TOE NASPERS VRYE WEEKBLAD WOU RED

Max du Preez se Vrye Weekblad groet vandag ‘n derde keer. Hierdie keer is dalk finaal. Sy geldsake is eenvoudig te beroerd.
Of ‘n mens nou met die blad se sienswyses saamgegaan het nie, moet jy benadruk: die verlies van elke publikasie laat ‘n leemte en moet betreur word. Vir Afrikaanse lesers is dit skok op skok nadat ook Rapport en Beeld in resente tye pad gevat het.
Ek deel graag ‘n minder bekende stukkie geskiedenis oor die eerste ondergang van die blad wat in 1988, drie jaar nadat die Rand Daily Mail daarmee heen is, sy buiging as super-verligte weekblad gemaak het.
Sy ondersoekende joernaliste – moet Max du Preez nie onderskat nie! – doen toe plek-plek uitstekende werk met deurvorsende joernalistiek, soos die onthulling van die Vlakplaas-skandaal (iets waaroor ons hoofstroom-blaaie nie rede het om op trots te wees nie.) Maar sy aggressiewe, disrespekvolle politieke aanslag verower nie die mark nie.
In 1993, ná net vyf stormagtige jare, loop dinge vir hom sleg skeef – juis toe ‘n mens kon verwag het dat ‘n koerant van daardie aard se dag nou aangebreek het.
Wat doen die Nasionle Pers toe? Hy skink nie vonkelwyn en verlustig hom in Vrye Weekblad se penarie nie, maar loods vanuit die Perssentrum in die Heerengracht ‘n klandestiene reddingspoging.
‘n Senior oud-amptenaar, Jan Prins, word dadelik na Johannesburg gestuur om die terminale pasiënt te gaan ondersteun. Die Pers het al die koste gedra en Jan boonop ‘n salaris betaal.
Selfs dié pogings kon ongelukkig die ondergang nie uitstel of keer nie. Soos bekend, moes Vrye Weekblad vroeg in 1994 sy deure sluit – die eerste keer.
‘n Naskrif op ‘n ligter noot oor Du Preez se eie metodes van geldwerwing vir sy publikasie . Dit was soms bra onortodoks. In sy biografiese ontboeseming, Pale Native: Memories of a Renegade Reporter (Zebra Press, 2011) vertel hy byvoorbeeld sonder skroom van ‘n kuiertjie met ‘n kinkel by ‘n eensame, ryk weduwee. Hy moes as’t ware “sing for his supper” maar hy is nie onbeloond met leë hande huis toe nie.

HOOR-HOOR, BROER DANA!

Middag uit Melkbos

Vir Dana Snyman voel ek om vandag toe te roep: “Hoor-hoor, my bloedbroer!” In sy “Van Alle Kante” vanoggend in Die Burger skryf hy oor die naamlose sluipskutters op koerante se webwerwe op ‘n manier wat my laat dink hy is op die hoogte van my eie persoonlike lyding hierdie week.

Die ou lyf voel of dit in dosyne trapskrums gekarnuffel is. Onkundiges, kwaadwilliges, moedswilliges, noem maar op; almal is bo-oor my met min genade oor my poging om doodeeenvoudig net die onbetwisbare feit op rekord te plaas dat die redakteurs van my geslag nie verslaggewers verplig het om te lieg nie.

Uiteindelik het die oorsprong van daardie liegstorie, Max du Preex, met ‘n elegante systappie vinnig daarvan weggestap. Dit is rede tot dankbaarheid dat die waarheid hier tog wel geseëvier het (lees blog hieronder: ‘n Leuen begrawe). Dit maak alles die moeite werd. Nogtans voel hierdie ou ietwat mishandel in die proses van “debatvoering”. Min respek vir feite of die onderwerp ter sake is in daardie “debat” geopenbaar. Glo my.

Wat jou voel om in wanhoop te laat uitroep, is daardie alwyse eiewyses wat met hul eie agendas vir jou wil voorskryf. As jy nie hierop en hierop reageer nie, is jy ‘n lafaard! Dan blyk dit hulle begryp nie ‘n snars van waarom dit gaan nie.

Oor koerante en hul verbintenis met die Nasionale Party (wat geen geheim is nie) en oor my verbintenis met die Broederbond (wat geen geheim is nie) , het ek hoofstukke geskryf in my loopbaanboekies, Kroniek van ‘n Koerantman en In Kamera. Hoeveel diepte-artikels uit my pen is in koerante gepubliseer.

