Jul 21, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ter ere van die Chinese Sehol wat nou tot die mortormark toetree, deel ek graag ‘n hoofstukkie oor motorname uit my humorboekie “Praat-praat in Tamatiestraat” (Griffel, 2010). Dit is ook as e-boek by De Novo beskikbaar. Kyk onder.
TJORRE MET TITELS
“Bankrot Maar Windgat”. So spot sekere BMW-eienaars nogal graag met hulleself. Dit is seker ’n verkiesliker verklaring vir een van die bekendste akronieme op die pad as “Blik Met Wiele” of die Engelse “Bavarian Manure Wagon” – ’n klaarblyklike variasie op die tema van die ou DKW.
Ek soek nie baklei met BMW-eienaars nie – van my beste (en rykste) vriende ry Beamers. Die windgat-etiket kom maar net by my op toe ek by ’n winkelsentrum ’n spoggerige BMW-koepee sien met die plakker: “Was eers my man s’n”.
Dis nou fyn spog! Daardie vorige eienaar se egskeiding was klaarblyklik nie ’n goedkoop storie nie!
Tussen fyn spog en selfspot is soms net ’n fyn dun lyn. Nou die dag beland ek agter ’n rammelkassie met die bufferplakker: “My other car is a Porsche”. (Porsche staan glo vir: “Proof Only Rich Snobby Children Have Everything”!)
Van spot gepraat: Op Tukkies was my wiele in my laaste jare ’n piepklein Fiat 500-stasiewa. Dié Fiat is dadelik deur een seksie (spottend) die “Skoolbus” gedoop. Ander se spotnaam was die “Grassnyer”.
’n Amerikaanse webwerf het lyste en lyste van byname vir bekende fabrikate – speels en spitsvondig maar, interessant genoeg, tog hoofsaaklik onvleiend. Ekself is ’n trotse Honda-ryer en stem glad nie saam met die volgende nie: “Had One, Never Did Again!” Ek glo eerder: “Happy Owners Never Drive Anything else!”
Die BMW se twee Duitse mededingers, die weeldemotors Mercedes Benz en Audi, kom ook nie skotvry af nie. Hoeveel trotse Benz-eienaars sal saamstem dat “My Expensive Road Car Emits Dense Exhaust Smoke – But Efficiency Near Zero?” Audi-eienaars sal seker beledig voel oor: “Always Under Diagnostic Inspection.”
Die volgende willekeurige seleksie word nie lasterlik bedoel nie en moet asseblief nie ernstig opgeneem word nie:
Chevrolet: “Cheap, Hardly Efficient, Virtually Runs On Luck Every Time”;
Fiat: “Fix It All The Time”;
Ford: “Found On Rubbish Dump”. Of agterstevoor: “Driver Returns On Foot”;
Hyundai: “Here’s Y U Never Drive An Import”;
Jeep: “Just Expect Every Problem”;
Kia: “Kick It’s Ass”;
Toyota: “This One You Oughta Tow Away”;
VW: “Virtually Worthless”.
Sekere motors het nie spottende byname nodig nie. Motorname kan in sigself rampspoedig wees – veral daardie wat in ander tale gans iets anders beteken as wat die vervaardigers in gedagte gehad het.
Die Opel Ascona beteken glo in Spaans en Portugees ’n intieme deel van ’n vrou se lyf. Die Mazda Laputa is, volgens dieselfde bron, in Spaans die Mazda Slet. Die Pajero van die Mitsubishi Pajero beteken na bewering in Spaans “wanker” (iemand wat masturbeer). Die Nova van die Chevrolet Nova beteken in dieselfde taal eenvoudig: “Dit loop nie!”
In Japan is verskeie modelle met Engelse name wat ’n glimlag uitlok. Dit sluit in die Daihatsu Naked; Honda Life Dunk; Isuzu Mysterious Utility; Mazda Bongo; Nissan Fairlady Z; Suzuki Cappuccino; Toyota Deliboy en Volkswagen Thing.
