KERK TOE IN ‘n KORTBROEKPAK

By Melkbos se NG kerk word gewoel om die toring te herbou en die ou asbesdak te vervang nadat ‘n stuk van die toring afgebreek en deur die kerk se dak na benede gestort het.  Enkele Sondae moes die erediens in die saal plaasvind. ‘n Bedrag van R2 miljoen is ter sprake.

‘n Vorige gemeente, Potchefstroom se Moedergemeente, was drie jaar sonder sy kerk nadat ‘n brand die geskiedkundige gebou in 2007 so te sê in puin gelê. Restourasiewerk het meer as drie jaar geduur. Restourasiekoste was meer as R7 miljoen.

In die gemeente het ek op 27 April 1957, drie maande na my sestiende verjaardag, belydenis van geloof afgelê by die befaamde ds. Beyers Naudé, by ons bekend as Oom Bey. Die medeleraar was ds. Nico Smith, die latere prof. Nico Smith. Die twee sou in later jare op die voorpunt van die stryd wees vir groter geregtigheid vir Suid-Afrika se geknelde swart bevolking. (Die jaar 1957 was ‘n bedrywige een in my lewe: eers deur “boerematriek” en later deur die ware Jakob.)

My eerste jare op Volkies was ds. GD Worst, die leraar.  Van ds. Worst word die storie vertel, dalk apokrief, dat hy hom by geleentheid in ‘n ongemaklike situasie bekend gestel het as “Worst van Potchefstroom”. Die weerwoord was glo iets soos: “Ek gee nie om of jy Polonie van Benoni is nie!”

Die kerksaal is na ds. Worst genoem. Daar het die Christen-Studentevereniging (CSV), waarvan feitlik al ons kinders van die twee koshuise, Jack Pauw (seuns) en Ons Hoop (meisies), lid was, by geleentheid op Sondagmiddae saamtrekke gehou waar die pragtige CSV-lied weergalm het:  “Komaan, Suid-Afrika’s skaar van studente, maak Jesus koning in woord en in lied….”

Dit was ‘n besonderse gemeente wat Sondae vroeg vol was – mans in donker pakke en vroue met hoed op die kop en sykouse, soos die klerekode daardie tyd was. Natuurlik was die leraars uitgedos in hul deftige donker togas, en die liturgie was in ‘n vaste vorm verpak: votum, lofsang, wet, geloofsbelydenis, Skriflesing, preek, kollekte, slotsang en seën. Vir laasgenoemde het die leraar sy arms dramaties na bo uitgestrek, die enigste keer in die erediens van daardie tyd dat so iets gebeur het.

Soms is buitengewoon treffende preke van ds. Bey of ds. Nico op spesiale versoek herhaal.  Vir sulke geleenthede is stoele uitgepak, ook buite die kerk, en luidsprekers aangebring. Nagmaalnaweke is ook die voorbereidingsdiens die Saterdagaand en die nabetragting  Sondagaand  goed bygewoon.

Nou het ons nie meer, soos op laerskool,  Hallelujas gesing nie, maar Psalms en Gesange uit die ou Psalmboek. Groot persoonlike gunstelinge was Gesang 12: “O goedheid Gods, hier nooit volprese!”, Psalm 146: “”Prys die Heer met blye galme” en Psalm 33: “Sing vrolik, hef die stem na bowe”.

In al drie was uitdrukkings wat vandag, in die lig van toegankliker berymings van T.T. Cloete en andere, nogal vreemd op die oor val, maar wat destyds deur niemand bevraagteken is nie.  Nee, “snood ondankbaar” het ons gesing sonder ‘n tweede gedagte oor wat “snode” ondankbaarheid  presies  beteken.  Insgelyks het die “blye galme” nie gepla nie en het niemand gevra nie:  wat op aarde beteken daardie “uit aandrif van die skoonste kuns”?

