Nov 6, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Gesellige lekkerleesboek gekenmerk deur ‘n vloeiende skryfstyl, fyn waarnemings en beskrywings, soos verwag kan word van ’n joernalis met ’n leeftyd van skryf agter hom. So beskryf my jarelange kollega met ‘n “verbete wanderlust” in sy bloed, Sarel Venter, my nuwe boek “Na verre hawens” (Naledi, 2019) in ‘n heerlike saamgesels op Litnet. Geniet ook die humor, voeg hy by.
Sarel skryf:
“Beskrywings van reise na verre lande en hawens het my van my kinderdae af bekoor. Ek was nog in die laerskool toe ek Daar ver oor die see deur “Tannie” op my moeder se boekrak ontdek en byna verslind het danksy ’n verbete nuuskierigheid en ’n honger wanderlust. “Tannie” was die skuilnaam van H van Heerden. Sy vertel van ’n reis per skip, byna ’n eeu gelede, van Kaapstad na Europa. Dié kosbare boek met foto’s is in 1929 deur Nasionale Pers uitgegee en word as Africana gereken.
“My wanderlust is verder aangewakker deur vertellings van my oom wat as soldaat in die Tweede Wêreldoorlog per skip van Durban af deur die Suezkanaal na Egipte en later Italië gevaar het … en na die oorlog veilig teruggekom het.
“Sulke reisbeskrywings, veral per skip, is gewilde leesstof by hierdie leunstoelreisiger, en laat by my die ou kinderliedjie opduik: “Eine Seefahrt die ist lustig, eine Seefahrt, die ist schön, denn da kann man fremde Länder und noch manches andere sehn. Hol-la-hi, hol-la-ho…”
“Hennie van Deventer se hoogs leesbare blogs oor verskeie reise wat oor sowat vyf dekades per skip onderneem is, het nou ’n boek geword; ’n boek wat geroep het om “te water gelaat” te word. Na verre hawens – sy jongste (en negentiende) boek – het pas by Naledi verskyn.
“Toe seereise op luukse skepe langs die Suider-Afrikaanse kus alledaags begin word het, het ek ook vir my en my vrou op so ’n vaart van Durban na Maputo en verder met die Sinfonia bespreek, maar ons skip het nie gekom nie weens onvoorsiene siekte. My belangstelling in hierdie reise het nie afgeneem nie en ek het ontdek dat ’n mens op die internet kan gaan kyk waar die skepe hulle bevind. Probeer dit gerus. Tik byvoorbeeld “Where is the Sinfonia now?” op Google in en jy kry ’n blik op die wye oseaan en byvoorbeeld die skip se swembad uit ’n kamera hoog op die skip, of sien self hoe lyk die omgewing van so ’n skip waar dit in ’n hawe vasgemeer is.
“Met die tik hiervan was die Sinfonia by Santorini in Griekeland en op die punt om na Split in Kroasië te vertrek.
“Met nostalgie, en ook met humor, vertel Van Deventer van byna elke reis – met vaartuie oor die spektrum: van die klassieke en weelderige Queen Mary 2, van gesellige vakansieskepe, plesierbote, veerbote, rivierbote, jagte, skeertuie, motorbote; ook van doodgewone skuitjies. Maar kom ek deel ’n paar lusmakertjies met voornemende lesers:
- Die Pendennis Castle, die kroonjuweel van die Union-Castle-vloot: Hierdie reis van Kaapstad na Durban in 1970 was die Van Deventers se nooiensvaart. Hy vertel met nostalgie en ook met humor van hierdie vaart. Maar tien jaar later is “ons skip” in ’n Taiwannese hawe afgetakel. Seker die lot van byna elke skip wat nie onder die golwe verdwyn nie. Gereduseer tot ’n hoop afvalmetaal. Stof tot stof, swierigheid tot skroot.
- Die Sinfonia klink na die Van Deventers se gewildste skip waarmee ’n hele paar reise onderneem is – voordat die weelde-vaartuig middeldeur gesny is om ’n stuk skip so groot soos ’n woonstelgebou in te las! En weer die oseane aan te durf … Met hierdie skip het hulle ’n byna sentimentele verhouding opgebou.
- Die Sinfonia-vaart met hul tweeling-kleinseuns, wat toe 5 jaar oud was, staan uit, en gee soveel plesier. Van Deventer skryf: “Die sorgvrye ure saam met die kinders op die dek sal dié oupa vir niks verruil nie”. En verder: “Die driemanskap Jacob, Thomas en die Sinfonia was ’n Dit het ons elke oomblik laat voel dat die ondermaanse ’n salige plek is om op te vertoef.”
