DIE LAASTE AAND

By die afskeidsete in die Mount Nelson: Ons, seun, Johan, en skoondogter, Mariza.

By die afskeidsete in die Mount Nelson: Ons, seun, Johan, en skoondogter, Mariza.

Een formaliteit het in my loopbaan oorgebly nadat ek op 15 Desember 1997 my kantoordeur in die Perssentrum die laaste keer agter my toegetrek en die sleutels aan my bekwame p.a., Lizette Hanekom, oorhandig het.

Twee maande later op 19 Februarie 2018, eerskomende Maandag presies 20 jaar later,  het die 57-jarige afgetredene (nou 77) vir heel oulaas as lid van Naspers se uitvoerende bestuur ‘n das geknoop (‘n rooie) en ‘n donker pak aangetrek vir ‘n afskeidsete in die elegante, koloniale Mount Nelson-hotel aan die voet van Tafelberg.

Die gaste het aangesit vir gerookte salm, peper-beeslende en appeltert, afgesluk met “Vergelegen Vin de Provence” en “Nederburg Baronne”.  ‘n Opdragskildery van ‘n Melkbos-uitsig op Tafelberg deur Dale Elliot is o.m. aan my oorhandig.

Ton Vosloo het gepraat.  Ek het geantwoord – seker te uitvoerig, soos by geleentheid.  Adv. Lang-David de Villiers het al gewonder of ek nie soms te langasem raak nie!

Mooi musiek vir my gewees daardie laaste aand in die Mount Nelson, ook in ‘n letterlike sin:  die “Die Drie Tenore” het gesing – met soveel bruisende entoesiasme dat Jeff Malherbe, direkteur, knorrig versoek het:  Sagter asseblief!

Agterop die spyskaart was in my handskrif die volgende gedruk:  “Deur my hele loopbaan het ek daarin geslaag om op die regte tyd op die regte plek saam met die regte mense te wees.  As ek ‘n pluimpie verdien, moet dit vir my uitstekende tydsberekening wees!”

Booskappie op spyskaart.

Booskappie op spyskaart.

Ton het ook spanwerk beklemtoon.  Net uit ‘n ietwat ander hoek:  “Ek soek nog die geheime formule, maar Hennie het die span gelei van een oorname van ‘n vesting tot ‘n ander, van een ombouing van ‘n koerant na die aanpak van ‘n lewegewende projek by ‘n ander.  Redakteurs, bestuurders, redaksies, advertensies, verspreiding, besture en drukkerye het natuurlik almal saamgewerk, maar iemand moes as kaptein voorgaan, moes die planne op die tekenbord plaas en deel van die resep maak.  In Hennie het ons so ‘n leier gehad.”

Toe ek opstaan, was dit met die gewigtige besef:  dit sal my laaste woorde as Nasionale Pers-man wees.  Ek wou graag terugkyk en vorentoe.

Dit was nie die geleentheid vir stuitige grapjastery nie.  Een storie het my versamelde kollegas darem laat glimlag. Dit was die volgende:

“In die wêreld van die koerant leer ‘n mens allerlei fyn kunsies.  Een is vernuftige voetwerk.  Só vernuftig dat die uwe ná 36 jaar met genoeg spanning, konfrontasie en stryd kan sê:  Hennie van Deventer het verdien om gedonner te word, maar is nooit gedonner nie – hoekom nie is ‘n raaisel.  Nie dat daar nie ʼn paar near misses was nie!

” ʼn Moerige setteryvoorman het ʼn moersleutel teen ‘n veeleisende jong subredakteur by Die Volksblad gelig.  By Beeld moes wyle Johan Parreira, ‘n bokser, weer een nag vir ‘n verskrikte assistent-redakteur lyfwag speel:  teen ʼn bladplakker met ʼn skerp mes in sy hand en moord in sy hart.”

Oor die res van die (langerige) toespraak trek ons maar ‘n sluier. Dalk genoeg om te meld dat ek oor die toekoms van koerante nogal sterk positief gepraat het. In die 20 jaar wat verby is, het my vurige pleidooi vir die vertroeteling van die kosbare bate wat ‘n koerant is, egter by die e-aangedrewe owerhede en magte van die nuwe Naspers nie op vrugbare aarde geval nie. Helaas.

