PIEPIE-PENARIE

Die penarie van ‘n dringende draai loop sou ‘n mens dit kon noem: die hele moles wat in fases – soos beurtkrag – ontvou het nadat ‘n bejaarde vriend onwyslik sy gade se aanbod om op ‘n lang reis vir die doel by ‘n vulstasie stil te hou van die hand gewys het.

Die vriend is op die drumpel van sy honderdtal in jare. Omdat hy sy tyd deesdae hoofsaaklik in die slaapkamer deurbring, is sy daaglikse uniform pajamas onder ‘n netjiese kamerjas. Aan sy voete is pantoffels. So reis die egpaar ook waar hulle gaan, mevrou natuurlik agter die stuur.

Minstens een keer per jaar, pak hulle die lang tog aan van hul tuiste iewers in sentraal Suid-Afrika tot iewers aan die Suid-Kaapse kus waar hulle ‘n vakansiehuis besit. Sy bestuur die motor – en bestuur ook die reis as’t ware.

Op die vorige reis op Graaff-Reinet aangekom (al leidraad wat ek oor hul adres of bestemming gaan verklap), oordeel sy dat dit ‘n uitstekende aandoenplek is om te doen wat gedoen moet word en dan voorbereid die volgende been reis aan te pak. Nee, deel hy oortuigend mee, so ‘n stop sal wat hom betref, totaal onnodig en dus sommer net tydmors wees.

‘n Entjie anderkant die dorp begin hy sterk aanmanings kry dat sy uitspraak ‘n mistasting was. Die behoefte wel vinnig by hom op. Al raad is om langs die pad af te trek. Toe tref die ongeluk. ‘n Pantoffel gly op los gruis en die waardige man ploeg neer. Plat langs die pad.

Die gade, nog hups, snel hom te hulp, kry hom onder die arms beet en probeer hom oplig. Maar pure verniet. Dit word ‘n groot en onsuksesvolle gesukkel. Taamlik wanhopig, probeer sy naderhand armswaaiend ‘n motor voorkeer. Drie of vier dreun eenvoudig verby.

Skielik daal ‘n rustigheid in haar gemoed. Sy herwin ‘n kombers uit die kattebak, sprei dit net daar langs die pad oop en help haar hulpelose eggenoot skuif-skuif tot op die geblomde oppervlak.
Vervolgens bring sy ‘n warmfles en twee koppies te voorskyn, sak langs hom neer, strek haar bene uit en skink vir hulle twee stewige koppies boeretroos. Verbygangers vergaap hulle uit hul motors aan die rustige toneeltjie langs die pad.

Dis of die koffie haar krag gee. Sy kom orent, begin weer beur aan die prostate liggaam langs haar en kry hom eindelik tot by ‘n vashouplek aan die bakwerk van hul voertuig. Al stoeiende hys die twee hulle orent. Hy doen sy ding, natuurlik nou eers aangewakker deur die koffie-kapitaal. En daar is hulle weer vort – met vol harte en ‘n leë blaas verder see toe.

Ek pen hierdie neer nadat ek pas met mevrou in gesprek was. Die strekking van ons kommunikasie vind ek nogal verrassend. Die twee staan aan die vooraand van hul gewone somervakansie in hul vakansiehuis by die see.

Binne enkele dae vat hulle die pad; hy weer in sy kamerjas.

Ek skryf toe vir haar ‘n e-pos: “Julle is prysenswaardig ondernemend en onblusbaar lewensbly. “Stop hierdie keer tog maar op Graaff-Reinet (terwyl dit nog sy naam is) vir die nodige.”