- Die reis van 22 dae op die Queen Mary 2 – van Kaapstad oor Durban, Mauritius, Fremantle en Melbourne na Sydney – was onvergeetlik en ’n groot deel van die boek handel oor wat op so ’n droomvaart op jou wag. ’n Pluspunt van hierdie boek is dat die skrywer nie net van al die voortreflike dinge op die skip vertel nie, maar waar moontlik ook uitbrei oor die besienswaardighede van die “verre hawens” waar die skip aandoen. ’n Reis op die ontsagwekkende Queen Mary 2 word ’n voyage en nie ’n cruise nie genoem. Mindere skepe, selfs groter as die Queen Mary 2, is vakansieskepe, nie ocean liners nie.
- Twee ander lang reise waarvan Van Deventer vertel is dié met die Opera langs die weskus van Afrika, deur die Straat van Gibraltar en die Middellandse See na Malta (’n besondere ervaring wat gelees moet word) en toe verby Griekeland na hawens langs die mooie Adriatiese See tot by Venesië. Later volg die vaart wat hy hul laaste seereis noem met die Musica van Durban na Venesië oor Reunion, Mauritius, die Seychelle, Aqaba (deur waters met die risiko van seerowery), Katakolo in Griekeland, Montenegro en Split in Kroasië. Die vaart deur die Suezkanaal met woestyn aan weerskante was dalk die aanloklikste hoogtepunt. Die hoofstuk oor die vaart deur die Suezkanaal is self ’n uiters insiggewende deel van die boek.
- Waardevolle raad en wenke aan toekomstige seevaarders word in hierdie boek gegee. Onthou, dit is ’n gesoute seereisiger wat aan die woord is. Na al die seereise en ervarings kan Van Deventer met gesag praat oor die vereistes wat aan liggaam en gees gestel word, fiksheid, gesondheid, gerief, vasbyt in versoekings van oorvloedige kos en lekkernye, privaatheid, versterking van gesinsbande, begroting vir ’n reis, ens.
“Hierdie gesellige lekkerleesboek word gekenmerk deur Van Deventer se vloeiende skryfstyl, fyn waarnemings en beskrywings, soos verwag kan word van ’n joernalis met ’n leeftyd van skryf agter hom. Geniet ook die humor, soms op homself gerig. Net jammer dat die boek nie meer foto’s bevat nie.”
Dankie, Sarel.
(‘n Vinnige, maklike manier om ‘n boek te bekom, is by www.naledi.online. Die kontakpersoon is Tertia Swart (tertiaswart@naledi.online, selno. 078 648 8616. Die boek kos R200. )
Oct 30, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Tony en Nicola voor hul huis tydens ‘n olifantbesoek.
Speurder Sannie van Rensburg pak gereeld die skurke in sy boeke. Die slegte ouens is dikwels renosterstropers, ivoorjagters en avonturiers. Hul teenstanders is geharde veldwagters wat met “Toyotabakkies” ry. ‘n Kelnerin word gegroet: “Tatenda, sisi”. ‘n Mislike vent word pront …wel ..’n “poepol” genoem.
Klink of dit ‘n Botha of ‘n Van der Merwe kan wees wat hier die pen hanteer. ‘n Laevelder. Ten minste dan ‘n Suid-Afrikaner. Dit is nie. Dit is ‘n Park uit Sydney – Park, Tony Park, die skrywer van 17 aksiebelaaide spanningsverhale met ‘n Suider-Afrikaanse adres. Almal blitsverkopers.
Die jongste, “Ghosts of the Past”, het ‘n sterk aanbeveling op die omslag deur niemand minder nie as Deon Meyer. Die boek – oor ‘n raaiselmoord in die ou “Duitswes” – word op die oomblik landwyd bekend gestel. Eerste aan die beurt was Hazyview. Hazyview? Ja, Hazyview. En nie om dowe neute nie, hoor. Hazyview is die naaste groot dorp aan die Parks se “ander huis” waar hulle sedert 2012 om die beurt tuisgaan: ses maande in Sydney, ses maande hier.
Tony het in 1995 verlief geraak op Suid-Afrika na ‘n eerste besoek waarvoor hy maar traag was. Sy vrou, Nicola, moes hom behoorlik hierheen sleep. Die oomblik toe hy die Krugerwildtuin binnery, het alles verander. “I was blown away. It was the combination of landscape, wildlife, excitement, the unpredictability, you know. It was unlike any other holiday we’d been on before,” het hy sy bekering aan die tydskrif “Wild” beskryf.