Ons seuns was sonder uitsondering in pakke klere uitgevat. Myne was tot in st. agt ‘n kortbroekpak – iets wat weldra uitgesterf het. In standerd nege het ek ‘n spoggerige ligblou dubbelbors pak gekry en die eerste eie Sondagdas wat nie uit my pa se klerekas kom nie.  Dit was ‘n trotse oomblik toe ek dié.nuwe das spoggerig knoop volgens die swierige styl wat toe in die mode was.  Met daardie pak het ek ook op Sondagmiddag gaan kuier die een keer in ‘n kwartaal dat Ons Hoop se meisies vriende mag ontvang het.

Die meisies moes in gelid kerk toe marsjeer in hul verruklike wit rokkies, soveel mooier as die fyn blommetjiemateriaal (somer) of die swart tuniek (winter) van die skooldrag.

Sondagoggend het ons verspreid in die kerk in klasgroepies gesit en swoeg met die Heidelbergse kategismus en Dordtse leerreëls.  Ons moes hele hoofstukke uit die Bybel uit die kop ken, onder meer Jesaja 55: “ O almal wat dors het, kom na die water … “ en Jakobus 3: “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders….” (albei ou vertaling). Die Bybelboeke moes ons in snelvuur kon opnoem van Genesis tot Openbaring.  Dit het nogal konsentrasie geverg.

Aanddienste was verpligtend vir alle koshuiskinders, ongeag kerkverband. Ons is om die beurt na die moederkerk en die Mooirivierkerk. Vanweë die twis en tweedrag tydens die Rebellie van 1914 en daarna het die gemeente in 1917 afgestig. Die bestaande kerkgebou het toe die naam “Rebellesie”-gebou gekry. Tydens en nog lank ná die Tweede Wêreldoorlog het Mooirivier as die Barrish-kerk of die Sap-kerk bekend gestaan terwyl die moedergemeente die Worst-kerk was. Eersgenoemde het al die Sappe (lede van die Suid-Afrikaanse Party) gehuisves omdat laasgenoemde net Natte (lede van die Nasionale Party) toegelaat het.

Dan en wan het ons ‘n Sondagaand stokkies gedraai en met onwaardige bymotiewe die Apostoliese kerkie in Nieuwestraat besoek. Die handeklappery, ophef van arms en vrolike sang en musiek was vir ons ‘n aardigheid.

Ek onthou ook dat een van my Sondagskoolonderwysers, Daan Alberts, in Johannesburg, ek vermoed in die onvoltooide Eskomgebou, oor die kop geslaan en van ‘n hoogte afgewerp is. Dié moord het vanselfsprekend onder ons vir ‘n groot opskudding gesorg.    Wat het hy daar gaan soek? Ek het nooit agter die kap van daardie byl gekom nie.

 

KOL-KOL KERK TOE

Konfrontasie!

Konfrontasie!

van die vreugdes van ‘n vakansie in die bos is die Sondagbesoeke aan die karaktervolle kerkie in die personeeldorp met sy duursame inheemse hout oral, gewyde atmosfeer en natuurlike omgewing met ‘n reuse-reuse koorsboom by die een ingang.

Aanbidding saam met die intieme klein gemeente is ‘n geestelike verfrissing wat vrymoediglik by alle wildtuingangers aanbeveel word.  Vakansiegangers hoef nie te vrees dat hulle skeef aangekyk sal word omdat hulle nie “aangetrek” is nie.  Dienste is om 08:30 winter en somer. Almal is welkom.

Die een diens wat vir die uwe uitstaan, was die van Sondag 4 Augustus 2019.  Die preek van die  leraar, ds. Carl Louwrens, was ‘n boeiende kragtoer, soos altyd – sonder ‘n enkele nota en met ‘n goeie skeut humor.  Maar jammer, ds. Louwrens, dis nie jou preek waaroor ek dit hier het  nie.  Ek wil vertel van die rit van 15 kilometer van Sabiepark tot by die kerk.

Skaars twee kilometer gery, kry ons ons eerste luiperd van die dag in die Sabierivier skuins voor die Protea Hotel tussen die riete.  Dis ‘n fris mannetjie. Dié is in ‘n soort sielkundige oorlog gewikkel met ‘n trop bobbejane wat omtrent die horries wil kry van die opgewondenheid.  As hy maak of hy mik, retireer die ou lot met ‘n spoed.  Staan hy stil, skuif die bobbejane arrogant nader met die hoofman oor honderd  handeviervoet op die voorpunt.  Hy sluip al hoe nader en koggel die luiperd jillend.

