KERK TOE IN ‘n KORTBROEKPAK

By Melkbos se NG kerk word gewoel om die toring te herbou en die ou asbesdak te vervang nadat ‘n stuk van die toring afgebreek en deur die kerk se dak na benede gestort het.  Enkele Sondae moes die erediens in die saal plaasvind. ‘n Bedrag van R2 miljoen is ter sprake.

‘n Vorige gemeente, Potchefstroom se Moedergemeente, was drie jaar sonder sy kerk nadat ‘n brand die geskiedkundige gebou in 2007 so te sê in puin gelê. Restourasiewerk het meer as drie jaar geduur. Restourasiekoste was meer as R7 miljoen.

In die gemeente het ek op 27 April 1957, drie maande na my sestiende verjaardag, belydenis van geloof afgelê by die befaamde ds. Beyers Naudé, by ons bekend as Oom Bey. Die medeleraar was ds. Nico Smith, die latere prof. Nico Smith. Die twee sou in later jare op die voorpunt van die stryd wees vir groter geregtigheid vir Suid-Afrika se geknelde swart bevolking. (Die jaar 1957 was ‘n bedrywige een in my lewe: eers deur “boerematriek” en later deur die ware Jakob.)

My eerste jare op Volkies was ds. GD Worst, die leraar.  Van ds. Worst word die storie vertel, dalk apokrief, dat hy hom by geleentheid in ‘n ongemaklike situasie bekend gestel het as “Worst van Potchefstroom”. Die weerwoord was glo iets soos: “Ek gee nie om of jy Polonie van Benoni is nie!”

Die kerksaal is na ds. Worst genoem. Daar het die Christen-Studentevereniging (CSV), waarvan feitlik al ons kinders van die twee koshuise, Jack Pauw (seuns) en Ons Hoop (meisies), lid was, by geleentheid op Sondagmiddae saamtrekke gehou waar die pragtige CSV-lied weergalm het:  “Komaan, Suid-Afrika’s skaar van studente, maak Jesus koning in woord en in lied….”

Dit was ‘n besonderse gemeente wat Sondae vroeg vol was – mans in donker pakke en vroue met hoed op die kop en sykouse, soos die klerekode daardie tyd was. Natuurlik was die leraars uitgedos in hul deftige donker togas, en die liturgie was in ‘n vaste vorm verpak: votum, lofsang, wet, geloofsbelydenis, Skriflesing, preek, kollekte, slotsang en seën. Vir laasgenoemde het die leraar sy arms dramaties na bo uitgestrek, die enigste keer in die erediens van daardie tyd dat so iets gebeur het.

Soms is buitengewoon treffende preke van ds. Bey of ds. Nico op spesiale versoek herhaal.  Vir sulke geleenthede is stoele uitgepak, ook buite die kerk, en luidsprekers aangebring. Nagmaalnaweke is ook die voorbereidingsdiens die Saterdagaand en die nabetragting  Sondagaand  goed bygewoon.

Nou het ons nie meer, soos op laerskool,  Hallelujas gesing nie, maar Psalms en Gesange uit die ou Psalmboek. Groot persoonlike gunstelinge was Gesang 12: “O goedheid Gods, hier nooit volprese!”, Psalm 146: “”Prys die Heer met blye galme” en Psalm 33: “Sing vrolik, hef die stem na bowe”.

In al drie was uitdrukkings wat vandag, in die lig van toegankliker berymings van T.T. Cloete en andere, nogal vreemd op die oor val, maar wat destyds deur niemand bevraagteken is nie.  Nee, “snood ondankbaar” het ons gesing sonder ‘n tweede gedagte oor wat “snode” ondankbaarheid  presies  beteken.  Insgelyks het die “blye galme” nie gepla nie en het niemand gevra nie:  wat op aarde beteken daardie “uit aandrif van die skoonste kuns”?

Ons seuns was sonder uitsondering in pakke klere uitgevat. Myne was tot in st. agt ‘n kortbroekpak – iets wat weldra uitgesterf het. In standerd nege het ek ‘n spoggerige ligblou dubbelbors pak gekry en die eerste eie Sondagdas wat nie uit my pa se klerekas kom nie.  Dit was ‘n trotse oomblik toe ek dié.nuwe das spoggerig knoop volgens die swierige styl wat toe in die mode was.  Met daardie pak het ek ook op Sondagmiddag gaan kuier die een keer in ‘n kwartaal dat Ons Hoop se meisies vriende mag ontvang het.

Die meisies moes in gelid kerk toe marsjeer in hul verruklike wit rokkies, soveel mooier as die fyn blommetjiemateriaal (somer) of die swart tuniek (winter) van die skooldrag.

Sondagoggend het ons verspreid in die kerk in klasgroepies gesit en swoeg met die Heidelbergse kategismus en Dordtse leerreëls.  Ons moes hele hoofstukke uit die Bybel uit die kop ken, onder meer Jesaja 55: “ O almal wat dors het, kom na die water … “ en Jakobus 3: “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders….” (albei ou vertaling). Die Bybelboeke moes ons in snelvuur kon opnoem van Genesis tot Openbaring.  Dit het nogal konsentrasie geverg.

