Oct 9, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

20 Jaar gelede: Ton Vosloo oorhandig aan my Naspers se Phil Webermedalje.
Met 2017 volstoom afdraande na die einde toe, tref dit my nogal hoeveel mooi dinge in my lewe vanjaar herdenkings belewe. Kan gerus ‘n bottel goeie Cap Classic vir ‘n vierinkie op die ys sit.
Einde 1997, 20 jaar gelede, het ek nie net die laaste keer in my lewe my kantoordeur in die Naspers-sentrum agter my toegetrek nie, maar het ek en Tokkie ook na Melkbos verhuis – geïnspireerde skuif. Nog ‘n hoogtepunt: by Naspers is ek met sy hoogste eerbewys, die Phil Webermedalje, bekroon vir my “nalatenskap in elke fase van my loopbaan”.
My skool, die Hoër Volkskool, Potchefstroom, het my ook in 1997 by die herdenking van sy 75ste verjaardag met sy eerste spesiale erepenning vir oud-leerlinge vereer. Ek was voorsitter van die Drukmediavereniging van Suid-Afrika. Ons oudste seun, Johan, is getroud met Mariza.
In 1987, 30 jaar gelede, was nie een enkele spitspunt nie. Tog ‘n goeie jaar vir my gewees. Was op my gelukkigste – gesond, geseënd, gevestig as redakteur van Die Volksblad. Ook ‘n lojale Bloemfonteiner met goeie vriende en kollegas. Vreugde geput uit my diens in die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond.

Mnr. Blackie Swart, hoof van Volkies, oorhandig aan my ‘n erepenning.
In 1977, 40 jaar gelede, het ek met genoegdoening my sertifikaat ontvang aan die einde van my jaar as Nieman Fellow aan die Harvard-universiteuit in Cambridge, Massachusetts – dalk die lekkerste, sorgvryste jaar van my lewe.
1 Januarie 1967, 50 jaar gelede, was die eerste dag van my en Tokkie se huwelik van amper 51 jaar. Ons is op 31 Desember 1966 getroud.
Einde 1957, 60 jaar gelede, het ek op ‘n “brose” 16 matriek op Volkies agter die blad gesit. Het darem al geskeer!
In 1947, 70 jaar gelede, is ek as haasbek-sesjarige die eerste keer skool toe: die Diamantveld-laerskool in Kimberley.
Met die groot rol van 7’s in my lewe seker nie snaaks nie dat ek op my volgende verjaardag, op 3 Januarie 2018, 77 sal wees.
Naskrif: Natuurlik is 2017 die jaar van “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”. Uitgewer: Naledi. Prys: R190. My boek is al taamlik wyd in boekwinkels op die rak.
Oct 3, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Neville, Daan en HvD met hul parlementere pette.
“Hier het Oupa krieket gespeel.” Die brokkie was veral bedoel vir die ore van die 13-jarige tweeling Thomas en Jacob Claassens, aan die vooraand van ‘n driedaagse kriekettoer na Knsyna. Dit is geuiter terwyl die Kaapse Rooi Bus op sy mini-Skiereiland-toer verby Fernwood in Nuweland skommel. Met die detail het Oupa die seuns nie opgesaal nie. Dit hou hy vir sy bloglesers.
Fernwood was die bedrywige parlementêre sportterrein toe die uwe in 1964 en 1965 in die persgalery van die volksraad parlementêre verslaggewer van Die Volksblad was. Onder die eike in die skadu van Tafelberg was heelparty tennisbane (Connie Mulder was op Saterdagmiddae een van die knap raketswaaiers) en, natuurlik, die skilderagtigste krieketveld wat ek ken.
Hoe dit gekom het, kan ek om die dood nie onthou nie, maar skaars het ek in die persgalery aangeland of ek bevind my saam met twee persgalery-kollegas in die parlementêre span vir ‘n wedstryd op Fernwood. Ons span het ook op plekke soos Groot Drakenstein by die Paarl wedstryde gespeel, maar meesal op Fernwood.
