IRONIE VAN ‘N “NAAMLOSE”

Die sterfhuis van die gevierde NP van Wyk Louw in Linden, Johannnesburg, is gesloop, lees ek vandag op die voorblad van Beeld. Nog ‘n historiese baken verdwyn eenvoudig van die aardbol en skaars ‘n haan kraai.
Die treurige nuus oor die huis herinner aan ander vreermdhede rondom Louw se dood waarvan die ergste sekerlik is die verloop van sake met sy as. Sy biograaf, JC Steyn, stel dit aangrypend: “Wie die as gestrooi het, weet niemand meer nie; wanneer dit gebeur het, dit onthou niemand. Niemand kan sê waar presies die stoflike oorskot van een van SA se grootste manne rus nie.”
‘n Eerste vreemdheid rondom sy heengaan was dat die nuus aanvanklik nie, soos verwag kon word, hoofopskrifte gehaal het nie – anders as bv. die dood van Langenhoven of Totius.
By Die Volksblad is op 18 Junie 1970, die dag van sy dood, voorrang gegee aan ’n lank vergete griepepidemie (ver van ’n Covid-19!) wat die land in 1970 geteister het. Die oggendblaaie van 19 Junie maak ook nie een sy dood hoofberig nie, selfs nie “sy koerant” , Die Burger, nie.
Steyn, meen lakonies dat die nuus oor die verlies van Louw vir die Afrikaanse taalgemeenskap ’n “bietjie verdring” is deur ’n hoofberig oor ’n Tory-oorwinning oor die regerende Arbeidersparty in die Britse verkiesing op 18 Junie. (Was die Konserwatiewe Party se sege werklik vir Suid-Afrika gewigtiger nuus, kan ’n mens wel vra.)
Ná Louw se dood het talryke hoofartikels en huldigings-artikels verskyn. Die koerante het ná ’n bra flouerige wegspring hard gewerk om die aanvanklike agterstand in te haal. Maar uitwis, dit kon hulle nie.
Verdere stof tot nadenke bied sy roudiens op Maandag 22 Junie in die NG kerk Linden, destyds ’n Afrikanerhartland. Ook dit was kleiner as wat terugskouend verwag kon word. Die diens was “informeel en sonder hoogwaardigheidstedoe”, het Rykie van Reenen in die Sondagblad Die Beeld berig. Geen lede van die kabinet was teenwoordig nie. Die diens is deur 600 mense bygewoon volgens Die Transvaler; deur 350 aldus The Star en deur 300 aldus die Rand Daily Mail.
Die grootste ironie sou volg. Die plan was om Louw se as te strooi by Verlatenkloof, naby sy geboortedorp, Sutherland. ’n Gedenkplaat sou teen ’n rots kom, soos vir C. Louis Leipoldt in die Hantam. Louw se broer Gladstone (die digter WEG Louw) sou daarvoor sorg. Niks gebeur egter nie. In 1976 besluit Louw se weduwee, Truida (Pohl), en dogter Nakkie Human, eggenote van uitgewer Koos Human, toe maar om die taak op hul skouers te neem. “Anders raak dit nooit gedoen nie!”
Sutherland sê dit is reg met die nis. Huisgenoot-joernalis Franz Kemp (in lewe eggenoot van Louw se joernalisdogter, Reinet, wat in 2022 ook oorlede is) word gestuur om die kissie met as by die ondernemer te gaan haal.
Maar as? Watter as? Die begrafnisondernemer was uit die veld geslaan. Niemand het hom gevra dat die as in bewaring gehou moet word nie. Lank tevore is dit reeds in die tuin van herinnering by die krematorium in Braamfontein gestrooi!
Mev. Truida Louw het toe maar net ’n plaat, soos al die ander, teen die muur van herinnering laat aanbring. Daarop staan eenvoudig: NP van Wyk Louw, digter, 1906-1970.
“So was hy uiteindelik finaal ‘naamloos onder die naamloses’, soos hy een maal in 1950 wou wees”, skryf Steyn roerend. Dit is ’n einde wat byna so aandoenlik was as dié van Mozart, wie se liggaam saam met vreemdes in ’n massagraf gestort is.
(Bron; Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord deur Hennie van Deventer, Naledi 2023. )

