Jan 31, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die MSC Musica was seker al in Mosambiek en terug, sy Kaapse sage vergete. As ek en Tokkie op die laaste dag van Januarie 2019 terugkyk op die gebeurtenisvolle maand is die Musica se rol egter geweldig. Ons sou immers self ook – DV (Deo Volente) – verlede week onder die verontriefde passasiers gewees het wat 48 uur geduldig moes wag om op te klim.
Ons sou – DV – in kajuit 9107 op die Intermezzodek gewees het – die eerste keer in al die jare dat ons onsself met ‘n balkonkajuit sou bederf. Die kaartjies was al gekoop, betaal en veilig in die kluis toe ‘n ongemaklikheid by sy naeltjie die uwe dokter toe dryf.
Toe ek my oë uitvee, was ‘n hernia-operasie vir Dinsdag 22 Januarie geskeduleer. Moenie waag om op die skip te gaan nie, het die arts gewaarsku. As ter see fout kom, bestaan die nodige gespesialiseerde mediese dienste vir ‘n noodoperasie nie. Ons plekke is noodgedwonge gekanselleer. Tot siens kajuit 9107 met balkon en al!
‘n Mens wil nie te veel oor jou sorge uitwei nie. Ek skram ook liewer daarvan weg om triskaidekafobies te klink. Vrydag 26 Januarie kon egter regtig, wat die Van Deventers betref, ‘n Vrydag die 13de gewees het. Terwyl die Musica oorkant Seepunt voor anker lệ en die Suidooster om die hoeke huil, besluit die internetmense Octotel om ons straatjie se sypaadjies om te dolwe vir hul veselkabel met die oog op vinniger internet – ook die Van Deventers se geplaveide sypaadjie en motoroprit in Penguin Place, Melkbosstrand. Die ongelukkige tydsberekening bring kruiwaens sand tot teenaan ons voordeur gewaai. Lyk soos ‘n miserabele Namib-toneel. Pure hoenderverdriet.
‘n Lastige warm, rooi kol in die wond-area bo my naeltjie lyk ook nie soos dit behoort nie. Ons bel die dokter. Hy sệ: “Kom”. Gelukkig raak die sterk antibiotika vinnig van die ontsteking ontslae.
Wat nie so vinnig gaan opklaar nie, is die lek in die badkamer wat ons op pad na die dokter ontdek. Ongelukkig is die plas nie beperk tot die teëlvloer nie. Met ons nog salig onbewus van die dreigende moles, het die stroompie water al sterk begin deursyfer na aangrensende vertrekke waar die gelamineerde hout op die vloere stadig maar seker begin skewebek trek.
Wind, sand, wond, water op een vreeslike dag – wat ‘n gruwelstorie!
Jan 28, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Danksy Dana Snyman se treffer-rolprent is “Dominee Tienie” sterk in die nuus.
Ek het ‘n ander “dominee Tienie” (eintlik “doktor Tienie) in lewende lywe geken: – dr. M.T.S.Zeeman, oud-leraar van die NG gemeente Berg-en-Dal, Bloemfontein. Opregte Christenmens gewees; ware herder van sy kudde; sout van die aarde. Sou vir hom deur die vuur loop.
Dr. Tienie het in Berg-en-Dal een jaar amper sy honderdtal met preke behaal – 98 of so. Party dominees raak “uitgebrand” as hulle die helfte minder preek.
Hy was ‘n ware steunpilaar toe ons seun, Johan, op ses maande in die hospitaal beland het met diabetes mellitus; het later ‘n gewaardeerde huisvriend geword wat in 2000 saam met sy sagte vrou, Marie, op Melkbos kom kuier het, en by wie ons altyd by hul aftreehuis op Witbank aangery het op pad Wildtuin toe.
In ons gasteboek het hy op daardie Melkbos-besoek geskryf geskryf: ” ‘n Dag om vir altyd te onthou.” Vir my was hy “’n Man om vir altyd te onthou.”
Jan 6, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Vlakvark-fiasko.
Dit was ‘n “skerpioenvakansie” soos nie tevore by Tarlehoet nie. Die goggas met hul dodelike knypers het gewemel. Ongelukkig het Marisa een raakgetrap. Die pyn was verblindend. Dae klank was die voet onheilpellend pynlik, verkleurd en geswel ondanks intensiewe mediese sorg en aandag.
