Jun 19, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vladimir Ttretchikoff, sogenaamde “Koning van kitsch”, was as kunstenaar geliefd by die publiek en ongereken by kunsresensente. Ek onthou hom ook as die koning van die byvoeglike naamwoord. Hy kon die adjektiewe inryg soos aan ‘n sosatiestokkie.
As iets nie “fantasties” of “geweldig” was nie, was dit “vreeslik”. “Fantasties” het ek tydens ‘n onderhoud vir my rubriek “Onder Vier Oë in Beeld in die jare 70 ‘n stuk of ‘n dosyn kere getel; toe word ek moeg van boekhou.
Hy was ook lief om met ‘n dubbelloop te skiet. Hou Afrikaanssprekendes besonder van sy werk, sou jy hom byvoorbeeld vra. “Geweldig,” sou Tretchi antwoord. “Dis fantasties, fantasties!”
Ek het hom oor sy gevoel jeens kunskritici gepols. Tretchi het sy arms teatraal in die lug gegooi. Toe sak hy terug in sy stoel en gryp sy kop vas. “Kunskritici? Wie de duiwel is die kunskritici? Krap aan die oppervlak en wat kry jy? ‘n Verydelde kunstenaar!”
Dit was so ongeveer sy geloofsbelydenis. Kritici het hom afgekraak as ‘n prul-kunstenaar, ‘n goeie verkoopman wat die massas met goedkoop sentimentaliteit verlei. Maar hy het geglo: “Dit is nie my kuns wat hulle kritiseer nie, dit is my sukses.”
Met ‘n meewarige laggie. “Jy weet, toe ek nog gesukkel het, was die kritici tevrede met my werk. Toe ek begin geld maak, toe’s dit skielik nikswerd.”
Nie dat dit eintlik saak gemaak het nie, as jy Tretchi kon glo. “Dit maak my nie seer nie en dit maak nie my sukses seer nie.” Die Chinese meisie – bekend as die Mona Lisa van kitsch – is “beroemder as Tretchikoff,” het hy gemaak verontwaardig bygevoeg. Dan het sy oë geskitter van trots.
Buiten die Chinese meisie was immergroen gunstelinge onder meer die Verlore orgidee, die Sterwende swaan, die Wenende roos, onthou u? Hulle is almal lank na sy dood nog springlewendig. Trouens, sedert die millenium begin die pryse eers klim! In Amerika, Kanada, Brittanje, Australië, die Verre Ooste … selfs Ciprus – die mense hou net nie op om te koop nie.
Die Chinese meisie dateer uit 1952 en het een van die bekendste kunsreproduksies van die twintigste eeu geword.[ Die skildery vertoon ‘n Chinese meisie met ‘n ongewone blougroen veltoon, wat die skildery die bynaam The Green Lady gegee het. Die oorspronklike is op 20 Maart 2013 by Bonhams-veilinghuis in Londen vir byna $3.5 miljoen (Amerikaanse dollar, nie rand nie) verkoop. Dit is deur die Britse juwelier Laurence Graff opgeraap.
Selfs in Suid-Afrika het versamelaars groot geld vir Tretchi-werke uitgehaal. Op 27 Mei 2008 het sy Vrugte van Bali op ‘n veiling in Kaapstad ‘n (destydse) rekordprys (vir hom) van R3,74 miljoen behaal. Tretchi het daarmee o.m. stof in Irma Stern se oë geskop. Haar Kaapstad se hawe (vooraf die groot trekpleister) is vir (net!) R2,2 miljoen van die hand gesit.
Vyf ander werke van Tretchi het saam R1,452 miljoen opgelewer. Beleggers in kunswerk was geskok en die afslaer het die prys vir Vrugte van Bali as “ongelooflik” bestempel.
Buiten die kritici was daar nog iets wat Tretchi gekwel het: die persepsie dat hy – hy was toe “iets in die sestig” – jong meisietjies ateljee toe jaag en hulle so vinnig moontlik uit hul klere kry om hulle te skilder. “Soos ‘n seksmaniak,” het Tretchi gekla.
Die waarheid, volgens hom, was dat hy in 20, 25 jaar net vier halfnaakte meisies geskilder het. Die boodskap van een van daardie skilderye is: “Jy mag nie egbreek nie.” Die meisie – ‘n Afrikaanse nooi, Brenda, met ‘n “pragtige figuur” – wek die indruk dat sy aan die verbode vrug lê en dink, of dit dalk pas klaar gepluk het, aldus Tretchi.