My kollegas was Daan Eksteen en Neville Krige van die SAUK. Parlementariërs in die span was o.a. sir De Villiers Graaff, leier van die Verenigde Party, Ossie-Newton Thompson, LV vir Pinelands, wat later treurig in ‘n vliegongeluk omgekom het en Vause Raw van Durban. John Wiley, latere NP-minister maar toe nog LPR van die VP vir Simonstad, was een van die sterre.
Mense soos sir Div, Ossie Thompson en (meen ek) ook John Wiley het op Oxford of Cambridge in Engeland krieket gespeel. Van hulle was nie meer vandag se kinders nie. Ondanks hul jare was hulle dorings voor die paaltjies.
Die drie persgalerymanne was dalk veral vir ons flinke veldwerk in die span ingesluit.’n Keer het ek my so ingespan om ‘n vangskoot op die diepbygrens raak te vat (ek het!) dat my hemp se agterpant van bo tot onder oopgeskeur het. Ek was ook lief om te duik om vier te probeer afsny.
As aanvangskolwer teen Simonstad het ek wel hier ‘n hoogste loopbaantelling van iets in die veertig agter my naam geplaas, boonop nie uit nie! My naam was daardie aand in die Cape Argus Late Sport – die eerste en enigste keer dat ek die sportblaaie van die dagbladpers gehaal het. Vir die grootste deel van my “marathon”-beurt was sir Div my kolfmaat; Groot Div en Klein Div het ons spanmaats ons genoem. Vermoed ons ooreenkomstige snorre het in die naamgeëry nogal ‘n rol gespeel.
Neville was, benewens goeie veldwerker, darem ook ‘n bruikbare snelbouler en Daan ‘n veelsydige speler wat stadige bybreke geboul het.
Middagetes onder die eike met topwyne om die keurigste kouevleis en slaaie mee af te sluk, was gedenkwaardig.
Selfs onvergeetliker as die tyd op die veld of voor die paaltjies was om in ‘n ontspanne atmosfeer onder Fernwood se eike en in die karaktervolle klubhuis politici soos sir Div beter te leer ken; nie net as gedugte kolfvennoot nie, maar as fyn mens en galante gasheer.
‘n Man uit een stuk gewees, hierdie melkboer van De Grendel aan die Tygerberg. Ek dink steeds hy was uitgeknip vir die rol van staatspresident; een wat berge sou versit om verhoudinge tussen Afrikaanse en Engelse mense te verbeter. Toe kies die Nasionaliste Marais Viljoen. O wel.
Uit my te kort termyn van twee jaar as parlementêre verslaggewer lê veral een foto my na aan die hart: ek en die wellewende twee SAUK-kollegas, Neville en Daan (albei al saliger), elk met ‘n krieketpet op. Dit is nie sommerso-pette nie; wel pette van die parlementêre krieketspan, net sonder die wapen van die parlement. Om dit te dra, was ons mediamanne nie beskore nie.
Die pette is oorhandig deur die kaptein van die span, Ossie Newton-Thompson, op ‘n “amptelike” plegtigheid in die parlementêre kroeg. Dit was nogal ‘n grootse gevoel om dit op te sit. Skat ek, Neville en Daan was dalk die enigste drie mediamense wat die eer ooit te beurt geval het. Die pet hang na meer as 50 jaar nog in die woonkamer op Melkbos op ‘n spesiale plekkie.
Sep 19, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
I
n my boek “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedoodkoerantman” hou ek my lyf onder meer rugbyskrywer – Herman le Roux en Frikkie van Rensburg skuif op!
Van die gedenkwaardigste oomblikke in Bok-rugby op SA velde het voor my oë afgespeel, vertel ek in ‘n hoofstuk oor Murrayfield en daarna.
Mannetjies se drie op die Vrystaatstadion – natuurlik het ek dit gesien. Frik se score, place en drop op Loftus – natuurlik was ek op die paviljoen. Toe Francois Pienaar die Wêreldbeker lig, was ek natuurlik een van die voetstampende juigendes op Ellispark.