Dan wil uitdagende jong Turke (van agter skuilname) jou uit die hoogte dwing om in kort woordgrepe (“word bytes”) opnuut te antwoord op ou-ou vrae waarop uitvoerige antwoorde beskikbaar is – as hulle maar net die moeite wou doen om ‘n biblioteek te besoek.

Maar weet hulle wat en waar ‘n biblioteek is? Ek twyfel soms. In hul ywer om jou te beledig en af te kraak, tel die waarheid en bewyse van die waarheid klaarblyklik min. Een verkondig brutaal: nee dankie, hy stel nie belang om HvD se boekies te lees nie; ek sal tog net daarin my eie beul blaas. Maar dan dring hy aan op antwoorde op die naiëfste vrae, wat eintlik net onthul hoe bloedmin hy weet en hoe oningelig hy deur die lewe gaan.

My antwoord is sonder omhaal: ek sal my nie deur liggewiggies laat dwing om vir hul gerief dinge op die internet in kortbegrip weer te gee wat in harde kopie uitvoerig en beredeneerd geraadpleeg kan word nie. Vergeet dit, liewe webmaatjies, en gaan soek vir julle ‘n ander speelplek.

Van die “kommentatore” op die koerante se webblaaie het my nogal geamuseer. Ene Retha beweer sy onthou die uwe uit sy Volksblad-dae as ‘n “vet, ronde spinnekop” in ‘n fluweelbaadjie (sic) en strikdas. Behoede dit – ek had sulke fyn kleertjies nie in my kas nie. Tokkie lag haar morsdood vir die beeld wat sy in haar verbeelding van die ou “spinnekop” met die strikdas oproep.

Die einste Retha het my meewarig laat glimlag met ‘n verontwaardigde bydrae oor HvD en ‘n KP-advertensie, waaroor ek – kan nie die okkasie onthou nie – volgens haar my onbehae sonder seremonie betuig het. Ek aanvaar dat ek die ding bekrap het. Ongelukkig ‘n slegte gewoonte gewees as iets my nie geval nie! Seker ook die woord “leuens” deur dun lippe uitgepers. KP-propaganda het nie lekker in my “fluweelbaadjie” gaan sit nie, en dit bely ek graag, ook teenoor diegene wat dit as ‘n aartssonde beskou om so “subjektief” te wees.

Maar die weiering om dit te publiseer? Ai, ai.ai. Arme ou HvD was maar net die instrument wat maatskappybeleid (direksiebeleid) moes toepas. Geen advertensie van enige ander party kon daardie tyd nog aanvaar word nie totdat die direksie, op aandrang van die redakteurs, die beleid hersien het. HvD, glo dit of nie, was een van die drywers van die voorstel dat ons moet oopmaak.

Maar pleks dat ek daaroor ‘n held is, is ek oor “my” weiering ‘n skurk. Harde lewe!

Dalk sal die huidige geslag dit moeilik vind om hierdie ou man te glo. Ek “lieg” egter nie; ek “verdraai ook nie die feite” nie, soos die strydvaardige Max du Preez beweer nie. Advokaat Langdavid de Villiers moes immers so kort gelede soos 1987 uit die Naspers-direksie skededdel omdat hy Esther Lategan, ‘n onafhanklike kandidaat in Stellenbosch, ondersteun het. So ‘n naakte anti-NP-demonstrasie is nie met “voortgesette lidmaatskap van die direksie versoenbaar geag nie”. Njannies.

Engelse advertensies was ook lank taboe. Nadat die Friend ter ruste gelede is (soos Max se verbeeldingryke beskuldiging nou), was HvD instrumenteel om daardie verbod opgehef te kry. Skryf, Retha, skryf!

Ongelukkig is die verbod op advertensies van sekswerkers in koerante ook opgehef. Daarin was HvD gelukkig nie instrumenteel nie. Miskien moes daardie vurige meisies se “gunsies” teen ‘n prys, en die katalogus van die beskikbare ware wat hulle adverteer, liewer “toe” gebly het!

En hiermee sela oor hierdie onderwerp – die 80’s en ons nare redakteurs van destyds se verskriklike vergrype, bedoel ek, nie die gewillige meisies se gulhartige dienste nie. (HvD)

‘N LEUEN BEGRAWE

More uit Melkbos

Opvallend afwesig in Max du Preez se repliek op my brief (Beeld/Die Volksblad, 7 September) is enige herbesoek aan die ongegronde bewering wat die kort polemiek op tou gesit het: dat politieke joernaliste kwansuis deur Naspers-redakteurs in die 70’s en 80’s “gedwing” sou gewees het om die waarheid geweld aan te doen.

