Jan 8, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
’n Bedeesde. konserwatiewe redaksielid van Die Volksblad het leseresse verbaas en geskok met haar advies vir ’n ontwerpwedstryd vir trourokke: “hou by die A-lyn; vermy regaf lyne – dit laat die arme bruid soos ’n boks lyk!”
Sy het nie die woord “boks” nie, maar die suiwerder Afrikaanse ekwivalent gebruik. Boonop het sy nagelaat om die aard van die voorwerp duidelik te maak, bv. deur die woord “karton” daaraan te koppel.
‘n Groentjie was al lewende wese in Beeld se nuuskantoor toe ‘n bom in die middaguur in Johannesburg ontplof. Die nuusredakteur had geen keuse nie. Hy moes haar opkommandeer. Sy is in aller yl na die toneel. Ná ‘n rukkie bel sy uitasem: “Meneer, ek kan nie naby kom nie. Die polisie het ‘n kondoom om die hele blok gespan.”
‘n Nuusleser by ‘n Weskus-radiostasie het luisteraars laat regop sit oor ‘n berig waar ‘n “Rooi gety” vandaan kom. Dit word veroorsaak deur ‘n “giftige orgasme” in die water, het sy doodernstig meegedeel, en rustig voortgegaan met die res van die bulletin.
Lyk dalk of ek my mes in het vir die meisies. Glad nie so nie. Die res van die mistykies is deur lede van die manlike geslag gepleeg, en word gekroon met een of twee op my eie rekening.
Ontmoet die kreatiewe jong man wat vir die lesers wou verduidelik hoe ‘n tapier lyk. Ná heelwat wik en weeg het hy by die volgende beskrywing uitgekom: “Die dierasie lyk baie soos ‘n donkie, net heelwat anders.”
‘n Ander nuweling het die volgende juweeltjie gepleeg: “Met behulp van die dokter het die drenkeling vinnig sy bewusteloosheid teruggekry.”
‘n Opvoering op Vanrhynsdorp is ‘n keer deur net vyf mense bygewoon. ‘n Onervare Burgerman het berig: “Die finansiële sukses was ‘n totale mislukking.”
Lank-lank gelede het Die Volksblad ‘n ou die grammadoelas ingestuur om ‘n politieke vergadering te dek. Dit was die tyd voor selfone en met telefoonverbindings op die platteland in die algemeen wisselvallig. Toe hy nie van hom laat hoor nie, was al uitweg om maar op sy terugkeer te wag.
Toe hy opdaag, is die eerste vraag: “Waar’s die berig?” Nee, antwoord hy toe. Daar’s geen berig nie. Die spreker het net “dames en here” gesê en toe op die verhoog dood neergesyg.
Op my eie rekening is ‘n foutjie met die naam van ‘n man wat dood is toe ‘n brug kort voor saktyd ineenstort. In die dolle gejaag om die berig betyds te lewer, tik ek een oorledene was mnr. Johan de Wet. Hy was nie. Johan de Wet was my kollega. Die uwe is verwar toe die nuusredakteur my kollega se naam op die kritieke oomblik noem terwyl ek die tikmasjien laat kletter. Tyd vir oorlees was daar nie. Velletjie vir velletjie is van my tikmasjien na die subs.
Toe die eerste klompie koerante op die redaksie se lessenaars kom, bemerk ek dadelik die fout. Al die senior manne was op middagete. Ek hol toe fabriek toe, stop die rolpers en herstel my fout.
In my skik, wag ek om geprys te word. Wel, ‘n bietjie lof was daar wel vir my ondernemingsgees. Die skrobbering omdat ek die koerant laat gemaak het, was aansienlik omvangryker. Hoe noodlottig vir verkope op die platteland ‘n laat koerant is, het ek tot daardie dag nie besef nie.
‘n Nog groter blaps was met die dood van een van die hooffigure in ‘n bekende SA hofsaak, Preller vs. Jordaan. Dit behandel oor “onbehoorlike beïnvloeding”. ‘n Dr. Jordaan sou ‘n boer, ene Jordaan, terwyl hy ernstig siek was, oortuig het om sy drie plase aan die arts te bemaak. Wat hy toe doen. Daarna skenk dr. Jordaan twee van die plase aan sy kinders.
Preller het uit sy siekbed opgestaan en wou sy plase terughê. ‘n Lang hofstryd volg en ‘n gekompliseerde uitspraak word gelewer. Die kern was dat Preller slegs op die een plaas in dr. Jordaan se besit kon aanspraak maak.
Toe Preller sterf, stuur die korrespondent (Bothaville? Viljoenskroon?) ‘n kort beriggie. Dit laat dadelik ’n klokkie lui, en ek is daarmee nuusredakteur toe om my storie te vertel. Natuurlik was hy opgewonde. Ek moet skryf. Om seker te maak van my “feite” ry ek gou Kovsiekampus toe en gaan leen by ‘n regstudent wat ek ken, sy notas.