Ek hou my lyf ook boksskrywer – vertel van smaaklike onderhoude met ons twee bul-swaargewigte van die 70’s, Gerrie “(Seer handjies”) Coetzee en Kallie (“Bek van Boomstraat”) Knoetze. My bokservarings is egter van beperkter omvang as my rugby-ervarings. Net een swaargewig-boksgeveg bygewoon: op Loftus: Gerrie teen “Big John” Tate van Amerika.
Vroeg in 1979 het Gerrie Leon Sprinks in Monaco met ’n tegniese uitklophou verslaan. Verwagtinge was hoog. Maar Tate het ons held op Loftus opgedons.
Oor krieket skryf ek nie in “Laatoes” nie. Wel in Februarie 1970 vyf dae saam met Frikkie van Rensburg langs die die Wanderersveld in Johannesburg gesit toe die Bokke (ja, nog nie Proteas nie) die veelgeroemde Australiërs se neuse met 307 lopies in die derde toets in die grond gevryf het om die reeks te beklink.
Ek onthou wonderlike kolfwerk van Graeme Pollock, Barry Richards en Eddie Barlow. Peter Pollock en Mike Procter se blitsballe was vir die Aussies een te veel.
En atletiek? Een naam staan groot oor my atletiekervarings geskryf: Zola Budd. Hoeveel keer het ek nie die skaam, kaalvoetatleetjie op die Vr
ystaatstadion wondertye sien opstel in die 80’s nie! Sal darem ook nie vergeet hoe naelloper Sep Serfontein vir Tukkies Dalrymples gewen het nie, o.m. op Coetzenburg.
En ja, ek was in 1952 by die Van Riebeeckfees in Kaapstad op die paviljoen toe meisies soos Nederland se Fannie Blanckers-Koen en ons eie Daphne Hasenjager die baan aan die brand gehôl het.
Voor die radio was my plek nooit leeg as ‘n Suid-Afrikaner boks (kapokgewig Vic Toweel se verowering van die wêreldtitel onder meer) of die Springbokke rugby of krieket speel nie. Selfs vir rofstoei nadergeskuif: Willie Liebenberg teen “Sky High Lee” en daardie snare.
Ai, die nostalgie wil hierdie ou al weer oorweldig.
Sep 7, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Blou Maandag is vir die Van Deventers altyd die dag wanneer hulle tuiskom ná ‘n vakansie. Maak nie saak watter dag van die week dit is nie.
Ervaring het ons al geleer dat iets soos ‘n soomlose tuiskoms eenvoudig nie in ons gesinskultuur bestaan nie. Iets gaan groot fout wees, dit weet ons – televisie, rekenaar, alarm, warmwatertoestel, yskas, vrieskas …
Ons staal ons vooruit en verwag die ergste.
Dinsdagaand keer ons terug ná 75 dae in Sabiepark. Die TV werk, die rekenaar flikker aan, net die alarm skyn ‘n haakplekkie te wees weens te lang afhanklikheid van batterye.
Verligting. Toe begin Tokkie ‘n watertjie tap vir ‘n bad. Toemaar, ons onthou van die waterkrisis. Vir eers bad ons saam, ten tweede maak ons skaars die bodem van die bat nat. Ten derde: kom kyk gerus na die Van D’s se beskeie waterrekenings.
In elk geval, skielik verstyf ons albei. Die gegons word al hoe harder. Klink of die warmwatertoestel dalk gebars het. Tokkie laat vat by die voordeur uit om te kyk of die water by die oorlooppyp uitspuit. Niks. Ons gryp die leer en loer deur die valluik in die gang. Niks.
Ons kyk verward rond.
Dan val my vrou se oog op die oop koffer op die grond langs haar spieëlkas. Klink dan, vreemd genoeg, of die gegrom sy oorsprong tussen die hopies klere in die koffer het.
Sy begin grawe tussen die klere.
Waarlik: die rede vir die onheil kom tevoorskyn in haar hand.
Geen twyfel daaroor nie, want nou raas dit twee keer so hard.
Hoe de ongeluk?
Skynbaar het iets wat in die tas rondgeskuif het in die Boeing se vragruim of op die vervoerband by Kaapstad Internasionaal ‘n knoppie ge-aktiveer.
Die klein dra-radio’tjie is aangeskakel maar nie op ‘n stasie nie!
