BREKFIS EN GESKIEDENIS


Billiard Room

Saam met n lekker plaasontbyt in die Billiard Room by die John Jack Inn op Chrissiesmeer kry jy ‘n stewige skep geskiedenis uit die begin van die vorige eeu.   Jy sit naamlik aan in ‘n vertrek wat tussen 1899 en 1901 opgerig is as ontspanningsentrum vir Britse troepe wat Chrissiesmeer gedurende die ABO beset het.

Die dink- en houtgebou kom oorspronklik uit Engeland en het ‘n draai by Tempe in Bloemfontein gaan maak. Dit is per ossewa van die Vrystaat af gebring.

Ek en Tokkie het aangesit by ‘n tafel neffens vier sandsteenblokke waarop ‘n reuse-biljarttafel gerus het.  Dié was vir die plesier van die offisiere.  Die naam Billiard Room kom al van 1901 af.

Die hotel langsaan  – ook van sink en hout – dateer self uit doerie tyd.   Dit is in 1903 deur die heer John Jack, n Durbaniet,  en ‘n vennoot opgerig. Die naam was Lake Chrissie Hotel. Dit was nie net ‘n gewilde oornagplek vir besoekers wat met hul waens en koetse na Barbetron of Delagoabaai op pad was nie, maar was die spil van die sosiale lewe op Chrissiesmeer.

John Jack Inn

Die naam het ‘n paar keer verander, o.m, tot Dumbarton Oaks Hotel en Mrs. Prices.  Die karakter het egter behoue gebly, al het die gebou in 1936 tot op die grond afgebrand.  Die huidige replika dateer uit 2012.  Die binnekant van die kamers is met sorg toegerus om die romantiek van  vergange tye vas te vang.

Die “oaks” verwys klaarblyklik na twee reuse-akkerbome voor die slaapkamer-gedeelte van die hotel.  John Jack het hulle al in 1886 daar geplant.

Buiten vir al die historiese elemente en ouwêreldse romantiek wat ‘n kuiertjie spesiaal maak, het ons ook die volgende ervaar:

Bokke op stoep

Boerbokke wat tot die ergernis van die bestuur die blomme in bakke op die stoepe voor die slaapkamers kom vreet;

‘n Heerlike kaggel en genoeg brandhout in die slaapkamer;

Memorabilia soos ’n ou rooi posbus waarin jy jou sleutels deponeer;

‘n Hoenderhaan wat vroeg-vroeg begin kraai, en

Witgerypte gras om ons heen – die eerste ryp wat hierdie verloopte Bloemfonteiners in dekades sien.

 

SPEK, EIERS EN ONSIN

Die "Illuminationsteater" op die QM 2.

Die “Illuminationsteater” op die QM 2.

Die onverdunde onsin wat die politikus Jacob Rees-Mogg oor die ABO se konsentrasiekampe kwytgeraak het, is so tipies Brits soos ‘n tradisionele “Engelse ontbyt” met gerookte haring en daarna spek en eiers met roosterbrood plus worsies, niertjies,  tamatie, sampioene, gebakte boontjies, die hele kaboedel.

Ontkenning oor hul wandade in daardie oorlog lệ diep in die kollektiewe Britse psige.  ‘n Onthullende demonstrasie van Britse onkunde oor die stukkie geskiedenis het ek op die weeldeskip Queen Mary 2 op pad na Australië gesien.  ‘n Militệre historikus van Melbourne, Australië, genl.-maj Michael O’Brien,  het die oorwegend Britse passasiers op die skip ongemaklik laat rondskuif met sy mededelings, en veral fotomateriaal.

Die naam Emily Hobhouse het herhaaldelik in sy praatjie opgeduik ( ook name soos genl. De Wet en genl. Louis Botha).  Me. Hobhouse se meelewing en ontnugtering oor die lyding van Boerevroue en –kinders agter die doringdrade van die konsentrasiekampe is deur hom as kapstok gebruik vir statistieke en foto’s wat veral Britse vroue na hul asems laat snak het.

Die smartlike foto van patetiese bondeltjie vel en been wat ‘n uitgeteerde Lizzie van Zyl kort voor haar dood was, verskyn in vele boeke oor die ABO.  Dit is in die “Illuminations”-teater op die skerm geflits met die byskrif dat 22 000 kampkinders gesterf het. Watter “illumination” was dit nie!

‘n Vrou skuins voor my en my vrou, Tokkie, het haar oë met haar sakdoekie afgedroog en teenoor haar buurvrou geprewel: “I did not know this, did you?”

Toe hierdie patriotiese “Boer” die spreker agterna ‘n kloppie op die skouer gaan gee, het hy met ‘n skewe glimlag lakoniek geantwoord: “People must hear the truth, must they not?”

Mense soos Rees-Mogg sal, helaas, die waarheid nie herken nie al word dit hoe oortuigend aan hulle oorgedra, vrees ek.