Nov 24, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Elke reünie van wie of wat ookal omsluit verskeie klein reünietjies van kleiner, intiemer groepies in die groter groep. By die Volksblad se Melkbos- reünie was verskeie sulke klein reünietjies: studentemaats, woonstelmaats, lede van die of daardie spesialisredaksie, lede van die of daardie buitekantoor en – omdat in die geledere voorste skrywers is – kollegas wat saam die of daardie boekebekendstelling bygewoon het.
Een reünietjie het veral vir pret én omstredenheid gesorg: van heelparty spelers wat in die 80’s betrokke was in ‘n interne krieketwedstryd wat vir kwaai vuurwerk gesorg het. Sesse het gereën soos wanneer Springbok Heinrich Klaasen die dag in ‘n T20 op dreef is. Onstuimigheid is veroorsaak oor ‘n element van die kookwater-kolfwerk wat enersyds as poets gesien is, maar andersyds as diaboliese taktiek.
Die spanne wat mekaar daardie middag op die Polisieveld in Parkweg, Bloemfontein, aangedurf het, het onderskeidelik bestaan uit ouer, meer senior redaksielede en jonger, meer junior redaksielede. Willie Kuhn het vir hulle die name uitgedink van “Has beens” en “Never Beens” (verskoon tog maar die Engels; eintlik was ons nogal gesteld op taalsuiwerheid).
Rudie van Rensburg – einste van o.a. Hans-faam – bring toe sy “nefie” saam om die “Never Beens” se ”span vol te maak”. Dis toe die “nefie” wat minagtend lostrek en veral die stadige balle van gewrigsdraaiers Hennie van Deventer (redakteur) en Herman le Roux (sportredakteur) met min ontsag behandel. Dit was ‘n hele kakofonie soos die balle die polisiekantoor se sinkdak tref.
Van Deventer en Le Roux stem oor vele dinge saam, maar verskil hemelsbreed oor wie se boulwerk die ergste verinneweer is. Goed, kom ons sê dan maar vredesonthalwe dit was myne. Ek aanvaar ook geredelik Herman het die meeste lopies vir ons span aangeteken, hoewel ek my eie kolfbeurt onrhou as een wat nie te versmaai was nie. Een ding wat ek my nie sal laat wysmaak of toegee nie, is dat ek die een is wat die kwaadste was toe “nefie” se identiteit halfpad deur sy verwoestende kolfbeurt uitlek.
Le Roux, ‘n gemoedelike man, was propperlies woedend. So kwaad het ek hom nooit tevore en ook nooit daarna gesien nie. Darem met goeie rede, sal ek vir hom in die bresse tree. Want sien, “nefie” se naam is toe Johan van Heerden, Vrystaatse krieketspeler en huidige krieketbaas. Vreemd soos dit kan klink, het niemand hom aanvanklik onder sy kriekethoed herken nie. Rudie van Rensburg het ons behoorlik met slap pap in ’n wip gevang.
Dit was 40 jaar gelede. Die wonde het genees en gemoedere het afgekoel. Maar wou-wou ek my nie vererg nie toe ek die blerrie onboetvaardige Rudie se kommentaar van Woensdag te hore kom. “Pleks dat hulle dankbaar was dat die “nefie” nie eens geboul het nie,” het hy glo met ‘n grynslag teenoor ander kollegas opgemerk toe hulle die epiese kragmeting – en die emosies daaromheen – oor ‘n glasie in herinnering roep.
Foto: Hennie van Deventer en Herman le Roux poseer mak soos lammetjies saam met die “vyand”: Rudie van Rensburg wat hulle op die krieketveld so sleg verneuk het, en sy mede-skrywer Deon Meyer.
Nov 9, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die spreekwoord praat van anderman se skoene waarin jy nie graag sou wou staan nie. Ek het my eie gepatenteerde weergawe. Skoene word met pajamas vervang. Elke dag / hoor / sien ek iets in die media wat my dankbaar stem dat ek nie in die of daardie se nagkabaai wakker geword het nie, maar in my eie geruite broek en groen hempie wat van die een of ander uitverkopingrak kom.