Aanddienste was verpligtend vir alle koshuiskinders, ongeag kerkverband. Ons is om die beurt na die moederkerk en die Mooirivierkerk. Vanweë die twis en tweedrag tydens die Rebellie van 1914 en daarna het die gemeente in 1917 afgestig. Die bestaande kerkgebou het toe die naam “Rebellesie”-gebou gekry. Tydens en nog lank ná die Tweede Wêreldoorlog het Mooirivier as die Barrish-kerk of die Sap-kerk bekend gestaan terwyl die moedergemeente die Worst-kerk was. Eersgenoemde het al die Sappe (lede van die Suid-Afrikaanse Party) gehuisves omdat laasgenoemde net Natte (lede van die Nasionale Party) toegelaat het.

Dan en wan het ons ‘n Sondagaand stokkies gedraai en met onwaardige bymotiewe die Apostoliese kerkie in Nieuwestraat besoek. Die handeklappery, ophef van arms en vrolike sang en musiek was vir ons ‘n aardigheid.

Ek onthou ook dat een van my Sondagskoolonderwysers, Daan Alberts, in Johannesburg, ek vermoed in die onvoltooide Eskomgebou, oor die kop geslaan en van ‘n hoogte afgewerp is. Dié moord het vanselfsprekend onder ons vir ‘n groot opskudding gesorg.    Wat het hy daar gaan soek? Ek het nooit agter die kap van daardie byl gekom nie.

 

ROOI MUSTANG EN VERWOERD SE BEGRAFNIS

Kan 'n prent van nuuskiosk en teks wees
‘n Voorsmaak van my nuwe koeranteboek, “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord – ‘n joernaal van scoops en skandes”, nou by die drukkers, kry lesers van “Rapport” vandag in ‘n dubbelblad-artikel in die bylae “Weekliks”. Dit handel oor ‘n voortsnellende rooi Mustang se kritieke rol in die dekking van die vermoorde dr. HF Verwoerd se staatsbegrafnis in September 1966.
Kollega Tobie Wiese noem die storie ‘n voorbeeld van ” hoe tientalle ratte vir ‘n Sondagkoerant perfek moes draai om die begrafnis behoorlik te dek. Ter sprake is drie bedrewe motorfietsryers, ‘n helikopter, ‘n verslaggewer wat inderhaas ‘n gebou moes uitklouter, nog een wat deur die Veiligheidspolisie gegryp word, ‘n rooi Mustang wat met sy kosbare buit oor die Vrystaatse vlaktes skeer en ten slotte ‘n SAL-vliegtuig wat hom in digte mis by die lughawe DF Malan vasloop. Dit het al die bestanddele vir ‘n ramp … of ‘n triomf.”
Dit storie van die Mustang is een van 55 hoofstukke in ‘n “koekstruif” – ook Tobie se woord – van koerantestories in die boek met sy 55 hoofstukke ien 280 bladsye.
“Mooi nooi” kan enige dag verskyn. Die keurig versorgde boek kan direk bestel,word by die uitgewer, naledi.co.za , of by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za. Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos dit net R260 (aflewering ingesluit).

 

MAMMA, WAAR KOM SUPERMAN VANDAAN?

Superman het sy buiging in 1938 gemaak – in die jaar van die simboliese Ossewatrek, eers net as strokiesprentheld. In 1941 vlieg hy egter al die wêreld vol in kort animasiefklieks. In 1948 en 1950 volg twee vervolgreekse op die silwerskerm – “serials”, het ons hulle genoem. In 1951 verskyn die eerste vollengte Superman-rolprent, Superman and the Mole Men met George Reeves.

Die geskiedenislessie is aan die adres van Dana Snyman wat in die rubriek Van Alle Kante in Die Burger van 29 April vir die 70’s se Bruce Lee (Brucelee) ‘n chronologiese staanplek voor Superman wil gee, en almal van latere generasies wat oor die magiese Clark Kent en sy Lois se herkoms in die gryse verlede dalk soortgelyke wanpersepsies het.

Hoe sal ek nou nie weet nie? Ek was in 1948 in standerd een (graad drie) aan  die Laerskool Diamantveld in Kimberley toe ek in die Plaza in Transvaalweg in ‘n eerste kennismaking met die immergroen held so meegevoer raak dat ek nog dierelfde middag myself van die tuinmuurtjie by Diagonalstraat 10 ten hemele probeer lanseer.

Anders as die regte Superman het die jong nabootser nie blitsvinnig asemrowende hoogtes bereik nie, maar bedremmeld tussen die leeubekkies asters en sonneblomme in ‘n naasliggende bedding neergeplons. Sy regterarm moes gips kry weens ‘n polsbreuk.

Sy juffrou, ‘n dierbare mej. Muller, het die stomme seuntjie so innig jammer gekry dat hy taamlik lank meer tyd op haar skoot deurgebring het as in sy skoolbank.