Soos die man geskilder het, het hy gepraat. Soos hy gepraat en geskilder het, so was die man. Flambojant en emosioneel. Geen ander woorde kan hom beter beskryf nie.
Vladimir Tretchikoff is op 26/8/2006 oorlede
Jun 12, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Ou koerant moet ‘n mens nie op sy baadjie takseer nie. As jy klaar gelees is, gooi jy hom nie sommer weg soos ‘n nikswerd-piesangskil, ‘n sardiensblikkie of ‘n plastieksakkie nie.
Onder koerantpapier kan jy slaap. Jy kan dit vir honger donkies voer. Jy kan jou vis en tjips toedraai. Jy kan die hond se plassies opvee. Jy kan vuur maak en ruite was. Jy kan bevrore vleis koud hou op lang ritte. Jy kan die papegaai se hok uitvoer. Die nut is amper onbegrens.
Kollega Johan van Wyk het ‘n keer ‘n nogal uitvoerige studie gedoen oor waarvoor ‘n ou koerant alles deug. HY kom toe tot die insigryke gevolgtrekking dat dit op een plek werklik tot sy reg kom: “In die kleinhuisie met die boerpampoene op die dak. “Nệrens lees jy lekkerder in ‘n ou koerant as daar nie.”
Johan kon bygevoeg het: Nệrens is jy dankbaarder oor die beskikbaarheid nie as wanneer jy skielik papier op sy dringendste nodig kry en die verfynde vorm vir daardie doeleindes ontbreek. Ja-nee, die toegevoegde waarde is enorm.
Ek hoor graag van ander vindingryke idees. Hier egter drie aanwendings wat vir die uwe nuut en oorspronklik was.
Nommer een is die sogenaamde Paper House in Pigeon Cove, Massachusetts. Die hele huis en sy inhoud bestaan uit ou koerante, hoofsaaklik uit Boston. Sowat 100 000 eksemplare is vir die doel gevou of gerol. Die volledige takie het 20 jaar in beslag geneem.
In die woonkamer staan ‘n klavier – ‘n uitnodiging vir iemand wat kan om die klawers met Johann Strauss se wals “Oggendkoerante” te gaan tokkel. Daar is ‘n radio in ‘n outydse kabinet. ‘n Boekrak is gemaak uit buitelandse koerante en ‘n oupastaanhorlosie uit koerante van die hoofstede van die Amerikaanse deelstate. ‘n “Nuuswaardige” lessenaar is uit koerante met die nuus van Charles Lindberg se epiese vlug.
‘n Koerantman voel so tuis, jy wil sommer dadelik sak en pak intrek en begin lees!
In die Suid-Tiroolse vakansiestadjie in die Alpe Merano ontdek hierdie gryse koerantman toe nog ‘n nuwe nut wat aan hom onbekend was. Op ‘n straathoek pryk dit: ‘n reuseblombak van monumentale hoogte en omvang. Die struktuur het HvD verdwerg – en dit verg nogal ‘n struktuur van stoffasie om HvD te verdwerg!
Die foto’s is bedoel om kreatiewese te prikkel om daardie stukkie Tiroolse vindingrykheid na te aap. Laat dit ‘n uitdaging wees.
Van nader tuis is die pragtige tabberdjies wat vir die Kovsies se joolkoningin en eerste prinses aangetrek is ter viering van Die Volksblad se verskuiwing na die oggendgleuf op 4 Maart 1991. Mooier “uitgawes” was daar gewis nie in my tyd as hierdie aan die mooi lyfies van Liezel le Riche en Almie Cloete nie. By hulle is Die Volksblad se Alta Beetge wie se breinkind die mode-ding was. (“Haar rokkie het ‘n skeurtjie in en almal kyk daarna …”)
Jun 5, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Elkeen uit die Jamie Uys-era het ‘n gunstelingtoneeltjie uit ‘n Jamie-rolprent wat hom die lekkerste laat lag het. Vir party is dit iets uit sy eerste, Daar doer in die Bosveld; vir party uit sy laaste en grootste sukses, ook internasionaal, The gods must be crazy.
Wat het die veteraan-rolprentmaker – wat einde Mei 100 jaar oud sou geword het – se eie lagspiere die meeste geprikkel? Die vraag het ek hom in ‘n onderhoud vir my “Onder vier oë”-rubriek in Beeld gestel. Dit het hom geen oomblik laat twyfel nie. Dit was in Funny people: die toneel van ‘n man se gespartel om ‘n klomp glibberige ballonne te verpak. Die papier was te klein en die tou te kort. Maar onderkry was min. Met toewyding en konsentrasie het hy deurgedruk totdat die spulletjie netjies toegewikkel was.