VOLKSBLAD-OOMS OP ‘N BANKIE

Amper 170 jaar se lewenservaring – indien dan nie 170 jaar se lewenswysheid nie! – was op ‘n bankie by die Vergenoegd- tehuis in die Paarl byeen vir ‘n nostalgiese ekspedisie die verlede in toe ek vir Johan van Wyk, die “Oom” van Stop van Myne gaan kuier het. Agterna was ‘n vogtigheid in die oog. In Volksblad word die sluier vanoggend gelig oor waaroor als gesels is – van ‘n Mej. Wereld tot edele regters. Hier is die skakel:https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/op-n-ouetehuisbankie-gesels-2-volksblad-ooms-oor-doerie-dae-20240926

MY PAD MET MY BOEKE

Met my rondkrappery vir resensies en allerlei kommentare op boeke uit my pen, ontdek ek, nogal verrassend, dat oor een boek meer mooi dinge deur meer mense kwytgeraak is as oor elke ander een van die 25 of so.   Dit is Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman.   Selfs die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het my genooi om oor hom te kom praat op Stellenbosch.

Maar pryse ingepalm? Rekord-verkope behaal?  Aikona.   Resensies en dies meer is nie noodwendig ‘n barometer vir ‘n boek se welslae nie, het ek geleer. Slim, vindingryke bemarking is dikwels deurslaggewend.

‘n Tweede ontdekking, nie so verrassend nie, is dat ek veral aan die begin maar agtelosig was met my rekord-houding.  Ek wens vandag ek was ook ‘n plakboekmaker, soos kollega Herman le Roux.  Eintlik het ek maar min om te wys.

Om skrywes in laaie en leggers te gaan uitkrap, was nie om vir my of vir iemand anders iets te probeer bewys nie – ook nie om ‘n oordeel te vel wat my beste boeke of slegste boeke was nie.  (Crito van Litnet – nou ontmasker as Kerneels Breytenbach, soos ek al lank vermoed het – sal waarskynlik bevind hulle was almal maar sleg!)

Nee, ek is vir al my boeke ewe lief – goed of sleg en ongeag hoe die ontvangs was. Selfs van die “lelike eendjies” staan ek nie weg nie, al moes ek sulke slae verduur soos Crito se oordeel dat ek hopeloos te lief is vir die eie ek. Daaraan kleef ook nou weer ‘n storie.  Ek kom daarby.

Met my debuut, Scoops en skandes in 1993, het die gedugte Charles Fryer, sy redakteur, my die eer aangedoen om oor die koeranthumor daarin ‘n Saterdaghoofartikel vir Die Burger te skryf. Die hoofartikel hang geraam in my woonkamer op Melkbos. Die opskrif: Plesierige stories.  Daaraan had ek groot plesier.

Huisgenoot had daardie tyd elke week ‘n sogenaamd Sterboek.  My vier boeke by NB-uitgewers (twee by Tafelberg en twee by Human & Rousseau)  was al vier Sterboeke, as ek reg onthou. Tot my genoegdoening.

Oor my boek nommer twee, Flaters en kraters, was daar ’n resensie deur Abraham van Zyl in Die Burger. Daaroor was daar ‘n oproep van PW Botha uit die Wildernis.  Die oproep was die eerste woorde tussen ons vir ‘n lang, lang ruk.

Die rede was ‘n lughartige verwysing na Botha se kortstondige joernalistieke avontuurtjie. Ek het vertel van die raad wat wyle Skakel Kriek hom glo destyds by Die Volksblad gegee het: dat hy liewer iets anders moet gaan doen; vir die joernalistiek is hy ongelukkig nie uitgeknip nie! Van Zyl noem dit toe in sy resensie.

Toe ek die bekende forse stem aan die ander kant van die draad hoor, het ek nie dadelik besef dis bakleityd nie. “Lanklaas van u gehoor. Hoe gaan dit met u? Hoe gaan dit met Mev. Botha?” wou ek verras weet. Die persoonlike belangstelling het die wind so effens uit sy seile geneem.