Maar wat, die karavaan gaan voort. Ek lees darem nog ses oggende in die week vroeg-vroeg Die Burger saam met my oggendkoffie, en die sewende oggend Rapport. Kan nie sien dat dit in my leeftyd sal verander nie, ondanks swartgallige voorspooksels uit selfs die mond van Naspers se nuwe, Nederlandse uitvoerende hoof, Bob van Dyk.

(Vir die blog is swaar geleun op “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”, Naledi, 2017)     

LOOPBAAN OP DIE VERHOOG

More uit Melkbos

‘n Kabouterkoning in 1952, ‘n energieke klavierspeler in 1956, ‘n dominee in 1957 en ‘n mislukte oudisie as ‘n donkie (een van my beste vriende, wat later ‘n bekende regter geword het, is vir die rol verkies). Dit som so plus-minus my verhoogloopbaan op skool op na my belowende debuut as danser van die Franse minuet in 1947 (vorige blog).

Nee, ekskuus, HvD – ek was in ‘n stadium as voordragkunstenaar nogal gereken en my weergawe van “Wie het ‘n lot wat soos my lot so swaar is?” kon trane in die oë van tydgenote van die vroulike geslag bring.

Dan was daar my rol as Hennerik in ‘n Volkie-weergawe van die bekende radioprogram van doerie tyd Die Mielieblaarklub. Die klub het gereeld by debatsaande in ons matriekjaar aangeleenthede van diepe impak op die skoollewe filosofies ontleed. Hennerik was nie die ster nie, maar tog ….

Die kabouterkoning se rol was nie veeleisend nie. Ek moes bak-arm op die verhoog rondloop en geluide maak soos ‘n verergde bobbejaan s’n. Die rol het my gekwalifiseer vir ‘n satynkostuum wat tog daaraan ‘n sekere gesogtheid verleen het.

‘n Vernamer rol was dié van die prins, met ‘n kleurryker kostuum en heelwat woorde om welluidend te spreek. ‘n Mooier seun het die rol voor my neus weggeraap, al was ek, volgens eie oordeel, ‘n beter proposisie.

Die dag toe ons ons kostuums kry, kom die prins en die kabouterkoning in Nieuwestraat, Potchefstroom, op ons fietse van die skool af gery, elk met sy kostuum in die een hand. Een kyk na die mooi seuntjie agter die kleurryke satyn-kledingstuk van die prins het Ma verbaas teenoor Pa laat opmerk: “Hier kom Hennie met ‘n meisie”. Die “meisie” is vandag ‘n plastiese chirurg, wat steeds na voorkoms die destydse kabouterkoning na die kroon steek. Weet nie of hy onder sy “eie medisyne” deurgelooop het nie.

Die energieke klavierspeler “John (Lover Boy) Massey” was ek in ‘n nagklub-orkes in ‘n mimiekspel in standerd nege. Ons had in ons mimiekgroepie ook ‘n ou met ‘n Hawaiese kitaar wat ek goed onthou, en ek meen ook o.m. ‘n tromspeler. Ek wou altyd graag klavier gespeel het en kon my inleef in die geluidlose spel op die glimmende wit en swart note terwyl die dansplaat op die draaitafel dreun.

My domineerol het ek met onderskeiding gevul, meen ek, buiten op die eerste aand toe ek weens ‘n aanval van verhoog-angs of iets my preek wat oor twee bladsye gestrek het, op bladsy twee begin voordra. Dit het fyn voetwerk gekos om daardie draai gemaak te kry om die begin en die einde om te ruil. Wonder nou nog of iemand in die gehoor dit agtergekom het. Die onderwyseres wat ons afgerig het, het wel. Sy was nie geamuseer nie.

Die rol van die donkie was in ‘n musiekblyspel in matriek oor Ali Baba en die Veertig Diewe. Die rol het my ontwyk omdat ek nie eens noot kon hou as ek soos n donkie probeer balk nie! (HvD)