Die les was duidelik: as iets in die bos soos gif vermy moet word, is dit ‘n skerpioen se steek. In die opwellende bewustheid by Tarlehoet se inwoners van hierdie gevaar wat in die donker oral skuil, is onder meer ‘n spesiale infra-rooilig (korrigeer asseblief, Jacob!) aangeskaf wat die skelet van ‘n skerpioen ‘n helder geel verkleur. So word die maaifoedies in elke skuilplek opgespoor en voor stok gekry.
“Bronne” verskil, maar ek meen van sowat 10 kan rekenskap gegee word. Verskeie het in ‘n konfytbottel bekand wat deur Ouma verskaf is. In die bottel het ‘n aggressiewe ou ‘n nuwe aankomeling sonder seremonie opgevreet; duidelik nie die soort kreatuur wie se gramskap ‘n vredeliewende mens graag wil uitlok nie.
Nietemin, “operasie skerpioen” was ongetwyfeld ‘n hoogtepunt, al het Oupa verkies om die hakkejag grootliks in die veiligheid van die swembadjie se water mee te maak.
‘n Likkewaangesin van drie het vir ‘n tweede hoogtepunt gesorg. ‘n Ma en twee kleingoed het onder ons dak, begin “plak”. Die meeste van tyd het net hul lang nekke onder die grasbdekking van die dak uitgesteek en het hulle met wakker kraalogies elke beweging van die mensekinders met wie hulle die huis deel, dopgehou. Ons lek nou nog wonde na ‘n vorige likkewaan-episode in ons huis waarin gordyne geskeur, foto’s van die muur gestamp en ‘n hoop breekgoed gebreek is.
Dit was ons hartsbegeerte dat hulle moet skoert. Sabiepark se vanghok is vinnig staangemaak met ‘n eier as aas. Uiteindelik kon een van die kleintjies die versoeking nie weerstaan nie. Hy is agter die eier aan, gevang en ver van Tarlehoet losgelaat. Die ma en ander kind het daarna self padgegee.
‘n Slang op die stoep het ook vir opwinding gesorg. ‘n Swart mamba? Daardie teorie had sy aanhangers. Ek weet werklik nie.
Mini en Maksi, twee semi-mak vlakvarke, het gereeld kom besoek. Mini slag toe daarin om haarself in die buitekamer met sy defektiewe deurhandvatsel toe te sluit. Ons sit op die stoep n hoor net doef, doef, doef. Gewapen met ‘n trapleer, besems en wat nog is ‘n soekgeselskap op die been gebring.
Die arme Mini het bra verleë gelyk toe sy voor die oë van een en almal van Tarlehoet onwaardig uit die buitekamer stoom en in die bos verdwyn. Later het haar afwsigheid aan Maksi se sy vrese oor haar welstand gewek. Was sy luiperdkos? Het sy dalk in ‘n strik beland? Nee, verneem ons later. Anders as ‘n donkie wat nie sy kop twee keer teen dieselfde klip stamp nie, het sy sowaar daarin geslaag om haarself in die tennisbaan se toilet toe te sluit. Sy is eers na ‘n dag of twee se eensame opsluiting bevry.
Hiënas was telkens te sien en te hoor. Een is deur Chistopher afgeneem waar hy plat op sy blaker in die watergatjie sit en afkoel. “Toe ta een aand ‘n koue bad wou vat, kom sit hy plat, plat op sy blad, in Tarlehoet se watergat.” Twee het die paaltjieheining in die nag bestorm. ‘n Klomp paaltjies moes vervang word.
Njalas en bosbokke was gereeld op die werf. Die span kameelperde het twee keer naby die huis verbybeweeg. ‘n Wildebeestrop met iets soos agt kleintjies was die hele tyd in Wildevy en het een aand met ons motorpad opgestap. Verder was daar o.m. koedoes, rooibokkies, duikertjies, apies en skilpaaie, en aan die front van die gevleueldes ‘n resident-boskraai, piet-my-vroue, bloukuifloeries en baardwipsterte met hul melodieuse lied.
Sebras was minder volop as in die verlede. Wat bitter skaars was, was bosnagape en nagapies. Net enkele kere vlugtig een opgemerk of gehoor. Hopelik keer hulle terug tot ou patrone as die veld nie so welig is nie. Bobbejane was ook skaars. Hul geselskap is met graagte ontbeer.
Jan 5, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Velle-seremonie: TvD en seuns

Oupa78
Fees-inie-bos noem Nelspruit sy jaarlikse kunstekarnaval.’n Fees-innie-bos soos min was ons somervakansie van 2018/2019.