Maar toe kom dit met dieselfde strydlustigheid van vroeër: “Kyk man, dis mos beledigend om te beweer dat ek nie goed genoeg vir die joernalistiek was nie. Ek doen jou niks. Hoekom soek jy aanhoudend skoor?” Boem!

Ek skryf toe maar ‘n vriendelike briefie en verduidelik daar was werklik geen kwade bedoelinge nie; Flaters en Kraters is nie ‘n ernstige boek met waarde-oordele van historiese betekenis nie; dis maar net ‘n bietjie skerts soos hy en Oom Skakel self oor en weer oor daardie episode geskerts het.

Die antwoord uit Wildernis was darem in ‘n versoenender trant as die oproep ‒ en daardie strydbyl is sonder te veel inspanning ter ruste gelê. Dit het nogtans verras toe ek in November 1997 in die rubriek Pollux in Rapport ‘n ligte brokkie oor die omstrede Oom Skakel-storietjie raaklees ‒ bevestig deur die nimlike Botha self.

My biografiese boekie oor my Volksblad-jare, Kroniek van ‘n koerantman, belig seker die onstuimigste dekade in die Afrikanerpolitiek.  Oor die boek was ook heelwat onstuimigheid.  H & R en Tafelberg sou dit gesamentlik publiseer. H & R het egter so voete gesleep dat die perse al met ‘n selfpublikasie aan die rol was voordat ek die ja-woord gekry het – helaas, te laat.

Oor H & R se traagheid het harde woorde tussen Ton Vosloo en Kerneels Breytenbach geval. Dis ‘n geskiedenis wat telkens by my opkom as ek aan Crito se negatiwiteit oor my skryfwerk dink.

My jonger kollega en vriend Tobie Wiese het in die tydskrif Insig ‘n skerperige resensie geskryf. Sy oordeel was dat daar nou agter elke bossie ‘n hervormer uitspring wat meen dat hy ‘n betekenisvolle bydrae tot die afskeid aan apartheid gespeel het.  Ek wens ek kon die resensie opspoor.  Hy verdien plek in hierdie versameling.  Dat tussen my en Tobie daaroor krapperigheid was (verlede tyd), sal ek nie ontken nie. O.a. Engelse kommentators het Die Volksblad se rol nogal hoog aangeslaan.

Lojale kollega Sarel Venter – seker die heel lojaalste kollega – het later in ‘n koerantbrief en ‘n private brief die wens uitgespreek dat ‘n PhD-kandidaat  ‘n studie moet maak van die invloed wat die uwe en Die Volksblad gehad  het in die aanloop tot die nuwe SA. Dankie, Sarel.

Ook die latere In Kamera was in ‘n biografiese trant. Oor sy strekking het Max du Preez, ‘n knap verslaggewer in die eerste Beeld-span, sy mond heelwat erger as Tobie uitgespoel.  ‘n Interessante oefening in die resensiekuns was dié van prof. FA Mouton van Unisa wat Du Preez se Pale Native en my In Kamera in jukstaposisie plaas. Sy bevindings plaas Du Preez se tirades in pespektief, meen ek.

Deels biografies is Byl in my bos – my herinneringe aan 130 mense wat reeds langboompies toe is, ‘n lys wat al hoe vinniger groei. Die lysie sluit in politieke leiers, kollegas en allerlei groot geeste met wie ente saamgestap is. Ook oor geliefdes in eie gesins- en familiekring, gerespekteerde onderwysers, hegte skool- en studentemaats. vriende, selfs ‘n getroue tuinman, Daniël , wat vooruit is.

Die karakter van die boek is anekdoties. Tradisionele, volledige “grafskrifte” soos in koerante ontbreek grootliks. Humor ontbreek nie – anders sou ‘n boek oor die dode darem dodelik vervelig kon gewees het!

Die Burger het die boek vir Martie Retief-Meiring gegee om te resenseer.  Haar resensie is in die versameling.  Vir Crito was dit nog ‘n geleentheid om my by te kom.  Vir hom was die boekie te lig in die broek vir ‘n resensent soos kollega Martie.  Frits Gaum in Kerkbode was darem minder afwysend.

