DIE BOOM EN DIE BOEK

Aangename kennis, boom.
Aangename kennis, boek.
So ontmoet wag-‘n-bietjie (die boom) toe Wag-‘n-bietjie (die boek) op hierdie dag, 30 Augustus 2025, in Sabiepark na ‘n vlugtige besoekie van die verheugde outeur vanoggend aan Hazyview om by Postnet ‘n pakkie van Naledi af op te tel.
‘n Nuwe boek bring altyd ‘n groot skep vreugde. Spesiale vreugdes vandag vir my: die ene is my allerlaaste (werklik); dis my dikste (‘n knewel soos die vette likkewaan op my dak) ; dis dalk – tipografies gesproke – my mooiste. Dankie, Naledi. Dankie, Hiemstratrust vir die ruim subsidie om publikasie moontlik te maak.
Oor die inhoud moet ander maar oordeel.
Maar wag nou ‘n bietjie. Ons gesels later weer. Ek gaan nou eers in Wag-‘n-bietjie rondblaai.
Wag-‘n-bietjie sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.

VRY HULLE OF BAKLEI HULLE?

Kameelperde het vele fassinerende rituele. Op die lieflike S50-rivierpad by Shingwedzi het ‘n kwartierlange kameelperd-kamee ons agterna laat wonder: Wat presies het daar voor ons gebeur?
Wat ons gesien het, prakties gesproke, was minstens ‘n dosyn kameelperde waarvan vyf uiteindelik in die middel van die pad was. Ons het heelwat nekaktiwiteit oor en weer waargeneem. Binne bestek van ‘n paar minute het twee bestygings gevolg. By een was penetrasie onmiskenbaar. Jy sien dit op die foto.
Die S50 is ‘n romantiese pad. In die vier kilometer van die kamp tot by die Kanniedood -skuiling sien jy meesal meer wild as in 40 kilometer eders. Jy sien reuse-trosvybome en sierlike riviertonele. Omdat die omgewing so “romanties”” is, is jou eerste belewenis van die kameelperde se gedrag ook: Dis pure passie wat hom hier uitwoed..
Dan begin jy wonder: Hoekom dan so in ‘n groep? Gewoonlik is ‘n bul jaloers as sulke tyd aanbreek. Hy soek privaatheid en verjaag al die ander. Dit begin ook pla dat die natuurlike minnespel in die sessie ontbreek het. Geen sprake hier van ‘n belustigde bul wat wie weet hoe lank geduldig agter ‘n koei bly aanstap en telkens haar urine proe (regtig) om haar gereedheid te bepaal nie.
Jy onthou wat jy al iewers gelees het: Van troppe jong bulle waarin mededinging om dominansie voorkom. Eers word met die nek gepiets-piets. Dan – as die opgewondenheid toeneem – moet die ondergeskikte ene buk. Dit lyk vir waarnemers soos “homoseksuele” gedrag, en penetrasie tot by die punt van orgasme kom voor.
Hoe moet ‘n mens weet? Wel, die horinkies verraai geslag. Koeie s’n is dunner en is bedek met donker hare op die punte. Bulle is langer en dikker en het kaal bopunte met klossies rondom. Maar ‘n mens moet fyn kyk. Ek moet twyfel bely oor die getuienis voor my.
Dalk kan ‘n kenner lig werp? Anders gaan ek in my geheuebank die insident as die uitsortering van baasskap liasseer, nie as liefde in die laatmiddag nie.
Ons dag dis ‘n warm vryery, toe’s dit ‘n bakleiery. Of wat praat ek alles?
Naskrif: ‘n Ander vreemde ritueel is dat kameelperde

 aan die bene van hul vadere sal kou. Dit het ek self in Sabiepark ervaar. Die verskynsel het selfs ‘n naam: oste
ofagie. Dis ‘n manier om ekstra kalsium in te kry om daardie enorme skelet te versterk. Dan lees ‘n mens van kameelperde wat selfdood pleeg in die geval van noodlottige besering of depressie. ‘n Toeris het vertel hy het in die Krugerwildtuin gesien hoe een sy kop op die teerpad pap slaan nadat sy been in ‘n bakleiery gebreek is. Raar maar waar.

 

AAN JORRIE: MY (LAAT) LAASTE LOF

Vir oulaas saam. Ses Volksbladveterane – almal 80-plussers – saam op,Melkbos in November 2024. Van links is Willie Kuhn, Wilhelm Jordaan, die uwe, Johan van Wyk, Herman le Roux en Pierre van Manen.

