Mar 13, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die gedugte ry ander kunstenaars wat ‘n lang pad saam met “Die Volksblad” se beroemde Kunsmark in Bloemfontein gestap het, moet my vandag maar vergewe as ek Esté Mostert vir ‘n buiging uitsonder.
Este het inderdaad kort na haar eerste solo-uitstalling on 1981- sy was toe 22 – ‘n entoesiastiese Kunsmarker geword en dit deur die jare gebly, maar dit is vir een kunswerk wat ek haar hier wil vermeld.
Dit hang in my huis op Melkbos reikafstand van die stadsamptelike oorkonde van die Bloemfonteinse stadsraad waaroor ek ‘n dag of drie gelede geskryf het. Die onderwerp is die Kunsmark.
Soos gemeld, was Tokkie wat Dondag 80 jaar oud word, in die 80’s geruime tyd Mev. Kunsmark. Toe ons Kaap toe kom, het uit uitstallersgeledere spontaan die gedagte gekom dat sy ‘n geskenk moet kry.
Iemand se blink idee was so ‘n skildery. Daarvoor was Esté en haar uitsonderlike styl haarfyn uitgeknip. Sy is bekend vir haar romantiese skilderye van droomwêrelde, vol esoteriese figure en landskappe. ”Haar werk is ‘n weerspieëling van haar innerlike wêreld, met ‘n fokus op kleur, lig en atmosfeer,” rapporteer Meta op sy KI-platform.
So min as wat ek van skilderkuns weet, wil ek my verstout om te beweer dat haar skildery (foto) van die informele kunsmark onder die bome met sy skilderye, kunstenaars en besoekers presies dit vergestalt.
Este is ‘n uitvoerproduk van Kroonstad – soos o.a. Antjie Krog, Dot Serfontein, Burger Geldenhuys, Max du Preez, Mosuia Lekota en Pallo Jordan. Sy het formele kunsonderrig ontvang aan die Universiteit van die Vrystaat, waar sy onder Casper Steenkamp, Ben Botha en Prof A.A.F Treurlinckx gestudeer het.
Sedert haar eerste solo-uitstalling in 1981 het sy deelgeneem aan talle nasionale en internasionale uitstallings in lande soos Taiwan, die VSA en Engeland.
Ek wens sy kon weet hoe ek en Tokkie nog haar skildery wat duidelik met soveel liefde geskep is, geniet en waardeer.
Mar 11, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Bo is Tokkie by die oorkonde op sy ereplek op Melkbos. Onder word dit aan ons oorhandig op ‘n onthaal in die stadsaal in 1988. Links is ons en regs die Neuhoffs, Toeks en Neels.
‘n Swerwer het oplaas tuisgekom, en harte en hande staan vir hom oop. Die swerwer is nie ‘n mens nie, wel ‘n waardvolle dokument.
Ek praat van ‘n sierlike stadsamptlike oorkonde van die stad Bloemfontein aan “Die Volksblad” weens die waarde van die Kunsmark vir die stad in die jare 80.
Die geraamde oorkonde was in ‘n swerwer-fase sedert “Die Volksblad” (later net “Volksblad”) op 8 Augustus 2020 treurig as papierkoerant ophou bestaan het (later ook as aparte digitale produk). Om die een of ander rede is dit nie saam met ander memorabilia NALN toe waar ‘n waardige ”Volksbladkamer” sedertdien ingerig is nie.
Met die oog op Tokkie se 80ste verjaardag a.s. Sondag het die oorkonde sy weg uit Bloemfontein na Melkbosstrand gevind. My vrou was jare lank ‘n gewilde en bewame Mev. Kunsmark.
Waterskade en skade aan die raam is herstel en die oorkonde staan nou op ‘n ereplek in Penguin Place 11.
Die Kunsmark is in 1982 deur die uwe in Koningspark, Bloemfontein, begin. Elk eerste Saterdag van die maand het uitstallers van heinde en ver gekom, selfs oor landsgrense. Meer mense het dikwels daarheen gestroom as wat Saterdagmiddae gaan kyk het hoe Vrystaat oorkant die straat rugby speel. Gemeentes het orrels afbetaal en kerke geverf met eetgoed wat daar verkoop is.
Dalk die spesiaalste herinnering is die vrugtekoek waarmee die Kunsmark sy vyfde verjaardag op 2 Mei 1987 gevier het – amper 40 jare gelede. In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout nie). Hier is die volledige resep: 70 kg koekmengsel / 30 kg meelblom / 15 kg suiker / 60 dosyn eiers / 15 bottels brandewyn / 18 kilogram botter / 15 kilogram kersies /9 kilogram neuter.
Tokkie en haar helpers het daardie dag in spesiale mandjies 5 000 porsies koek uitgedeel.
