MATIE-AREND SWEEF GEDAS EN AL

Sweef soos ‘n arend, sing minnesanger Bles Bridges in een van die liedjies wat hom beroemd gemaak het. Die toenmalige treffer (uit die stal van Mynie Grove) maal in my kop terwyl ek nadink hoe om my avontuurlike arend-storie te vertel.
Kom ek begin by die tradisievaste Stellenbosse manskoshuis Eendrag waarvan die koshuiswapen ‘n arend met uitgestrekte vlerke is – op ‘n haar na soos die arend op die ou Volkiewapen (Volkies, Potchefstroom).
Kleinseun Thomas Claassens (21), ‘n student in die Regte in sy vierde jaar, is vanjaar Eendrag se primarius. Verlede Saterdag trek hy toe sy dagdrag aan – kleurbaadjie met sakwapen, Chinolangbroek, das, die lot – en spring so gestewel en gespoor op 10 000 voet uit ‘n ligte vliegtuig met ‘n valskerm;  sy eerste sprong, maar darem saam met ‘n ervare instruktrise.
Soos ‘n arend sweef Thomas met wapperende kuif op die video van sy avontuurlike daad waarmee hy sy koshuis se arend-wapen op ‘n unieke manier gestalte gee.
Die valskermsprong is deel van ‘n Eendragprojek om HK-lede op sonderlinge wyse aan die nuwe eerstejaars bekend te stel. Een is glo al op ski’s agter ‘n bakkie in die straat af, ‘n ander = ewe deftig aangetrek – onder die stort.
Natuurlik is hierdie oupa nie min trots op sy vindingryke, kreatiewe, avontuurlustige en dapper kleinseun nie. Hy is net dankbaar in sy dae is soortgelyke dade nie van HK-lede geverg nie. Oupa was in 1962 huisvoorsitter van Kollegetehuis aan Tukkies , en het sowat skotvry afgekom. Die ergste uitdagings van daardie studente-era was omtrent ‘n modderbad en ‘n pil deurdrenk van duiwelsdrek aan die einde van die eerste jaar.
Was Thomas nie bietjie bang nie? Nee, oupa, lag hy, dit was heerlik – ‘n onvergeetlike ervaring. Trouens, ‘n reksprong van ‘n brug oor ‘n ravyn het vir hom tevore ‘n groter verskrikking ingehou.
Foto: Verskaf.

BRIEF IN BEELD OOR MISMAAKTE VOLKIEWAPEN

 

Ou wapen (links) en die nuwe (regs)

A luta continua. Die stryd duur voort teen die verkragting van my geliefde skool, Volkies Potch, se wapen van ‘n arend op ‘n skild – klassiek weens sy eenvoud en krag.
Die volgende brief uit my pen verskyn vandag in die dagblad Beeld:
Vandag wil ek die wapen opneem vir ‘n wapen – my geliefde skool, Volkies van Potchefstroom, se klassieke en tradisieryke arendwapen.
Op die verre Melkbos neem ek kennis van ‘n ongelukkige nuwe wapen wat toenemend die karaktervolle en klassieke oue verdring. Die besige nuwe vertoon ‘n krans van akkerblare om ‘n arend wat ook ietwat anders lyk as die een wat nou al amper 100 jaar (sedert 1925) op generasies Volkies se borse pryk. Die ou skild is skoonveld weg.
Natuurlik het dit mode geword om ter wille van verandering blindelings te verander. Maar instellings met respek vir tradisie en hul identiteit torring nie sommer aan iets wat oor geslagte soveel sentiment opgebou het nie.
Ek kan eerlik nie dink dat my Volkie-matriekmaats van 1957 – die klompie wat nog oor is – hulle kan vereenselwig met so ‘n onsensitiewe inbreuk op ‘n identiteit waarop hulle dekades lank trots is nie. Ook nie enige ander alumnidraers van die swart, rooi en goud nie.
Uit Potchefstroom verneem ek uit Volkiekringe rammelinge van weerstand en protes. Grootse prestasies is immers deur die jare onder die ou arend-wapen ingeryg. Administrateursbekers en ander topbekronings is verower. Die naam Volkies is daardeur met eer beklee,
Maar alumni is nie in die ingryping geken nie. Ons is nie eens die hoflikheid betoon van ‘n kennisgewing nie. Sou dit nie billik gewees het om by wyse van ‘n referendum eers alumni te raadpleeg voordat aan so ‘n hartskwessie gekarring word nie?

‘n AREND KOER NIE

Die ou Volkiewapen op die gewel van die Ons Hoop-meisiekoshuis. Sal dit ook moet waai?