Binne die eerste week het ‘n tweede al in die oog begin vonkel. Daarna het hulle vir 20 jaar elke jaar gekom – buiten toe die oud-joernalis en -soldaat in Afganistan militêre diens moes gaan verrig. In 2012 het hy vir hom ‘n boshuis gekoop in Sabiepark, private natuurreservaat, aan die Sabierivier by die Krugerhek – ‘n plek waarop hy versot is.
Agt nuwe Tony Park-boeke het sedertdien op die rakke gekom – almal knewels. Maar tyd om te speel, is daar darem ook. Elke middag in die skemerkelkie-uur kan jy maar weet waar om die Parks (en hul olyfgroen ou Land Rover) te soek. By die piekniekplek langs die Sabie. Met hul lang lense en gelaaide piekniekmandjie is hulle daar ‘n bekende gesig. Geen ander inwoner het so ‘n valkoog vir luiperds nie. Al is die gras en die riete hoe dig, Tony snuffel hulle uit. Sy foto’s op die eienaars se private webblad laat die monde water.
Sabiepark het van Tony toenemend ‘n “Boere-Aussie” gemaak. Dit is waar die milde gebruik van Afrikaanse woorde in sy boeke vandaan kom: “ja, lekker, boerewors, braai, babelaas, ‘dagga boy’” en andere. ‘n Laevelder. Sy mense lees “Die Laevelder”. Hulle koop graag by die Spar op Phalaborwa. En ‘n Hazyviewer. Hy ken Oom Kallie se slaghuis (wat onder meer vleis aan die Wildtuin verskaf) en was bewus van die gewilde Pepper Vine Bar wat intussen sy deure gesluit het. Hy het ook die plaaslike taal Tsonga begin aanleer. Toe steel ‘n verduiwelse bobbejaan sy notas uit die huis!
Oor die Wiltuin skryf hy dat die leser se tone krul. “Sharp and sensory,” noem die Western Australian dit. “Sharp and sensory” inderdaad.
Onthou nog my vrou se skaterlagbui oor ‘n toneel toe Britse “James Bonds” ‘n ontvoerde hoë uit die kloue van die vyand red. Op pad na die Krokodilrivierhek was ‘n erger verkeersknoop as in Londen. Moedeloos pluk een sy vuurwapen uit en trek ‘n skoot in die lug af. Toe ontdek hulle die rede vir die motorchaos: ‘n trop leeus in die pad!
Vir baie resensente is hy die “nuwe Wilbur Smith”. “Since Wilbur Smith in his heyday no one has written as well about Southern Africa than Tony Park,” skryf die Crime Review Magazine onder meer. Maar so onder die vel van die omgewing waaroor hy skryf, het Smith werklik nooit gekom nie, wil hierdie aanhanger beweer.
Dit is nie toevallig nie dat Sabiepark, of eerder ‘n fiktiewe weergawe, deel was van die inspirasie vir sy laaste agt boeke, sê Tony. Hy het die plek ontdek terwyl hy navorsing gedoen vir “The Prey” wat oor onwettige goudmynbedrywighede handel.
‘n Ander Sabieparker, Casper Strydom, was hoofbestuurder van die Fairview-goudmyn by Barberton, en hy was geneë om te help. Hy sou Tony op ‘n toer deur sy myn neem. Hul eerste ontmoeting was vir ‘n braai by Strydom se huis in Sabiepark terwyl die Parks in die Wildtuin gekampeer het. Strydom het hulle rondgewys. Hulle het gekyk na ‘n paar huise wat in die mark was, “en die res is geskiedenis”.
In “The Prey” vind van die aksie plaas in die mynbestuurder se vakansiehuis in ‘n denkbeeldige private natuurreservaat met die naam “Hippo Rock”. Dit is nie juis ‘n geheim nie dat Hippo Rock uitgeknip Sabiepark is. “Hippo Rock” het in verskeie latere boeke opgeduik.
“Ek het talle goeie vriende onder Sabiepark-eienaars en –personeel gemaak. Verskeie van hul stories en wedervaringe is in my boeke opgeneem. Die Afrikaner en die Sjangaan-Tsongamense wat ek ontmoet, is ongelooflik vriendelik en gaan uit hul pad om ‘n mens tuis te laat voel. Hul gebruike en tale het in my skryfwerk neerslag gevind.
