WELKOM O STILLE NAG VAN VREDE


Vir almal wat vandag of more “Somerkersfees” van Koos Doep gaan sing of net daarna gaan luister, plaas ek graag ‘n stukkie uit my boek Koerantkamerade (Naledi, 2021). Daarmee sommer my Kerswense aan almal.  Vrede vir julle.
Skenk ons ’n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.
Toe ons gemeente die laaste Sondag voor Kersfees uit volle bors Koos du Plessis se geliefde Kerslied “Welkom, o stille nag van vrede” aanhef, is dit of die betekenis daarvan vir Afrikaans en vir ons land se Kerskultuur my die eerste keer werklik tref.
In hoeveel ander tale bestaan so ʼn unieke, eksklusiewe Kerslied in eie idioom? In Duits (“O Tannenbaum”)? In Portugees (“Natal no meu lar”)? Maar wag, op musiekterrein is ek ʼn leek. Dalk raak ek te meegevoer. Dalk kan kenners ʼn heel ander perspektief gee. In my belewenis – gun my dit maar op ouderdom 80 – het die jong koerantman Koos du Plessis egter met sy lied vir Afrikaans ʼn braak veld oopgebreek en ʼn kosbare nuwe staanplek verower.
Elkeen wat Afrikaans praat en lief het, kan die stemmingsvolle “Welkom, o stille nag van vrede” met trots omarm en jubelend saamsing – nie net oor die suiwerheid van die eeueoue Kersboodskap wat in eenvoudige, onopgesmukte woorde daarin vervat is nie, maar ook die salige bekendheid van die taalmedium. Dis ons eie. Dis ʼn hartsaak. Meer nog omdat Afrikaans in die Suid-Afrika van 2021 so onder druk is.
Koos Doep se viering van ʼn somer-Kersfees is nie net volbloed-Afrikaans nie; dis sommer ook trots Suid-Afrikaans. Die lied uit eie bodem bring ʼn treffende eie simbool na vore: Die Suiderkruis waarna amper elke besoeker altyd vra. Te lank is onnadenkend met Bing Crosby en andere na ʼn “wit Kersfees” saamgehunker; te lank het ons onsself met Eurosentriese simbole – ʼn sneeuslee met klokkies, takbokke en ʼn koulike sinterklaas toegewikkel in ʼn knus rooi wolpak – vereenselwig. Te lank is in woord en lied, op plate-omslae, tydskrifte se voorblaaie en op al wat Kerskaartjie is, uitgestrekte sneeulandskappe, sneeumanne met bont serpe en oordadig versierde Kersbome by kaggelvure in ons kele afgedwing.
Toe bring “Welkom, o stille nag van vrede” ʼn bevrydende boodskap: Dat Kersfeesklokke ook in helder sonskyn kan beier en die “Betlehemster” in ʼn wolklose, ster-gespikkelde hemelgewelf saam met die Suiderkruis plek kan inneem. In ʼn land waar sneeu op Kersfees ʼn koorsdroom is, is dit heelpad wins.
Saluut, Koos Doep, wat in 1971 verse een en twee van die juweel geskep het. Saluut ook aan Jannie du Toit wat die verheffende vers drie – “voel jy ook nou sy warm liefde/as ons die dag gedenk/toe hy sy Seun aan ons gegee het/ons grootste Kersgeskenk” – in 2001 bygevoeg het om die lied af te rond.

UIT MELKBOS

kersfees

Liewe vriende

Die tradisionele Kers-CD uit Melkbos het gesneuwel in 2016, die jaar toe Tokkie 70 en ek 75 geword het.  Die tradisionele Kers- en Nuwejaarsbrief uit Melkbos met ‘n verslag (en selfs ‘n foto of twee) van die jaar se wel en wee in die Van Deventerkamp het voortgeleef.

Dalk sou dit ‘n netjieser afronding gewees het as ons die brief tot 2021 bly stuur het.  Tokkie bereik dan die geseënde baken van 75 en ek die ouderdom van 80 – die jare van diegene wat “baie sterk is,” aldus Die Bybel (D.V.)   Ons het egter van sulke ambisies afgesien.

Vanjaar dus geen uitvoerige epistel uit die Van Deventerhuis nie.  Ook in daardie opsig het die tyd na ons oordeel aangebreek om, soos op ander terreine,  ‘n streep te trek.

Wel kan ons, ondanks enkele stampe en stote,  dankbaar van vele seëninge in 2019 getuig. Ons gaan met dankbare harte Kersfees tegemoet.

Ons hoop is dat ons almal oorvloedige seën sal geniet en in hierdie uitdagende tyd vir Suid-Afrika tog wel vrede en vreugde sal ervaar.  Mag die nuwe jaar gelukkig, gesond en voorspoedig verloop.

Hennie en Tokkie

ENGELTJIE OP DIE DUIN

1219988821512034089little%20angel4_svg_medVIR KERSFEES 2016 – Piet Cillië se mooi Kersverhaal: Die engeltjie wat agtergebly het (met erkenning aan die outeur en onbekende verwerker).  

Daar was eendag twee meisietjies  wat elke jaar saam met hul ouers by Willie-se-Baai vakansie gaan hou het.  Hulle name was Anna en Susanna.  Op ‘n dag speel die twee op die hoogste duin.  ‘n Seuntjie kom nader en vra of hy mag saamspeel.