Net toe verskyn Jamie se skoonseun met ‘n stempel. So ver soos hy stempel, hoor jy net ballonne bars. Die pakker het hierdie onverwagte verwikkeling onbegrypend betrag. Maar toe ‘n balhorige ballon uit die pakkie peul, was hy rats by om dit op te raap en terug te dwing – net om ook aan flarde gestempel te word.
In sy versteekte kas het Jamie so gelag dat die kamera geruk het. Die pakker het nooit ‘n woord gesê nie, maar net die manier waarop sy oë dan op, dan af geflits het, het sy eie storie vertel.
Jamie, ‘n oud-onderwyser, was drie jaar lank boer. In 1950 kry hy die bevlieging om ‘n rolprent te maak: Daar doer in die Bosveld. Hy het gedink dit sal sommer kinderspeletjies wees – binne twee weke is alles kant en klaar. Maar toe duur dit twee jaar. Hy het alles wat hy besit, daarin gestort. “Toe moes ek maar aangaan.”
The gods must be crazy het die miljoene laat inrol. Beautiful people het ook sy merk gemaak. Maar, snaaks genoeg, het Funny people wat eintlik net gemaak was vir die plaaslike mark, in sommige lande nog beter as Beautiful people geloop. Jamie was verras. Hy het nie gedink dit sal in die buiteland slaag nie omdat buitelanders candid camera al lank op televisie het.
Sy lekkerste rol was in Lord Oom Piet. Miskien was dit veral omdat hy ‘n baard gedra het; so het hy ‘n lang grimeringsproses elke oggend vrygespring. ‘n Ander lekker rol was dié van die Rus in All the way to Paris, die internasionale variasie van die gewilde Hans en die Rooinek.
‘n Suid-Afrikaanse Rus, George Korelin, moes hand bysit om Jamie die regte aksent te leer. Dit was darem nie te moeilik nie. “’n Boer se aksent en ‘n Rus se aksent wanneer hulle Engels praat, verskil nie so baie nie.”
Sou hy ‘n Suid-Afrikaanse prent van iemand anders graag gemaak het? Ja, Emil Nofal se Wild season met Gert van den Bergh. Dit was ‘n lekker prent, die hele stemming, die hele aanslag.
Sy swakste prent was Geld Soos Bossies, volgens Jamie. Hy het pas sy eie maatskappy gestig en geld was skaars. Daarom was dit so ‘n “haastige prentjie”. Die eerste twintig minute was baie bevredigend, maar daarna “kon jy sien dit is afgerammel”.
Jamie Uys is op 29/1/1996 oorlede.
May 20, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Boswell, Pagel, Wilkie – wie die sirkus in die laaste helfte van die vorige eeu geken het, het Francesco, die witgesig-nar geken. Amper vyf dekades lank het hy geslag na geslag in die Groot Tent met sy manewales laat skater.
Francesco het in my hart gekruip in Augustus 1978 toe ons ure onder vier oë vir die rubriek Onder Vier Oë in die dagblad Beeld gesels het. Gestroop van sy wit poeier-masker en peperduur Paryse kostuums, was Gilyan Francesco ‘n fyn mens-mens, het ek ontdek.
Francesco het ‘n tweede keer in my hart gekruip toe hy my 20 jaar later, einde 1997, uit die bloute in die Kaap bel. Hy sien in die koerant dat ek gaan aftree. Waarom? “Jy is dan nog so jonk.” Weer het die mens agter die narremasker my verras.
Dié Johannesburgse pruikmaker, skilder en filosoof was ‘n groot geselser met hande wat nooit tot rus kom nie – soos blare wat grond toe fladder, het ‘n resensent hulle beskryf. Ons onderhoud was ‘n fees.
Francesco was Suid-Afrika se enigste witgesig-nar: “die aristokraat van die sirkus; die heer van die narre; die man wat die antwoorde ken en die praatwerk doen”. In die wêreld was in daardie stadium net vyf ware narre. Van die vyf was hy die enigste akteur. Om ‘n witgesig te word, moes hy kursusse volg in ballet, drama, perdry en musiekwaardering.
Alles het een aand op Colenso begin toe die legendariese Madame Pagel vir hom sê: “Jy gaan ‘n witgesig word. Gaan maak vir jou ‘n kostuum.”