Nou anderdag was dit Kamala Harris se slaapkleertjies wat ek ongraag vir my eie sou wou verruil. Hoe elegant lookal, sou dit kwalik haar droefheid en die pyn kon verdryf van die Troefkaart wat die Amerikaanse kiesers haar so genadeloos gedeel het.
Vandag is dit ene Patrick Kruger, Protea-krieketspeler, se pajamas wat ek vir homself gun. Hy met die diamant-oorkrabbertjie in sy oor en al het hom gisteraand teen Indie (waarskynlik) in Suid-Afrikaanse krieket-annale ingespeel (en hopelik uit die pan uitgespeel).
Sy onderskeiding is dat hy die meeste lopies vir die teenstanders laat lek het (soos hulle nou praat) in die twee bisarre beurte wat hy geboul het – 17,5 per beurt – en die minste lopies vir sy span aangeteken het – een lopie in twee balle. Het iemand al tevore so ‘n mamparra-vertoning in die groen en goud gelewer?
In een van sy rampspoedige bouleurte het Kruger met sy diamantoorkrabbertjie en al daarin geslaag om twee foutballe en drie wydlopers af te stuur. Ek vermoed selfs vir Koekenaap se tweede span sou dit ‘n rekord wees.
Kruger met sy diamant-oorkrabbertjie en al kies nien homself nie. Vir daardie ligte mistykie moet afrigter Rob Walter pa staan. Ai, hoe verlang ek nie na die goeie ou dae nie toe die beste span vir elke wedstryd gekies is: van toetsspanne tot skoolspanne en van rugby tot hokkie.
Met die “bou van diepte” en die skep van “skwads” glip ouens darem deur die net op ‘n manier wat niemand anders weet hoe nie buiten die afrigter wat span kies (of wat voorgese word hoe om die span te kies).
En lojale, patriotiese toeskuers langs die veld of voor die skerm moet maar die skandes blymoedig verduur. Nee, wragtig, so kan dit nie aangaan nie.
Feb 22, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Volkies se eerste krieketspan in 1957. Die uwe is tweede van links agter. Charles Bamberger is in die tweede ry in die middel. Pierre Lombard sit regs voor.
Kom nou eers tot verhaal om ‘n straaltjie oor gisteraand se krieket by te dra. Het my laat dink aan die jaar 1957 toe ek tweede aanvangsbouler van Volkies op Potch was.
Ons speel teen Potchefstroom-Dorp. Een van sy aanvangskolwers is Harry Newton- Walker, groot Springbokstut van die 50’s. Wat het ek geweet van lyn en lengte? Afrigter het nooit ‘n woord oor so iets gerep nie. Ek kom maar ingedraf – taamlike lang aanloop – en slinger die bal (die “rooi pampoen” het wyle Dana Niehaus dit destyds genoem) min of meer in die rigting van die paaltjies.
‘n Boulbeurt was toe nog agt balle. Die heer Newton-Walker slaan die skraal donkerkop-skoolseun vir 4,6,0,6,6,4,4,6. Hoe miserabel kan ‘n mens voel, jou selfbeeld aan flarde (met jou nooi langs die veld) en jou brose gemoedjie verskeur met twyfel oor jou eie vermoe om ‘n tweede soortgelyke aanslag te stuit.
Die kaptein, wyle Charles Bamberger, vervang my gelukkig na daardie eerste rampspoedige beurt met draaier Pierre Lombard, later grootkop in die Spoorwee. Pierre boul die Van Deventer-verwoester toe pens en pootjies. Maar die skade was gedaan.
Ek is bitterlik jammer vir julle, arme Proteas (of Vroteas, soos Die Burger julle vanoggend noem).
Oct 3, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Neville, Daan en HvD met hul parlementere pette.
“Hier het Oupa krieket gespeel.” Die brokkie was veral bedoel vir die ore van die 13-jarige tweeling Thomas en Jacob Claassens, aan die vooraand van ‘n driedaagse kriekettoer na Knsyna. Dit is geuiter terwyl die Kaapse Rooi Bus op sy mini-Skiereiland-toer verby Fernwood in Nuweland skommel. Met die detail het Oupa die seuns nie opgesaal nie. Dit hou hy vir sy bloglesers.