My boeke is rofweg van vier kategorieë: biografies, koerante, reis en die bos. In al die kategorieë is erns en humor.  My eerste twee koerantboeke is suiwer humor. So ook my reisboek Oos, wes – reismoles en die bundel Praat-praat in Tamatiestraat.    Ek waag graag my hand aan humor.  Dat Johan van Wyk van Stop van Myne-faam van die humor positief beleef het, het ek as kompliment gesien,  Ongelukkig is sy skrywes meesal op Netwerk24 te vinde. Ek kan dit derhalwe ongelukkig nie aflaai en druk nie.  Internetsoektogte lewer egter wedersydse komplimente op, veral van my vir hom.

Een boek buite die gewone bestek van Van Deventer-temas is ‘n Vriend vir altyd  – honderde hondestories. Ek onthou dat Thys Uys dit in Beeld geresenseer het.  Hy het daarvan gehou. Ek kry sy resensie nêrens.

In die reiskategorie val buiten Reismoles ook Na verre hawens, ‘n boek oor die Van Deventers se passie vir bootvaarte. Ek het nogal gevlei gevoel dat Ernst Grundling, koning van staptoere, die boek in Weg aanbeveel het.

Feitlik al my bosboeke is Sabiepark-verwant. Resensies is meesal meelewend gunstig. Die genoeglikste vir my was Anton J Jansen se spontane Amazon-resensie oor Spore in die bos, die verwerkte e-boek van Mayafudi wat in Afrikaans en Engels verskyn het. Gelukkig het ek sy  lofbetuiging raakgeloop.  Veral sy mededeling oor hoe my olifantbul se avonture sy Chinese klas in Taiwan geboei het, het lekker op my oor geval.

Dat die gerekende Francois Bekker my bydrae oor Sabiepark se kameelperde tussen 56 ander in die Proteabundel Hierdie land raakgesien het en aangegryp is, tel ek ook as plus.

Van die jongste in die bos-kategorie, Bure van nature, is taamlik wyd kennis geneem. Ek het geen kritiek gelees nie.  Tog was die verkope teleurstellend. Ek skryf dit daaraan toe dat Protea nie daarin kon slaag om die boek in die wildtuin op die rak te kry nie.  Francois Smith se Kamphoer was wel. Dit is blykbaar deur die keurder gelees as Kamp hoër.

Resensies oor my bosboeke was “meesal meelewend gunstig””, skryf ek hierbo.  Nie so nie met Cecile Cilliers se taksering van Mayafudi.  Die foto’s is darem mooi, het sy gemeen!

Oor koerante is my bydrae die volgende: Scoops en skandes, Flaters en kraters, Kroniek van ’n koerantman, In kamera, Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman, Koerant, Koerantkamerade en Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord.

Oor die agt boeke het lojale Sarel  gereeld op Litnet lesersindrukke bygedra, het mense soos Herman Lategan en Naomi Meyer met my Litnet-onderhoude gevoer en is heelwat van op webblaaie soos Mediamense en Nagkantoor kennis geneem.

My eerlike gevoel is een van teleurstelling dat die koerante self maar skraps aandag gegee het.  Dit handel immers oor hulle. Dalk het hul hantering ‘n politieke oorsprong. Ons generasie word mos maar as verleentheid-skeppende meelopers in die apartheidsera gesien.  Sal ek vergeet dat Tim du Plessis, toe redakteur van Rapport,  my destyds ewe bedagsaam oor In Kamera gebel het.  Sy boekeredakteur, Sonja Loots, het besluit om dit nie te resenseer nie. Hy weet ek gaan nie daarvan hou nie, maar dis nou soos dit is.

Nou-ja, ek het inderdaad nie daarvan gehou nie. ‘n Troos was  die geselskap waarin ek my in me Loots se oë bevind het. Sy het net ‘n rukkie tevore kans gesien om onder die “verkrampte” Piet Cillié in te vlieg na aanleiding van Jaap Steyn se biografie, Pennevegter.