Die sprong.

Die sprong.

Die luiperd vererg hom, en gee van die klip waarop hy staan ‘n elegante sprong in die sekelsterte se rigting. Toe moet jy sien hoe begewe die bende lawaaigatte se moed hulle. Hulle skarrel oor die brug tussen die motors deur, die dapper generaal losvoor.  Die granietbeeld van Pres. Paul Kruger bied ‘n aantreklike plek van veiligheid.  Op sy kop sit die naderhand swart. Wetende wat skrik aan bobbejane se spysvertering doen, skat ‘n mens ‘n goeie skrop  sou dalk vir Oom Paul se kop nodig gewees het.

Wat die luiperd betref, was die speletjie egter verby.  Die toonbeel van waardigheid, vind hy sy weg oor die rivierklippe, en verdwyn onder die brug.

Nou moet ons aanstoot.  Net agt kilometer verder, by die afdraai na die Lake Panic-voëlskuiling , gaan die remligte van die bakkie voor ons skielik aan.  Ek volg sy voorbeeld  en bring die Honda ook vinnig tot stilstand.  “Leeu!”   Die bestuurder van die bakkie vorm die woord met sy lippe. Maar toe is dit nie ‘n leeu nie, wel luiperd nommer twee. Weer ‘n mannetjie.

Hy kom uit die bos en gaan maak ‘n draai oorkant die grondpad.  Deurentyd merk hy sy gebied af. Toe maak hy ‘n regsomkeer. Reg van voor kom hy op ons afgestap.   Jy sou aan hom kon vat.  Die laaste foto is net ‘n blerts.  Hy was eenvoudig te naby.

Nommer twee.

Nommer twee.

Die laaste sien is toe hy so tussen die motors deur oor die H11-teerpad vleg.   Oorkant  verloor ons hom in die langerige wintergras.

Gelukkig is ons betyds by die kerk – net toe die klok aan ‘n hardekool-stellasie  sy eerste en laaste lui lui. So betyds dat ons nog vinnig kan vertel en foto’s wys om ander kerkgangers jaloers te maak.

Voorheen het ons in seker ver meer as honderd ritte  kerk toe al ‘n luiperd in die pad gekry.  Ons het al leeus gesien, ‘n renoster en selfs een keer wildehonde. Olifante is gereelde kalante op die roete.  Maar twee luiperds  – boonop so na aan mekaar en sulke oop teikens vir die kamera se oog!  Dit teken die Van Deventers aan as ‘n een- keer- in- ‘n- leeftyd-belewenis.

 

Party vriende trek ‘n verband tussen die wonderlike waarnemings en getroue kerkbesoek.  So asof dit ‘n beloning kon wees.  Hoe teologies korrek die teorie is, weet ek nie.  Ander kla dat dit darem nie regverdig is nie.  Hoe gelukkig kan party mense nou nie wees nie!

Vir hulle is my antwoord:   gaan kontroleer ‘n bietjie hoeveel keer per jaar ry die Van Deventers daardie paadjie.  Twintig jaar al. Dikwels sien ons tussen Sabiepark en Skukuza enkele rooibokkies en nie veel meer nie.  Maar dit is mos nou maar een maal so soos Gary Player graag opgemerk het: “Hoe meer jy oefen des te gelukkiger raak jy.”

HUIS VAN DIE HERE

kerk
kerk1

Philadelphia se kerk

More uit Melkbos

Sondagoggend weggeloop “outydse” kerk toe op ons bekoorlike buurdorpie Philadelphia. Ek het tuis gevoel. My siel is verkwik. Sal bepaald weer die klein draaitjie (net 15 kilometer) van Melkbos na Phildalphia toe ry.