By die dood van my geniale kollega Wilhelm Jordaan (82) Sondagoggend sou ek vir kom ‘n klinkende lofsang op elke moontlike forum wou aanhef.

My mond was egter gesnoer.  Ek was op pad na die stoere Shingwedzi, een van die min kampe van die Krugerwildtuin waar wi-fi en internet nog nie opgedaag het nie.  By Ontvangs is ‘n nota opgeplak waarin die “ongerief” betreur word.

Enkele dae voor Wilhelm se dood het ‘n soort eerbetoning aan hom darem uit my pen verskyn.  Dit is in my allerlaaste boek, “Wag-‘n-bietjie” (uitgewer: Naledi): ‘n hoofstuk met die opskrif “ ʼn Fees – toe trane”.

Die fees waarna verwys word, was ‘n genoeglike ete met vele skaaplekkernye en die opgewekte geselskap van vriende die Saterdag voordat my kollega op 22 Junie deur ‘n beroerte neergevel is  – die trane-deel van die opskrif.

Daardie “fees van die genooides” – so het hy dit genoem –  was die onderwerp van sy heel laaste van 1 800 rubrieke in Beeld, Die Burger en Volksblad in ‘n ononderbroke loopbaan van amper 40 jaar.  Dit het die Woensdag in Die Burger verskyn terwyl hy al in die waakeenheid was.

Trouens, pas nadat hy die Sondag sy laaste woorde van vervoering getik het, het Wilhelm stom by sy rekenaar omgekantel.  Geen woord het in die volgende twee maande se lyding vir hom en sy geliefdes ooit weer oor sy lippe gekom nie.

In die hoofstuk oor Wilhelm vertel ek onder meer hoe gerus ek as sy nuusredakteur van Die Volksblad altyd smôrens gevoel het as ek die jong bobaas-verslaggewer by sy lessenaar sien sit. Die wêreld kon maar vergaan. Jorrie, soos ons hom destyds genoem het, sou dit kon behartig.  Ook as skrywer van voorblad-stoepstories – ʼn berig onderaan die blad, gewoonlik met ʼn humoristiese inslag – was hy ʼn meester in sy eie klas.

My Volksblad-herinneringe van 50 jaar gelede sou Wilhelm weens die ernstige beroerte nooit self kon lees nie. Weens die inisiatief van ‘n gemeenskaplike vriend, Hennie de Klerk, ‘n musiek-kameraad,  is dit egter wel op sy hospitaalbed vir hom voorgelees.

Hennie het uit die bloute die versoek gerig dat hy saam met boodskappe van vriende ook die nog ongepubliseerde hoofstuk vir Wilhelm mag voorlees.  Hy het gehoop dat die opwek van ou herinneringe sy vriend se beskadigde brein sal stimuleer. Ek het natuurlik dadelik ingestem. Die blote gedagte was ‘n eer.

Later het Hennie laat weet dat Wilhelm met ‘n kopknip en wakker oë op boodskappe gereageer het. Oor my anekdotes het hy verskeie kere woorde probeer uiter.  Dit was vir Hennie en die ander mense om die bed duidelik dat hy die gebeure onthou.

Hoeveel Wilhelm wel onthou het (en wat sy spitsvondige kommentaar sou wees!), sal ek nou nooit weet nie.  Die gedagte dat hy tog daarvan kon kennis neem, roer my diep.  Om hierdie spesiale ervaring hier met ander te kan deel, beskou ek as my vertraagde huldeblyk aan ‘n groot gees wat die aarde met ‘n fyn beskaafde grasie bewandel het.

“Wag-‘n-bietjie” sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.

WAG IS VERBY VIR WAG-‘n-BIETJIE

Blinkblaarboom, jou fraaie nooi, jou lentekleed in groen getooi …
Saam met die voorposblare aan rosyntjie- en aartappelbosse , blinkblaar-wag-‘n-bietjies (foto), knoppiesdorings en wat nog hier op Tarlehoet se werf in Sabiepark kom die blye nuus uit die Kaap: Wag-‘n-bietjie (foto) is klaar gedruk. Vandag begin hy sy pad loop. Mooiloop, my boek.
Saam met die opgewondenheid wat elke skrywer seker met die koms van ‘n nuweling ervaar, kom ook die effense teleurstelling dat juis my verkeer tussen die bome in die bos my eie kennismaking met die finale produk noodwendig gaan vertraag. Lesers wat die boek voor my sien, moet tog maar laat weet hoe dit hulle geval. Wat ek kan verklap, is dat Karen Cronje, ontwerper, buitengewone moeite met die uitleg gedoen het. Die Wag-‘n-bietjie-tema loop deur die boek.
In ‘n voorwoord verduidelik ek die rol van Tarlehoet se wag-‘n -bietjies in die keuse van die titel. Hier is nogal ‘n paar van die spoggerige bome met die geniepsige dorings. Dis van daardie dorings wat die subtitel kom: Stories wat gryp. Op die foto versier ‘n onlangse gas, Marlene Duvenage, die robuuste stam van ‘n wag-‘n-bietjie vlak teenaan die stoep.
Wag-‘n-bietjie sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.