 Dalk dink die koerante, soos Ton Vosloo, dat ek darem al te veel storietjies opgedis het en dat die tyd al ryp was vir ‘n omvattende memoire. In sy kommentaar op Koerant het hy dit so gestel: “Jy het nou al ‘n reeks boeke die lig laat sien, ‘n hele  oeuvre! Sou jy kans sien om dit alles te omvat in jou memoire? Ek dink jy het dit in jou om benewens die kort herinneringe, dit alles te vervleg in ‘n waardevolle boek oor die Afrikaanse leef-en mediawereld.”

Dit laat ek liefs by my verbygaan.  Om ‘n uitgewer te gaan soek, is al ‘n gedagte wat my laat sidder.

‘n Ongelukkige sameloop van omstandighede was dat prof. Arrie de Beer oorlede is nadat hy van Jo Prins van Media24 die opdrag ontvang het om Koerantkamerade te resenseer. Trouens die boek – ‘n magnum opus, volgens Sarel Venter –  was reeds in sy besit. Met sy dood het alles net doodgeloop.

Nou-ja, so krummel die koekie. Maar ek kla nie. Inteendeel is ek maar te dankbaar vir die buiginkies wat daar wel was.

 

 

 

TWEE VOLKSBLAD-OOMS OP ‘N BANKIE

Amper 170 jaar se lewenservaring – indien dan nie 170 jaar se lewenswysheid nie! – was op ‘n bankie by die Vergenoegd- tehuis in die Paarl byeen vir ‘n nostalgiese ekspedisie die verlede in toe ek vir Johan van Wyk, die “Oom” van Stop van Myne gaan kuier het. Agterna was ‘n vogtigheid in die oog. In Volksblad word die sluier vanoggend gelig oor waaroor als gesels is – van ‘n Mej. Wereld tot edele regters. Hier is die skakel:https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/op-n-ouetehuisbankie-gesels-2-volksblad-ooms-oor-doerie-dae-20240926

NATSTEEN-KAMERADE

Ons weet wat julle nie weet nie. Ons – ek praat nou van die spesie joernalis – weet watter vreugde ons uit ons beroep geput het.
Die naweek is daardie vreugde op genoeglike wyse ten toon gestel op die tweede Natsteen by De Wet Potgieter se Nagkantoor-kroeg op die idilliese Kaapschehoop met sy slierte mis, byt in die lug en sierlike wildeperde.
Daardie beroepsvreugde is ‘n gemeenskaplike een. Dit vra nie of jy van Naspers, Perskor of die SAUK kom nie. Net die belewenis maak ons almal kamerade.
By die mooie tradisie wat hier Augustusmaande op die berg wortel skiet, is dit die hoofdimensie waar oakal saamgebondel en gekuier is: op Nagkantoor se stoep, in die kapel by die boekebekendstellings, by die geesdriftige ondersteuning van die Bokke by ‘n groot skerm in ‘n volgepakte saal en by ‘n skaapbraai uit die boek met groot vure en gieters wyn.
Die boekefees was ‘n satelliet van die Innibos-kunstefees. Een van die boeke op die program was Beeld se jubileumboek, “Beeld50: Om ‘n groot storie hard te slaan”.
Barnard Beukman, redakteur, en Erika de Beer, samesteller van die boek, het boeiend oor hul breinkind gesels met Annemarie van der Walt van Kaapschehoop, oud-redaksielid en rubriekskrywer.
Die wete dat Beeld op sy laaste skof is, het swaar op almal se hart gerus. ‘n Begrafnis was dit egter geensins. Die vlag is eerder gehys op die dinge wat mooi en wat goed was oor ‘n veelbewoë 50 jaar – en dié is genoeg vir ‘n rak vol boeke.
Vir hierdie Beeld-pionier was dit ‘n emosionele oomblik toe al die Beeldmense aan die einde moes opstaan. Jy kon die trots oor hul wortels in hul houding sien. Flukse verkope is aangeteken.
Op die foto van die opstanery in die kapel is van links o.a. Annemarie van der Walt, Erika de Beer, Herman le Roux, Tim du Plessis, Barnard Beukman en die uwe,
Ander foto’s getuig van die gesellige saamkuier agterna, ook met nie-joernaliste wat saam kom fees hou het. Die braaivoorskoot wat Barnard vashou, is hierdie ou s’n. Niemand gaan dit by hom wegvat nie.