RUIKER VIR ‘n LANDDROS

En hierdie ruiker rose? Dis bedoel vir landdros Desiree Stigling van Pretoria wat die blonde “Real Housewife” Mel Viljoen so netjies op haar plek gesit het oor haar lawwe poging om die TV-program Carte Blanche te muilband.
Viljoen is hof toe met die bewering dat Carte Blanche se mense hulle van teistering skuldig gemaak, haar privaatheid geskend en haar naelbesigheid skade berokken het toe hulle by haar kom rondloer het vir allerlei onbehoorlikhede wat oor die besigheid opgeborrel het.
Mense wat so graag agter privaatheid skuil, kan gerus die uitspraak gaan lees waarin uitdruklik verklaar word dat “hoewel sekere regte op privaatheid op die oog af geskend kon wees, kan dit nooit die reg op vryheid van die media troef nie.” Hoor-hoor.
“Enige joernalis wat sy of haar sout werd is, moet ondersoek instel as dit in die openbare belang is, het landdros Stigling tereg ook bevind – ‘n uitspraak wat inderdaad in die woorde van John Webb van Carte Blanche, die noodsaaklike rol van joernaliste bevestig.
Nie alle edelagbares en edeles verstaan altyd so mooi hoe koerante werk nie. Persoonlik het die uwe nogal groot moeite gehad toe hy vir wyle regter Lucas Steyn moes verduidelik dat ‘n subredakteur verantwoordelik is vir die opskrif (kop) en nie die verslaggewer nie. Ook die feit dat jy vir ‘n opskrif net soveel ruimte vir soveel letters het, was bo die regter se vuurmaakplek. Skryf net ‘n kleiner opskrif met meer letters, was sy oplossing.
Maar die ergste wat hierdie arme drommel onder die onbegrip van ‘n regter gely het, was dit nie. Om vir regter O. Galgut, ‘n Engelssprekende, te oortuig die uitroep “hef ‘n bedpan” is maar Johan van Wyk se manier van beklemtoning in sy rubriek Stop van Myne sit nie in elke man se broek nie. Die regter het gemeen dis ‘n sinoniem vir “gaan dinges man”.
Miskien was die regter nie so ver verkeerd nie!

SPRINGBOKPLAAG IN KAROO

Tower die beeld in jou verbeelding op: jy ontwaak en waar die vorige aand Karoovlaktes rondom was, is nou hektaar op hektaar vir kilometers ver tot by die gesigseinder ‘n see van springbokke wat rondmaal en ‘n reuse-stofwolk opskop wat oor die dorp hang.
Dit is die jaar 1849 en presies hierdie scenario wag een oggend op die inwoners van Beaufort-Wes. Duisende dring die dorp met ‘n hoewegedreun binne en vat die strate oor. Mense gryp hul skietgoed en skiet blindelings om huis en haard te beskerm.
Op hul plase aanskou boere verslae die ongekende verwoesting soos veld, heinings, watergate, skape, waens en selfs osse vertrap word, Elke groenigheidjie verdwyn in derduisende gulsige bekkies. Dis soos ‘n sprinkaanplaag – net erger. Vir party beteken dit die einde van hul boerdery.
Oor die ganse Noord-Kaap en Karoo tot aan die kus het sulke tonele hulle daardie tyd jare herhaal: bevolkingsontploffings in geil jare en massiewe trekke op soek na weiding wanneer droogtes toeslaan.
Op die trek het troppe verenig. Honderde het duisende geword, duisende tienduisende. tienduisende honderdduisende en so aan. Selfs skattings van miljoene word gehoor.
Dit kon tot weke duur voordat so ‘n enorme trop verby beweeg het. Selfs doringdraadheinings kon hulle nie stuit nie. Die verwoeste landskap was kaal en leeg tot die volgende reëns. Dit was asof dit deur ‘n brand verteer is.
Ek het oor die “springbokplaag” gaan nalees na ‘n wenk van Johann Bekker op Nagkantoor. In antwoord op ‘n vraag het hy o.m. vertel hoe die polisie aan dorpenaars op die trektroetes ammunsie uitgedeel het om skadebeheer toe te pas en hoe van die bokke wat dit tot aan die kus gemaak het, seewater gedrink en in hul duisende op strande gevrek het.
Die skrywer Lawrence Green het die verskynsel uitvoerig opgeteken in sy boek “Karoo”. Hy vertel hoe swaar gewapende gesinne op waens in konvooie die trekbokke ingewag en voor die voet bly skiet het, soms sommer twee of meer bokke met een koeël. Die vroue kon nie voorbly om biltong te maak nie.
In 1880 het een boer 68 springbokke platgetrek wat op een plek gestaan het. ‘n Jaggeselskap se oes was 750 bokke op ‘n enkele jagtog, skryf hy.“This was hunting on a gigantic scale, and nowhere else in the world has such slaughter been known.”
Die laaste reuse-migrasie wat opgeteken is, was in 1896. Daarmee was een van suider-Afrika se skouspelagtigste natuurverskynsels – groter en grootser as Serengeti op sy beste – iets van die verlede.

‘JAGTOG VAN DIE EEU’

Tussen 20 000 en 30 000 stuks wild is op die Vrystaatse vlakte by Bloemfontein op ‘n bondel gejaag sodat prins Alfred, tweede seun van koningin Victoria van Engeland, en sy jaggeselskap na hartelus kon afmaai.

Tussen 800 en 1 000 het in die uurlange koeëlreen geval: springbokke, kwaggas, sebras, blesbokke, elande, volstruise, hartebeeste, wildebeeste, koedoes en wat nog. ‘n Klomp van die paniekbevange diere is met spiese doodgesteek. Ander is doodgetrap.

Agterna is die slagting op 24 Augustus 1860 triomfantlik as “The greatest hunt in history” aangekondig en in een verslag is aangeteken: “Suffice it to say that such a hunt, taken with all the concomitant circumstances and incidents, has not taken place in any part of the civilised world (sic) within the present century.”

Die gasheer was Andrew Hudson Baine, eienaar van o.m, die plaas Bainsvley (deesdae ‘n gewilde hoewegebied buite Bloemfontein ) waar die bloedstollende jag plaasgevind het.  Die wild is dae lank deur ’n gewerfde skare swart handlangers te perd van oral aangejaag en op een kol vasgekeer.

Vroeg die oggend van 24 Augustus het prins Alfred en sy jaggeselskap van 25 mense ogedaag. Op hul spoor was toeskouers in waens en op perdekarre.    Party was te perd.

Omstreeks 14:00 het die skietery begin.  Die prins het ‘n groot wildebees platgetrek.  Die gewonde dier het op die koninklike jagter afgestorm, maar is deur ‘n tweede skoot neergevel.  Daarna was dit soos oorlog met soms skaars tien tree tussen die jagters en die voorste linie wild.

Prins Alfred het onder die malende diere geskiet so vinnig soos gewere van weerskante vir hom aangegee kon word.   Hy en makkers het later wild en wakker met jagspiese onder gewonde diere ingevaar. Hulle was rooi van die bloed tot by hul skouers, en het meer soos slagters gelyk as soos jagters.

Rooi stofwolke het oor die plat Vrystaatse aarde gehang van die stormlope soos die verskrikte wild dan hier en dan probeer deurbreek.  Hul wanhopige pogings is telkens gestuit deur die swartmense wat in ‘n digte kring om hulle saamgetrek was.

Die gevaar om deur wilde diere in hul doodsangs of deur jagters en handlangers se perde vertrap te word, het volgens deelnemers bygedra tot die opwinding van die jag.  Van die perde het in die chaos losgebreek en op vlug geslaan.  Twee het selfs in ‘n kleinhuise skuiling gaan soek!

Die chaotiese toneel op die ongewone jagveld word uitgebeeld op die skildery hierby.  Dit is deur Thomas Baine en is deel van die William Fehr-versameling van die Kaapse kasteel.

In die uur wat die jag geduur het, het net die prins alleen sowat  25 bokke platgerek.  Die  hope vleis is vir die jubelende handlangers gegee.

