Die liewe Vader behoed dit, maar kom ons veronderstel die gevreesde dag zero breek aan in Maart 2018 of selfs vroeër dat die damme dolleeg raak en die krane opdroog. Skakel ons dan maar net oor na winkelwater om te drink, byt vas en druk deur?
Helaas nie. Drinkwater is immers net een faset van ‘n wydvertakte krisis. Spoeltoilette is, by wyse van spreke, nommer twee op die lys. Winkel-oplossings daarvoor koop jy nie van die rak af nie.
As die rioolstelsel staan, dan staan dit met al die onuitspreeklike gevolge van ophoping, verstopping, verstikking, siektes en epidemies. Al gedink aan hoe supermarkte, winkels en sakesenstrums gaan funksioneer as hul toilette agter slot en grendel is? Geen gerief vir werker of klant. Grootskaalse sluiting van deure lyk na die voorland.
Wat die handel raak, raak mos elke liewe aspek van ons hele bestaan. Dink toeriste byvoorbeeld hulle sal maar net ‘n voorraad water kan saamry Kaap toe? Om waar te kom tuisgaan as hotels, gastehuise, familietuistes of eie vakansiehuise se toilette nie kan spoel nie?
Trek die lyn verder. Hoe sal skole kan oopbly as kinders die hele dag moet knyp? Hoe word bejaardes in tehuise versorg of pasiënte in hospitale? Hoe word brande in informele nedersettings geblus?
Klink miskien soos gruweltonele uit ‘n bangmaak-rolprent, maar al die ellendes kan werklikhede word as ‘n wonderwerk nie gebeur nie of noodplanne nie omvattend genoeg is en dringend genoeg deurgejaag word nie.
Trouens, volgens die gerespekteerde dr. Anthony Turton, voorsitter van Gurumanzi en vorige senior uitvoerende beampte by Bidvest SA Water, in ‘n goed nagevorste dokument bestaan heel resente Suid-Afrikaanse presedente van juis sulke “ondenkbaarhede”: In Port Shepstone moes ‘n skool al sy kinders huis toe stuur en ‘n hospitaal ander heenkomes vir sy pasiënte soek weens waternood; in Braamfontein het ‘n toringgebou verlede jaar afgebrand.
‘n Mens sidder om te dink dat ‘n swart dag kan aanbreek dat die Kaap hierdie selfde klippekoupad begin loop … en loop …en loop.
Het die tyd nie aangebreek om toeriste te ontmoedig om Kaap toe te kom nie? Kan konferensies en sportbyeenkomste maar onbelemmerd voortgaan? Kan mense vir hul plesier in skitter-swembaddens bly plas?
Lees vanoggend se hoofberig in Die Burger. Dr. Roger Parsons spel die werklikhede van die waternood uit op ‘n wyse wat ‘n mens koue rillings gee. Die krisis is op ons en die ondenkbare van droë waterkrane geen hersenskim nie.
Hoe billik is dit om in sulke slegte omstandighede. net belastingbetalers voor die loop van ‘n geweer te plaas oor teikens wat klaarblyklik nie met die huidige stadsbevolking en -leefwyse haalbaar is nie, al word in die meeste huise die minimum water gebruik?
Reeds op 16 Januarie – nege maande gelede – het ek in ‘n brief in Die Burger versigtig sulke vrae begin stel. Ek is as alarmis afgemaak en oor die vingers getik vir my onkunde oor die reuse-omvang van besoekers se bydrae tot die Kaap se ekonomie. Vrywel niks is gedoen nie buiten om verlangend na die wolke te staar.
Maar as die Kaap GEEN water meer het nie, watter ekonomie bly dan oor om te beskerm? Ons sal oor die langer termyn moet dink. Dringend. Anders word Kaapstad gou-gou Spookstad.
HIer is die skakel na my brief van 16 Januarie: https://www.netwerk24.com/Stemme/MyStem/kaap-moet-gou-ekstra-water-kry-20170115.
Die brief het verskyn onder die opskrif: Kaap moet gou ekstra water kry. Hier is die volledige brief:
Tien miljoen passasiers stroom in 2016 deur Kaapstad Internasionaal se hekke, en die betrokke Wes-Kaapse minister jubel saam dat die lughawe Kaapstad “een van die mees verwelkomende bestemmings in die wereld maak” (DB, 12 Januarie). Toeriste sak ook Desember/Januarie op die stad toe per skip, trein en motor. Spesiale promosies word van stapel laat loop om die stad aan toeriste te “verkoop”. Konferensiegangers word kliphard wereldwyd gewerf.
Ook nie almal wat deur die poorte kom, kom net kyk, geniet en gee weer pad nie. Bevolkingstatistieke ken net een rigting. Dis boontoe. Huiskopers uit ander provinsies trap eiendomsagente se drumpels deur. Informele nedersettings spring op soos padddastoele. Skole bars uit hul nate. Nuwe skole, vervangende skole, ekstra klaskamers en mobiele klaskamers word aangekondig. Nog 15 nuwe skole word in die volgende drie jaar beloof.
Terselfdertyd daal damvlakke onheilspellend. Waterteikens word, helaas, nie gehaal nie. En die arme belastingbetalers? Hulle is die sondebokke. Op openbare TV word hulle gekastei weens hul “gebrek aan samewerking”, gedreig met hoër boetes en aangemoedig om op bure te spioeneer.
Dit is mos nie billik nie. Is hulle dan die enigste verbruikers? Hoeveel toeriste gebruik herwinde badwater om hul toilette te spoel? Hoeveel tel ooit ‘n emmer op, klim saam in die bad of gebruik ‘n handdoek maar ‘n week lank om water te spaar?
Ek soek nie ‘n lang lesing oor die ekonomiese voordele wat toerisme vir die stad inhou nie. Niemand is immers so dwaas nie om te pleit: Hou asseblief tog die toeriste en die nuwe intrekkers weg.
Maar almal weet mos Kaapstad is wat vars water betref, ‘n brandarmstad. Die Moederstad kan nie sy brood aan albei kante gebotter wil he nie. Hy kan nie joelende wereldstad wees, die tienduisende besoekers juigend om die hals val, en dan oor hul waterbehoefte soos ‘n volstruis kop in die sand druk nie. Hy kan nie kop bo water probeer hou deur maar net die inwoners se krane stywer toe te draai nie. Stadsvaders kan nie maar net bly hoop dat die liewe Vader tog sal voorsien nie.
Ontwikkeling van bykomende varswaterbronne was lankal meer as noodsaaklik. Hoe langer hierdie dringende prioriteit uitgestel word, des te groter die onreg wat teenoor belastingbetalers gepleeg word, en potensieel afgrysliker die dreigende waterkrisis wat Kaapstad onverbiddelik vierkant in in die oë staar.
Lees ook hierdie veelseggende kommentaar van Adriaan van der Wart op Facebook: