Apr 2, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

By Johan se 50ste
Soos D-dag, 6 Junie 1944, ‘n dag van betekenis was, is Van D-dag, 7 April 2022, dit ook.
Eersgenoemde was ‘n sleuteldag in die Tweede Wêreldoorlog, en word ná amper 80 jaar nog herdenk. Laasgenoemde kry vandag eers in hierdie skrywe sy naam, maar is vir die Van Deventers van groot herdenkingswaarde.
By 7 April 2022 is in die dagboek ‘n rits inskrywings wat op ons lewens’ n D-dag-impak het.
Nommer een is dat seun Johan Donderdag presies 50 jaar lank op insulien sal wees. Rofweg bereken, sal hy dan minstens 50 000 prikke agter die blad hê om insulien in te spuit, en vir ander dinge daaromheen, soos bloedtoetse.

Johan: begin van die pad
Die baken word bereik in sy 51ste jaar op aarde. Hy was net ses maande oud toe hy raaiselagtig siek geword het en met diabetes mellitus gediagnoseer is – destyds (waarskynlik) die jongste geval ter wêreld.
Hy hou ‘n onbenydenswaardige waarskynlike wêreldrekord. Geen geval is opgeteken van iemand wat in die loop van sy 51ste jaar reeds die baken van 50 jaar op insulien behaal nie. HY het op 14 September 2021 50 geword,
Oor sy lewe op insulien kan baie stories vertel word: onder meer van talryke vreemde insidente uit veral sy kinderjare. Een daarvan is hoe sy hond, Novo, vir hom een aand ‘n lewensredder was soos die insulien Novo dit al lewenslank vir hom is.
Radelose artse het destyds nie herwaarts of derwaarts met die unieke geval geweet nie. HY was drie maande in die hospitaal terwyl gesukkel is om hom te stabiliseer. Ons is daarop voorberei dat hy besmoontlik nie 10 sou haal nie. Wonder wat hulle sal dink as hulle hom vandag kan sien: spekvet en aktief. Hy bedryf ‘n groot trokwasonderneming op George. Hy is ook baie betrokke by die Legacy Centre, ‘n skool vir kinders met spesiale uitdagings wat sy vrou, Mariza, bedryf. Hul seun, Migael, is outisties.
Destyds het nie net SA dokters nie nie van ‘n jonger geval geweet nie. Ook by die bekende Joslinkliniek in Boston, VSA, wou ‘n Switserse dokter sy ma nie glo nie. “Ses maande? Kan nie wees nie, mevrou?”

Sabiepark: In het beginne
Inskrywings twee en drie by 7 April is van twee aktiwiteite. In die Kaap tree die uwe en Tokkie op die lughawe Kaapstad aan vir die eerste skof van ons eerste lang Sabiepark-verblyf sedert die Covid –skrikbewind. Ons vlieg om 10:25 met Airlink se vlug NDBIXP na Nelspruit. As alles goed gaan, brand die aand ‘n vuurtjie by Tarlehoet.
Sabiepark is nou 24 jaar deel van ons lewe. Minstens 50 onvergeetlike vakansies (of vier jaar in kalenderdae!) is al daar langs die Sabierivier in die skaduwee van die Krugerhek van die wildtuin deurgebring; van die onvergeetlikste die alleenkuiers met kleinkinders.
Elke vakansie lewer sy spesiale gedenkwaardigheid op. Wat sal dit die keer wees? Weer ‘n luiperd op die stoep dalk? ‘n Mosambiekse spoegkobra by die braai? Vier hiënas in ‘n nagtelike eskapade in die watergatjie? Hou die ruimte dop.
Op George word die gholfstokke geswaai en die gemeenskap se harte en beursies oopgemaak op ‘n spesiale gholfdag vir die Legacy Centre (kleinseun Migael se skool) hierbo genoem.
Die skool van hoop en BINAH (sy nie-winsgewende organisasie) het in 2021 sy 1ste golfdag by die George-Gholfklub aangebied. Rauch Gertenbach Prokureurs en Citadel was hoofborge. Dit was ‘n dag van groot emosie. Spelers en rolspelers uit die Georgesakegemeenskap het almal wat by die skool betrokke is, oorrompel met hartlikheid en vrygewigheid. Die fondsinsameling was ‘n reusesukses en die veiling agterna veral ‘n feestelike geleentheid.

