VURIG EN PLESIERIG


Met die sanger Gé Korsten, ‘n boorling van Rotterdam, se vurigheid as Afrikaner het niks geskort nie. Hy was aan ‘n Engelse skool, maar sy hart was so anti-Brits dat hy uit die bioskoop gestap het as God Save The King speel. Smiddae is hy Die Voortrekkers toe by ‘n Afrikaanse skool. Hy het selfs spanleier geword.
Die grootste Suid-Afrikaner vir hom was dr. H.F. Verwoerd – “’n eerlike, onberispelike siener”. Dit is hoegenaamd nie omdat hulle albei van Nederland af gekom het nie, het Gé in ‘n onderhoud vir my rubriek Onder Vier Oë in Beeld nadruklik verklaar, sommer seergemaak dat ek oor so ‘n ernstige saak ‘n grappie kon waag.
Toe deel hy ‘n geheimpie: dat hy selfs lid van die Afrikaner-Broederbond was. En voeg hy skalks by: Hoewel sommige Broers sy rooi baadjie en wit broek van onberispelike snit as ietwat onortodokse kleredrag ervaar het, was hulle gou oortuig ‘n goeie Afrikanerhart klop in daardie wit broek.
Dat Gé ‘n voorste Afrikaanse sanger van ligte liedjies geword het, het, volgens hom, “eintlik net gebeur”. Dit was in 1966 rond (toevallig die jaar toe Verwoerd vermoor is). Gé was ‘n suksesvolle sakeman wat deeltyds in opera gesing het. Sy skoonvader, die bekende ds. A.J.V. Burger, stel toe voor dat hy ‘n plaat ten bate van die Abraham Kriel-kinderhuis opneem. In die Oos-kerk in Pretoria het hy en die Cantare-sangers vinnig-vinnig ‘n plaat van die bekendste Psalms, Gesange en Halleluja-liedere gemaak.
Albie Venter van Brigadiers het dit opgeneem, en sê toe vir Gé: “Wil jy nie vir ons ‘n plaat maak nie?” Só gesê, só gedaan. Hulle het vir Dean Herrick voor die orrel gekry en Gé het gewilde ou ballades soos Granada en Because gesing.
Toe kom die FAK en sê vir Brigadiers: “Kry vir Gé Korsten om ‘n plaat te maak waarop hy Afrikaanse liedjies sing, maar met ‘n goeie orkes sodat ons kan wegkom van die konsertina en dinge.” Op die plaat was liedjies soos My Hart Verlang na die Boland, My Vader is ‘n Musikant… en Erika.
Van dié liedjies het Fanus Rautenbach baie gehou. Keer op keer het hy dit oor sy destydse oggendprogram, Flink uit die vere, gespeel, en toe Gé hom weer kom kry, sit hy met ‘n treffer.
Die volgende stap was Afrikaanse rolprente. Kavaliers het besluit om van Gé se liedjies by die rolprent Krugermiljoene in te sluit. Hulle vra hom later om sommer self die rol te kom speel. “Ons is toe Blyderivier toe en ek is op ‘n perd en op ‘n ossewa en ek sing.”
Sy eie gunsteling was Liefling. Dit het mooi woorde wat deur Heine Toerien geskryf is, ‘n goeie wysie en groot trefkrag, aldus Gé. Op ‘n dag laai sy vrou ‘n ryloper op en toe hy agterkom wie sy is, sê hy vir haar: “Tannie weet, daardie woorde van Liefling is darem so mooi. Dis net soos die lewe is vir mense wat verlief is.”
Ja, was Gé se kommentaar, dit wys dat die woorde ‘n boodskap het vir elkeen wat ‘n bietjie liefdesprobleme het – en sulke probleme het elke mens maar die een of ander tyd.
Gé het ook sukkeldae geken toe hy as rou sanger soms in moedelose trane uitgebars het wanneer hy die hoë note nie kon bykom nie. Een so ‘n keer was toe Anton Hartman hom gevra het om die opera La Boheme in die laat jare 50 in Afrikaans te sing. Hy het traag ingewillig, want, hy het nog nie “reg vir die ding” gevoel nie.
Hulle het begin oefen en dit het nie goed gegaan nie. Gé kon kwalik ‘n G haal, wat nog te sê van ‘n C. Op ‘n dag kon hy die trane nie keer nie. Hy het die boek neergesmyt en uitgeroep dat hy dit nooit sal kan doen nie. Nellie du Toit, vir wie hy groot bewondering gehad het, het teenoor hom gesing. Sy het haar dadelik oor hom ontferm en ‘n bietjie raad gegee. En net daar het dinge begin verander.
Dié La Boheme sou hy nooit vergeet nie; ook nie die brief wat op die openingsaand in sy kleedkamer op hom gewag het nie. “Gé Korsten, who the hell do you think you are that you can sing La Boheme?” wou die skrywer weet. “You can never sing La Boheme in your life. You shouldn’t even go on stage tonight.”
In sy operaloopbaan was ‘n “paar moeilike insidente”. ‘n Keer het hy saam met ‘n besonder vurige Carmen uit Frankryk opgetree. Tydens die Blommelied, net voor die swaardgeveg, ontstaan ‘n woordewisseling, gryp Carmen die swaard en smyt dit neer. Dié nooi het dit egter geslinger dat dit doer van die verhoog af trek.
Toe die hoofoffisier, Carmen se kêrel, op die toneel kom en baklei soek, is Gé sonder sy swaard. Al wat hy kon doen, is om die ou stewig aan sy bors te vat en in sy oor te fluister: “My swaard is weg – veg!” Met dié smyt Gé die offisier se swaard ook weg en daar pak die twee mekaar kaalvuis!
Met die openingsaand van Fledermaus in die Aula in Pretoria het Gé se opgeplakte snor hom begin hinder. Nie lank nie of dit hang so skuinsweg oor sy mond. Hy pluk hom toe maar af en gooi hom weg.
Op een plek moet sy karakter ‘n bietjie oefeninge doen voordat hy tronk toe gaan. Dan kom Rosalinda in en vra: Wat maak jy nou? Toe Rosalinda (in dié geval Mimi Coertse) met hom begin praat, kom hy agter sy kyk so na die middel van sy lyf en wys-wys.
Sy hele rits was gapend oop; die wit van sy hemp was al wat hy gesien het. Dit was ‘n bietjie ongemaklik so op ‘n openingsaand, volgens Gé, maar gelukkig is dit ‘n grapperige opera. Hy het doodluiters sy rug gedraai en gewys hy maak nou toe. Toe bars die hele saal uit van die lag.

