Apr 13, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die Hoexters, Van Deventers en Philip en Nance van Rensburg by Sabiepark se piekniekplek.
Met sy 100ste verjaardag in Februarie het ek oor Gustav Hoexter, oud-appélregter, geskryf dat hy by uitstek die voorbeeld is van ‘n man wat die ware lewenskuns bemeester het.
Met sy dood twee maande en drie dae later in sy huis in Bloemfontein is dit die woorde wat eerste by my opkom oor hoe om die fyn heer met sy vlymskerpe regsbrein, sprankelende spitsvondigheid en grenslose hartlikheid te beskryf.
Ek het dit al voorheen vertel, maar omdat dit so ‘n raakvat-definisie vir Gustav verskaf, vertel ek graag weer van die geskenk waarmee ek op my 70ste by die Hoexterhuis in Sabiepark weg is. Vergewe my maar daaroor, asseblief.
Die geskenk was ’n bottel Bell’s (“gee daai man ’n Bell’s!”). Wat dit egter van ‘n gewone bottel Skotse watertjies onderskei het, was die Hoexter-wyshede wat dit vergesel het. Een, ’n stukkie Duitse waarheid, was op die drasak: “Alt werden steht in Gottes Gunst, jung bleiben, das ist Lebenskunst!” En hoe jonk van gees het hy nie self gebly nie!
Die ander was binne die drasak. Dit was die woorde van ’n heildronk op die nuttige kurktrekker: “Here’s to the corckscrew! The key to unlock the storehouse of wit! The treasury of laughter! The front door of fellowship! And the gate of pleasant folly!”
‘n “Storehouse of wit” was Gustav inderdaad. Die “treasury of laughter” het hy volledig besit. Die “front door to fellowship” – dit het sy vriendskap vir almal beteken wat so eindeloos bevoorreg was om hom te leer ken.
Was dit nie Sabiepark nie, het my paaie dalk nooit met Gustav s’n gekruis nie. Hy was nie een vir die kollig nie. Daarom is sy honderdste verjaardag buite in sy onmiddellike vriende- en kollegakring relatief onbesonge verby. Ook daarom sal die groot man by sy dood waarskynlik nie die wye eer en erkenning kry wat hy verdien nie.
Oor sy rol in die regspleging (ook as voorsitter van die belangrike Hoexter-kommissie) is ek nie toegerus om my uit te laat nie. Ek kan net getuig dat hy onder sy kollegas ‘n reputasie van uitmuntendheid met sy uitsprake, skerpheid van intellek en integritet geniet het wat hom in die bestes van die bestes op daardie gebied plaas.
My eie kennis van Gustav Hoexter kom van Sabiepark waar ons twee dekades lank oor dosyne vuurtjies by die piekniekplek en by ons onderskeie huise in Tambotie- en Wildevylane gekuier het.
Ek het Gustav by geleentheid Sabiepark se gulste gasheer genoem. Dit was geen oordrywing nie. Sy en die sprankelende Frances se gasvryheid was legendaries. ‘n Kampvuur by die Hoexters was nie ‘n speelgoed-vuurtjie nie. Onvergeetlike aande is deurgebring in die lapa met al die lanterns wat aan kaal takke rondom flikker, die lekker stompe waarmee die bedrywige gasheer sy vuur stook en die sebras (selfs koedoes) wat gereeld vir gaste se onthalwe sommer naby kom water drink het.
Aan die hoof van sy tafel onder die kandelaar van werklike kerse was hy meesleurend galant en gevat. Met vreugde onthou ek die anekdotes wat hy kon oprakel; sy onuitputlike fonteintjie van kwinkslae, feestelike bydraes tot tafelgesprekke en sy relevante kwotasies uit klassieke werke.
Gaste het aan sy lippe gehang en die uurtjies het om daardie tafel prettig omgevlieg met, buiten die goeie wyn, ook altyd iets spesiaals, soos ‘n Normandiese witblitsie, om die palet te reinig en gemoedelikheid te bevorder.
Hy was werklik die “grand old man” van Sabiepark. Dat iemand se plek leeg is, ‘n oorwerkte cliché. In sy geval is dit nie. ‘n Gustav Hoexter skop jy nie agter elke rosyntjie- of sekelbos uit nie.
Nov 30, 2015 | Hennie van Deventer se Blog

Bure en vriende se name in ons nuwe besoekersboek op 3 Januarie 1988. Een van hulle is Johann Strauss, wat die boek as Kersfeesgeskenk vir my en Tokkie gegee het.
More uit Melkbos
Vir Kersfees 1987 het ek by ons buurman Johann Strauss, oupa van Mej. Wereld, Rolene, ‘n besoekersboek present gekry. Johann was self ‘n besoekersboekman sonder weerga. As ‘n buurvrou gaan aanklop om, by wyse van spreke, ‘n koppietjie suiker te leen, moes sy gou eers skryf.