O wee. Of sy notas was verkeerd of HvD het dit verkeerd vertolk. In my berig word toe verkeerdelik ook blaam op die twee kinders gewerp. Dit kom op die voorblad.
Die volgende dag hier marsjeer ‘n span prokureurs in. Hulle beraadslaag met die assistant-redakteur met geslote deure. Later word kiepie ingeroep om stamelend te verduidelik. Gevolg was ‘n korreksie ewe groot as die oorspronklik berig op die voorblad. Dit was nie my glorierykste dag in die joernalistiek nie.
Jan 6, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Vergissing waaroor ‘n ruk gelede op die blad Nagkantoor geglimlag is, was dié van ‘n jong verslaggewer wat in Pretoria se Mootgebied ‘n foto van ‘n slagoffer van die bosoorlog by sy ouers moes gaan haal. ‘n Familielid keer hom toe voor en beduie hy moenie nou pla nie, want “the minister is praying with the family”.
“The minister from the defence force?”
Hy het natuurlik bedoel die kapelaan. Die volgende oggend staan egter in Beeld: “Die Minister van Verdediging, mnr. PW Botha, het twee uur saam met die bedroefde ouers gebid.”
Hiermee enkele ander vergissings in nuuskantore:
Rex Gibson, oud-redakteur van die Rand Daily Mail, het ook ‘n juweeltjie oor ‘n mistasting met ‘n minister vertel.
’n Groentjie-verslaggewer het opdrag gekry het om Chris Heunis, die minister, te bel vir sy kommentaar op die een of ander verwikkeling. Die jong man raadpleeg toe die telefoongids, kry daar C.J. Heunis en skakel.
“Nee,” antwoord dié, “van daardie saak weet hy bokkerol” (hy’t ’n sterker woord gebruik). Vir impak voeg hy sommer ’n paar ander minagtende kragwoorde by wat almal hul weg tot in die RDM se kolomme vind.
Toe die minister boos bel en kla dat hy nooit sulke dinge kwytgeraak het nie, bring ’n vinnige ondersoek aan die lig daar was inderdaad ’n “ligte mistykie”. Die verslaggewer het C.J. Heunis die loodgieter gebel!
‘n Berig in Die Burger oor ‘n vlieënde kondoom wat met ‘n sierlike boog in ‘n swembad op Stellenbosch beland het, het die Cape Times waarskynlik laat wens Simonsberg wil hom bedek.
Die kondoom, gebruik en daarna gevul met water, het uit die bure se erf tot in prof. BH en mev. Eva Marie Koeppen se swemad getrek. Vir die egpaar was dit die laaste strooi in ‘n jarelange buretwis. Hulle is hof toe.
Die volgende dag berig die Times toe ook oor die insident. Onder die opskrif “Prof is mad over condom” haal hy ‘n vies prof. Koeppen self aan. Dié vertel in kleur n geur.
Ongelukkig vir die Engelse mededinger verskyn in Die Burger die volgende opvolgberig : “Mev. Eva Maria Koeppen, die klaer, het daarop gewys dat haar huidige man nie prof. BH van Koepen is soos n.a.v. die telefoongids berig is nie. Pof. Koepen is 10 jaar gelede oorlede. Mev. Koeppen is weer getroud maar het haar vorige van behou. Die stomme Times het sleg in ‘n slaggat getrap.
Sout is in die wonde gevryf toe ‘n Burgerman die Times bel en doodonskuldig vra wat prof. Koeppen se telefoonnommer dan is. Hy soek hom al tien jaar lank.
‘n Keer wat Die Burger bloedrooi moes bloos, was in 1958 toe die jong Jurie Gryffenberg, latere ambassadeur, opdrag kry om verslag te gaan doen oor ‘n rugbywedstryd: Bellville teen die toerspan van die Tukkies.
Hy (wat nie ‘n rugbyskrywer) is die enigste siel in die persbank. Hy vra sommer gou vir ‘n toeskouer watter span is watter een. Die volgende dag verskyn sy verslag, onderteken deur JG, op die sportblad. Die opskrif lui: “Bellville wen; heelagter kry 15 punte.” O wee, dit was die Tukkies wat 24-6 gewen het. Dit was die Tukkie-heelagter, Charlie Meyer, wat 15 punte aangeteken het.
Dit blyk dat JG die volle 70 minute lank die spanne met mekaar verwar het. Sy verslag was ‘n presiese spieëlbeeld van die werklikheid.