 Gé Korsten is op 29/9/1999 aan ‘n skietwond oorlede. Die vuurwapen was in sy eie hand. 

‘N LEEK SE TONGTIPPIETOETS

More uit Melkbos

“Liefling”-koors is los in die land. Mense ruk op flieks toe in lang toue. Die Afrikaanse media trippel opgewonde oor al die glansmense met romantiese nuwe identiteite oor wie hulle kan oe en aa. Debatte is aan die orde oor die meriete van “ons eie” musiekfliek – onder resensente (twee tot vier sterre) en onder gewone fliekkykers (bekoor en onbekoor).

Die uwe kry hier op Melkbos heelwat pos oor my afwysende kommentaar op ‘n blog wat intussen deur Litnet aan ‘n groter gehoor as my gewone bekendgestel is. Nie alles is bewonderaarspos nie. Koes, kêrel! Maar alles is, genadiglik, ook darem nie uit die verontwaardigde “Los-Liefling-uit”-kamp nie.

Een van die tienduisende wat skynbaar deur “Liefling” bekoor is, Johann, verwyt my in ‘n private e-pos dat ek met die ingesteldheid van ‘n resensent die fliek beoordeel. Dankie, Johann, vir die opmerking wat my aan die dink gesit het. Het jy dalk gelyk? Het ek inderdaad na “Liefling” gaan kyk deur ‘n ander bril as my gewone ene van hou-daarvan of hou-nie-daarvan nie?

Nee, daaroor moet ek dadelik versklil. As ‘n fliek-fynproewer bied ek my allermins aan, en oor die moets en moenies van ‘n hoogstaande fliek uit die verhewe hoek van ‘n kenner van die medium is ek doodgewoon dom. Die terminologie van resensente wat hul storie ken, klink soms vir my soos die een of ander Nguni-dialek.

Ek beoordeel ‘n fliek, soos ‘n boek of ‘n opvoering in die teater, of wat ookal, in die finale instansie net volgens een enkele maatstaf: verskaf dit my plesier of nie? As “Liefling” nie aan my verwagtinge voldoen het nie, is dit dus regtig nie omdat ek gegaan het om dit deskundig (of kwasi-deskundig) volgens ‘n vaste formule te beoordeel nie. Ek gaan na enige fliek om dit (hopelik) te geniet.

Maar hoe reageer ek terwyl ek daar sit? Sit ek stroef of met ‘n glimlag? Is ek begeesterd of teleurgesteld? Is dit ‘n goed-voel-ervaring of loer ek gereeld op die horlosie? Dit is die wesenlike vrae.

En as ek uitstap? Is dit met ‘n ligte tred? Voel ek my tyd is goed bestee? Wens ek ek het maar liewer by die huis gebly en ‘n lekker boek gelees of sommer net ongekweld vir die berg en see sit en kyk?

Jy, Johann, het van “Liefling” gehou; ek, Hennie. het nie. Dit beteken nie dat die een “reg” is en die ander “verkeerd” nie. Dit beteken ook nie dat die een met hierdie ingesteldheid gaan kyk het en die ander met daardie ingesteldheid nie. Al wat dit, na my insigte, beteken, is dat mense nie bloudrukke is nie. Hulle is unieke individue.

Persoonlikhede, smake, ja, ook subjektiwiteite en vooroordele, kan nogal grondig verskil. Oor gewigtige sake. Ook oor ligtere kwessietjies soos of ‘n fliek oulik is of nie. Dit word opnuut deur ons uiteenlopende opinies gedemonstreer.

