STRYD VAN DIE LANGNEKKE

In die middel van Sabiepark se “hoofstraat”, Maroelalaan, takel twee kameelperdbulle vanoggend mekaar. Hulle begin mekaar so liggies stamp-stamp. Daarna stoot hulle mekaar met die boude.
Die lang bene trap-trap asof hulle ingewikkelde danspassies uitvoer. Die volgende oomblik klap die nekke.
Of dit dalk net ‘n speelgeveg was — “necking” noem die Engelse dit ewe pikant — of ‘n lang, stadige baklei-wals weens ‘n liefdesdriehoek, weet ek nie. Dat speelgevegte algemeen onder jong bulle voorkom, is egter ‘n feit. Volbloed-gevegte, daarenteen, is heelwat skaarser. Die hiërargie is gewoonlik reeds in “vriendelike gevegte” uitgesorteer voordat ‘n jong bul ‘n ernstige uitdager van die gesagsorde kan word.
Werklike konflik kom wel van tyd tot tyd voor. ‘n Geveg verloop plus-minus so: Eers gee die een sy teenstander ‘n harde veeg. ‘n Sekonde lank gebeur niks. Dan kry nommer twee ‘n beurt om te reageer. Ewe ridderlik. Asof hulle afgespreek het om so een-vir-jou, een-vir-my te baklei. Van enige defensiewe aksie word geen teken gesien nie. Alles gebeur in spookagtige stilte.
Vir my het dit nie gelyk of daardie twee bulle, in geykte rugbyterme, mekaar vanoggend net “groet” nie. Die stryd was te lank en te intens. Te geweldige houe is met die koppe en nekke gewissel. Al om die beurt is gestamp en gestoot totdat ek later moeg geword het van kyk. Maar hul stamina is bewonderenswaardig. Die bakleiers hou eenvoudig net aan en aan.
‘n Ernstige geveg kan groot skade veroorsaak. Daardie dun nekkies het geweldige krag. Kameelperde slaan mekaar soms bewusteloos. Of dood. ‘n Noodlottige geveg is wel seldsaam, maar dit kan gebeur dat ‘n nekwerwel versplinter met onvermydelike gevolge. Gelukkig is darem nie een terwyl ek in die Honda sit en kyk vir die volle telling planke toe gestuur nie.