CONFETTI WAAI EN LINT WORD VODDE

Vriendelike taksering van “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” in ‘n gewaardeerde lesersindruk van kollega Sarel Venter op litnet:

Die Rubicon na moderne inligtingstegnologie is deeglik oorgesteek die dag toe Hennie van Deventer (uiteindelik!) sy tikmasjien vir ’n rekenaar (destyds ’n woordverwerker genoem) verruil het.

Vir hom as redakteur van Die Volksblad (toe nog met die Die) het sy sekretaresse al sy skryfwerk (kommentare, artikels en briewe) op haar rekenaar oorgetik in die redaksionele stelsel.

Hoeveel sy vlytige vingers in sy koerantloopbaan geproduseer het, sal niemand weet nie. Van hom is gesê dat hy ’n tikmasjien geslaan het dat die confetti waai en die linte vodde word.

…..
Van hom is gesê dat hy ’n tikmasjien geslaan het dat die confetti waai en die linte vodde word.
…..

Ná sy aftrede as koerantehoof van Naspers het sy groot aanslag op die geskrewe woord met mening toegeneem en sowat 23 boeke, talryke blogs, artikels, koerantbriewe en Facebook-inskrywings het hul verskyning gemaak.

Dit maak Van Deventer ’n besonder gedokumenteerde skrywer ná sy sewe boeke met ’n binneblik op die koerantwêreld, asook outobiografiese werke, huldeblyke, grafskrifte, reisbeskrywings oor verskeie seereise en soms suiwer prosa oor die lewe van diere en mense in Sabiepark, hul boshuis daar digby die Krugerwildtuin.

En selfs ’n boek oor troeteldiere!

Hy het sy boek Koerantkamerade (Naledi, 2021) sy laaste boek genoem. Maar soos Ton Vosloo dit in die voorwoord van Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord dit stel: “Van Deventer is ’n gelaaide arsenaal en ’n vulkaan wat bly prut en af en toe, en onverwags, slaan hy weer toe.”

Soos inderdaad met hierdie Mooi nooi-boek wat ’n joernaal van scoops en skandes in die koerantwêreld is.

In sy voorwoord haal Van Deventer twee gesoute Afrikaanse digters aan oor die resep vir sukses van ’n geslaagde koerant.

Uit DJ Opperman se Joernaal van Jorik:

Gee ontspanning, hou die massas dop;
Gee elke dag ’n mooi nooi en ’n moord,
En stoot die sirkulasiesyfers op.

En uit digter Pirow Bekker (oud-hoofsubredakteur van Die Volksblad) se Peins oor die plakkaat:

Dit bly een maal onfeilbaar: vrees,
Dit laat die mens koerante lees.

“Die vraag is,” skryf Van Deventer, “wat gee ’n koerant skop?” Meisies en moorde, of om elke dag die lesers vol vrees te pomp?

Koerantlesers of diegene wat self Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord aanskaf en lees, kan self oordeel en besluit. Kyk maar na die opskrifte van ’n klompie van die essays (waarvan baie voorbladberigte was):

  • “Hartstog, jaloesie… en ’n skêr (ja, die skêrmoord!)”
  • “Beelde met boesems”
  • “Man in die modder of man op die maan”
  • “Kaalbas-redakteurs”
  • “Sannie het gaan water haal”
  • “Raaisel van die Rietbok”
  • “Onder haar naeltjie”
  • “As die aarde skeur”
  • “Toe’s die ganse land op hol”
  • “Slae vir Charlize”
  • “PW se dogters”

Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord voer die leser langs ver paaie van herinneringe oor polemieke, petaljes, rusies en romanses, herries en hofsake.

Dit is regtig ’n lekker en lesenswaardige boek hierdie. Of dit Van Deventer se laaste boek is, sal ons maar moet sien.

DIE BURGER, MANDELA EN DIE WIT DUIF

‘n Wit duif styg sierlik op. Op die oog af ‘n treffende nommerpas-voorbladfoto vir ‘n historiese dag:  die inhuldiging van Nelson Rohlihahla Mandela  as Suid-Afrika se eerste swart president. Iets skort egter met die foto op ie Burger se voorblad.

Drie raaiskote.  As jy raai, dit het met Mandela te doen, is jy koud.  As jy raai, die fout lê by die duif, raak jy lou. Raai jy dit het te make met die posisie van die duif. Is jy warm op die spoor. Op die oorspronklike foto – ‘n scoop vir Burger-fotograaf Henk Blom – was die duif naamlik al ‘n entjie verder weg.

Die hoofsubredakteur besluit toe om  die foto te “dokter”.  Wat maak ‘n meter tog saak, het sy geredeneer. Maar sy het haar misgis.  Oor daardie meter het ‘n joernalistieke storm losgebars wat internasionaal weerklank gevind het.

In “Elke dag ‘n mooi nooi en n moord”’is ‘n afdeling oor fotograwe en fotografie. Die titel is In Fokus.  Ook die storie van die duiwemoles – een van twee waarin ’n Suid-Afrikaanse staatshoof betrokke was – word vertel.

Die boek is by boekwinkels wat hul sout werd is. ‘n Maklike manier om hom te koop: besoek eenvoudig net die uitgewery Naledi se webblad by naledi.co.za en druk ‘n knoppie of twee. Andersins: bel Tertia Swart by 078 648 8616 of stuur ‘n e-pos na tertia@naledi.co.za. Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos die boek net R260 by jou voordeur afgelewer.

*********

litnet publiseer elke week ‘n digitale Nuusbrief. ‘n Verduideliking is seker onnodig hoekom Nuusbrief 953 van 9 Junie 2023 hierdie ou se gunsteling-litnet-Nuusbrief van alle tye is.