Daardie verregaande beskuldiging is hopelik nou finaal begrawe. Rus in vrede. Verslaggewers is nie gedwing, verplig, aangesê of onder druk geplaas om te lieg nie. Punt. Die waarheid oor hierdie saak is op die wennerspodium – altyd ‘n mooi gesig.

Die “gesuiwerde” klagstaat teen ons generasie wat Du Preez in sy repliek opnuut stel, is nie ‘n verrassing nie. Ek het in my brief erken dat “baie foute” daardie tyd begaan is, en mense genooi om “na hartelus” te kritiseer. Du Preez laat hom nie twee keer nooi nie!

Hierdie “klagstaat” verteenwoordig hoe Du Preez sake mettertyd al hoe meer begin sien het, en ek respekteer volledig sy goeie reg om dit keer op keer op te rakel. Geen haan sou in ieder geval ná sy relatief standaard-onderhoud gekraai het nie, was dit nie vir daardie moedswillige “dwing-om-te-lieg”-stertjie nie.

My oorhoofse kritiek teen Du Preez is dat hy ‘n komplekse en veeleisende era gans te staties skilder. Die politieke, en joernalistieke, landskap het in min dekades só skouspelagtig verander soos juis in die 80’s. Afrikaanse koerante het in die herskepping ‘n sleutelrol gespeel. (Die Volksblad het dan selfs – agterlangs – KP-advertensies begin plaas!)

In ‘n versoenende gees sal ek my jonger oud-kollega, ondanks hierdie voorbehoud, tog dit toegee dat nie al sy feite en vertolkings voor die voet deur my afgemaak word nie. Hopelik boor hy ook nog in die ouer man se takserings ook ‘n raakpunt of twee oop, ongeag al die wantroue en misverstand.

Naskrif: Hiermee volstaan ek ongelukkig … of gelukkig. My doel was om te bewys dat ons geslag redakteurs NIE politieke joernaliste gedwing het om te lieg. soos Max du Preez in ‘n onderhoud beweer het nie. Toe die tafel vir hom gedek is, het hy verkies om nie die uitdaging te aanvaar nie. Hy het NIE daardie beskuldiging herhaal nie. Hy het ook NIE vlees en bloed daaraan gegee met ‘n naam of name nie. Dit bring ons by die logiese einde van daardie saak. Andere kan dalk brand om ‘n debat aan ‘n wye front te voer. Die politiek van die 80’s wek immers baie teenstrydige emosie. Mag ek mooi vra dat diegene daardie debat dan liefs elders voer, asseblief? Wat ek op die hart gehad het oor sake soos koerante se steun vir die NP, redakteurs en die AB, en dies meer is elders volledig en ook oor en oor opgeteken. HvD.

BLERRIE FOOL PLOEG AL WEER!

More uit Melkbos

‘n Gunstelingstorie wat Johan van Wyk meermale in sy rubriek Stop Van Myne in Die Volksblad opgehaal het, was van die kwaai droogte in die Vrystaat. Toe kom die reen. Die volgende oggend dreun die trekkers op die lande.

Iemand – weet nie meer wie nie – merk toe meewarig op: Ja, die blerrie fools ploeg al weer!

Hierdie “blerrie fool” ploeg ook al weer. Nadat ek “finaal” besluit het ek steek nooit weer my nek uit in ‘n persdebat nie, kon ek my gister nie verhelp nie. Iemand stuur vir my uit die noorde ‘n onderhoud aan wat Volksblad met Max du Preez gevoer het. (Die onderhoud het ook in Beeld verskyn.) Daarin spoel Du Preez op sy ou trant mond uit oor die Afrikaanse koerante waar hy sy joernalistieke tande in die 70’s gesny het.

Ek ken sy vooroordele, ek ken sy skeefgetrekte relase, en ek kan kwalik onbewus wees van hoe hy my persoonlik verpes nadat hy in koerantrubrieke en elders (ook van sy boeke) al in geen onduidelike taal nie oor al my tekortkominge en gebreke uitgewei het. Wat my egter gister (veral) rooi laat sien, is sy sy aanspraak dat politieke joernaliste in sy tyd (dus ook my tyd as redakteur) “gedwing is om feite te verdraai”.

Dis natuurlik die opperste onsin, maar Du Preez kom telkens met sulke vae veralgemenings weg – en kry daarvoor sy kwota toejuiging. Voordat ek my kon keer, was ek voor die rekenaar. My reaksie verskyn vandag in die briewekolomme van Beeld en Volksblad.