“Afrikaans is so ‘n wonderlik beskrywende taal dat ek lief is om iets daarvan in my boeke in te werk. Ek het ‘n Afrikaanssprekende vriend in Johannesburg wat deesdae as proefleer optree. Dit is noodsaaklik, want een keer het ek boerewors verkeerd gespel in een van my eerste boeke (‘n onvergeeflike flater!).
Ander Laveldse omgewings is ook invloede. Die nimlike Sannie van Rensburg trek van Johannesburg na haar familieplaas naby Hazyview. Uiteindelik koop sy en haar Engelssprekende man, Tom, ‘n plek by “Hippo Rock”. Kaptein Van Rensburg los trouens in “The Cull” ‘n misdaad op weens haar kennis van toegangsprosedures by die sekuriteitshek by “Hippo Rock”. Sy model was dié van die werklike sekuriteitspan by Sabiepark!
Die Wildtuin verskaf ook heelwat inspirasie. Boek nommer 17, “Ghosts of the Past” speel deels af in die Krugerkontrei.
‘n Karakter wat in ‘n paar boeke opduik, die safarigids en private speurder Hudson Brand, pas ‘n huis op in “Hippo Rock” – in werklikheid die huis van die mynbestuurder van “The Prey”. Sonja Kurtz, een van Tony se gewildste karakters , woon soms in die “Hippo Rock” Private Natuurreservaat by haar aan-af aan-af kêrel, Hudson Brand.
Die regte Sabiepark word slegs in een boek “The Hunter” by die naam genoem. Daarin voer speurder Van Rensburg en haar span ‘n operasie uit om ‘n klompie nare karakters in die Sabi Sand-wildtuin aan te keer. Voordat hulle toeslaan, kom hulle byeen by die afdraaiplek na Sabiepark vir ‘n voorligtingsessie.
“Soveel van Sabiepark beïnvloed my skryfwerk – die omgewing, die mense wat daar woon en werk, en die wildlewe, Ou ‘Vin Diesel’, ons manjifieke, heengegane resident-luiperd word selfs in een van my boeke vermeld.
“Vir ‘n skrywer is dit ideaal om iewers te kan skryf waar jy inspirasie en vreedsaamheid vind – Sabiepark bied dit alles en meer
(Het oorspronklik verskyn in die Sondagblad Rapport)
Oct 26, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Cappuccino with the Cornells on the MSC Musica.
On a recent cruise on the MSC Musica northwards to its home in Italy we were swept off our feet by the beauty of the Adriatic coast. We were similarly bowled over by the kindness of two British strangers. Over a cup of tea next to the swimming pool, one of three on Deck 13 of the Musica, we struck up a conversation with Garry and Christine Cornell from Hayling Island, Hampshire.
‘Despite my precautions and the promises of my service provider,’ I grumbled , ‘my cell phone picked up no signal.’
Garry looked at Christine, and Christine looked at Garry, I noted. The next moment I was surprised by a generous offer. Their tour package included internet service which they did not use, and I was free to avail myself of it. Promptly the MSCMusicahotspot was found and connectivity activated. From that moment on my alias was Garry Cornell. Switching on my computer, Google greeted me with a ‘Hello, Hennie’. Turning to the Musica App, I heard, ‘Hello, Garry’.
Hopefully no fraud or similar impropriety was committed. Garry had, after all, paid for the service fully. Magnanimously, I merely supplied the device, of course!
Later on we became aware of the fact that Thursday 2 May was Christine’s birthday. As the Cornells did not imbibe, we celebrated with strong Italian cappucinnos . For Christmas (and/or) er next birthday I sent Christine a copy of my new book, “Na verre hawens” ( To faraway harbours) with a translation of the relevant paragraphs.
‘Watch your mail box, Christine.’
Cappuccino with the Cornells became a ritual. Where to meet up was no problem at all. Near the ‘floating’ concert piano made of glass in the luxurious foyer of the Musica was just the spot. Glass replaced wood in this pièce de résistance – even the piano stool was of nothing but glass. One could watch the vibrating strings and the movement of the hammers through the glass lid as the pianist Sifiso from Sandton tickled the keys.
This unique grand piano stood against the backdrop of a glass waterfall on a platform of glass. To me it was the most marvellous object on the lovely ship. Peculiar, though, no one seemed to know the story of the piano.
Usually it is the person whose birthday it is who gets the gift. With the Cornells, it was the other way round – to the benefit of the receiver who perpetually yearns for communication with the outside world. May Christine abundantly experience the Biblical truth that it is better to give than to receive.