Natuurlik laat die dogtertjies hom saamspeel.  Hulle het hom nog nooit gesien nie en vra wie hy is en waar hy vandaan kom.  Die seuntjie sê hy is ‘n engeltjie.  Die meisietjies lag, en sê hy bedoel sekerlik hy is figuurlik gesproke ‘n engeltjie.  Nee, sê die seuntjie, en lig sy hempie op om sy goue vlerkies te wys.

Wat maak hy dan op Willie-se-Baai?  Wel, hy het eeue gelede saam met ‘n groot koor hier aangeland.  Hy was een van die beste seun-soprane.

Nou hoekom het hy nie saam met die engelekoor teruggegaan nie? Die seuntjie vertel hy het die aarde liefgekry en van die mense begin hou.  Ja, hy verlang soms terug, maar hulle moenie bekommerd wees nie want dis nie so ver na sy blyplek as wat mense dink nie.  As die mense net kon weet hoe naby dit alles is.

Anna wil weet of hy dan verlof gekry het om op die aarde te bly.  Ja, solank hy net nie sing nie.  Dit is streng verbode.  Sodra hy sing, moet hy dadelik terug.   Dis baie swaar om nie te sing nie, want hy doen dit graag.

Susanna het dadelik ‘n plan.  Hulle hou die volgende aand ‘n Kersboom in die saaltjie by Willie-se-Baai.  Daar sal ‘n kinderkoortjie liedere sing.  Die engeltjie moet kom saamsing.  Sy stem sal meng met die stemme van ander, en sy hemelse mense sal nie eens weet hy sing nie.

Die engelseuntjie twyfel eers, maar die meisietjies praat hom om.  Hy het in elk geval baie lus vir sing, veral Kersliedere.

Die volgende aand staan hy tussen die kinders by die Kersboom op Willie-se-Baai.  Hulle sing die mooiste Kersliedere.  Meteens styg ‘n goue kinderstem bo al die ander uit in ‘n onbekende lied, so mooi soos nog nooit op aarde gehoor is nie (behalwe een keer by ’n krip).  Die kinderkoor raak stom van verbasing en almal sien dit is die vreemde seuntjie wat alleen sing.

Anna fluister vir Susanna die seuntjie sal nou moet teruggaan.  Maar die engeltjie sing voort, vir die eerste keer in tweeduisend jaar.

Skielik word oor Willie-se-Baai die geruis gehoor van ‘n magtige koor wat niemand kan sien nie.  Hulle val in by die pragtige stem van die engeltjie en hulle sing ‘n lofsang asof die hemel oopgegaan het.  Hulle sing: Eer aan God in die hoogste hemele!

Die stemme sterf weg en stilte kom oor die strand.  Die engeltjie is nie meer tussen die kinders nie. ….

Daarmee: ‘n geseënde Kersfees vir almal.

(Na ‘n taamlik soektog op die internet het ek hierdie verwerkte weergawe van die koerantman Piet Cillië se Willie-se-Baai-Kersverhaal raakgeloop in ‘n Kerspeek van die NG gemeente Somerstrand in Port Elizabeth.  Merwe Scholtz het dit, so ver ek weet , opgeneem in Vertellers 2.  Rykie van Reenen wat gewaag het om hom as “’n grommende ou MGM-leeu” te beskryf, het na aanleiding van die verhaal opgemerk: P.J.C. is eintlik self “’n agtergeblewe engeltjie – toegegee, swaar vermom, die klei maaifoerie”.)

SOMER IN DIE BOS

1-IMG_0268

Kleinkinders bak in die somerson langs die lawende swembadjie. Kyk hoe groen is die wereld.

More uit Melkbos

Hierdie stukkie is spesiaal vir welmenende Kaapse vriende wat bly hamer op die monster-temperature wat in die Laeveld op ons wag.

Mense, glo my ons Sabieparkse “Kerskous” bult elke Somer-Kersfees met geskenke sonder weerga wat ‘n kwistige moedernatuur bos toe bring: die groen-groen somergewaad; die grasweelde; die plate klein bokkies; die bonte voëlverskeidenheid (enigste tyd van die jaar dat die Bosveldvisvanger roep); die verkwikkende donderbuie, die windstil-aande om die kampvuur.

Weet julle watter hartsplesier dit is as die hemele oor die Bosveld oopskeur en die reën in ondeurdringbare grys vlae neergiet? Die harde donderslae, bliksemstrale en gietende reën is nardus-salf vir die gees. Kan tot drie, vier keer in die twee weke rondom Kersfees gebeur.

Ná só ‘n bui begin die dankbare veld dadelik lewe. ‘n Koor van tjilpe, kwetters en kwake klink op. Die vreugde en dankbaarheid wat mens en dier verenig, is meesleurend. ‘n Mens hoor as’ t ware hoe die bos groener word – ‘n jubelgroen gloriebos.

Weet julle hoeveel ander dae is heerlik bewolk? Een keer net twee dae op ons hele besoek werklik warm sonskyndae beleef.

1-IMG_0230

Moedersmelk. Die plate roobokkies is ‘n sepsiale somerplesier.

En dan? Dan kuier ons die warmste ure om in ons bos-swembadjie en geniet die sebras, wildbeeste, selfs koedoes, wat in ons watergatjie neffens die huis hul dors kom les.

En snags? Dan woer-woer die groot dakwaaiers bokant ons beddens. Hou selfs die muskiete weg.

Ons bring vanjaar ons dosynste Kersfees in Sabiepark deur. Niemand dwing ons nie. Dis uit eie vrye keuse.

Trouens, ons sien reikhalsend uit na elke besoek. Njannies.

Wederom tot 2016. Geseënde Kersfees en so aan. (hvd)