SALOMON JOUBERT SE WILDTUINBOEKE – VERLORE RESENSIE

Grootse boeke oor die grote Krugerwildtuin – dit is Salomon Joubert se ensiklopediese trilogie oor die Kruger-wildtuin, “The Kruger National Park – A History” beslis.  In my boekery is hierdie liefdestaak van die waardevolste skatte; Africana van die eerste water.

Joubert se boekestel is in 2007 deur ‘n klein uitgewery, High Branching, in deftige hardeband met goue beslag gepubliseer.  ‘n Bygewerkte tweede uitgawe het op 3 Maart 2013 sy buiging gemaak, die keer in sagteband. Dit was my uitnemende voorreg om hierdie boeke van nasionale betekenis by die verskyning van die tweede uitgawe vir die Afrikaanse dagblaaie te resenseer. Ek was werklik verheug oor die geleentheid.

Tot my teleurstelling het digitale weergawe van die resensie verlore geraak.  By die skakel http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Grootse-werke-oor-grote-Kruger-20130303 waar dit destyds te vinde was, kry ‘n mens net die onheilspellende boodskap dat “this site can’t be reached”. Ek herhaal dit graag hier, soos dit in my boek Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman (Naledi, 2017  ) verskyn:

Soos die Sabie, Krokodil, Olifants of Luvuvhu in vloed, só vloei die nostalgie breed en onstuitbaar wanneer ’n wildtuinliefhebber in Salomon Joubert se pragtrilogie The Kruger National Park – A History verdiep raak.

Salige episodes spoel soos dryfhout verby in die vloedwater van eie herinneringe; beelde word opgetower van kampvuurtjies in ’n gesellige kring, koolstowe met reuseketels kookwater en gloeiende hardekoolstompe waar jy met langsteelgrawe kole kon skep.

Die romantiek van vanmelee word met sjarmante foto’s uit argiewe en private versamelings verbeeld. In primitiewe rondawels was daar nog kamerpotte onder die bed. Riviere is per pont oorgesteek.

Die reuse-arbeid van dié “Mnr. Wildtuin” in sy era as parkhoof (1987-94) is verstommend. Op vele en verre spore word teruggeloop – soos die duisternis spore elke oggend in riviersand. Die register omvat oneindig baie brandhout vir die onthou.

Die ensiklopediese boekestel behels derduisende feite oor alles onder die Kruger-son; van diere tot strukture. Vra sowat enige vraag oor die geskiedenis tot 1994; die antwoord is in hierdie plus-minus 1 500 bladsye se boeiende teks, kaarte, tabelle en grafieke, wil ek waagJoubert het in 1981 van sy mentor, Tol Pienaar, opdrag gekry om ’n omvattende toekomsplan vir die park saam te stel. Dit word ’n meesleurende liefdestaak. Al die navorsingsresultate, nadenke, kundigheid en kreatiwiteit wat ingestort is, vind in sy boeke neerslag, ook in heelwat voorheen ongepubliseerde stof. Prof. Fritz Eloff, vorige baas van die Parkeraad (nou Sanparke), het dit as Joubert se uitmuntendste bydrae tot natuurbewaring beskou: ’n gewigtige pluimpie.

Die skrywer het daarna nie agteroor gaan sit soos van ’n gewone sterfling verwag sou kon word nie. Dadelik het hy dieper begin dolwe, varser feite versamel, insigte verbreed en die ryke oes aan illustrasies uitgebou. Die resultaat is hierdie hersiene uitgawe wat, soos hy dit beskeie stel, die geleentheid gebied het om ’n “paar regstellings te maak, asook hier en daar nuwe inligting en illustrasies by te voeg”.

Die kollektiewe Kruger-dinamiek lewe op die omslae, nou sagteband. Ai, daardie swartwitpense op Volume I darem – die bladsye wemel van sulke natuurlike, onopgesmukte wildtuintonele.