Dieselfde berig, in verkorte vorm, verskyn ingevolge ‘n ruilooreenkoms ook in die Times. Die korreksies in albei gevalle was heelwat langer as JG se oorspronklike agterstevoor-berig!
Sep 19, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
“Ekskuus, hoor, ek het ‘n ligte mistykie gemaak.” Dit is woorde wat ‘n mens nie dikwels hoor nie. Nie omdat foute nie volop is nie; eerder omdat mense traag is om vir hul foute pa te staan.
Vanoggend oor die radio het ‘n dr. Potgieter oor dié onderwerp gepraat. Ek het net skrams iets van die gesprek gehoor, en weet dus nie watter koers dit ingeslaan nie. Wat wel vasgesteek het, is die een of ander verbysterende syfer wat hy genoem het van resultate op Google as jy “docter’s mistakes” intik – iets soos nege miljoen.
Ek het self die oefeninkie gedoen – dis nader aan tien miljoen!
’n Kollega het enkele maande gelede in ‘n koerantbrief dokters in Bloemfontein gekasty oor ‘n reeks verstommende foutiewe diagnoses terwyl die kanker meedoënloos aan sy vrou vreet. Een, ‘n spesialis, het selfs teenoor ‘n kollega opgemerk dat sy dalk ‘n soort kanker-fobie sou hê. ‘n Mens trek jou ha..a..are uit jou kop, soos my Tant Minnie altyd gesê het.
‘n Ander kollega het vasgebyt en ‘n span dokters hof toe gevat oor ‘n mislukte operasie met rampspoedige gevolge vir sy seun. Die skuldiges se sakke voel dit. Ek skryf hierdie stukkie egter nie om dokters by te kom nie. Almal begaan foute en op elke terrein van die lewe word die bal gereeld gruwelik laat val.
Dr. Potgieter het afgeskop met die grappie dat dokters se foute begrawe word; advokate s’n word opgehang (in die goeie ou dae van die doodstraf), argitekte plant bome voor hulle s’n en onderwysers stuur hulle s’n politiek toe!
Koerantmense het in my tyd ‘n weergawe bygevoeg: hul eie foute word op die voorblaaie gepubliseer vir almal om te lees.
Ja, ongelukkig kom ek uit ‘n dissipline waar die pot kwalik die ketel kan verwyt. Dit moet ek erken. Ek erken ewe geredelik dat verskonings soos tydsdruk, verwarrende inligting uit onbetroubare bronne en selfs die drukkersduiwel se rol soms ietwat opportunisties oordryf word om puur en simpel vrot werk te wil verdoesel.
Dus: dokters, advokate en prokureurs, argitekte, onderwysers en wie nog, wees gerus dat hierdie ou uit nederigheid en bittere eie ervaring oor mistastinge saampraat. Trouens, twee boeke met veelseggende titels het in die jare 90 oor joernalistieke blapse uit my pen verskyn: Scoops en skandes en Flaters en kraters. Verskeie boeke kan nog oor skandes en kraters gepleeg word. Stof is legio.
Oor een verwyt wat koerante gereeld kry, het ek wel ‘n ietsie op die hart. Dit is dat hulle onwillig sou wees om hul foute te erken. Ja, hulle plaas iets groot op die voorblad. As hulle oortuig kan word dat hulle die kat aan die stert beet gehad het (wat onwaarskynlik is!), plaas hulle teensinnig ‘n onopvallende regstellinkie op bladsy twee, hoor jy dikwels.
‘n Lang dissertasie hieroor is nie op my agenda nie. Moet dus niks verwag oor al die wakende ombudsmanne, of selfs oor al die valse beskuldigings dat mense verkeerd aangehaal sou gewees het, terwyl die waarheid is dat die klipgooiers eintlik in glashuise woon nie; dat dit dikwels hulle is wat uit onbeholpenheid of ander redes hul voet in ‘n ding gesit het.
Nee, kom ons los maar daardie klas verwere vir ‘n ander debat op ‘n ander dag. Eintlik kry ek skielik vanoggend n.a.v. dr. Potgieter se bydrae die begeerte om slegs een opmerkinkie in hierdie verband op my blog te sit. Dit is dat juis koerante se erkenning van hul foute en bereidheid om dit reg te stel, in sekere gevalle selfs met ‘n ekskuus daarby, na my oordeel hulle nogal positief onderskei van annerlike dese en gene wat om die dood nie ooit sal erken dat hulle gegly het nie.
Jy kry inderdaad sulke soort snare wat nooit wankel in hul onwrikbare geloof in hul eie volmaaktheid nie. Ek wil waag om te sê dat hulle in bepaalde groepe meer algemeen voorkom as in ander, maar ek is nie lus vir baklei nie. Daarom sal ek my nie laat uitlok om enige beroepsgroep by name te noem nie. Nie eens politici nie. (HvD)