Ek gaan dit ook hier weergee – met die enkele kommentaar, met groot respekte, dat my brief slegs gaan oor die spesifieke beskuldiging van “dwing om te lieg”. Ek soek antwoorde op reguit vrae: Wie, wat, waar, wanneer? Ek soek die naam of name van redakteurs wat sulke verregaande opdragte aan hom gegee het. Is dit Ton Vosloo, wat sy redakteur by Beeld was, of iemand anders?

Ek berei my voor vir wydlopige aanslae, wat, voorspelbaar, weer gaan draai by die Broederbond en waar nie nog nie. Ek het egter werklik nie energie vir ‘n herhaling van ou debatte nie, en vra by voorbaat verskoning dat ek nie gaan antwoord op ander sake buite die kernkwessie in my brief nie.

Hiermee my reaksie op Max du Preez wat vandag in Beeld en Volksblad verskyn:

Max du Preez beskuldig Afrikaanse koerante in ‘n onderhoud in Beeld (Donderdag 1 September) dat politieke verslaggewers gedwing is om “feite te verdraai.” Ter wille van die geskiedenis kan Du Preez gerus openhartiger wees. Sy verwyt bevat ‘n te ernstige aanklag teen ‘n vorige generasie redakteurs om só ‘n gewraakte aanspraak maar in ‘n waas van vae veralgemening te verdoesel.

Van wanneer praat Du Preez presies? In die “Who’s Who” begin sy loopbaan eers in 1982 toe hy Engelse pers toe is. Die presiese begin en einde van sy loopbaan by die Pers en skof as politieke verslaggewer kan dus nie uit daardie bron bepaal word nie. Die gerespekteerde Ton Vosloo was egter redakteur van Beeld van 1977 tot 1983. Dit was kennelik in die tyd toe Du Preez, volgens hom, gedwing is om “feite te verdraai”.

Beskuldig hy Vosloo? Was die sondaar Wiets Beukes, redakteur van Die Burger van 1977 tot 1990? Was dit dalk Bart Zaaiman wat tot April 1980 by Die Volksblad (nou Volksblad) redakteur was, of – behoede dit – Hennie van Deventer, sy opvolger?

Du Preez sê hy het “kapsie gemaak” By wie? As Beukes druk op hom geplaas het of, onwaarskynlik soos dit klink, Van Deventer, verreweg die groentjie-redakteur in daardie stadium, het die veronregte verslaggewer dadelik sy eie redakteur oor dié intimidasie ingelig? Veronderstel sy eie redakteur het sulke verregaande opdragte gegee. Het hy hom op die besturende direkteur, adv. D.P. de Villiers, of die direksie beroep?

Huidige senior joernaliste by Media24 – onder wie Tim du Plessis, hoof van Afrikaanse koerante, Peet Kruger, redakteur van Beeld, en Francois Lötter, ‘n adjunk-redakteur van Die Burger, was ook politieke joernaliste in die “ou” bedeling. Was hierdie kollegas onder dieselfde dwingelandy? Sal een as stawende getuie na vore kom dat van hom verwag is om “feite te verdraai” ?

Reguit vrae verdien pertinente antwoorde. Voorheen het Du Preez verkies om met venynige ontwyking te reageer as dinge vir hom ongemaklik raak. Dit sou my min verbaas as hy weer siedend gaan instorm en links en regs klappe uitdeel. Hy kan my egter kwalik slegter sê as wat hy reeds gedoen het.

Ek gee hoegenaamd nie te kenne ons generasie is bo kritiek verhewe nie. Ons het klaarblyklik in vername opsigte gefouteer. Kritiseer ons dus na hartelus. Wat werklik in die hart sal wond, is immers nie verdere algemene veroordeling nie; slegs as Du Preez sy klagstaat met feite kan bewys: as ons ontbloot sou staan dat ons inderdaad politieke joernaliste opdrag gegee het om te lieg (want dit is tog wat “feite verdraai” wesenlik beteken). Hy moet asseblief ruiterlik die skuldiges se name noem.

Skriftelike riglyne het in my tyd by Die Volksblad (1980 – 1992) bestaan waarin beklemtoon is dat die waarheid in alle omstandighede heilig is. Dit staan nou nog swart op wit. Die koerant is, op ons versoek, deur ‘n professor in die Christelike etiek hieroor getoets. Hy het ons ‘n skoon “oudit” gegee. Ek glo sonder voorbehoud ‘n verbintenis tot die waarheid was oral by al ons koerante die kernbeginsel van ons joernalistieke etiek.

Du Preez het nou die geleentheid om my en my kollegas finaal te ontmasker oor hoe ons dan, soos hy dit in daardie onderhoud stel, oor hierdie beginsel ons “eie reëls gebuig” het. (HvD)