‘n “GRAND OLD MAN” SE 100ste VERJAARDAG

SO KUIER ‘N MENS: Tokkie, Gustav en Frances enkele jare gelede gemoedelik saam by Sabiepark se piekniekplek.

 

Dertien jaar gelede is my 70ste verjaardag op ‘n agterna-ete in die Sabieparkse huis van Gustav Hoexter, oud-appèregter, en sy sprankelende eggenote, Frances, gevier. ‘n “Nunc pro tunc” het die vermaarde regsman dit genoem – ‘n “nou vir toe”.

Aan die “nunc pro tunc” dink ek sedert ek my en Tokkie se vliegkaartjies vir ons Juliebesoek aan Sabiepark gekoop het. Hoop die iets-in-die 50-ste kuier by ons bosplek sal die geleentheid skep vir ‘n omgekeerde “nunc pro tunc”: ‘n agternaviering van Gustav se 100ste wat op 9 Februarie op ‘n fees soos min in Bloemfontein gevier is.  Gaste het van heinde en verre opgeruk.

Ek en Tokkie sou wat wou gee om by die Bloemfonteinse fees teenwoordig te wees. Ongelukkig was ons op die waters.  Daarom die hoop en verwagting op ‘n tweede geleentheid in Julie in Sabiepark.

Aan die aand in 2011 met my eie  “nunc pro tunc” het ek die aangenaamste herinneringe. Ek is uit Tambotiestraat (die Hoexterwoning) huis toe met ’n bottel Bell’s (“gee daai man ’n Bell’s!”) onder die arm. Op die drasak was ’n stukkie Duitse waarheid: “Alt werden steht in Gottes Gunst, jung bleiben, das ist Lebenskunst!”

In my drasak was ook die woorde van ’n raak heildronk op die nuttige kurktrekker: “Here’s to the corckscrew! The key to unlock the storehouse of wit! The treasury of laughter! The front door of fellowship! And the gate of pleasant folly!”

Aan daardie wyshede dink ek terwyl ek hier skryf. Gustav is op 100 noodwendig nie meer die Gustav wat hy op 70 of 80 0f 90 was nie. Maar dat hy steeds ‘n lewende getuigskrif vir daardie Duitse gesegde en die heildronk op die kurktrekker is, staan soos ‘n paal bo water. Hy is by uitstek die voorbeeld van ‘n man wat die ware lewenskuns bemeester het.

Ek het hom by geleentheid Sabiepark se gulste gasheer genoem. Ons “grand old man” is egter nie net ‘n gulle gasheer nie, maar ook meesleurend galant en gevat. Ek onthou met vreugde die meesleurende anekdotes wat hy altyd langs die kampvuur of van sy punt aan die hoof van die tafel kon oprakel; sy onuitputlike fonteintjie van kwinkslae, feestelike bydraes tot tafelgesprekke en sy raakvat-kwotasies uit klassieke werke.

Watter vreugde sal dit nie vir hierdie 83-jarige wees as hy in Julie weer by die “front door of fellowship” van daardie eeu-oue “storehouse of wit” sal kan aanklop nie.   Hou saam duim vas, asseblief.

 

 

 

UIT MY BADKAMER

Middag uit Melkbos

Dis seker onbehoorlik om geheime uit jou badkamer te verklap. Jammer, ek kan nie die versoeking weerstaan nie.

Die nuus uit die klein vertrekkie is dat die uwe vanoggend ‘n omgekeerde 100-tal aangeteken het. Die skaal – so ‘n plat glasgevaarte – het op 99,8 gebewe, gebewe en toe gaan stilstaan.

Die eerste keer in jare is die uwe nie meer ‘n “honderdponder” (bedoelende eintlik 100 kilogram of meer) nie. Die sop-dieet uit Skukuza skop nou in. Dankie, ds. Carl.

Die voorneme is om die skaal net hier vas te pen. Nooit is ‘n lang tyd, veral wat ‘n groot man se massa betref. Maar HvD wil nooit, nooit, nooit weer 100 te bowe gaan nie – nie as dit in sy hande is nie.

Rietskraal is ek nog nie en rietskraal wil ek ook nie wees nie – kan ek waarskynlik ook nooit wees sonder intense verhongering en intensiewe oefening nie. Maar, mense, dis net ‘n plesier as ‘n toeknooptrui (oopknooptrui?) wat nou die dag nog om die bultende middel gespan het, nou so lekker los aan jou hang.

Dit maak die hele vasbyt-oefening die moeite werd.

In “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof” (Tarlehoet, 2003) was die volgende versie:

Badkamerskaal

Net een skrale kilo
op die badkamerskaal
dis al wat Daan Drommel,
in ‘n week kon behaal;
toe roep hy raadop:
“Ek is moeg vir die pyn” –
en vat in sy kelder
nog ‘n botteltjie wyn

‘n Belydenis: daai Daan Drommel is ekke. Dis my alter-ego, my non-de-plume.

Nou steek ek vir ou Dik Daan tong uit. En vanaand drink ek net weer ‘n glasie water met ‘n suurlemoenskyfie.

Die wyn kan wag .. maar darem ook nie vir altyd nie! (HvD)