Een slot-opmerking tot my slotbydrae tot die “debat van die doodgewones”: “Liefling” is verreweg nie net sleg nie. Die resultaat haper egter omdat die resep eenvoudig nie werk nie.

In die media het ons in my tyd gepraat van die “mieks” van ‘n koerant of tydskrif. Net die allerbeste joernaliste kon daardie ongedefiniëerde en ondefiniëerbare “mieks” gereeld regkry. Die “Liefling”-span het in my leke-oë ongelukkig NIE daardie “mieks” reggekry nie. Van sekere bestanddele is te veel ingeroer; van ander te min. Daarom slaag dit nie die tongtippie-toets nie en is my reaksie een van onbehaaglikheid.

Ek bevestig hiermee my toekenning van twee sterre … plus ‘n halwe vir die entoesiasme.

Naskrif: Ek wonder in die stilligheid hoe sou ‘n gesofistikeerde nie-Afrikaanse gehoor in sê maar Europa of Amerika “Liefling” ontvang het. (HvD)

LAWWE LIEFLING

Middag uit Melkbos

Kyk, ek is nou nie Leon van Nierop nie, en is waarskynlik vrotterig toegerus om oor flieks se meriete of gebrek aan meriete te oordeel. Maar ek het tog kans gesien om mense hier sterk aan te raai: Gaan kyk na “Unstoppable”.

Daarom gaan ek ook ‘n uitspraak hier waag oor die Afrikaanse musiekprent “Liefling” (die “eerste in 30 jaar”) Mense gaan van my verskil en kan maar met my raas oor my opinie. Ongelukkig moet dit van die hart: “Liefling” is vir my, ná al die verwagtinge wat geskep is (van Kwêla tot Pasêlla is uitasem saam op die reklamewa), so vervlietend soos spookasem.

Die tema is papierdun, die karakters sonder diepte, die storie te soetsappig en die verloop werklik te voorspelbaar – “boy meets girls, boy nearly loses girl, boy gets girl”. En goeie aarde, is ons nog nie verby kussinggevegte met vere wat in alle rigtings trek en roomterte in die gesig nie?

Laat my darem ook ‘n woord van lof spreek. Vat dit van ‘n ou oom met ‘n kennersoog oor die skoner geslag: daardie Lika Berning (die dogter van Jana Cilliers) is ‘n wenner in die titelrol – pragtig, ongekunsteld, sprankelend, eg. Bobby van Jaarsveld is plek-plek ‘n heel innemende Jan. Die rolverdeling spog ook met ander mooi mense (o.a. Sonja Herholdt, Anna Davel en, uit ‘n fotogeniese hoek, ook Marlee van der Merwe, al is haar karakter, die bose Melanie, so kunsmatig soos ‘n plastiekblom).

Die sterre doen dapper en entoesiasties hul ding teen mooi agtergronde wat mooi gefotografeer is langs die Hartebeespoortdam en in Switserland. Maar, jammer, saamgeflanste mooi toneeltjies is onvoldoende vir die suggestie dat “Liefling” op die spoor kan loop van “Hoor my Lied”.

Moet dit liewer ook nie in dieselfde asem probeer noem as “Mamma mia” nie.

Verskeie tonele is duidelik aangelas om geen ander rede nie as om bepaalde liedjies en bepaalde kunstenaars te akkommodeer. Carike Keuzenkamp se “Hoeka, Toeka” met haar in die uniform van ‘n verkeersinpekteur of iets, en later agter die wiel van ‘n ou tjor – wat soek sy daar? – is ‘n verleentheid.

Al het jy verwag (of geweet) Kurt Darren se “Kaptein Span die Seile” moet die een of ander tyd kom, word dit so aan die hare ingesleep dat jy moet grynslag. “Katryn, Katryn” met drie jong mans al dansende om die permanent benewelde Katryn (Sylvaine Strike) op die dek van ‘n plesierboot was pure “candid camera”.

Sekere tonele hou aan en aan. Jan se uitgerekte selfondersoek voor die spieël het hierdie kyker laat vrees die projektor het dalk vasgehaak. En dan daardie slot, met die twee verliefdes wat op die brug bly rondomtalie soos twee opgewende tolle. Het die arme kinders nie dronk in die kop geword nie?

Oor die radio het die fliekmaker vertel die 24 liedjies waarop die storie “gebou” is, is ná ‘n seleksieproses as die publiek se gunstelinge geïdentifiseer. Nou-ja, goue oues duik op wat ongetwyfeld die hartsnare sal roer. Maar totaal onbekendes maak ook hul buiging met yl woorde en yler deuntjies. Die ene oor die “feksmasjien” (om vir ‘n nooi liefdesversies te “feks”) is ‘n sprekende voorbeeld. Van waar, Gehasi, en wie se gunsteling nogal?

Laetitia Pople het in ‘n resensie in “Die Burger” vir “Liefling” ‘n beskeie twee sterre gegee. Ek het eers gedink sy is dalk te “opstêrs”. Nadat ek “Liefling” gesien het, is Laetitia se goeie oordeel by my bo verdenking.

Ekskuus, maar eerlikheid is tog verkieslik bo die heuningkwas, of nie? (HvD)