EK SWAAI ‘N UNION JACK
Die uwe is in 1947, 75 jaar gelede, in Kimberley skool toe: die Diamantveld-Laer. Vroeg in die eerste kwartaal was die skool in rep en roer. Koning George VI, koningin Elizabeth, prinses Elizabeth en prinses Margaret uit die verre Engeland besoek die Diamantstad.Elke kind word ‘n Union Jackie in die hand gestop en die see opgewonde kindergesiggies staan ure lank op die roete waarlangs die vyf statige swart Daimlers met hul koninklike vrag stadig verbyknor.Oupa Herklaas Visser is in ons skakelhuisie met die vlaggie-swaaiery van sy kleinseun se skool nie baie gediend nie. Waar hy met sy gekromde kierie in sy hand in ‘n sonhoekie in Diagonalstraat 10 se sitkamertjie sy dae sit en omlees aan Die Voksblad, roep hy grimmig die Anglo-Boereoorlog in herinnering. Sy tyd in die krygsgevangekamp op Ceylon druk swaar op sy hart.
Toe Oupa boonop in die koerant lees van die twee yslike diamante – een blou-witte van ses karaat en een van vier-en-half – wat De Beers (sy oorlede skoonseun se werkgewer) vir die twee prinsesse present gegee het, was hy erg verontwaardig.
Askies Oupa, wil ek stilletjies na binne prewel as ek vandag in my gemoed ‘n simboliese Union Jackie vir die koningin swaai. Wat ‘n waardige dame was sy nie. Uitdagings was volop, maar die pad wat sy geloop het, was altyd reguit en voorbeeldig – haar land ter ere.
***********************************************************
In die Royal Natal Hotel aan die voet van die manjifieke Mount-Aux-Sources in die Drakensberg het Koning George en sy gesin in 1947 uitgespan – dus ook kroonprinses Elizabeth, die pas ontslape koningin. Trouens, dit was waar sy haar 21ste verjaardag gevier het.
Twintig jaar later het ek en Tokkie ons tweede huweliksnag, 1 Januarie 1967, daar deurgebring – nou wel nie in die koninklike kwartiere nie, maar darem ook nie te versmaai nie. Die waardige plek was deftig met ‘n hoofletter D. Die atmosfeer was behaaglik, die kos heerlik en die uitsig hemels.
Tien jaar gelede het ons op ou spore gaan terugry. Toe is “ons hotel in die berge” ‘n absolute bouval – hartverkeurend om te aanskou. Waar die elegante eetsaal was, het die onkruid meters hoog gestaan. In die koninklike kwartiere het stukke dak ontbreek – ‘n droewe toneel van vervallenheid.
Wat gebeur het, is dat die huurders se kontrak verstryk het, het ons gehoor. By die hemelhoe nuwe huurgeld kon hulle nie bykom nie, en niemand anders wou byt nie. Toe staan die plek dolleeg … en die plunderaars beweeg in.
Sic transit gloria mundi.
**********************************************************************************
Met die Wit Trein op pad na die noorde gedurende die koningsbesoek aan Suid-Afrika in 1947 stop Koning George VI – die ou wat so pynlik gehakkel het (sien die fliek The King’s Speech) – en sy geselskap op Beaufort-Wes.
Die Cape Times wil toe ‘n bietjie plaaslike kleur in sy verslag bring, maar ‘n ontbrekende kappie op ‘n “e” laat die stomme Engelse verslaggewer (en later ook die subredakteur) in ‘n gat trap.
Hy berig, en sy koerant sit dit in die opskrif op die voorblad, dat die hoofsaaklik Afrikaanstalige skare sy majesteit begroet het met krete van:
“Hoere, hoere, hoere vir die koning!”