Gholfdag 2021 en 2022
Rauch Gertenbach Prokureurs gedenk sy 100ste bestaansjaar vanjaar en vier dit o.m. met ‘n spesiale liefdadigheidsgholfdag ten bate van Legacy Centre op Van D-dag. Volgens Mariza is dit vir die skool ‘n enorme eer dat die praktyk sy hart in so ‘n mylpaal-jaar vir hulle oopmaak. Die Tuinroete se sakegemeenskap omarm die skool ook weer eens en stel hom in staat om fantastiese pryse aan te bied vir die veiling.
Altesaam 17 outistiese kinders van so ver as Grootbrak en Sedgefield woon die sentrum by. Legacy Centre kry geen staatsbefondsing nie en is aangewese op donasies en fondsinsamelings soos hierdie.
Nog iets van 7 April: dit is die geboortedag van Tokkie se ma, Ouma Marietjie. Sy sou Donderdag 108 jaar oud gewees het, maar is kort voor haar 99ste oorlede.
- Jan van Riebeeck het natuurlik op 6 April 1652 met drie skepe, die Drommedaris, Reijger en Goede Hoop, in Tafelbaai geland met die doel om ’n verversingstasie te vestig. Vanjaar is dit 370 jaar gelede. Gelukkig het hy nie ‘n dag later opgedaag nie. Op die dagboek-blad vir 7 April is werklik vir geen muis meer plek nie.
Jan 9, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Drie generasies in Tarlehoet se swembad.
So ‘n stormagtige verwelkoming het ons in twee dekades nie in die Laeveld beleef nie: die donker hemel wat as’ t ware soos ‘n stuk lap oopskeur en die water in emmers laat neerstort.
Dit gebeur toe ons Sondag van OR Tambo af per bus in Nelspruit opdaag. Johan moet ons daar kom haal met die Honda. Min weet ons watter stryd hy voer om die taak te kom verrig. Hy ontdek iets aan die Honda waarvan ek nog nooit in my 79 jaar gehoor het nie. Weens ‘n fout in die bedrading – skynbaar – stroom die warm lug oral in sodra jy die ligte aanskakel. Ja, Gevolg? Die ruite wasem terstond toe. Gelukkig kry Johan ‘n handdoek in die kar, maar maklik was dit nie: om met die een hand die kar in die pad en die ander die voorruit darem effens deursigtig te hou.
Hoe lank die storm aangehou het, weet ek nie. Nelspruit se strate was omtrent riviere. Ek was in die gietende reën skoon verdwaal – het in ’n stadium geglo ons is op pad terug Witbank toe! In, elk geval, ek en Tokkie het plekke geruil. Sy is tot beheer van die handdoek gepromoveer –‘n deksels uitdagende taak. By Tarlehoet het ‘n ongeduldige Migael gewag. Hy soek Oupa en Ouma dadelik – maar dadelik in die swembad! Die aand het die ribbetjie op die kole gesis. Geen teken van reën nie.
Die tipiese Laevelde donderstorm volg op ‘n taamlik onstuimige ontwrigting van die Van Deventers (juniors) se Kersmaal op Tarlehoet se stoep. Johan, Mariza, Migael en Kenny (M se onderwyser/versorger) was onthuts toe ‘n meneer met onheilspellende geel strepe skielik uit die stoep se grasdak plons terwyl hulle vir middagete aansit. ‘n Takslang (ook bekend as voelslang) – ‘n dodelike slang waarvoor geen teengif nog ontdek is nie, was my langafstand-identifikasie.
Slang se kind het later tussen die houte in die braaiplek verdwyn. Toe Sabiepark se slangvangers sy avontuurtjie kom kortknip, ontdek hulle ‘n maat. Twee slange aan ‘n Kerstafel. Laat ‘n mens nogal ril. Nie elke dag se ding nie. Nog ‘n ongenooide besoeker was ‘n veldlikkewaan op die motorafdak.