TELKENS WEER OPNUUT VERLIEF

 Die romantiek van Balule raak amper oorweldigend as die vuurtjies saans begin brand.

Van ons afskeidskuiertjie vandeesweek by Balule hoef ek kwalik iets meer te rep as om my bure in die rondaweltjies aan weerskante bekend te stel. Soos ons, is hulle weerkommers of keerweders, of wat ’n mens “regulars” ookal in Afrikaans noem.

Ek en Tokkie was soontoe op ons 10de besoek sedert 2011 – weer, glo dit of nie, in rondawel vyf soos daardie eerste keer. Maar moenie dink dat ons skof van 15 jaar enigeen van ons bure kon imponeer nie.
In rondawel ses was Pip (90) en Nan (85) Townshend van Grahamstad en in rondawel vier Brian (75) en Joan (nie gevra hoe oud nie) Mallinson van Johannesburg. Albei pare ken en besoek Balule albei al 30 jaar lank, eers as kampeerders aan die ander kant van die draad.
Kan enige plek ‘n beter getuigskrif verlang: Mense wat kom, kom en weer kom , en elke keer opnuut verlief raak? Dit sê mos alles, meer as elke byvoeglike naamwoord in die woordeboek.
Vir Pip, onderwyser by Kearsney College vir 39 jaar, wil ek die kompliment gee dat hy sy nuwe Toyota Cross Over nader aan sy rondawel kan parkeer as wat dêmmit aan vloek is. Skaars plek vir ‘n flentertjie papier tussen sy linker-modderskerm en die muur gewees. Pip hou vol dit was doelbewus om ‘n klein stukkie skaduwee te benut. Moet dit maar glo. Dankie, Nan, vir die fraai nonnetjiesuil wat jy vir ons gewys het.
Brian Mallinson vertel oor ’n glasie goeie rooi interessante stories oor sy loopbaan as neuro-sielkundige en ekspert-getuie oor breinbeserings in talryke hofsake. En hy en Joan maak langsaan ‘n skaappotjie wat ‘n lieflike geur versprei.
Langs hulle, in nommer drie, was twee Australiërs. Hulle het ek net vlugtig raakgeloop, Brian vertel egter een kom elke jaar en bring dan ’n maat saam, Hy is versot op Balule.
Brian vertel ook van buitelandse gaste wat hy as gasheer na die wildtuin moes vergesel, onder meer uit Denemarke. Die uiters basiese Balule was elke keer die gunsteling omdat dit so “authentic” is.
Herinner my aan ‘n sjarmante Franse gesin wat ons in 2014 daar ontmoet het: Didier Charvet, sy vrou, Emilie Anxionnaz, ‘n skaapwagter se dogter wat sonder lopende water in die huis grootgeword het, en hul twee flukse meisiekinders, Myrtille (toe 10) en Melisse (toe 7).
By hulle het ek met génépi kennis gemaak: ‘n geurige Franse “witblits”. Dit kom van Alpynse kruie wat in die somer op ‘n hoogte van 2 000 meter groei – die hoogste plant in die Alpe (wetenskaplike naam Artemisia, in Engels bekend as wormwood).
Die Franse het oornag Franse vriende geword met wie adresse uitgeruil is. Vir die génépi wat ons uit pragtige vlekvrye staalflessie geniet het, het hulle self die Alpe naby hul tuiste, La Rosiere de Bourg, aangedurf op ‘n gevaarlike klimroete waar ander génépi-soekers al met hul lewens geboet het. Soos ek verstaan, is dit in die omgewing van St. Maurice.
In my Sabieparkse drankkabinetjie is nou nog so ‘n kosbare flessie génépi vir baie spesiale okkasies.
Hoeveel ryker het Balule nie my lewe gemaak nie – ook deur die mense wat ons daar ontmoet het. Balulemense is lekker mense.
(Later ietsie meer oor die besoek. )