Philadelphia se NG kerk staan patriargaal sy plek vol as hart van die landelike dorpie wat in die seisoen prentjiemooi deur groen koring en geel kanola omring word. Die voorkoms herinner nogal aan die moederkerk op Potchefstroom waar ek in 1957 belydenis van geloof afgele het. Voor die befaamde ds. Beyers Naude nogal. Ons het hom Oom Bey genoem.

Albei kerke is oud en hul ontwerp is “tradisioneel” Die huis van die Here. ‘n Waardige plekke van aanbidding. Jy voel die gewydheid aan as jy instap.

Philadelphia se kerk kom uit 1863. Dit het ‘n hoë plafon, Oregondenbanke, plankvloere wat kraak onder jou voete, ornate vensters en indrukwekkende preekstoel. Die liturgiese ruimte is skoon en oop – ongeskend deur allerlei “orkesverhoë” en ander nuwerwetsighede.

Toe preek ds. David Phillips boonop ook “tradisioneel”. Neem sy boodskap uit Lukas 2 – die verhaal van die skaapwagters en die engele. Sy tema: ‘n goeie tyding vir alle volke. Broodnodige boodskap van hoop in onheilstye. Was ek dankbaar oor my besluit om soontoe te gaan. Dis mos soos ek kerk uit my kinderdae ken.

Eerste herinneringe aan die kerk steek vas by Sondagskool, waarvan ek ‘n mooi foto van ons Sub A-klassie het – deurgaans netjies gebaadjie en gedas. Ek gaan vandag nog (meesal) so kerk toe. Ek onthou dat ons elke Sondag ‘n teksversie uit die vuis moes ken. Daarmee was ek nogal oulik. Ek onthou veral die Hallelujaliedere “Jesus roep my vir ‘n sonstraal”, “Liewe Jesus, ek is klein” en “Jesus min my salig lot”.

In 1950 is ons Natal toe vir ‘n kort tussentydse verblyf by my Oom Martiens en Tannie Dinah Maritz op Boshoek, naby Vryheid. Dit is waar ek met huisgodsdiens kennis gemaak het. Na aandete is die Bybel gebring, Oom Martiens het bril opgesit en in dowwerige lamplig goed gelees wat ek nie altyd verstaan het nie. Maar ek en my niggies, Lina en Elsa (Asja, het ek haar glo as kleuter genoem), moes verslag doen wat ons onthou het – wat soms ‘n penarie veroorsaak het.

Toe trou ma Baby weer en ons trek Durban toe. Ons gemeente is Berea. Die dominee was ds. John Adler, pa van Johan wat later ‘n bekende in die skakelwese was. Berea se kerk is, helaas, nou net ‘n saaltjie aan ‘n tehuis vir bejaardes.

1-IMG

Die uwe voor Potch se kerk in 2002

Die volgende stasie op die lewensreis was Potchefstroom. Eers was ds. G.D. Worst, leraar van die moedergemeente, later Oom Bey en ds. Nico Smith, die latere prof. Nico Smith wat jare later saam met sy oud-medeleraar op die voorpunt van die stryd sou wees vir groter geregtigheid vir Suid-Afrika se geknelde swart bevolking.

Van ds. Worst word die storie vertel, dalk apokrief, dat hy hom by geleentheid in ‘n ongemaklike situasie bekend gestel het as “Worst van Potchefstroom”. Die weerwoord was glo iets soos: “Ek gee nie om of jy Polonie van Benoni is nie!”

Die kerksaal is na ds. Worst genoem. Daar het die Christen-Studentevereniging (CSV), waarvan feitlik al ons kinders van die Hoër Volkskool se twee koshuise, Jack Pauw (seuns) en Ons Hoop (meisies), lid was, by geleentheid op Sondagmiddae saamtrekke gehou waar die pragtige CSV-lied weergalm het: “Komaan, Suid-Afrika’s skaar van studente, maak Jesus koning in woord en in lied….”

In die gemeente het ek op 27 April 1957, drie maande ná my sestiende verjaardag, by ds. Bey belydenis van geloof afgelê. (Die jaar 1957 was ‘n bedrywige een in my lewe: eers deur “boerematriek” en later deur die ware Jakob.)