’n Mooi Toyota-storie kom van ’n kollega wat diep wortels in die motorwêreld gehad het, wyle Fred Schnetler: Die student se meisie raak swanger en die tyd breek aan dat hulle haar ouers die interessante nuus moet meedeel. Hulle daag die Vrydagaand op by die pa se indrukwekkende plaas, maar hy besluit om te wag tot later, wanneer die oomblik geskik is, om die nuus oor te dra.
Die volgende oggend gaan wys die pa, wat behoorlik deur die manierlike jong man beïndruk is, hom die plaas. Ná ’n rit deur die boorde in die boer se splinternuwe Toyota Prado is hulle na die pakskure. In die een hoek staan ’n enorme Toyota-dieselenjin wat die kragopwekker aandryf om die pakskure koel te hou. Die Toyota-vurkhysers is netjies op ’n ry en in die skuur langsaan is twee Toyota Hino-vragmotors. In die motorhuis is ’n Lexus (deur Toyota gemaak, natuurlik) en ’n Corolla.
“Oom glo in die Toyota!” sê die student.
“Ja, beter kry jy nie,” sê die boer. “Wag, ek wys jou iets.”
Eenkant staan ’n redelik gehawende Toyota HiLux-bakkie. “Hy’t 500 000 kilometer op die klok en vat nog dadelik as jy die sleutel draai,” sê die boer. Hy klim agter die stuur in en draai die sleutel. Die bakkie vat – raserig, maar die enjin klink gesond.
Dis toe die student ’n opening sien. “Oom, sê my, is Martie se tweede naam Toyota?”
“
Nee, hoekom vra jy?”
“Ai, oom, ek het haar net so ’n ligte ou stootjie gegee toe vat sy!”
Jul 14, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Jy verkeer in die salige waan jy is nog nommer een. Skielik ontdek jy jy is nie meer nie. ‘n Mens voel of jy in jou tande geskop is.
Arme Faf de Klerk. Hy moes sy nommer 1-posisie as die Springbokke se skrumskakel aan Jaden Hendrikse afstaan. Ek weet presies hoe hy voel. Hierdie skrywe kom uit dieselfde bootjie.
In my geval is rugby nie in die spel nie. Kragtie, ek is fluks op pad 82 toe en dit kan maar lol as ek haastig moet skrum skoon maak.
Nee, in my geval is dit banksake. Soos Jaden Hendrikse by Faf oorgevat het, het Tokkie van Deventer op die speelveld by die uwe verby geskuif.
Faf het uit die mond van Jacques Nienaber van sy afgradering verneem. My fluitjieblaser was Lichanda Nyirenda, ons Malawiese tuinier.
Hy kom grootoog en skepties verneem wat die SMS beteken wat hy van die bank ontvang het om hom van sy jongste inbetaling te verwittig. Nog altyd is hy deur ‘n JH van Deventer betaal. En nou? Nou’s dit ‘n GS. Wat beduie dit?
Tokkie verduidelik aan Lichandfa hoe die vurk in die hef steek . Die koekieblik het nie verander nie. Net die hand wat daarin gedelf het.
Ek luister belangstellend maar deel nie Lichanda se satisfaksie met die verduideliking nie. Sedert 1958 is hierdie my rekening. Ek is g’n GS nie. Watse kaping is dit die deur ‘n inkommer? Wat de duiwel!
Ek bel die bank taamlik ontsteld – nogal ‘n uitdaging want die foon lui lank en skakel in die proses – so lei ek af – meer as een keer van een telefoon oor tot ‘n ander. Uiteindelik darem ‘n gewillige oor. Nee, hierdie is taksake. Daar trek ons Blouberg toe. Melkbos het nie meer ‘n bank nie.
Maar moenie dink jou nommer -1 posisie val sommer weer in jou skoot nie. Dis jy teen die stelsel. Die het verander, hoor jy. Omdat die app op Tokkie se foon is – my getroue ou werkesel, ‘n Blackberry, is nog te ouderwets vir sulke gedoentes – moet sy User 1 wees en ek User 2, verduidelik die dame – of iets in dier voege.
