 Januarie begin het. Dit verg só min. ‘n Mens moet eintlik maar net die Here op sy woord vat.

Jeremia 29:11 behels ‘n aangrypende belofte aan ‘n verskeurde volk nadat hulle onder dwingelandy van Nebukadneser na die vreemde land Babel toe weggevoer is. “Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.” (Nuwe vertaling, 1983).

In “Die Boodskap” (die Bybel in hedendaagse Afrikaans) wat ek graag raadpleeg vir bevatlike formuleringe klee Jan van der Watt en Stephan Joubert daardie aangrypende boodskap in die volgende woorde: “Ek beplan dat goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.”

Hoop vir die toekoms! Ai, ons mense is darem so dikwels platgeslaan, só reddeloos terneergedruk oor wat die dag van more kan inhou. Die Here sê egter: “Ek gaan uitkoms bring, sê nie wanneer nie.”

Trouens, in die brief van Jeremia uit Jerusalem aan allerlei groot geeste word nie net vaagweg getroos en bemoedig dat beter dae eendag weer gaan aanbreek nie. ‘n Vaste resep word ook gegee vir ‘n konstruktiewe, vrugbare voluit-lewe in die nuwe omstandighede waarin ander die septer soms hard en genadeloos oor jou swaai.

“Bou vir julle huis en bewoon dit,” laat weet die Here vir hulle, “lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring.” Ook: “Bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.”

“Die Boodskap” se vertaling lui: “Bou vir julle huise in Babel om in te bly. Maak vir julle tuine en eet die kos wat uit die tuine kom. Julle moet ook trou en kinders hê. Sorg ook dat julle kinders maats kry om mee te trou. Doen ook julle deel dat daar vrede en voorspoed in Babel sal wees. Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad …… As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.”

In hierdie groot woorde, versteek in ‘n soms vergete deel van die Ou Testament is inderdaad vir ons tyd ‘n betekenis en relevansie soos min opgesluit.

Enersyds: Skud die stof van moedverloor se vlakte nou van julle af!

Andersyds: Steek die hand uit die mou! Slaan die hand aan die ploeg! Arbei en bou! Help skep ‘n beter Suid-Afrika! Help skep só jul eie toekoms!

Wens ek kon met klinkende simbale ds. Gerrie Doyer se oproep tot in verre uithoeke help versprei, tot by almal van wie die hoop wankel. Hoop veral ook dat ekself nie more, oormore al weer gaan vergeet wat Jeremia 29:11 so glashelder uitspel nie.

“Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.” Kom ons glo dit, dink dit, doen dit dit in die jaar 2012. ‘n Ander pad na ‘n eie Kanaän bestaan nie. (HvD)