Dit was ‘n besonderse gemeente wat Sondae vroeg vol was – mans in donker pakke en vroue met hoed op die kop en sykouse, soos die klerekode daardie tyd was. Natuurlik was die leraars uitgedos in hul deftige donker togas, en die liturgie was in ‘n vaste vorm verpak: votum, lofsang, wet, geloofsbelydenis, Skriflesing, preek, kollekte, slotsang en seën. Vir laasgenoemde het die leraar sy arms dramaties na bo uitgestrek, die enigste keer in die erediens van daardie tyd dat so iets gebeur het.

Soms is buitengewoon treffende preke van ds. Bey of ds. Nico op spesiale versoek herhaal. Vir sulke geleenthede is stoele uitgepak, ook buite die kerk, en luidsprekers aangebring. Nagmaalnaweke is ook die voorbereidingsdiens die Saterdagaand en die nabetragting Sondagaand goed bygewoon.

Nou het ons nie meer Hallelujas gesing nie, maar Psalms en Gesange uit die ou Psalmboek. Groot persoonlike gunstelinge was Gesang 12: “O goedheid Gods, hier nooit volprese!”, Psalm 146: “”Prys die Heer met blye galme” en Psalm 33: “Sing vrolik, hef die stem na bowe”. In al drie was uitdrukkings wat vandag, in die lig van toegankliker berymings van T.T. Cloete en andere, nogal vreemd op die oor val, maar wat destyds deur niemand bevraagteken is nie.

Nee, “snood ondankbaar” het ons gesing sonder ‘n tweede gedagte oor wat “snode” ondankbaarheid presies beteken. Insgelyks het die “blye galme” nie gepla nie en het niemand gevra nie: wat op aarde beteken daardie “uit aandrif van die skoonste kuns”?

Aanddienste was verpligtend vir alle koshuiskinders, ongeag kerkverband. Ons is om die beurt na die moederkerk en die Mooirivierkerk. Die meisies moes in gelid ‘n “rank” het ons dit genoem) kerk toe marsjeer in hul verruklike wit rokkies, soveel mooier as die fyn blommetjiemateriaal (somer) of die swart tuniek (winter) van die skooldrag.

Ons seuns was sonder uitsondering in pakke klere uitgevat. Myne was tot in st. agt ‘n kortbroekpak – iets wat weldra uitgesterf het. In standerd nege het ek ‘n spoggerige ligblou dubbelbors pak gekry en die eerste eie Sondagdas wat nie uit my pa se klerekas kom nie. Dit was ‘n trotse oomblik toe ek dié.nuwe das spoggerig knoop volgens die swierige styl wat toe in die mode was. Met daardie pak het ek ook op Sondagmiddag gaan kuier die een keer in ‘n kwartaal dat Ons Hoop se meisies vriende mag ontvang het.

Dan en wan het ons ‘n Sondagaand stokkies gedraai en met onwaardige bymotiewe die Apostoliese kerkie in Nieuwestraat besoek. Die handeklappery, ophef van arms en vrolike sang en musiek was vir ons ‘n aardigheid. Nou vind dit in die NG Kerk plaas sonder dat iemand van buite inloer.

Sondagoggend het ons verspreid in die kerk in klasgroepies gesit en swoeg met die Heidelbergse kategismus en Dordtse leerreëls. Ons moes hele hoofstukke uit die Bybel uit die kop ken, onder meer Jesaja 55: “ O almal wat dors het, kom na die water. Die Bybelboeke moes ons in snelvuur kon opnoem van Genesis tot Openbaring. Dit het nogal konsentrasie geverg.”

Snaaks, Jesaja 55 onthou ek goed, maar vir die Bybelboeke moet ek dikwels Sondae die indeks raadpleeg. Darem nie as die dominee uit Lukas 2 lees, soos ds. Phillips Sondag op Philadelphia nie. (HvD)

BOEK HET SY LIED VERLOOR

More uit Melkbos

Nou die aand wanneer sing Gé Korsten op “U Eie Keuse” Psalm 23 – ‘n aangrypende opname. Die wysie is bekend, maar ietwat ongewoon vir “Die Here is my herder”, soos ons oues die geliefde Psalm nog leer ken het. (Deesdae is dit mos “My Heer, my herder, laat my niks ontbreek nie….”, ‘n omdigting deur T.T. Cloete.)