Vir wat dit werd is, was my identifikasie heel uit die kol. “Oom Hennie, dis ‘n skadelose westelike geelpenssandslang,“ het Lorinda Steenkamp van hoër op in Wildevy laat weet. Sy is ‘n kenner. Ekskuus oor my ‘ligte mistykie’
Pluspunte so op die Kersdag was die span VanD se eerste sien van die park se nuwe swartwitpense. Op hyl lysie is o.m ook ‘n luiperd in die wildtuin, olifante, buffels en seekoeie by die piekniekplek, wildebeeste, bloukuifloeries by Tarlehoet en nagapies. Minder aangenaam was dit om ‘n wildebesie met ‘n gebreekte been raak te loop. Hy moes uitgesit word, soos een met ‘n gebreekte nek ‘n paar dae tevore. Waarskynlik hiëna se werk. Laasgenoemde is egter net gehoor. Nooit gesien nie
Ek en Tokkie soek die swartwitpense – nuwe statussimbool van Sabiepark – nog vergeefs. Wat ons aangenaam verras het. is die vordering met rasseskrede van ons troetel-appelblaarboompie agter die huis. Hy het maar lank gesukkel. Ook die aartappelbos wat die uwe in ‘n stadium as dood gesertifiseer het, is is groen getooi. Om nie te praat van al die rosyntjiebosse wat langs die swembad opgeskiet het nie.
Ons hoor aaneen die Piet-my-vrou. Die bosveldsvisvanger is vreemd stil. Saans is die paddas bra luidrugtig. Die hiena bly roep maar kruip weg.
‘n Onafgehandelde taak wat soos ‘n aflosstokkie van die een span VanD aan die ander span VanD aangegee is, is die dophou van die kragstelsel se kodeliggies wat die stand van die batterye verraai. Dié openbaar sedert opgradering om ‘n elektriese yskas (groot aanwins!) te kan aanskaf, nogal ‘n wispelturigheid. Die vrees is gedurig aanwesig dat die spulletjie ‘n Eskom op ons kan trek. Sal later rapporteer of ons die kwale – soos die Honda se lugversorger s’n – kon uitsorteer.
En die swembadjie? Natuurlik ‘n fees in die Laeveldse somerhitte. Oupa en Ouma het hulle heel gewillig deur Migael laat opkommandeer om saam die water te kom geniet. Net dankbaar hy is hier weg sonder ‘n paar tande minus. Soos hy vreesloos van die een muurtjie na die ander spring, het Oupa elke keer laat ys vir ‘n smesj.
Oor Ouma se beroemde “renostermelk” het ek al vantevore met lof hier geskryf. In die drankkabinet is met komplimnte van die VanD’s nou ‘n professionele weergawe: ‘n Royal Rhino African- roomlikeur. Kom nogal in ‘n houer op ‘n haar soos ‘n renosterhoring. Ons brand om te proe. Vanaand is dalk die aand!
Sep 8, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Johan en Migael

Eerste tuiskoms
More uit Melkbos
Ons seun, Johannes Cornelius van Deventer, is op 14 September 1971 gebore, presies 30 jaar ná sy pa, wat weer presies 30 jaar ná sy pa gebore is. Aanstaande Woensdag sal ons in George ‘n glasie klink op sy 40ste. Ek ry spesiaal vir daardie edele doel by Nuy langs.
Die gewone bereiking van ‘n gewone 40ste is dit nie, want op ses maande na is dit ook sy 40ste herdenking van ‘n lewe op insulien. Toe Tokkie dit gister teenoor ons apteker op Melkbos laat val, kon hy dit nie glo nie. Veertig jaar oud en amper 40 jaar op insulien – nog nooit gehoor nie!
Op die foto bo is Johan (soos hy nou lyk) en Migael wat al tussen drie en vier jaar by Johan en Mariza is. Hy is in die proses om sy nuwe ID-dokument te kry as Van Deventer-kleinkind nommer vier. Op die foto onder is Johan en sy ma by die voordeur van ons huis in Kmdt. Senekalstraat, Bloemfontein, by die eerste tuiskoms van die nuweling in die lente van 1971.
Ek sê doelbewus “eerste tuiskoms”. Nege maande later was daar ‘n tweede tuiskoms, omdat hy op ses maande, tot algemene verstomming, ook van medici oral, uit die bloute as diabeet gediagnoseer is.
Die gesukkel om die baba op insulien gestabiliseer te kry, het drie frustrerende maande geduur. By sy tweede tuiskoms kon hy al loop. Hy kon nooit kruip nie – daardie fase is woerts by hom verby terwyl hy in die babasaal in die Nasionale Hospitaal veteraan-status begin kry het, en die stad se senior kinderarts radeloos rondtas.
Daardie nooit kruip nie, kan besmoontlik aan verskeie dinge verbind word, soos ‘n onmoontlike lelike handskrif. Dalk ook dat bure van sy kleinseuntjiedae af verbaas was dat hy altyd op ‘n haastige drafstap was. Stadig loop is nou nog nie vir hom nie.