Fernwood was die bedrywige parlementêre sportterrein toe die uwe in 1964 en 1965 in die persgalery van die volksraad parlementêre verslaggewer van Die Volksblad was. Onder die eike in die skadu van Tafelberg was heelparty tennisbane (Connie Mulder was op Saterdagmiddae een van die knap raketswaaiers) en, natuurlik, die skilderagtigste krieketveld wat ek ken.
Hoe dit gekom het, kan ek om die dood nie onthou nie, maar skaars het ek in die persgalery aangeland of ek bevind my saam met twee persgalery-kollegas in die parlementêre span vir ‘n wedstryd op Fernwood. Ons span het ook op plekke soos Groot Drakenstein by die Paarl wedstryde gespeel, maar meesal op Fernwood.
My kollegas was Daan Eksteen en Neville Krige van die SAUK. Parlementariërs in die span was o.a. sir De Villiers Graaff, leier van die Verenigde Party, Ossie-Newton Thompson, LV vir Pinelands, wat later treurig in ‘n vliegongeluk omgekom het en Vause Raw van Durban. John Wiley, latere NP-minister maar toe nog LPR van die VP vir Simonstad, was een van die sterre.
Mense soos sir Div, Ossie Thompson en (meen ek) ook John Wiley het op Oxford of Cambridge in Engeland krieket gespeel. Van hulle was nie meer vandag se kinders nie. Ondanks hul jare was hulle dorings voor die paaltjies.
Die drie persgalerymanne was dalk veral vir ons flinke veldwerk in die span ingesluit.’n Keer het ek my so ingespan om ‘n vangskoot op die diepbygrens raak te vat (ek het!) dat my hemp se agterpant van bo tot onder oopgeskeur het. Ek was ook lief om te duik om vier te probeer afsny.
As aanvangskolwer teen Simonstad het ek wel hier ‘n hoogste loopbaantelling van iets in die veertig agter my naam geplaas, boonop nie uit nie! My naam was daardie aand in die Cape Argus Late Sport – die eerste en enigste keer dat ek die sportblaaie van die dagbladpers gehaal het. Vir die grootste deel van my “marathon”-beurt was sir Div my kolfmaat; Groot Div en Klein Div het ons spanmaats ons genoem. Vermoed ons ooreenkomstige snorre het in die naamgeëry nogal ‘n rol gespeel.
Neville was, benewens goeie veldwerker, darem ook ‘n bruikbare snelbouler en Daan ‘n veelsydige speler wat stadige bybreke geboul het.
Middagetes onder die eike met topwyne om die keurigste kouevleis en slaaie mee af te sluk, was gedenkwaardig.
Selfs onvergeetliker as die tyd op die veld of voor die paaltjies was om in ‘n ontspanne atmosfeer onder Fernwood se eike en in die karaktervolle klubhuis politici soos sir Div beter te leer ken; nie net as gedugte kolfvennoot nie, maar as fyn mens en galante gasheer.
‘n Man uit een stuk gewees, hierdie melkboer van De Grendel aan die Tygerberg. Ek dink steeds hy was uitgeknip vir die rol van staatspresident; een wat berge sou versit om verhoudinge tussen Afrikaanse en Engelse mense te verbeter. Toe kies die Nasionaliste Marais Viljoen. O wel.
Uit my te kort termyn van twee jaar as parlementêre verslaggewer lê veral een foto my na aan die hart: ek en die wellewende twee SAUK-kollegas, Neville en Daan (albei al saliger), elk met ‘n krieketpet op. Dit is nie sommerso-pette nie; wel pette van die parlementêre krieketspan, net sonder die wapen van die parlement. Om dit te dra, was ons mediamanne nie beskore nie.