History is die fassinerende verhaal van dié kroonjuweel se verrysenis. Met passie, visie, idealisme en ferm bestuur is die Kruger-wildtuin van ’n nederige begin, soms sukkelende, soms met vaartversnellings, soms deur turbulensies, uitgebou tot ’n park wat in omvang, verskeidenheid en karakter uniek ter wêreld is.

’n Chronologiese safari neem die leser deur vyf tydvakke met ’n verskeidenheid kulture, style, voorkeure en filosofieë. Veranderende beleide, byvoorbeeld oor kunsmatige watergate, beheerde brande en die uitdunning van olifante, kom aan die bod. Strydpunte word openhartig uitgelig.Die pioniers wat Paul Kruger se ideaal moes vergestalt, is prominent: die legendes, karakters en helde (ook anti-helde). In ’n uitgebreide galery maak onbekendes soos Boorman Bosch (die boorman Pieter Bosch) en hoofman Chocwane (Tshokwane) hul buiging.

Die ware hartklop is die ryke natuurlewe: die olifante, leeus en luiperds; die bobbejane en vlakvarke; die kremetarte, maroelas en mopanies; die gompoue, arende en bromvoëls; die krokodille en adders.

Die fokus is, tereg, sterk op hierdie magnete wat derduisende besoekers uit elke windrigting telkens teruglok.

’n Glimlagbrokkie uit ’n ou brosjure is dié wenk: Moenie vir leeus skrik nie. Hulle staar eintlik na julle motors, vreemde goed wat hulle stom verbaas. Hul neuse vertel dit is nie lekker kos nie en stink na petrol!

Niks aan die Kruger is klein nie. Ook niks aan Salomon Joubert se boeke nie. Dis grootse werke oor ’n grootse plek waarvoor die geskiedenis die outeur sal eer. ’n Ruiker tarentaalvere vir die klein uitgewery High Branching.

  • Uit die pen van Joubert se mentor, Tol Pienaar, het ook twee gedugte Wildtuinboeke verskyn, Neem uit die Verlede (Protea Boekhuis, 2007) en ‘n selfpublikasie in 2010,   Goue jare – die verhaal van die nasionale Krugerwildtuin (1947 tot 1991).  Pienaar se boeke en die Joubert-boeke vul mekaar aan. Saam vorm hulle ’n onvergeetlike herdenking van die eerste eeu plus tien van hierdie “ryke natuurerfenis wat ons nie van ons voorvaders geërf het nie, maar van ons kinders geleen het!” Eersgenoemde is ook deur my geresenseer. Daaroor skryf ek in ‘n volgende blog.

 

WELKOM IN DIE WILDTUIN

044

More uit Melkbos

In my boekie “Duisend dae langs die Sabie” raai ek besoekers aan die wildtuin aan om al te begin stadig ry en deeglik rond te kyk die oomblik as hulle op pad na die Krugerhek die hoogwaterbrug oor die Sabie bereik. Dis opperste olifantwêreld daardie.

Jy sien die ou grotes op die walle van die rivier, in die riete, in die water, op die brug, as erewag vir Oom Paul rondom sy granietstandbeeld… Hulle waad deur die water, speel, skrum, voer slurpgeselsies of staan sommer vir kwaadgeld rond.

Seekoeie is natuurlik ewe volop. Jy kan ook buffels, leeus, luiperds en selfs renosters by die rivier sien voordat jy by die hek ingaan – ek het al. Ons ry soms spesiaal brug toe van Sabiepark af om daar te gaan rondkyk. Dikwels lewer die moeite ‘n rendement op.

Die foto hierbo is ‘n jaar of drie gelede geneem. Vandeesweek het ek my foto uit die album gehaal, afgestof en vir die wildtuingeesdrigtiges op webwerwe soos Kruger National Park – Best Place on Earth, Kruger National Park Experiences en Kruger National Park History geplaas. FB-vriende soos Jurg Reynders en Lida Pressly het my aan daardie gawe inloerplekke bekend gestel.