Ek ken Johan goed genoeg om te weet hy sal ‘n uitvoerige verslag van sy lewe en eienskappe, goed of minder goed, nie met welgevalle hier lees nie. Ek weerhou my daarvan. As jou eerste kind 40 word, en veral 40 teen die agtergrond soos hierbo geskets, kyk ‘n mens egter vanselfsprekend terug op die pad wat afgelê is. Dit sluit noodwendig in hoe diabetes, en insuliengebondenheid, sy lewe beïnvloed het. Dit was, om dit sag stel, in vele opsigte beperkend. In standard vier, vyf rond is sy ma byvoorbeeld saam buitelugskool toe. Sy het haar eenkant gehou, maar was naby as probleme sou opduik. Dit kon nie vir ‘n groot seun lekker gewees het nie.
Toe hy by die skool ‘n slag, soos ons dit genoem het, “lae suiker” kry, word sy ma dadelik ontbied. Toe sy opdaag, reageer hy al mooi op die glukose wat hom ingejaag is. Sy onderwyseres wat haar asvaal geskrik het, lê egter op die naat van haar rug in die siekeboeg. Die arme ding het haar “boeglam” geskrik!
Op ‘n skooluitstappie na die Vrystaatse Universiteit het lae bloedsuiker hom oorval. Die kind is op ‘n Vrydagmiddag in ‘n badkamer toegesluit, en niemand het hom gemis nie todat sy ma alarm gemaak het. Dit was hospitaalsake.
Een aand het hy in Bloemfontein nie van ‘n aandwandeling teruggekeer nie. Tot die polisie was later by die soektog betrek. Hy word toe opgespoor waar hy op ‘n sypaadjie omgekap het. ‘n Motor se ligte het geval op sy staffie, Novo, wat ontsteld by sy basie op en af spring. Novo was sy geskenk toe hy ‘n rukkie gelede op nuwe insulien, ook Novo, geplaas is. Daardie aand het Novo sy hond hom gered soos Novo die insulien vir hom al die jare ‘n lewensredder is.
Ek het Johan se drafstappie as tipies uitgesonder. ‘n Ander lewenskenmerk is hulpvaardigheid. Op skool al het hy sonder aarseling ‘n ma te hulp gesnel wat met haar baba van die pad in ‘n sloot gery het. Hy het die baba in sy ouma se arms geprop en toe die ma uitgehelp.
Hoeveel skildpadjies hy gered het en hoeveel pap bande hy vir wildvreemdes help omruil het, weet ek nie. Die ironie is dat juis hy wat altyd met die beste gesindheid vir enigiemand stilgehou het om te help, by ‘n lokval, nie ver van Atlantis nie, beroof moes word. Sy vrymoedigheid het seker ‘n knou weg.
As sy ma vir hom ‘n monument kon bou, sou sy dit oor o.m. hulpvaardigheid doen, glo ek. Sy energie wat in die vestiging van haar geskenkewinkeltjie Tokkie in Bloemfontein gestort is, was enorm – het selfs as student by veilings op ‘n kasregister en winkelrakke gaan bie om die projek bekostigbaar te hou. Vermoed hy het dit meer geniet as om in die Privaatreg-klas te sit.
Van sy Ouma het ons ‘n mooi foto waar Johan haar soos ‘n mudsak mielies oor die skouer strand toe dra. Op haar 90ste het hy skielik die ingewing kry dat sy weer by die see moet kom. Dan voeg hy altyd dadelik die daad by die woord. Ek glo as Ouma (nou 97) haar herinneringe oor Johan begin uitpak, sal hoog op haar stapeltjie wees hoe hy altyd vir haar uit sy pad gegaan het.
Iewers lees ek hoe seuns op verskillende ouderdomme oor hul pa’s sou dink. Op 40 wonder ’n seun, volgens daardie weergawe, hoe sy pa ‘n sekere situasie sou hanteer het – Pa was altyd só wys … Hoe reg of verkeerd daardie teorie is, sal ek vir Johan moet vra. Een “wysheid” van sy pa was dat sy intense voorliefde vir en kennis van motors hom vir die motorbedryf uitgeknip maak. Soos sake maar hul beloop neem, het hy ander weë bewandel. Nou bedryf hy ‘n karwassery in George. Wonder hoeveel ander karwas-eienaars weet soveel van die wringkrag en dinge van die karre wat deur hul spuite gaan! (HvD)