Die stadsamptelike verering was die breinkind van burgemeester Neels Neuhoff. Saam met die oorkonde is ‘n serifikaat van verering op 23 Februarie 1988 aan my en Tokkie oorhandig. Ons bewaar dit ook soos goud.
Die oorkonde is ‘n kalligrafiese pragstuk. Dit is toegeken weens die ”merkwaardige suksesverhaal van die Kunsmark en uit waardering vir die Kunsmark se besonderer waarde vir Bloemfontein en sy inwoners.
“Die Kunsmark dra ‘n aangename beeld van die stad uit tot ver buite sy grense en bevestig weer eens die vrugbare bondgenootskap van dekades tussen die Vrystaatse hoofstad en ‘Die Volksblad’.”
As iemand dalk dink die oorkonde hoort nie op Melkbosstrand nie, hier is ‘n boodskap wat van Gert Coetzee, laaste redakteur van die koerant en as’t ware vader van die kamer by NALN, ontvang is: “Ek is bly dit het by julle uitgekom en vertrou dit graag aan julle toe, ook om te koester en te geniet.” Dankie, Gert.
By die amptelike ontvangs van die oorkonde spreek ek graag ook ‘n woordjie van waardering aan ander staatmaker-bouers aan die Kunsmark deur die jare soos Georjane Oberholzer, Marietjie Gericke, Henriëtte (Anderson) Loubser en Alet Coetzer.
Apr 28, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die yslike koek. Die meisietjies is Mariëtte Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5), bure van ons se dogters.
Gesondheid! So kon jy iemand toeroep wat dertig jaar gelede, op 2 Mei 1987, by “die grootste verjaarsdagparty wat Bloemfontein nog gesien het” ‘n stukkie vrugtekoek in die mond gesit het. In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout nie!).
Die brandewyn-volume klink dalk ietwat ruim. Onthou, dit was nie sommer ‘n doodgewone koek nie. (Die) Volksblad se Kunsmark in Koningspark langs Loch Logan het sy vyfde verjaardag gevier. Dit moes behoorlik gedoen word.
Die mark was immers ‘n hoogtepunt op die Rosestad se sosiale kalender: ‘n geleentheid vir oud en jonk, kunstenaar en kunsliefhebber, ‘n dag elke maand wat deur niemand gemis word nie.
Op Kunsmark-Saterdag het gereeld meer besoekers na Koningpark gestroom as smiddae na die rugby in die Vrystaat-stadion. Besoekers het per bussie van die platteland gekom, Verkeersknope was algemeen. ‘n Gratis pendeldiens is deur die Bloemfonteinse munisipaliteit verskaf.
Die fees van 2 Mei 1987 was nogal iets om oor huis toe te skryf.
Vrolike musiek is verskaf deur die Sukovs-orkes (die Radeszky-mars, Du kannst nich treu sein, Don’t cry for me Argentina en ‘n hand vol ou treffers) en die sangpaar deur Philip en Ella Kotzé. n Sjarmante teetuin is met die hulp van Tafelronde en die O.V.V. onder die groot koeltebome vir eregaste aangebied.
Duiwe is losgelaat. Die feesrede is gelewer deur die Administrateur, Louis Botha, wat sommer sy kunstalent ook uitgeleef het op ‘n reusedoek wat deur die Vrystaatse Technikon vir alle aspirant-kunstenaars opgerig is.
‘n Span matriekmeisies van die Sentrale Hoërskool het mandjies vol koek aan elke besoeker bedien. ‘n Jonger span het met lekkergoed vir die kinders rondgeloop. Almal kon proe. Duime het na bo geskiet. Dankie, het die dankbare ontvangers beduie, dit smaak vorentoe!
Om van so ‘n koek te droom, is natuurlik een ding; om die droom te verwesenlik iets anders. Op my vrou, Tokkie, organiseerder, en haar gedugte Kunsmark-span, Marietjie Gericke, Henriette Anderson (nou Loubser, redakteur van Huisgenoot) en wyle Jan le Roux, het allerlei uitdagings gewag.
Die eerste vraag was: Waar kry ons ‘n resep? Christel Erasmus van die SA Droëvrugteraad (nou van die Paarl) het geesdriftig sommetjies begin maak. Hier is haar volledige resep: 70 kg koekmengsel, 30 kg meelblom, 15 kg suiker, 60 dosyn eiers, 15 bottels brandewyn, 18 kilogram botter, 15 kilogram kersies, 9 kilogram neuter.
Vraag twee: Waar sou groot genoeg panne vandaan kom? Gelukkig was Tempe by Bloemfontein destyds ‘n reuse-basis vir dienspligtiges. Ja-nee, hulle sou hul panne graag vir ons leen.