Die foto was net op toe die “likes” op almal begin instroom. Ek onthul nou seker my ongestofiskeerdheid met e-sake maar moet tog bely: My oë was op die skerm vasgenael terwyl die “likes” soos ‘n vuurpyl bly klim. Telkens is Tokkie met haar sompompie nader geroep. Netnou weer. Toe’s die “likes” vlugvoetig verby 700. Net op “Best Place” is dit oor 500.

Tot op hede was 100 in die HvD-konteks ‘n baken – iets soos ‘n honderdtal in toetskrieket. Maar 700 – dink nie ek sal in my dag des lewens weer by daarde syfer kom nie.

Vleiende kommentare het nie uitgebly nie. Dit het die ou man se oë des te meer laat blink. Judith Farrell het byvoorbeeld uit Pretoria laat weet: “Must be so exciting to see them at Oom Paul’s statue when arriving at the gate! Your pic of the big elephant stepping on to the road at the Welcome to Kruger Gate sign must be the winning picture of the year.”

Wenfoto van die jaar – reken net!

Patricia Briotti-Ferreira, klaarblyklik ‘n Duitse dame, se kommentaar is: “Wow, wie prächtig, ein riesiger Elefant.”

Meer as een het gereken dit kan ‘n goeie reklamefoto vir Sanparke wees. Een van diegene, André Potgieter, skryf: ” Ai Hennie dit kan ‘n puik advertensie word vir KNP. Bravo goeie aksie foto. Net op die regte oomblik afgeneem!” m

Hoop ‘n Sanparke-amptenaar met ‘n dik tjekboek neem kennis!

Hoekom sou die reaksie so, vir my altans, oorweldigend wees?

Danie Pretorius van Sanparke meen “dis omdat ons almal wat lief is vir die Krugerwildtuin daardie Welkom-bordjie so goed ken maar nie noodwending met ‘n grootvoet in die voorgrond nie”. Hy voeg by: “Die tydsberekening van die olifant en die kamera was perfek. Baie uniek!”

Dankie, Danie. Maar ek moes vinnig skiet, ou maat, sommer deur die Honda se voorruit. Die ou grote was haastig op pad na die oorkant. Het ek geaarsel, was die foto verlore. Dit is die rede vir die weerkaatsing onder. Wens ek kon daarvan ontslae raak sonder om die foto so te sny dat die beweging van die voete verlore raak. Verkies egter die beweging bo ‘n weerkaatsingvrye foto.

Ek wil afsluit waar ek begin het: Die geil dierelewe buite die hek. Dit help natuurlik dat ek en Tokkie weens ons Sabieparkverbintenis ‘n honderd keer of wat per jaar die park binnegaan (vir kerk, inkopies, om pos te gaan haal en nog wat). Maar regtig: Te veel besoekers ry oor daardie brug met sy vrugbare oes aan wild sonder om links of regs te kyk. (hvd)

WILDSTE WILDTUIN-GEHEIM

More uit Melkbos

Wat die Engelse ‘n “sneak preview” noem, is volgens Pharos se Groot Woordeboek ‘n geheime voorvertoning. Geheim? Wel, hierna geen geheim meer nie oor wat ek op ons aanstaande Wildtuinbesoek (van 26 Desember tot 10 Januarie) die heel graagste wil sien.

Die foto hierbo lig die sluier oor my “wildste wildtuin-geheim”. Ja, die grootste begeerte in hierdie ou se hart is cheetahs (of jagluiperds) wat draal sodat ‘n mens hulle uit elke hoek en kant kan afneem.

Hierdie treffende foto is een van ‘n reeks wat Vic D’Oliveira net twee kilometer van Krokodilbrug af op die vrugbare Onder-Sabiepad geneem het. Dit verskyn in die jongste uitgawe van die Wildkaart-tydskrif, Wild.

Toe Vic stilhou om roetes te oorweeg, stap die drie doodluiters uit die bos en begin poseer. Twee is naderhand bo-op die padpredikant. Hul strek hul lenige lywe sodat ‘n mens hul liggaaamsbou fyn kan bestudeer.