Oor die identiteit van die wysie in die Gé-opname ontstaan in die Van Deventer-bed, waarheen ons vroeg-vroeg verkas het, ‘n debat.

“Die Heer droog al my trane af …” is die naaste wat ek later neurie-neurie aan die oorsprong kom.

Toe gryp Tokkie die “Liedboek van die Kerk”, ‘n publikasie waarin sy graag rondblaai om die ontroerende digkuns van geïnspireerde einddigters soos die einste Cloete, Izak de Villiers, Antjie Krog, Lina Spies, Cas Vos en andere te geniet.

Die antwoord kom gou ter hand. Die wysie is dié van “Ek sien ‘n nuwe hemel kom” (lied 602, teks Izak de Villiers), wat by soveel begrafnisse troos en hoop help bring.

Pragtig. Maar wat het van die “Liedboek” in onse kerk geword?

In sy voorwoord skryf prof. A.C. Barnard, voorsitter van die Psalmkommissie, “die kommissie nooi die Afrikaanse kerke om deur hierdie nuwe psalmbundel opnuut en met entoesiasme in te gaan en hulle regmatige geloofserfenis in besit te neem.”

Sê weer, professor! In my gemeente en ander waarvan ek weet, is die entoesiasme vir hierdie kosbare boekie, die produk van soveel inspanning en toewyding van soveel talentvolle mense, klaarblyklik maar bra eina.

Ons sing van die skerm af, ook maar uit ‘n uiters beperkte repertoire, en dikwels, sonder skroom, in Engels ….. ” ‘Glory, glory, Hallelujah’ and so on forth.”

Die “Liedboek” is ‘n lig wat onder ‘n maatemmer versteek word – ‘n offer aan die vertering van mot en roes, helaas.

Hoe hartverskeurend. Kan iemand hierdie onverklaarbaarheid verklaar?

Naskrif: Lank het ek gewonder hoekom ons in Lied 178 sing van “paatsjêm, paatsjêm” terwyl die Latynse uitspraak vir die word “vrede” tog “pacem” is (die “c” soos ‘n “k” uitgespreek). Toe Tokkie my aansteek en ek in die “Liedboek” begin rondlees, ontdek ek hierdie insiggewende mededeling: “Liturgiese Latyn volg ander uitspraakreëls as akademiese Latyn”.

Nooit geweet nie. Nou is hierdie Latyn 1-er (Tukkies 1959) ook op datum!
(HvD)

KAAL IN DIE KERK

Middag uit Melkbos

As matriekseun moes ek drie keer buk vir my laaste, my heel laaste, en my heel-heel laaste pakke slae. Een keer was nogal oor ‘n persoonlike mode-rebellie; die ander twee kere oor uit die koshuis glip vir rugby en vir fliek, laasgenoende in die matriekeksamen,

One o’ clock, two ‘o clock, three ‘o clock, rock – Bill Haley en sy Comets. Lekker!

Die klerekonfrontasie is vir die doel van hierdie skrywe relevanter. Ek is die aand eetsaal toe met ‘n krawat. ‘n Dasvereiste het gegeld. Mnr. Jack Slabber het daardie uitdaging van die klerereëls van Volkies se Jack Pauw-koshuis op die goeie ou Potch nie met welgevalle bejeën nie.

Hy het my dasloosheid as “onordentlik” bestempel, en ek het entoesiasties van hom verskil.

Uiteindelik is ek kamer toe gestuur om my “ordentlik” te gaan aantrek. Ek doen dit toe met mening, en keer terug in my blou dubbelborspak, beste Sondagdas, die lot. Die eetsaal dawer. Mnr. Slabbert – hy leef nog meen ek, maar is al diep in die 80 – word al hoe rooier in die gesig en wys my opnuut die deur.