In the process of getting acquainted, we learned that the brother of Garry’s American grandfather worked as a slave in the famous American circus Barnum’s where he boxed against every possible contender. The surname Cornell he purloined from the American university. On a visit to London he put some distance between himself and Barnum ’s and became a decorated hero in the British army.
Currently, his story is being filmed. Illustrious indeed was my alias.
- In my 15 years of blogging this is my first try at one in English. If it is not perfect, please forgive an 78 year old Afrikaans man the errors. The peculiar incident described here is also described in my new book on cruising over a period of 50 years. The title is “Na verre hawens”. It is published by Naledi. If not available at book shops yet, it should be soon The ISBN no. Is 978-1-928518-18-1. You can also buy directly from Naledi at naledi.online.
Oct 23, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Constant Steyn is die ietwat jonger ou, regs.
Met die nuweling “Na verre hawens” nou volstoom na die boekwinkels op pad – hy is al hier en daar, hoor ek – moet die ou man (al amper 79), nee, wil hy bitterlik graag, dankie sệ vir ‘n span medewerkers en helpers wat agter die skerms help woel het om die bootjie te laat vaar.

Johan Coetzee, die baas
Sonder vier, nee, sonder vyf vennote sou hierdie onderneming skipbreuk gely het.
Naledi – uitgewer van my vorige boek, Laatoes – kykweer van ’n kanniedood-koerantman – laat ook hierdie skip te water. Dankie, “kaptein” Johan Coetzee en jou bekwame bemanning vir jul rol in die enjinkamer en op die brug. Met ’n A-span soos Anita Froneman (wat ongelukkig heel aan die einde ‘n ander koers ingeslaan het), Lisel Krige (proeflees), Tertia Swart (bestuur) en Karen Cronjé (ontwerp) kan jy oorlog toe gaan.

Danie Botha, gedugte stuurman.
Sonder sulke ferme hande aan die roer raak ’n skrywer maklik in diep water. Dit sluit Danie Botha in. Hy was in die belangrike eerste fase van die projek ’n stuuurman/koersaanwyser van die eerste water. Dankie, Danie, vir ure se rugbreek-arbeid by hope naslaanboeke.
Oud-kollega Constant Steyn het, op my versoek, in die diepsee by die die Buro vir Eietydse Geskiedenis van die Vrystaatse Universiteit gaan rondduik om uit vergeelde koerante herinneringe op te skerp. Daarsonder, en sonder Bun Booyens se Oceanos-artikel in Die Burger 100: Sy mense en hul stories was hoofstuk 6 (koerante se hantering van die Oceanosrsamp) nie moontlik nie.

Lisel Krige, valkoog.
Google het gesorg vir waardevolle kontoerkaarte. Waar die eie geheue te kort geskiet het, kon ek dankbaar in sy bergruimtes delf. Na Google en elke ander bron ’n dankbare buiging.
Tokkie was die een wat baie kere koffers gedra het – letterlik. Veral op ons laaste reis op di MSC Musica het sy harder gewerk as elke handlanger in ’n oorpak aan boord. Ai, ou Tokkie.
*Die boek kan ook aanlyn gekoop word by www.naledi.online .
Oct 22, 2019 | Hennie van Deventer se Blog

Die Pendennis
In die posboot-era 50 jaar gelede is ‘n skip soos die Pendennis Castle as ‘n “tamaaie” skip gereken. Hoe ver van “tamaai” die “tamaaie” skepe van ‘n klompie jare gelede was teenoor die drywende plesierpaleise van die dag, bring ’n vergelyking van tonnemaat tuis.
In “Na verre hawens” noem ek dat die Pendennis (foto een) ’n skip van 28 582 ton was. Die MSC Musica (foto 2), maar net ’n medium-plesierboot in die MSC-vloot – of “cruise ship” – wat al in 2006 gebou is en in die somerseisoen van 2018/19 in Suid-Afrika bedrywig was, is ’n lywige 92 409 ton – meer as drie keer groter!
MSC se nuwe vlagskip, die MSC Bellissima, is 171 598 ton. Royal Caribbean International se reusagtige Symphony of the Seas, die wêreld se grootste, is ’n verstommende 228 081 ton! Ek sit ook foto’s op van die Constellation (foto 3) en die Oceanos (foto 4) waarvan in Na verre hawens vertel word en wat op hul tyd as groot skepe gereken is. Hulle lyk bra plat teen die drywende hotelle van vandag met hul multiverdiepings.
*Die boek behoort eerlank by boekwinkels te wees. Dit is ook direk aanlyn te koop by www.naledi.online.

Die MSC Musica

Die Constellation

Die Oceanos