Hy het gehoorsaam – die kostuum en die naaimasjientjie waarop hy dit gemaak is, is later in ‘n spesiale Francescokamer in NALN (Nasionale Letterkundige Museum) in Bloemfontein uitgestal – maar later het hy in verset gekom en die kostuum in haar woonwa geslinger. “Ek wil nie ‘n witgesig wees nie: ek haat dit,” het hy weerbarstig uitgeroep. Sy het net gelag en hy het haar hoor sê: “Hy sal regkom”. Sy het gelyk gehad. Hy het … en hy was nooit spyt nie.
Ten tye van ons onderhoud het Francesco 52 kostuums besit, almal “volledige kunswerke” met blinkers en pêrels, en gemaak deur die beroemde Madame Viccairre in Parys, die Dior van die sirkuswêreld. Elkeen het daardie tyd sowat R1 000 gekos, wat Francesco met ‘n vonkeling laat opmerk het: “Ek is ‘n miljoenêr … in blinkertjies!”
Die Francesco’s kom van Italië. Sy ouers – akrobate en sweefstof-artieste – en sy grootouers was ook sirkusmense. Hyself is na ‘n leeftyd by die sirkus weg, omdat hy “moeg geword het om net as hanswors beskou te word”.
Hy was ook gesteurd dat sirkusbase enigiemand met ‘n geverfde gesig in die ring stuur om die mense te laat lag. Hy wou “die mooi tradisie van die nar” beskerm. In sy sierlike kostuum, en agter sy verf, wou Francesco hê dat die nar, buiten lawwe grapjas, ook ‘n realistiese karakter moet wees – iemand wat met die wisselvallighede van die lewe worstel, wat gedurig val, maar telkens weer opstaan om verder te stry. Hy het besef hy wil mense ook iets gee om oor na te dink.
Eers toe hy ‘n eie groep op die been gebring het, het sy nar-wees vir hom “werklik sin en betekenis gekry”. Die groep het oral lof ingeoes. Hy is, dalk die eerste keer, as volwaardige arties in eie reg erken en waardeer – ‘n nar in die klassieke sin van die woord. Daarna het hy ‘n narklub met 75 000 lede vir kinders begin. Een goeie daad per dag was die voorwaarde vir lidmaatskap. “Ek het ‘n sterk geloof, ek glo ek is God se nar en dat as jy God agter jou het, jy nie verkeerd kan gaan nie. Dit is wat ek my kinders leer.” Hy wou graag as ‘n “leermeester-filosoof” brûe tussen rasse help bou – ‘n ideaal wat grootliks onverwesenlik gebly het omdat die ouderdom hom ingehaal het.
Sy grootste skrik in die sirkus het Francesco vroeg in sy loopbaan gehad. Die leeus se vertoning was pas klaar en die narre moes oudergewoonte ring toe om die publiek se aandag van die gewerskaf met die tralies af te trek. Francesco was net binne toe hy bemerk die tonnel is nie toe nie, en daar kom leeu se kind. Met sy yslike stewels het hy die tralies gestorm en – tot groot vermaak van die gehoor – vergeefs probeer om uit te klouter. Die leeu het hom net ‘n kyk gegee en weggedraf.
“Hy’t seker gedink: ‘Jou eenvoudige ou gek’”, het Francesco gelag.
Vir die dwerg Tickey het hy ‘n sagte plekkie gehad. “Hy is my held. As hy ’n normale man was, sou hy sonder twyfel ons heel grootste akteur gewees het.”
ÊÊIn die sewentigs het Francesco ‘n aanloklike aanbod uit Australië ontvang, maar “hene mens, ek is ‘n Suid-Afrikaner. ‘n Trotse een. As ek moet padgee, wie bly oor? Dis net ek en Tickey.” Nou is Francesco en Tickey albei intussen weg. Ja, wie bly oor?
Gilyan Francesco is op 15/7/2001 oorlede.
May 19, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Soos vele ander egpare was John en Tini Vorster in geaardheid glad nie karperde nie. Tini (oor wie ek ‘n paar dae gelede ‘n blog geplaas het) had die sagte hart van ‘n maatskaplike werkster. John was die mededingende regsgeleerde, altyd oorgehaal om ‘n opponent kliphard aan te vat. Die begaafdse redenaar was geseënd met ‘n ingebore spitsvondigheid wat vernietigend kon wees.
As John Vorster die politikus met die sonore stem en vlymskerpe kwinkslae eers met sy een voet op sy groen leerbank in die volksraad gaan staan het en die opposisie met sy honende humor begin opkeil, was van sy kant van die raad galmende lagbuie van genot.