Sep 2, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Foto van die vakansie. Geneem deur Organ Ongeni.
Nog 75 salige dae op ons kerfstok geplaas in Sabiepark hierdie winter. Kan amper sê: soveel dae, soveel hoogtepunte. Elke dag lewer sy vreugdes.
Kom ek probeer die hoogste hoogtepunte identifiseer:
1. Die herbesoek aan Boulders met sy rotskoppies, bedrywige watergat, gedugte buffeltroppe en klipspringertjies. Toe die drie vlakvoor ons houtgerus kom water drink in die klip-voëlbadjie was ‘n magiese oomblik.

Drinktyd vir ‘n klipspringer.
2. Smiddae se gereelde olifantparades by die piekniekplek. Organ Ongeni se foto van die vakansie van my en Tokkie wat in die strelende sagte namiddagson na die olifante sit en kyk, sal altyd hiervan ‘n herinnering bly.
3. Die vreemde gedrag van ‘n impalarammetjie by ‘n dooie makker by Satara. Die spronge met sy voorbene op die dooie lyf van die ander outjie lyk dalk soos aggressie. Maar hoe verklaar jy die verwilderde kyk in die oë, die streling met die neus en die lekkery aan die nek? Dalk ‘n Dawid en Jonathan van die diereryk gewees?

Bokkie se leed?
4. Die ongekende ervaring om binne vyf dae al Vyf Grotes by die piekniekplek te sien, waaronder Vin Diesel, formidabele luiperdmannetjie met die nek van ‘n Springbokstut.
5. Die nagtelike besoek van twee olifante aan Tarlehoet se watergat – die eerste keer dat ek tuis uit die bed spring weens die gekraak van takkies, en met my flits op die groot gedaantes skyn.
6. Die kennismaking met Orpen, karaktervolle wildtuinkampie ten weste van Satara, saam met die span Kollegemanne van die 50’s, boonop met ‘n eie Kollegekoek met Sarge Bourke se afbeelding daarop. Eers was daar Balule 1 tot 5. Nou word die Orpen-tradisie gevestig. In 2018 is daar ‘n Orpen 2. Almal is vuur en vlam.
7. Die ontdekking van die boskamp Talamati en sy verligte watergat waar die olifante gereeld saamdrom. Tokkie lag nou nog as sy aan die klein outjie dink wat sy tyd by die water verspeel het. Toe hy begin hardloop met sy swaaiende slurp en flappende ore, kon jy amper sy hart in sy keel hoor klop!
8. Die reuse-swerms kweleas wat oor die Sabierivier duik en met ‘n suising van vlerke by Tarlehoet uit die bome op die veld neerdaal en weer opstyg. Watter skade hulle dalk veroorsaak het, weet ek nie. Hul kom en gaan was egter telkens skouspelagtig.

Tradisionele foto by die naambord.
9. Natuurlik, natuurlik die kuiertjie van die kleinkinders in die skoolvakansie en die groot vure wat hulle elke aand gestook het. Die babatjies wat in doeke die eerste keer in die bos kom kuier het, is nou drie groot seuns. Die tweeling, Jacob en Thomas, is 13, Christopher is 8. Hulle is drie selfstandige seuns, propvol selfvertroue. Die bosliefde bly brand in hul harte. Daaroor kan ‘n mens nooit dankbaar genoeg wees nie.
Op my kamera is honderde kosbare foto’s: kinders, olifante, buffels, leeus, luiperds, renosters; Sabiepark se resident-najalabul; bosbokkies wat die bloedrooi worsboomblomme by die piekniekplek verorber; die nekke van die nuwe span kameelperde wat bo Sabieparkbome uittroon; troppe, troppe wildebeeste en sebras bokant Satara; hope koedoes; kweleaswerms wat die lug swart kleur.
Van die wintervakansie van 2017 sal die foto’s die albums laat swel.
Een ou sal ek nooit weer afneem nie: Brood, die vlakvarkbeer met die indrukwekkede tande. Hy het ‘n luiperd ten prooi geval.
So stapel die jare op – elk met sy eie dinge.