Om getalle te bepaal hoeveel doodgeskiet, later van hul wonde beswyk of deur die handlangers gevang is, is egter nie maklik nie.  Volgens sekere weergawes  is 800 tot 1000 diere van alle soorte uitgewis.  Seshonderd stuks grootwild is doodgeskiet en ‘n onbekende getal met spiese doodgesteek.

Volgens ander berekeninge lyk die prentjie erger. Sommige waarnemers bereken dat van die 20 000 tot 30 000 stuks wild wat omsingel is, sowat 5 000 op die een of ander manier verlore gegaan het.

Dan lees ek in een verslag: ”It was a very exciting day, and were his Royal Highness to live for a hundred years  I do not believe he could ever see such a scene again, for the game in South Africa is fast disappearing. “

Kommentaar is seker oorbodig.

(Ek het oor die onheuglike Vrystaatse jagtog gaan nalees terwyl my vrou, Tokkie,  met Eben Venter se boek “Decima” besig was.  Sy het telkens geskok vir my daaruit aangehaal.  Venter skryf o.m,. oor oud-president Theodore Roosevelt Jr. van Amerika se maandelange Afrika-safari in 1909 waarin min respek vir Afrika se wild betoon is en veral renosters voor die voet afgemaai is.)

UIT DIE HART VAN ‘n EGGENOOT

Jy kon ‘n speld hoor val toe ds. Heerden van Niekerk sy treffende boodskap oor die vrugte van die Gees by die gedenkdiens vir Lize van Rensburg gistermiddag in die NG kerk Welgemoed inlei met ‘n huldeblyk uit die hart van haar man, Rudie, die skrywer.

In my amper 83 jaar het ek al my kwota gedenkdienste of meer bygewoon. Slegs by drie wat ek kan onthou, was daar huldeblyke, hetsy mondeling of skriftelik, deur die eggenoot wat alleen agterbly. Al drie was deur koerantmanne.

Voor Rudie s’n vir sy “fyn, klein, liefdevolle” Lize, was daar Johan van Wyk s’n vir sy Zandra en Piet Cillié s’n vir sy Bettie. Vir al drie langslewendes haal ek my hoed af vir ‘n uiters moeilike taak wat in uitdagende omstandighede met onderskeiding en waardigheid uitgevoer is.

Elke gedenkdiens het momente en elemente wat dit van elke ander onderskei en op grond waarvan jy dit in jou geheue liasseer. Rudie se huldeblyk aan sy sonskyn-vrou was so ‘n moment.

‘n Tweede onderskeidende element van die diens was die program of begrafnisbrief, soos ons dit in vorige tye genoem het.

Dat Lize ‘n sprankelende vrou en moeder moet gewees het, intens lief vir die mense om haar, vir die lewe en vir helder kleure (o.m. waar te neem in haar keuse van serpe en brilrame) tref ‘n mens dadelik as jy die kleurryke blad met sy vrolike blompatrone ter hand neem (foto). Felisitasies aan die ontwerper vir ‘n klaarblyklik raakvat-produk.

‘n Derde uitstaande kenmerk van die gryse, nat middag was vir hierdie Volksblad-man die getal kollegas uit die jare 70 en 80 wat die laaste eer kom betuig het. Ons was elf in totaal as ek nie mistas nie. In alfabetiese volgorde: André Brink, Ansie Welman, Deon Meyer, Emile Terblanche, ekself, Jan Bezuidenhout, Johan Coetsee, Philip van Rensburg, Rudie, Tobie Wiese en Tom Ferreira. Nogal merkwaardig, sou ek reken.

By die tee agterna in die kerksaal het dit in een hoekie amper soos ‘n redaksievergadering van doerie tye gelyk, as dit nie vir die kieries, ander sigbare of verskuilde mankemente, plooie en grys hare was nie . Tye stap aan.