Ek was die aand in die Bloemfonteinse stadsaal toe die premier onder dawerende toejuiging aankondig Suid-Afrika sal nie die gekleurde Basil D’Oliveira as lid van ‘n MCC-krieketspan aanvaar nie. Tot vandag glo ek hy kon met presies die teenoorgestelde standpunt dieselfde toejuiging uitgelok het. Hy het oor die statuur beskik om mense om die pinkie te draai en die redenaarskuns om hulle in enige rigting mee te voer. Dalk het hy nie sy mag in daardie opsig nie ten volle besef nie.
Die gedugte Vorster het my vroeg in my loopbaan as verslaggewer by Die Volksblad laat stamel. Dit was by Philpstown se eeufees of iets waar hy – toe nog minister van justisie – die spreker was. Ek wou asseblief ‘n afskrif van sy toespraak hê.
Hy het my met onbehae deur ruie wenkbroue betrag. “Vriend,” het hy afgemete, sonder ‘n sweem van ‘n glimlag geantwoord: “As ek afskrifte van toesprake begin saamdra, daardie dag tree ek uit die politiek.” Ek het gou geleer ‘n John Vorster-toespraak bestaan uit ‘n paar kriptiese notas agter op ‘n pakkie Rembrandt ongekurk 30.
Kort nadat hy HF Verwoerd in 1966 opgevolg het, het hy Koffiefontein besoek. Dit het ‘n draai ingesluit by die Interneringskamp waar hy in die Tweede Wereldoorlog agter doringdraad was. Ek sou nie weer om ‘n afskrif van ‘n toespraak aanklop nie!
Die besoek aan die Interneringskamp het wel vir een van my gunstelingfoto’s uit my vroeë loopbaan gesorg. Daardie skraal swartkopmannetjie met die dikraambril en die notaboek links van mnr. Vorster, dis ek!
Mettertyd het ek in die jare 70 by die nuwe dagblad Beeld kennis gemaak met die nogal warm stoel van die nagredakteur – die man wat die volgende dag alles moet kan verduidelik. Een van die aande wat ek nie lig sal vergeet nie was nadat die premier op ‘n jagtog in die private Sabie-Sand-reservaat ‘n leeu geskiet het.
Die aand nadat die storie (plus kleurfoto) op die voorblad verskyn het, het die uwe diens gedoen. Die eerste uitgawe was afgehandel. Ek het net behaaglik teruggeleun. Skielik lui die telefoon. Die fors stem kondig afgemete aan hy wil met die redakteur praat. “Goeienaand, mnr. Vorster – praat maar, ek is die nagredakteur.”
Verslaggewers wat ooggetuies was, het later vertel ek het ligrooi geword, en amper versteend op aandag geruk. Die premier was woedend. In die gewraakte onderskrif het gestaan Vorster het die leeu by Skukuza platgetrek, dus in die nasionale Krugerwildtuin, wat nie die geval was nie. Na verduidelikings en verskonings wou hy nie juis luister nie. Wat, wou hy weet, moet die wêreld van Suid-Afrika dink as die pers sy premiers sulke onbesonne dinge laat aanvang!
Impertinente persfotograwe is ook deur die leier met die stugge bloedhondgesig laat bontstaan. Pogings om hom vir die kamera te laat glimlag, het vir twee wat ek ken, glad nie voorspoedig verloop nie. “Maar ek glimlag dan klaar,” het hy een getroef. “As jy tande wil sien, moet jy Jimmy Carter gaan afneem,” het hy nommer twee kortgevat.
‘n Keer dat hy wel breed vir ‘n fotograaf geglimlag het was op ‘n foto op Huisgenoot se voorblad van hom in sy baaikostuum saam met sy kleinkinders op sy geliefde vakansieplek Oubos. “Oupa Nam-Nam” – so is hy by die foto genoem – was die toonbeeld van ‘n liefdevolle oupa.
John Vorster se latere presidentskap was kortstondig en misplaas – ‘n kunsmatige manier om sy politieke loopbaan te probeer verleng nadat hy kort tevore deur sy kollegas versoek is om weens swak gesondheid die tuig as premier neer te lệ. Al wat dit hom in die sak gebring het, is dat hy gedwing is om in die openbaar die verantwoordelikheid op hom te neem vir die “katnes” van die Inligtingskandaal wat deur regter Rudolph Erasmus finaal oopgekrap is. Dit was treurig dat die formidabele man se loopbaan so op ‘n laagtepunt moes eindig.