As jy hierdie foto goed bekyk het, sal jy darem seker nie weer luiperds en jagluiperds met mekaar verwar soos soveel besoekers aan die Wildtuin nie. Dis omtrent soos wit- en swartrenosters. Vir vele mense is ‘n renoster ‘n renoster, kant en klaar. So is ‘n luiperd vir baie eenvoudig ‘n luiperd.

Nog iets wat natuurlik dadelik verklap die “luiperd” op jou foto is eintlik ‘n jagluiperd is die swart “traankol” op die wang. Help glo om die son weg te skaats as hierdie jagters per excellence oor die aarde heen skeer teen ‘n verstommende snelheid.

Luiperds is bonkiger diere, nader aan die aarde weens korter bene, en daardie swartkol is totentaal afwesig. Geen rede om te twyfel oor identiteit nie.

Luiperds het ons op ons tientalle Wildtuinbesoeke oor die jare nogal redelik dikwels oral in die Wildtuin gesien – ook luiperds met hul prooi in die tak van ‘n boom, ‘n bek-af luiperd nadat ‘n leeu sy rooibokkie voor hom weggegaps het, ‘n luiperd oomblikke na sy slagtande in die rooibokkie se nek ingeslaan het, ens. Baie van die waarnemings was ‘n klipgooi van die Krugerhek langs die Sabierivier. Ook in Sabiepark self – lees Duisend Dae Langs Die Sabie deur ene Hennie van Deventer.

Van ons jagluiperd-besigtigings het ek en Tokkie vanoggend in die bed ‘n vinnige rekensommetjie gemaak. (Die Burger was teen 07:00 nog nie hier nie – swak Piketberg!) Ons tel ‘n stuk of ses gelukkies.

Die meeste op ‘n slag was vier onder ‘n koelteboom op die Phabenipad. Hulle was deksels ver die veld in en op my langlens-foto is skaars meer as vae gedaantes herkenbaar. Daardie selfde vakansie het die gesin Parsons van die Suidkus, ook Sabieparkers, ses of sewe in die Phabenipad (Doispanepad) sien speel. Gelukkige bokkers!

Een keer het ‘n cheetah regoor die hek van Satara uit die bos gehardloop, in ‘n omgevalle boom gespring en ‘n oomblik vir die kamera gegrynslag. Dankie, ou grote, jy’t gesorg vir my beste jagluiperdfoto.

‘n Keer het ons kinders Brent en Marisa Claassens in Sabiepark kom kuier. Ons het hulle op die lughawe gaan haal, en by die Malelanehek ingegaan. Toe kry ons ‘n jagluiperd met sy prooi langs die pad onder ‘n boom. Og, die motoropeenhoping!

In elk geval, só manjifiek, soos Vic D’Oliveira, het ek nog nie die voorreg of gelukkie gehad om jagluiperds te sien nie.

Hulle is, wat my betref, bitter skaars. Amper só skaars soos ratels, wat ek in al die jare nog net twee keer gesien het. (My vriend wyle Louis Botha het ‘n keer urelank ‘n geveg tussen ‘n ratel en ‘n luislang naby Satara sit en dophou. Hy was meegevoer deur die ratel se knaendheid. Taai soos ‘n ratel, né!)

Leeus? Ja, die “koning van die oerwoud” is altyd ‘n yslike trofee vir ‘n kamerajagter. Maar leeus is eintlik relatief volop, na my ervaring. As ek die vakansie nie leeus gesien het nie, voel ek daar’s fout aan my kant.

Wildehonde? Ek weet hulle word as ‘n buitengewoon skaars spesie geag. Almal raak opgewonde om van die bont-dierasies op ‘n snuffeldraffie te sien (ek ook).

Maar as ek moet kies, gee my ‘n cheetah, elke dag. Vic, ek ry hierdie vakansietjie spesiaal Krokodilbrug toe. Dalk stap daardie symste drie weer op die symste plek uit die symste bos en klouter op die symste padpredikant. Dalk sommer al drie saam.

Sal vir jou ‘n HvDfoto stuur!

(HvD)