Die pette is oorhandig deur die kaptein van die span, Ossie Newton-Thompson, op ‘n “amptelike” plegtigheid in die parlementêre kroeg. Dit was nogal ‘n grootse gevoel om dit op te sit. Skat ek, Neville en Daan was dalk die enigste drie mediamense wat die eer ooit te beurt geval het. Die pet hang na meer as 50 jaar nog in die woonkamer op Melkbos op ‘n spesiale plekkie.
Mar 30, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit (‘n nat) Melkbos
Saterdag 2 April wanneer die eindstryd om die krieket-wêreldbeker in Indië gespeel word, is die uwe op reis. Die Van D’s is op pad Sabiepark toe. Wil gaan kyk hoe lyk die (duur) nuwe dak.
Wanneer die eerste bal afgestuur word, sal ons op Kulula se vlug MN 112 na O.R. Tambo wees. Met die laaste bal behoort ons so plus-minus by Sabiepark se hek aan te kom (as ek die speeltye reg het).
Dis natuurlik as ons teenspoed vryspring. Veral die stuk pad tussen Hazyview en die Krugerhek is in die beste omstandighede nie ‘n plesier om te ry nie. Op ‘n Saterdag-laatmiddag sal ‘n mens op jou tande moet kners, en wawyd wakker agter die wiel wees.
Hoe ook al, toe ek ontdek watter belangrike krieketdatum 2 April is, was my geldjies vir die kaartjies klaar in Kulula se bankrekening. Vir die datum en tyd van ons vlug was prys deurslaggewend. Ek kon nietemin, soos my Tant Minnie altyd gesê het, my hare uit my kop trek dat ek jou waarlik die eindstryd kon vergeet.
Soos dinge ontwikkel het, hoef ek my nie te lank te verknies het nie. Die Proteas het weer eens soos ‘n vrot vuurhoutjie geknak. Agterna is verskonings vir die stukkende “vuurhoutjies” natuurlik volop. Een bewering is selfs dat dit ons, die Suid-Afrikaanse entoesiaste, is wat die stomme spelers onder te kwaai druk geplaas het. Grappie (LOL)!
Hoe ‘n volwasse man soos Corrie van Zyl sulke kinderagtige bog skaamteloos kan kwytraak, slaan my dronk. Wie het dan vir ons kom wysmaak die span het die ruggraat om bo uit te kom? En is die hele lot nie professionele sportmanne wat uitstekend betaal word nie?
Ek dink die koerante is die klomp (ook Andrew Hudson en sy mede- keurders) te genadig, en laat veral Graeme Smith te maklik wegkom. Sy lafhartige Londense ontvlugting vat die koek – watter prysenswaardige kapteinskap!
Kom ons vergeet tog maar die droewigheid. Die koeël is immers klaar deur die konsistorie. Al het ons teen Nieu-Seeland gewen, sou ons buitendien nie oor die volgende hekkie gekom het nie. Sri Lanka se topkolwers is nie “chokers” nie, en Malinga en Murali slaan jy nie sommer vir sesse nie.
Ekskuus as my luim nie lekker is nie. Ongelukkig is my gemoed ook deur ‘n ander ervaring versuur. Ek was Maandagnag in ‘n slaap-laboratorium om vir slaap-apnee getoets te word. Dit beteken ‘n nag in ‘n eensame hospitaalbedjie met ‘n hol matras en ‘n metaal-raamwerk wat rittel elke slag as jy beweeg; met jou lyf gekoppel aan minstens halfdosyn drade – aan jou neus, nek, bors, been en waar nie nog nie – en met die ongemaklike sogenaamde “bottel” as enigste uitweg as jy in die nag ‘n groot loop opdoen.
Ek het my slaaptoets gedop – nie verrassend nie in sulke nare omstandighede!
Ná die hartverskeurende krieket en die sielsverstorende slaap-toets sien ek reikhalsender as ooit na Sabiepark uit. Weet nog nie of ek uit die bos gaan prober blog nie, maar twyfel. Die selfoon-koppeling is in elk geval soos harmansdrup. En om drie weke lank in onversteurde sielsaligheid sommer net niks te doen, klink, soos ek nou hier sit, ‘n te genoeglike vooruitsig om enige inbreuk daarop eens te oorweeg.
Tot wederom. (HvD)