Op 30 Desember was Brent en Marisa 18 jaar getroud; op 31 Desember ek en Tokkie 52 jaar (70 jaar se versamelde huweliksoet en –suur binne 48 uur by Tarlehoet gevier); op 3 Januarie was die uwe 78. Die tradisionele groot feesdae Kersfees en Nuwejaar tussenin het nie vergete gebly nie.
Vonkelwyn is telkens geskink. Feestelike etes het ingesluit ‘n Groot Ontbyt by die Protea, Kerskalkoen in die Weber, dik gebraaide kruisskyf op Tarlehoet se stoep, ‘n koue-vleis-buffet (die seuns is vrye teuels gegee met die opdis van die keurige middagmaal) , kaasborde en wat nog.
Thomas, Jacob en Christopher se kreatwiteit met tafeltemas was weer eens onbeperk. Eetgerei met sebra- en luiperdmotiewe kersies, ystervarkpenne, spesiale servette, ysterpotjies – waar alles uitgegrawe is, weet ek nie. ‘n Fees van liggies is gereeld opgtower: in die lapa, op die stoep, rondom en in die swembad. (‘n Fotoblog van hul tafels verskyn later.)
Met Oupa se 78ste is die oggend ‘n tradisie voortgesit wat met sy 21ste langer as ‘n halfeeu gelede in Welkom begin is. ‘n Omelet is bedien met 78 daarop in Bovril geskryf. Die aand was op sy plek aan tafel ’n sewe en ‘n agt van hartens, Christopher (‘n vreetkaart-kampioen) se idee.
Die natuur het vir twee buitengewone feeste gesorg met heerlike reën wat twee maal in digte gordyne neergegiet het: onderskeidelik 17 in ‘n vroegoggend-storm en’n deurdringende 64 mm deur die nag. Vir die storm het ons en die seuns om 0400 op die stoep versamel, koffie gedrink en ons aan die tipiese Laeveldse natuurskouspel van blitse verwonder. Dit is sulke meesleurende oomblikke wat jou die swaarkry in die somerhitte laat vergeet.

Kalkoen in Weber: Brent en seuns
Dan het die magdom paddas luidrugtig gekwaak en die kinders uitgelate in die reën in die swembad baljaar. Een met ‘n diep stem is Petrus Padda gedoop. ‘n Ander koer (pirr) soos ons nog nooit ‘n padda hoor koer het nie. Dalk ‘n immigrant uit Mosambiek?
Die koeligheid weens die reën was ‘n heerlike lafenis te midde van versengende hitte met die kwik wat verby 40 grade klim. (Thomas se humoristiese paddastories was ewe verfrissend. )
“Seremonies” het ingesluit die ooprol van twee wildebees- en ‘n paar springbokvelle wat met die komplimente van Brent uit die jagveld kom. Tokkie het vir die rooi linte gesorg en die kameras het elke aspek van die plegtighede verewig.
Sabiepark is vanjaar 40 jaar oud. Na die insigte van hierdie Sabiepark-veteraan verdien die bereiking van hierdie baken ‘n eie fees. As Sabiepark se owerhede en magte dan traag is, sal ons maar ons eie interne fesie moet reël. Ons weet immers hoe!
(Die eerste van vier blogs oor ons somervakansie in Sabiepark.)
Nov 30, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Op haar bereiking van die Bybelse baken van 70 jaar, het ek deur my albums gesif vir ‘n foto van ons gewese Bloemfonteinse buurvrou Annette van Rensburg vir haar verjaardagkaartjie. Daardie foto wil ek vandag hier herhaal as huldeblyk by haar heengaan ‘n bietjie meer as drie jaar later op Kleinmond. Die foto illustreer watter jonkheid van gees Annette lewenslank uitgestraal het.
Op die foto (hierbo) vat sy kortpad tussen ons huisies in die Addo-olifantpark op ‘n saamkuier ‘n stuk of nege jaar gelede. Ons was ‘n paar dae lank weer bure in Addo soos ons in die dekade 80 ‘n hele paar jaar lank goeie bure in Bloemfontein was.
Soos Annette op die foto kortpad vat met n ratse sprongetjie van hul stoep na ons s’n, het sy gelewe: altyd vol lewenslus en “sports”. Sy het nooit gelyk – of gelewe – soos iemand wat 70 somers agter die rug het nie. Trouens, ‘n jeugdiger 70-plusser het ek nog nie raakgeloop nie, totdat haar gesondheid in Februarie begin agteruitgaan het. Dis ‘n jeudigheid wat hom, buiten in haar jong voorkoms, veral in haar avontuurlustigheid gemanifesteer het.