HEEL LINKS: TANNIE MET DIE ROOI ROK

“Haai jy, tannie met die rooi rok, staan ‘n bietjie diekant toe.” Die “tannie” het gedwee gehoorsaam.

‘n Sosiale foto by ‘n Kaapse tedoe.

‘n Sosiale foto moes by die een of ander tedoe in die Bloemfonteinse stadsaal geneem word en die jong koerantfotograaf, ene Mordegai, het ongeduldig begin raak met die uitgelese spannetjie wat verseg om koppe bymekaar te staan, soos die resep vir sulke foto’s was.

Die “tannie” was nie sommer ‘n tannie nie. Sy was niemand minder nie as mev. Lettie Fouché, Suid-Afrika se presidentsvrou.  Gelukkig was sy nie kop in die wolke soos party ëerste vroue” wat n  haar gekom het nie; eintlik ’n liewe, plat-op-die-aarde-mens nes haar man, Jim.

Dit was die era van sosiale foto’s in koerante, ‘n tydperk van minstens drie dekades: so plus-minus die 50’s, 60’s en 70’s. Na elke ontbyt, tee, noenmaal, skemerkelkie, dinee, dansparty en anderlike opskop het uitnodigings op die nuusredakteur gereën. Elke geleentheid is stiptelik in die dagboek by die gegewe datum aangeteken, ook plek en tyd.

Elke dag, veral elke aand, was ‘n verslaggewer en fotograaf, gewapen met ‘n lys opdragte, van een okkasie na ‘n ander.  Die verslaggewer moes die fotokandidate uitsoek en hul name noukeurig neerpen. Die fotograaf het gesorg vir die choreografie en die druk van die knoppie.

Vir hul moeite was daar die beloning van ‘n paar eetgoedjies en ‘n glasie wyn of twee. Veral laasgenoemde was nogal vir party ‘n trekpleister. Vir diegene was die sosiale ronde minder van sleurwerk as vir ander.

Uitdagings was legio. Een was ‘n gebrek aan dissipline en  samewerking by vername gaste.  ‘n Ander was dat sekeres verskyning op ‘n sosiale foto in die koerant as ‘n statussimbool beskou en die kuns bemeester het om in elke liewe foto op te duik.

Een so ‘n Bloemfonteiner was prof. Benedictus Kok van die Vrystaatse Universiteit. Later is opdrag gegee: laat hom op die punt staan. Maklik om hom dan af te sny.  Maar Benedictus was nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie.  Gou het hy die strategie agtergekom.  Daarna sou jy hom nie met stok en swaard sover kry om ‘n afsnybare posisie in te neem nie.

Altyd was daar ook die teleurgesteldes wat met sterre in hul oë nadergestaan en dan oor die hoof gesien is.  Die sterre het plek gemaak vir ‘n verwytende blik. Vir die agtergeblewenes het ‘n mens soms jammer gekry, veral as dit oor en oor gebeur.

Nog ‘n uitdaging was rokke wat deurskyn. Hoe beduie jy vir ‘n belangrike vrou dat die omvang van haar borsmaat ‘n komplikasie gaan meebring as die flits afgaan?

Vir die verslaggewer was die uitdaging om die name reg te kry wanneer die uitgesoektes ná die druk van die knoppie soos klokslag uitmekaarspat.  Onthou daar is Smiths en Smitte, Marais’s en Marees, Lombaards en Lombards. ‘n Kollega, Rina Koen, se beleid was om doodseker te maak. As een sê sy is Anna, wou Rina weet: Anna met twee n’e of Ana met een n.

Die era van die sosiale foto was ook die era van die tamaaie koerant. Mededingers om die advertensiepot was daar nog nie juis nie.  Koerante van 64 bladsye was veral op Donderdae by Die Volksblad algemeen.  Vir die bladsye en bladsye wat reeds die vorige dag opgemaak moes word, is die mandjie met sosiale foto’s  van die week nader getrek.  Dan is gemeet en gepas, gesny en weggesmyt.

Soms moes uitnodigings onvermydelik geweier word. Te veel geleenthede op een dag was ‘n rede. Daar was ook ander, soos die geringe potensiaal van mense wat ‘n foto sal versier by sekere byeenkomste, om dit sag te stel.  Dit kon nogal grimmige reaksies ontlok.  ‘n Amperse buurman het ‘n keer weke nie met my gepraat nie omdat ‘n uitnodiging in laasgenoemde kategorie beleefd van die hand gewys is.  Bande is later herstel nadat hy weer die koerant nodig gekry en sy trots in die sak gesteek het.

‘n Interessante gevolg van die kultuur van sosiale foto’s was die spesiale band wat tussen sekere hoogeerwaardes en fotograwe ontstaan het. Wedersydse welwillendheid is so opgebou. Tussen die imposante Oom Sand du Plessis, Administrateur – hy met die ruie wenkbroue – en Lappies Labuschagne, hooffotograaf, was so ‘n spesiale verhouding.

Ek was een aand by met die opening van die Brandwagkamp in Golden Gate toe Oom Sand vir Lappies ná die fotonemery vra: “Wat sal jy drink, Lappies?” Lappies vra toe vir ‘n brandewyn en Coke.  Net daar stap die Administrateur kroeg toe, wag sy beurt af  en kom terug met ‘n dubbel Oude Meester.

Goeie tye.

 

(In “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” is ‘n afdeling oor persfotograwe en hul foto’s. Die boek is nou uit.  Bestel dit regstreeks by Tertia Swart – 078 648 8616 / tertia@naledi.co.za of naledi.co.za (Naledi se webtuiste). Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos die boek net R260 (by jou voordeur afgelewer.)