Op Nuwejaarsdag 1 Januarie 1988 het Tokkie se ma, Ouma Marietjie, die eerste mens geword wat in ons boek geskryf het. Haar adres was toe nog Louisehof, Bultfontein. Sy was 74. In 2013 is sy op amper 99 oorlede.
Vandag het ons omgeblaai na die laaste oop blad. Die boek is feitlik op sy einde. Tussen Ouma se eerste inskrywing en die jongste een, deur kollega George Louw – uitgewer, digter, dramaturg – en sy vrou, Dorette, van Bloubergstrand op 19 November 2015 is letterlik honderde der honderde ander name: kollegas, bure, vriende, familie, skool- en studentemaats, gaste by verjaardae en etes, kennisse. Eminentes en minder eminentes, tot uit Amerika.
Hoeveel al lang boompies toe is, wil ek nie eens begin om te bereken nie.
Ons boek is ‘n naslaanwerk. Wil jy weet wie was almal op die uwe se 50ste, draf net vinnig boek toe. As jy vinnig wil seker maak hoe spel die of daardie sy/haar naam, die boek bied die antwoord. Watter jaar was broer Christo hier uit Australië? Binne ‘n japtrap weet jy.
Ongelukkig was die ontvangers nie naastenby so stiptelik met hul present-besoekers soos die gewer met syne nie. Vele name wat daar moet gewees het, ontbreek. Eenvoudig vergeet om die boek uit te haal. Oupa Malan is een wie se naam nie daar is nie. Hy was op Kersfees 1987 die laaste keer by ons in Bloemfontein – toe al terminaal siek. Ouma Malan, my ma, het gelukkig wel later geskryf: eers op 3 Januarie 1991, my 50ste.
Opvallend kom party name nogal dikwels voor, onder andere dié van Johann en Elsie Strauss. Seker maar morele dwang ervaar om elke keer die boek op te diep as hy by die voor- of agterdeur instap! Hy het waarskynlik die eer verdien om eerste te skryf, maar hy moes vir sy kans wag tot 3 Januarie 1988, my verjaardag. Jammer, Johann.
Ander Bloemfonteinse bure soos Chris en Annette van Rensburg, nou van Kleinmond, tel ook onder die gereeldste besoekers. Ons vier geniet ‘n glasie vonkelwyn en kuier nog graag saam. Is juis die naweek weer op pad Kleinmond toe. En studentemaats soos Pierre en Esther le Roux van Mosselbaai. Ek en Pierre –’n storieverteller soos min – ken mekaar van 1959 af. Was onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter van Kollegetehuis se HK in 1962.
In hierdie kategorie is baie name . Kan onmoontlik nie almal noem nie. Maar elke besoek word ten seerste waardeer – des te meer wanneer dit goeie vriende was waarmee lekker om ‘n vuurtjie of langs die lang tafel in die eetkamer gekuier is.
In 1995 het die boek sy huidige Melkbos-adres gekry. Eerste name in die “Melkbos-afdeling” is dié van kollega Salie de Swardt en sy vrou, Lisa. Hulle is nou Stellenbossers maar was toe nog van Oranjezicht. Salie (SSdeS soos ek hom genoem het) was hoof van tydskrifte toe ek hoof van koerante was. Ons was ook in die 70’s by Beeld kollegas en goeie vriende.

Thabo se inskrywing. Let op die adres: Van der Merwestraat, Hillbrow.
Uit die blaaie ons boek skiet een naam na vore: Thabo Mbeki. Hy was op 18 Mei 1995 in Van Schoorstraat, Bloemfontein, ons etegas nadat hy, op my uitnodiging, Bloemfonteinse leiersfigure toegespreek het. Ons het mekaar in Maart 1988 by ‘n konferensie in Londen ontmoet. Vreemd genoeg, het die ANC-voorman en Afrikanerkoerantman van Bloemfontein dadelik ge-kliek. Het nogal goeie vriende geword … vir ‘n ruk.
Die AWB was daardie aand lastig. ‘n Polisie-Saracen het ons na my huis vergesel en op die sypaadjie voor die Strausse geparkeer. Het nogal ‘n opskudding in die buurt veroorsaak, veral by ‘n ander buurman, Wim Brummer, waar ‘n tienerparty in volle gang was. Hulle dag hul harde musiek het die polisie gelok.
Ná die ete het Thabo geskryf: “Very happy to have spent this short time in this happy home. Many thanks.” Vir ‘n latere huishulp in die Kaap, Lidia, wat Vrystaatse wortels en ‘n seun met ANC-konneksies gehad het, was dit te wonderlik vir woorde. Dit het “meneer” sommer ‘n nuwe status in haar oë gegee.
Thabo was verreweg nie ons enigste interessante “gas” met ‘n storie nie. In ‘n volgende blog (dalk blogs) blaai ek verder in die gasteboek rond. (hvd)