Ek maak heftig beswaar. My status gee ek nie so maklik prys nie. Eers knor ek. Toe dit moontlik kontraproduktief begin lyk, raak ek die ene stroop. Uiteindelik: ‘n boer maak ‘n plan; ‘n slim bankmeisie ook. Meneer druk hier, Mevrou, druk daar, Die saak raak reg.
So, Faf, daar’s hoop. Byt vas en baklei. Soos ek weer User 1 geword het, kan jy weer met die nommer 9 op jou rug uitdraf. Arme Tokkie, vermoed ek, is nou User 0. Wens dieselfde lot nie met kwade bedoelinge vir Jaden Hendrikse toe nie, maar wat reg is, is reg. As ‘n mens nommer een is, is jy nommer een. Allekragtie.
Jul 14, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Voor die besoek aan die kardioloog kry ek ‘n boodskap: Bring jou eie handdoek saam. Ek en Tokkie beraadslaag oor die regte grootte – nie te klein nie, nie te groot nie.
Sy bied ‘n keuse van drasakke. Ek besluit op een en gooi sommer ‘n kam ook in. As jy ‘n handdoek nodig kan kry, gaan jou weerbarstige kuif waarskynlik ook deurmekaar raak.
Daag by die arts op met my drasak in die een hand en die kierie in die ander.
Beland uiteindelik op die gevreesde trapmeul. Dit verby, is die handdoek steeds nie nodig nie. Ook nie die kam nie. Kuif is nog ramkat.
Met die groetslag merk ek op: Dokter wonder seker oor die sak. In hom is my handdoek wat ek volgens die boodskap moes saambring.
“O,” antwoord hy met ‘n vonkel in die oog: “Dis eintlik net vir die ouens wat handdoek wil ingooi. ”
Ek grinnik maar saam. In die motor vra ek vir Tokkie: “Het hy nou ‘n grap gemaak?” Sy weet ook nie, maar vind dit klaarblyklik snaaks.
Elke wakker stonde in die nag dwaal my gedagtes na die handdoek in die drasak. Was die boodskap op die selfoon ‘n stukkie spitsvondigheid waarvoor ek, digte drommel, soos ‘n sak patats geval het? Of het die kardioloog geskerts?
Vraag is: moes ek werklik die handdoek gevat het of nie? Amper lus en bel die praktyk en vra hulle. Maar hulle is besige mense en het dalk nie tyd vir so ‘n beuselagtigheid nie. Nou gooi ek maar handdoek in.
Dec 19, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Liewe vriende
Die jaar 2021 galop die pylvak binne. Voordat ons hom finaal aftik enkele kantlynaantekenings uit hierdie oord:
Dit was ‘n jaar vol allerlei bakens: HvD se 80ste, TvD se 75ste, Johan en Brent se 50ste, Pfizers-prikke en Jacob en Thomas se verwerwing van leerling-rybewyse. Die twee het ook vir Oupa en Ouma laat asem ophou deur van Dreunkrans, by Hermanus, 18 meter na benede in die see te spring.
HvD het twee boeke gepubliseer, Bure van nature by Protea en Koerantkamerade by Naledi. Daarmee sak daardie gordyn.
Soos 2020 was 2021 ‘n Koronajaar. HvD en TvD is dankbaar dat hulle, anders as in 2020, wel in die winter by Sabiepark kon uitspan. Toe kom drink ‘n avontuurlike kameelperd jou werklik die eerste keer in 23 jaar by Tarlehoet se watergat. Ekstase soos min.
Op George het die Legacy Centre – Migael (eintlik sy ma, Mariza) se skool – ‘n uiters geslaagde eerste gholfdag op sy kerfstok geplaas. Die vloede het by die skool skade aangerig, gelukkig nie erg nie.
Die nuwe jaar sou begin met ‘n vaart op die MSC Musica na Walvisbaai vir die Oppiwaterkunstefees. Helaas nie. Te lugtig vir Omikron en kie. Na verre hawens se vertraagde “bekendstelling” ter see is natuurlik nou finaal gekelder.
Jacob en Thomas (sy skool, Stellenberg, se verteenwoordiger op Die Burger se gesogte Jeugleierskonferensie) durf matriek aan, albei as leiers en met goeie akademiese verwagtinge. Christopher pak sy laaste jaar op laerskool.