Ek is daar uit, direk grootpad toe en ryloop toe na my ouerhuis op Klerksdorp (in 1957 was ryloop algemeen), waar ek voorspelbaar nie met ope arms ontvang word nie. Die Saterdag word ek agter in pa se Chevvie Fleetmaster geboender. Die hoof, dr. H.F.B. Muller, ‘n suur vent, wag grimmig in sy kantoor, rottang in sy hand….

Hoekom ek die hierdie storie opdiep? Wel, dis omdat ek iets oor die jeug se respek vir klerereëls op die hart het, en nie wil waag dat iemand my uitvang oor die geraamte in my eie kas in dieselfde verband nie.

Kom ons kry dit dus dadelik agter die rug: mea culpa – ek is ook skuldig. Ja, ek was maar goed moedswillig met die alewige dasdraery, en sal dus skynheilig wees as ek geen begrip vir jeugdige uitdagendheid teen gedwonge konformering openbaar nie.

Maar Hennie die haantjie moes op sy neus kyk – dit was die groot verskil met my pyn van die oomblik. Destyds kon jy ook die reëls uitdaag, maar gewoonlik teen ‘n prys. Vinnig-vinnig het die reëls gewen en jou agterwêreld gebrand.

Vandag is dit vir my of dinge half agterstevoor verloop. Die klererebelle is die oorwinnaars. Trouens, hulle word deur misleide gesagdraers subtiel en onsubtiel aangemoedig om selfs uitdagender te word en hulle al hoe minder aan reëls of standaarde te steur.

By die kerk is die kinders se kleredrag werklik vir die ou gryse ‘n bron van misnoegdheid. Seuns en meisies daag op in klere wat ek liewer nie sal waag om te probeer beskryf nie, buiten om te meld dat dit vir my, en ander ouer mense, soms maar uiters-uiters on-kerklik voorkom.

Ons verwag nie meer dubbelborspakke en dasse of sykouse en lang rompe mie. Maar onstigtelik is dit darem bepaald, soos die meisies gleufies en magies vertoon en die seuns se broeke dreig om oor die heupe grond toe te sak.

Selfs by die formeelste van formele okkasies op die kerkkalender soos Belydenisaflegging en nagmaal lyk die jongklomp meermale eerder na ‘n vrolike spannetjie pretmakers by ‘n informele tiener-uithangplek.

By ‘n onlangse nagmaal het graad 11’s en ouer kinders die brood en wyn uitgedeel. Mooi kinders, oulike idee. Maar mooi aangetrek? Moenie glo nie. Skynbaar was die strewe om so min as moontlik na pligplegers by die viering van die gewyde sakramant te lyk – eerder of hulle toevallig daar opgedaag het.

Die vrolike uitrustings van die spannetjie “informele diakens” is afgerond met ‘n bonte variasie op die tema plakkies – van daardie soort wat jy op die strand aanslof. Dat daar hoegenaamd plakkies aan hul voete was, was egter iets waaroor ons moet dankbaar wees, hoor ek. Dominee het laat glip die plan was oorspronklik om kaalvoet die kerk se gange in te vaar.

Klerekodes geld tog oral – mag jy byvoorbeeld kaalvoet gaan fliek? Of uiteet? Sekere restaurants sal jou gou die deur wys as jy die standaarde te ver probeer oorskry. Party het selfs stelle “moets en moenies” by hul deure opgeplak.

Hoekom is reëls hier aanvaarbaar, maar by die kerk taboe? Dáár “dryf dit jongmense weg,” soos ‘n besorgde leraarsvrou eendag iewers opgemerk het.

Wat die uwe ook nie begryp nie, is waarom kinders hulle vir okkasies soos matriekafskeide en sekere uitspattige partytjies so duur en deftig wil uitvat, maar vir die kerk wil hulle so “kasueel” as moontlik kom – in stranddrag as ‘t ware.

Ag, ek weet ek soek om gebrandmerk te word ….. ‘n regte Koos uit die oude doos, en dies meer. Maar ek wou dit van die hart kry en nou het ek … en voel ek ook sommer minder beswaard.

Meen, waarheen is ons op pad as ouer mense te bang is om vir voortvarende kinders sekere strepe te trek? (HvD)