KWêLA OP DIE DUINE

Dinge op die duine
OOr Kyknet se 25 jaar gesels Murray la Vita en Marida Swanepoel vandag land en sand in Die Burger. Geluk, Kyknet, vir ‘n kanaal wat met nul kykers begin het, het julle geroer om vandag so ’n betekenisvolle faset van die Afrikaanse leefwêreld te wees.
Mense kyk nie na Kyknet se programme nie. Hulle praat oor Kyknet. Hulle loof en kritiseer. Hulle kla oor herhalings en oor programme waarvan hulle nie hou nie. Hulle bel mekaar oor en weer of stuur whatsapps oor programme wat hulle meen hul vriende nie durf misloop nie.
Om so ‘n gegons af te gee, is ’n pronkveer in die hoed. ‘n Vlugtige terugblaai deur Facebook-inskrywings en blogs as ek my naam en kyknet in die soekvenster tik, wys dat ek oor 25 jaar al ook ‘n gereelde kyker is; soms krities, soms instemmend, soms met ‘n pluimpie.
Vir sekere knorighede kry ek ‘n agterna-glimlag soos oor Kyknet se uitgelate advertensies in die spitspunt van die Covid-tyd. Ek haal die hele vieserige inskrywing aan: ”Voel jy die genade? Weke lank verduur ek al die Kyknet-advertensie gelate. Maar, goeie genade, is dit nie die toppunt van insensitiwiteit om jou eie beuel so te bly blaas terwyl ons almal bedeesd met geslote deure moet leef nie? Elke taboe van sosiale kontak word in die selfingenome beeldbouery by die venter uitgesmyt. Dit dans, dit wikkel, dit trippel. Dit druk en soen. Dit swaai en laat waai. Hedonisme op sy allerergste. Dalk moet Kyknet ‘n bietjie oor maatskaplike verantwoordelikheid in kritieke tye besin en sy indrukwekkende skeppende vermoëns liewer aanwend om die gemeenskap in ‘n krisistyd soos nooit tevore nie te ondersteun, te bemoedig en tot verantwoordelikheid aan te moedig.”
Programme wat veral by my wrewel uitgelok het – meer as een keer – is die Boer-soek ‘n vrou-tipe. Die ou man is maar ongemaklik oor hoopvolle meisies wat hulle so in die openbaar beskikbaar stel vir manlike skrutinering.
OOr Jan Braai het ek my mond uitgespoel oor die oorheersende rol van borge in ‘n stadium – o.m. elke denkbare gasbraaier – en Jan se soms ietwat oorgeesdrigtige bevordering van produkte wat sy naam dra. In ‘n program uit München het hy aanhoudend gepraat van Munich. Dit het my erg irriteer.

Saam met Susan Booyens en haar span
Oor die sepies Sewende Laan en Suidooster het ek meermale saamgesels, veral om raad te gee as die vryery in eersgenoemde skeefloop of my by die wellewende Mymoena te skaar oor haar man, Abe, se huweliksontrou destyds. Onthou julle?
Vir Kwêla lof gehad vir lekker onderhoude met o.a. Gary Player en insiggewende programme soos oor FW de Klerk. Toe Coenie de Villiers klaarmaak, het ek hom gesalueer vir ‘n netjiese skof. Toe Hannes van Wyk ‘n ou skoolmaat toelaat om geld te vra vir haar seun se studies aan ‘n Switserse sjefskool was ek egter verontwaardig. Word dit nou ‘n bedelprogram?
Oor die Nuus het ek al heelwat gekla. Tim du Plessis moes my ‘n keer daarop wys dat dit E-nuus se nuus is, nie Kyknet s’n nie. Dis maar ‘n grys area.
OOr Riaan Cruywagen se oumens-program, Kruppel-huppel of so iets, nogal geborg deur Avbob (Almal Vrek Behalwe Ons Boere), had ek telkens ‘n goeie woordjie – nie om die hondjie nie, maar die halsbandjie. Natuurlik is ‘n mens se ingesteldheid positief as jy so ‘n gawe kans kry om jou eie belange te bevorder. Mea ook culpa.
Eintlik wil ek vertel van my eerste eie Kyknet-ervaring. Dit was 24 jaar gelede toe die kanaal nog in sy doeke was, toe nog bekend as Satelliet-TV. Op 1 Februarie 2001 het Susan Booyens – borrelende mens – en ‘n span van Pieter Cilliersproduksies kom kuier om oor my hondeboek, ‘n Vriend vir altyd (Human & Rousseau, 2000), te gesels. Het een keer in my lewe werklik soos ‘n ster gevoel en dit was nogal nie onaardig nie. Ons was in ‘n stadium tot op die duine met die TV-kamera op ‘n driepoot.
Die uitsending was net ses dae later, op Woensdag (ja Woensdag) 7 Februarie. Ander deelnemers daardie aand was o.a. prof. Erik Holm, sanger Jannie Moolman en kunstenaar Tertia du Toit. Hoge geselskap.
Ek het die CD hier as iemand belang stel. Nogal oulik vir my. Moet weer vir die kleinkinders opkommander om te kyk.