Mediese uitdagings in ons geledere word meer, nie minder nie. Ons gaan 2022 nietemin positief tegemoet en droom oor goeie dinge vir ons almal.
Uit Penguin Place 11 ons beste Kers- en Nuwejaarswense. Kom ons mik na die maksimum-kontak in 2022. Die tyd stap aan, soos verskeie sterftes onder kollegas en vriende in die ou jaar opnuut herinner het.
Hennie & Tokkie
Nov 19, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Driekuns op die krieketveld veroorsaak groot opgewondenheid. Die bouler is uit sy vel . Sy spanmaats storm op hom af om geluk te wens. Laat ek julle vertel van ‘n sonderling driekuns in die bos.
Die “bouler” se naam is Caroline Pols-Dijkstra, ‘n mede-Sabieparker, met haar wortels in Heerhugowaard in Nederland. Die “veld” se naam is Tarlehoet, die Van Deventers se bosplek aan die Sabierivier by die Krugerwildtuin.
‘n Keer kry ons van daar ‘n ontstellende onheilsboodskap: “Die hemel weet wat julle huis getref het.” Dit blyk dat rame van mure geruk is, breekgoed is stukkend, glas lê gestrooi op die vloer, gordyne is aan flarde.
Caroline kuier in die Polswoning, Gecko, in Gwarrieboslaan. “Asseblief gaan kyk tog,” pleit ons by haar. Ná ‘n eerste besoek is die raaisel onopgelos. Met ‘n tweede betrap sy die sondaar op heterdaad. Toe sy die voordeur oopskuif, kom hy met die trappe afgewaggel: ‘n uitgevrete veldlikkewaan.
Die kantoor het hom met knypers kom haal en by die piekniekplek gaan los. Ons hoop hy is in die Sabierivier vort Mosambiek toe.
‘n Ander gedenkwaardige keer het sy en Gert, haar ontslape eggenoot, die omgewing gaan verken nadat ‘n luiperd ‘n bokkie op ‘n aangrensende erf platgetrek het. Hulle gaan loer sommer, soos ons wederkerige gebruik is, of alles pluis is by Tarlehoet … en dis toe dat Caroline, soos sy dit pikant stel, amper ‘n luiperd se peuselhappie word.
Gelukkig het Gert uit die motor by die stoep se ingang die puntjie van die stert gewaar. Volgens die bloed op die stoepteëls het ta waarskynlik die bokkie daar verorber.
Die volgende oomblik kom sy orent. Daar staan sy voor hulle in haar volle glorie. ‘n Ruk lank kon luiperd en mensekinders slegs vir mekaar staar. Toe stap die pragdier skuur-skuur teen die paaltjieheining van die Van Deventers se lapa weg en in die motorpad af vort.
Dit was Donderdag 19 Maart 2015. Wat ‘n spesiale dag, wat ‘n halleluja-oomblik, om ‘n vriend, Manie Malan, ook al saliger, aan te haal. “Ek is bewend van opgewondenheid, stomgeslaan, oorstelp – en dêm dankbaar dat jy op die regte oomblik op die regte plek was met ‘n stewige vinger op die sluiter.” So het ek vir Caroline laat weet.
Pasede Woensdag is Caroline weer op Tarlehoet met ‘n lysie van dingetjies om te kontroleer. “Kyk asseblief of dit reg is, en dit en dit” …. Een is ons sonpanele. Dié moes stutte kry omdat ons in Augustus ontdek het hoe gevaarlik hulle kantel as hulle in die wind wieg.
Maar o wee. Die stutte het nooit gekom nie en die paal het geknak. Die panele lê plat. Onderstebo. Gesig na onder. Moes net die vorige aand gebeur het, want die yskas is nog koud. Die batterye het nog krag.
Noodstappe kon dadelik getref en die skade dus beperk word.
Eers die likkewaan, toe die luiperd, toe die sonpanele. Elke keer was die parate Caroline op die toneel. Elke keer is foto’s Melkbos toe geblits. Hoe sê ‘n mens dankie, Caroline?