Vandag wil ek die wapen opneem vir ‘n wapen: my geliefde skool, Volkies van Potchefstroom, se klassieke en tradisieryke arendwapen.

Op die verre Melkbos kry ek sterk snuf in die neus dat iemand met jeukvingers aan my alma mater se wapen torring. ‘n Weergawe duik hier, daar en oral  op met ‘n krans van akkerblare om ‘n arend wat ook ietwat anders lyk as die een wat nou al amper 100 jaar (sedert 1925) op generasies Volkies se borse pryk. Die skild word heel weggegooi.

Natuurlik het dit mode geword om ter wille van verandering blindelings te verander.  Maar instellings met respek vir tradisie en hul identiteit – soos Volkies – moet waak dat misleides hulle nie op sleeptou neem nie.

‘n Arend omsingel jy waaragtig nie met ‘n kransie akkerblare asof hy ‘n sagte ou bosduifie of iets is nie. Behoede dit.

Die arend of adelaar is ver van sommer net ‘n hierjy-simbool.  Jy vind hom op Amerika se wapen (sedert 1782). Jy vind hom op Duitsland se wapen (al sedert die heilige Roomse ryk). Jy vind hom in resenter weergawes o.m.  ook op die koshuis Eendrag van die Universiteit van Stellenbosch se wapen. Laasgenoemde is opsigtelik by Volkies afgeloer – kompleet met die drie skakel van ‘n ketting.

Hierdie lande en instansies kies die sierlike heerser van die lug as hul simbool omdat dit krag, skoonheid en onafhanklikheid weerspieël. Hierdie  voël beheers die lug omdat hy so hoog kan opstyg dat hy alle windrigtings kan verken.  Daarin lê sy krag.

Die “nuwe” wapen

Om die rede is die arend-motief op genoemde wapens en andere van dieselfde kader oorheersend.  Opvallend is die skoon lyne wat sy fierheid beklemtoon, die boodskap kragtig tuisbring en tot maklike identifikasie lei

Jy prop nie so ‘n wapen vol allerlei  sêkondere simbooltjies wat hom besig, onnet of wanordelik laat voorkom en sy sentrale boodskap afwater nie.  Visueel is so ‘n rommel-gedoente ‘n gruwel. Heraldies is dit ook hoogs verdag, meen ek.

Ek kan eerlik nie dink dat my Volkie-matriekmaats van 1957 – die klompie wat nog oor is –  hulle sal vereenselwig met so ‘n onsensitiewe inbreuk op ‘n identiteit waarop hulle dekades lank trots is nie. Ook nie ander ouer generasies draers van die swart, rooi en goud nie.

Die regte Volkiewapen

Grootse prestasies is immers deur die jare onder die wapen ingeryg. Administrateursbekers en ander topbekronings is verower. Die naam Volkies is daardeur met eer beklee,

Sal dit nie billik wees om by wyse van ‘n referendum eers alumni te raadpleeg voordat aan die wapen gekarring word nie?  Of is die drywer/s van die onbekookte plan op sy/hul hoede dat dit in ‘n referendum ewe kragtig verwerp sal word as wat Volkies se meisies – tot hul eer – ‘n plan gestuit het om hul geel skoolrokke met swartes te vervang?

Bestaan nie ook ander prosedurele vereistes vir so ‘n ingrypende stap nie?  Word daardie vereistes hoegenaamd gerespekteer?

Nee, vir die drywer/drywers van ‘n nuwe-wapen-beweging moet die boodskap ondubbelsinnig deurkom: Hokaai net hier.

Wie is hy of hulle? Watter gesag het hy / hulle agter hom / hulle?

Soos die uwe verstaan, bestaan reeds ‘n kern van invloedryke teenstanders by die skool self. Die tradisionaliste se hande moet gesterk word. ‘n Breë versetbeweging is dringend nodig, dalk by wyse van ‘n petisie.

Naskrif:  Dit was my voorreg om in 1976/77 aan Harvard in Cambridge, Massachusetts, te studeer.  Hierdie sogenaamde “ivy league”- universiteit leef sedert 1836 met sy Veritas-skild as sy wapen saam.  Die ontwerp is basies, skoon, eenvoudig, waardig en herkenbaar.  Die simboliek tref jou soos ‘n voorhamer. Bewaar iemand wat nou skielik die bevlieging sou kry om  ‘n takkie esdoring in te smokkel omdat dit die pragtige universiteitsdorp se kenmerkendste boom is!

Harvard se wapen – eenvoudig, skoon, treffend.