Een voorbeeld: Om die beroemde (berugte?) El Camino te stap. Diep in die sestig al, het sy met borrelende entoesiasme die uitdagende honderde kilometer met dapper en stapper afgelê, en haar vriende met opgewonde daaglikse rapporte kleurryk in die ervaring laat deel. Sy het haar man, Chris, saamgesleep – ‘n vermeldenswaardige prestasie in my oë. Ek haal my hoed af vir buurman Chris vir vele deugde (‘n gedugte braaier van vis, maar ook van enigiets anders – van frikkadelle tot kreef onder meer). Dat hy ‘n kranige stapper is, sou ek nie voor daardie epiese tog aan hom toegedig het nie.

Tokkie en Annette klink ‘n glasie.
So vlugvoetig soos Annette oor daardie muurtjie op die foto geklouter het, het sy ook graag rondgeklouter in die Kogelberg by Kleinmond waarheen sy en Chris verhuis het na sy aftrede as vise-rektor van die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein. In hul woonkamer was op die koffietafel altyd allerlei publikasies met gedugte roetes, wat my op elke besoek benoud laat wonder oor wat sy vir haar kuiergaste in die skild voer.
Maar eintlik was Annette se horisonne wyer. Sy was ‘n wêreldreisiger. Soos Tokkie dit stel: Sy was die enigste mens wat ons geken het, wat sowel die El Camino as Machu Picchu, die “Verlore Stad van die Inkas”, op haar kerfstok het. Waar sy oral op die aardbol voetspore agtertgelaat het, en op hoeveel kontinente, moet ‘n formidabele bundel beslaan. Oral – soos met die El Camino en Machu Picchu – was haar reise allesbehalwe doodgewoon.
Noem haar gerus ‘n student van reis, wat vooraf elke roete met die grootste deeglikheid bestudeer het. Dan het sy haar skedule uitgewerk. Haarfyn. Geen bousel, rotsformasie, klip, boom of plant van betekenis sou sy oorslaan nie. Hoe antieker des te beter. (Sy het ook nie graag ‘n oudhede – of tweedehandse boekwinkel oorgeslaan nie, en het dit tot ‘n fyn kuns ontwikkel om waardevolle dinge op stowwerige rakke uit te snuffel.)
Op ‘n tog deur Namibië enkele amper 30 jaar gelede het die uwe met daardie deeglike verkenningsvermoë deeglik kennis gemaak. Sy het my wat nog nie voorheen van ‘n ligeen gehoor het nie, o.m. behoorlik laat bontstaan met haar gretigheid om geen, maar geen, van dié groen, grys of geel organismetjies op geen rots of boomstam oor te slaan nie. Sy het ook nie, glo ek. Dit was nogal veeleisend!
Vir daardie toer het Annette ons reisplan uitgewerk – van Ais-Ais af oor Swakopmund en Khorixas, op Etosha toe en terug via Windhoek – wat waarskynlik selfs vir gebore en getoë Namibiërs talle verrassings sou opgelewer het. Sy het nie net elke afdraaipaadjie se bestemming geken nie, maar tot vooruit geweet waar op Luderitz ons die beste kreef in die hande sou kry. Dié het Chris in tierende wind die aand in die stort van die munisipale rondaweltjie tot perfeksie gebraai.
Perfeksie. Dis ‘n goeie woord om Annette se benadering tot enigiets te beskryf: van reis tot die kombuis. Ook aan laasgenoemde front was sy kranig. Daarvan kan hierdie gretige aansitter aan haar etenstafel (en verskeie sentimeters om sy middellyf) van harte getuig.
Annette was ‘n vriendin duisend. Vir haar twee dogters, Elana en Elindi. Vir al haar nuwe vriende en al die oues, soos die Van Deventers wat langer as drie dekades die voordeel van haar vriendskap geniet het. Ek wonder hoeveel flessies vonkelwyn ons deur die jare saam geledig het. Ook ‘n biertjie op sy tyd.
Ons groet met diepe hartseer ‘n sprankelende, lewensblye, vonkelende vriendin. Ons doen dit in dankbaarheid vir soveel heerlike herinneringe wat ons altyd sal bybly.