Wie sou bak en waar? Die Pick ’n Pay–hipermark was bekend om sy fyngebak. Sy bakker, Peter Steinberg, was dadelik vuur en vlam. Hy sou dit deurnag doen in die winkel se reuse-oonde. Twaalf koeke is gebak.
Wat gaan die hoop bestanddele kos? Die hande het oopgegaan. SA Sugar Corporation het die 15 kilogram suiker gegee. Banana Distributors het die 60 dosyn eiers bygedra. Van Sacca het die 18 kilogram botter gekom en van Star Foods die 9 kg neute. Dalk was daar meer skenkers. Onthou, dit was 30 jaar gelede.

Skilderye langs die visdam.
Vervoer kon ‘n turksvy wees. Geen probleem nie, het Oranje Toyota dadelik laat hoor. ‘n Hi-Ace se sitplekke is uitgehaal om vir die twaalf koeke ruimte maak. Die koeke was so onhanteerbaar groot dat dit in twee gesny moes word om te vervoer.

Selfs Sarie was daar.
In ons kombuis in Genl Van Schoorstraat het Tokkie, Rina le Roux, Annette van Rensburg en Alida Fourie porsies gesny totdat hul vingers kramp. Twee oumas, ons eie Ouma Marietjie van Wyk en Annette se Ouma Henna Nel, asook die huishulp Miriam Maarman is ingespan om die koeke uit die eetkamer aan te dra – hulle was die “runners”, vertel Tokkie.
“Fantasties! Pragtig! Wonderlik!” het Günther Brozel, wynmaker van Nederburg, die Saterdag ekstaties uitgeroep. Selfs die vrouetydskrif Sarie het uit die Kaap kom kyk en entoesiasties berig oor die “belewenis” van daardie laatsomeroggend in Koningspark.
* In Tokkie se besit is nog kaartjies wat sy in die 80’s by een van die kraampies gekoop het. Bedink die verrassing wat dit vir Michelle le Roux (nou mev. Marais) was om op haar 50ste in 2015 ‘n gelukwensing te ontvang op ‘n kaartjie wat sy dertig jaar gelede op die Kunsmark aan “Tannie Tokkie” verkoop het!
May 11, 2016 | Hennie van Deventer se Blog

Kunsmarkplesier in Koningspark, Bloemfontein.
Middag uit Melkbos
Meer oor daardie enorme vrugtekoek – 15 bottels brandweyn, verbeel jou! – wat vir die vyfde verjaardag van Die Volksblad se Kunsmark op 2 Mei 1987 gebak is.
Waar kry ons ‘n resep vir ‘n koek met 5 000 porsies? Christel Erasmus van die SA Droëvrugteraad (nou van die Paarl) begin geesdriftig sommetjies maak.
Waar sou die panne vandaan kom? Gelukkig was Tempe by Bloemfontein ‘n reuse-basis vir dienspligtiges. Ja-nee, hulle leen dit graag vir ons.
Wie sal bak? Die Pick’nPay–hipermark was bekend om sy fyngebak. Sy bakker, Peter Steinberg, is dadeik vuur en vlam. Hy sal dit deurnag doen in die winkel se reuse-oonde.
Nou die bestanddele. SA Sugar Corporation gee die 15 kilogram suiker. Banana Distributors dra die 60 dosyn eiers by. Van Sacca kom die 18 kilogram botter en van Star Foods die 9 kg neute. Dalk was daar meer skenkers. Onthou, dit was 30 jaar gelede.
Vervoer lyk na ‘n moontlike turksvy. Geen probleem nie, se Oranje Toyota. Die verskaf ‘n Hi-Ace. Haal die sitplekke uit om ruimte te maak.
By die huis sny Tokkie, Rina le Roux, Annette van Rensburg en Alida Fourie die 12 reusekoek in porsies om die kombuistafel by Van Schoorstraat 1. Twee oumas, ons eie Ouma Marietjie en Annette se Ouma Henna, asook die huishulp, Miriam, word ingespan om die koeke uit die eetkamer aan te dra – hulle was die “runners” vertel Tokkie.
Die Saterdag deel ‘n span matriekmeisies van die Sentrale Hoërskool die koek uit. Die duisende wat uit alle oorde op Koningspark toegesak het, proe almal en wys duime na bo.
Tokkie en haar gedugte Kunsmark-span, Marietjie Gericke en Henriette Anderson (nou Loubser, huidige redakteur van Huisgenoot), kry van oral net die hoogste lof vir ‘n fees-fees soos min. Selfs die vrouetydskrif Sarie berig entoesiasties oor wat alle daar gesien en beleef is.
Verlang nog na die dae nou reeds lank verby …. (hvd)