 

 

 

 

 

 

 

ELKE DAG ‘N MOOI NOOI EN ‘N MOORD

Gee elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord. Dit is die digter DJ Opperman se resep vir ‘n koerant om sy sirkulasie ‘n stoot te gee. Die aanhaling kom uit sy bundel Joernaal van Jorik.
Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord. is ook die titel van my nuwe koeranteboek wat binne weke by Naledi verskyn. Dankie daarvoor, DJ Opperman.
Die storie agter die voorbladskildery vertel ek later.
So stel Naledi vandag my boek bekend:
Uit polemieke en petaljes; rusies en romanses; herries en hofsake en wat nog put gesoute koerantman Hennie van Deventer ‘n ryk oes vir sy boeiende boek oor koerante en die nuus wat hul lewensbloed is.
Die veteraan van die perswese staan bekend as ‘n gebore en geesdriftige nuusmens. Hierdie is sy sesde boek met ‘n binneblik op die koerantwêreld.
In ‘n onderhoudende keuse van stories met ongewone kinkels roer hy allerlei omstredenhede aan: Charlize Theron se “net 44 wat nog Afrikaans praat”, Amanda Gouws se verweer vir vroue wat vloek, Ton Vosloo se ontdekking van “’n ander Suid-Afrika”, die slagspreuk “Kill the Boer …
Sy temas is talryk. Hy ryg die staaltjies en anekdotes in en verklap geheimpies uit redakteurskantore en raadsale.
Wie humor soek, sal heelwat daarvan kry – ook heelwat politiek of lig op persoonlikhede: nie net huishoudelike name in die media nie, maar groot letterkunde-geeste soos die korrelkop Langenhoven, NP van Wyk Louw en Opperman, politici soos Verwoerd en Vorster, skoonhede soos prinses Diana en Anneline Kriel en, les bes, selfs ontkleedanseres Glenda Kemp.
Bestel dit by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za of naledi.co.za(Naledi se webtuiste). Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos die boek net R260.

SALIGE SAAMKUIERS MET SKUKUZANERS 

Van die aangename elemente van ons eienaarskap van Tarlehoet vir 25 jaar is die verbintenis wat dit meegebring het met die kerk in Skukuza, met ds. Carl en Sarah Louwrens en met die Skukuzaners (gemeenskap van Skukuza).

Dis ‘n vreugde om Sondae spesiaal vroeg op te staan en Skukuza toe te ry vir die diens om 08:30. Die atmosfeer in daardie kerkie is behaaglik intiem, en die boskarakter is treffend. Dit spreek jou aan.  Soms kry jy as bonus op die pad soontoe luiperds of leeus.

Ons het ook kennis gemaak met die gemeente se unieke Paasdienste op die indrukwekkende Mathekenyane-Granokoppie tussen Skukuza en Pretoriuskop, langs die H1-1 suide toe. Treffend is dit om op kampstoeltjies hoog bokant die veld te sit terwyl die nag stadig toesak, en om die Paasverhaal in lied (met kitaarbegeleiding), poësie, Skriflesing en gebed te herdenk.

Aand-geleenthede op die Granokoppie eindig tradisioneel met ‘n piekniek-ete onder die sterre. Die gemeente bring opvoustoele, mandjies kos, en ietsie vir die keel. Dan word ‘n hond uit ‘n bos gekuier. Ook die Kers-sangdiens en die tradisionele agterna-kuier om die kospotte onthou ons met behae.

Die tradisionele half-marathon met sy kermis-atmosfeer die eerste Saterdag van Augustus is ‘n lekker okkasie.  Die gemeente verkoop kerrie en rys op ‘n groot skaal.  Tokkie het al gehelp om op Tarlehoet se beskeie gasstofie vleis en rys gaar te maak.  ‘n Keer is die rys in ‘n yslike “ryskoffer” Skukuza toe vervoer.

Die gemeenskap word deur Tokkie as ‘n “uitgebreide familie” beskryf. Soos hulle kan saamstaan en saamwerk, is ‘n openbaring.  Die voorreg om aanhaaklede van daardie “uitgebreide gesin” te wees, kon ons op opwekking-Sondag op 9 April opnuut intens beleef toe ds. Carl, nou emeritus, soos vanouds die erediens gelei het. Sy boodskap oor die Emmaus-gangers was, soos al sy boodskappe, vars en prikkelend.

Sondagaand kon ons die saamkuier met die Louwrense voortsit danksy ‘n uitnodiging van Jimmy en Lida Pressly van Skukuza vir ‘n laatmiddag-geselligheidjie op die Granokoppie. Dit is ook deur Fritz en Esmarie Rohr bygewoon.  (Fritz, ‘n wapensmid, se verbintenis met Tarlehoet is die “elektriese leeslamp” op die soldervlak.)

‘n Saliger skemertyd kan ek my skaars bedink met die Krugerwildtuin aan jou voete en die son wat rooi bal maak in die verre weste. Natuurlik het ons ook ‘n glasie geklink op die Van Deventers se verbintenis van 25 jaar met Sabiepark en Skukuza. Die fees duur voort!

Oor die stylvolle piekniekkos uit die Presslykombuis kan ‘n mens net ‘n loflied aanhef. Absoluut heerlik.

Later vanmiddag verwag ons die Louwrense in Sabiepark. Hulle kom twee nagte oorslaap.  Gaan ons kuier!