FLUITJIE BLAAS VERNIET!

96088306_10158846301830190_8389104257701249024_oVriend Ronnie de Bruyn wat die naweek op amper 90 in die aftree-oord Klaradyn ter ruste is,  was ‘n gerespekteerde oud-skoolhoof en ‘n pilaar van die gemeenskap. Kon lekker ondeund ook wees as hy die dag lus was.

Sal ek sy storie vergeet van Anita se heupvervanging? Bedagsame eggenoot wat hy is, koop hy toe vir haar ‘n fluitjie om hom slaapkamer toe te ontbied as hy ‘n pliggie moet kom verrig.

Die Saterdagmiddag sit hy in hul huis –  toe nog hier in Tweede Laan, Melkbos –  voor die TV en rugby kyk. Iets haper egter. Lyk of die spelers die skeidsregter eenvoudig net ignoreer. Fluitjie blaas skril. Spel gaan voort. Fluitjie blaas nog dringender. Geen teken dat iemand wil ophou speel nie.

Hy wou hom eers vervies vir die swak dissipline. Toe tref dit hom soos ‘n emmer yskoue water.  Daardie fluitjie blaas nie op Nuweland nie. Dit blaas hier in sy slaapkamer. Dis Anita wat blaas en blaas dat haar longe wil ingee.

Toe hy skuldig by die deur inloer, kan hy sien Anita is ongeduldig.  “Ek blaas en blaas, maar lyk my jy raak nou hardhorend!”

Met dieselfde operasie (en die lang rehabilitasie) was Ronnie later nie meer so fluks met al die huiswerkies soos aan die begin nie. Dis toe dat hy sy vriende sugtend meedeel hy wil  kerkkantoor  toe om ‘n reëling te tref.  Hulle moet Anita se naam nou summier van die gebedslys verwyder en met syne vervang!

 

ONS “GEHEIME WAPEN”

IMG-001Wat ‘n jaar was 1961 nie – vir Suid-Afrika; ook vir Die Perdeby, studentekoerant van Tuks!

Suid-Afrika word ‘n Republiek – ‘n lang Afrikanerdroom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek bande met die Statebond.  NGK-mense bots sterk oor apartheid by die Cottesloe-beraad. Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.

Hoë besoekers stroom na die kampus: Dr. Verwoerd, pres. C.R. Swart, dr. Anton Rupert, N.P. van Wyk Louw.  Elke keer is Die Perdeby op die toneel.

Komplimente vir ons koerant was volop. Die beste ‘By in sy jare op die kampus, was die mening van o.a. Piet Grobler, latere senior LV wat beroemd/berug geraak het oor sy openbare botsing met die konserwatiewe dr. A.P. Treurnicht.

Die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het op sy beurt laat hoor: “Die Perdeby het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar, ook vir die redaksie van Die Perdeby.”

Natuurlik is ek trots dat ek daardie redaksie kon lei. Sy foto is een van dié uit my studentedae wat teen my studeerkamermuur hang. Links voor sit Joh Groenewald. Sien in vanoggend se Burger hy is sag heen op George. Was ook al ‘n 1939-kalwer.

Miskien is dit tyd dat ek ‘n geheimpie verklap: dat Joh – bekende filatelis van later jare – eintlik ons “geheime wapen” van daardie Perdeby was. Hy was toe al verslaggewer by Die Transvaler en ‘n knap leermeester – ook vir die redakteur.

Te laat – soos helaas dikwels maar die geval is –   wil ek graag vandag aan hom ‘n erkentlike buiging maak.  Joh Groenewald jy was in ‘n onvergeetlike jaar goud werd – vir my en vir ‘By.

LAAT BRAAI-BYLE HUIL

 

 

 

IMG_0654Laat die byle huil, Paul Colditz van Bloemfontein!  Die onderwysman mik nou om 50 dae aaneen te braai.  So lees ek in Die Burger.  Wat ‘n rein gedagte.

Grootte en intensiteit was eers my ware vuurplesier. Frekwensie het mettertyd ‘n oorheersender maatstaf van ware genot geword.  In Sabiepark is ’n kampvuur ’n daaglikse heerlikheid. ‘n Stuk roetine soos opstaan of gaan slaap. Drie maande lank –  90 aande agtereen –  lek die vlammetjies elke aand van ons lang hibernasie in die bos. Ja 90 aande, Paul!

Twee ekstra vuurmaakplekke is juis vir die doel by ons boshuis aangebou: een voor by die stoep; die ander agter, nader aan die eetkamer en die kombuis.  By elk is ‘n verskeidenheid gedugte braaiers byderhand. Dit maak verskillende konfigurasies moontlik.

Elke braaier het ‘n naam wat op sy herkoms dui: bv. Neels se braaier en  Manie se braaier.  Neels Nothnagel was Johan se skoonpa. Hy is oolede. Manie Steyn van die Wes-Rand is ‘n dik vriend uit ons Tukkiedae in die jare sestig. Sy geskenk moes al die pad van Johannedsburg kom met my neef se groot 4 x4.

Om ’n braaiplek en ‘n braaier te kies, is deel van elke aand se ritueel. Nes die inspring in jou spesiale braai-“uniform” (ou klere deurtrek met rook en allerlei reuke). Die spuit van die nek, polse en enkels vir muskiete. Die aansteek van sitronellakerse en -fakkels.

Elke braaiplek het sy eie atmosfeer, sjarme en bekoring. Die keuse is soms ver van maklik.

Jesaja skryf soos ‘n ware vuurliefhebber:  “Dis lekker. Ek is warm, ek geniet die vuur” [Jes. 44:16(b)].  Jesaja, ou maat, hierdie gryskop sekondeer sommer met albei hande in die lug.

OPE BRIEF AAN JEAN OOSTHUIZEN

Vanoggend wil ek vaderlik ‘n ope brief rig aan Jean Oosthuizen rakende sy manifes oor die Bird Island-sage wat hy kans gesien het om op 15 Augustus 2018 op Facebook te publiseer. Amper 500 mense wat ewe mislei was of daardeur mislei is, het dit sogenaamd ge-“like”.

In die manifes bestaande uit 11 genommerde paragrawe kap hy links en regs. Hy loop my van ‘n kant af oor my onmiddellike veroordeling en verwerping van die boek. Met die gewone selfvertroue wat hy openbaar wanneer hy graag in die media oor godsdiens, kerksake en morele kwessies pontifiseer,  bevind hy dat ek “ bog” praat. Finish en klaar.

Oor die destydse verklaring tot steun van genl. Magnus Malan deur genl. Constand Viljoen (nou saliger) namens die Weermag-generaals was hy ewe neerhalend.  Dit, bevind hy, is ook maar net “nog ‘n verklaring.”  Die paragrafie eindig met ‘n arrogante veeg in genl. Viljoen se rigting:  “Sak Sarel. Nag generaal.”

Intussen het die boek vinnig verkrummel.   Taks om taks is nuwe spykers in sy doodskis getimmer namate die feite bekend geraak en die leuens ontmasker is.  Die “bog” wat ek dan sou gepraat, was toe nie “bog” nie maar die waarheid – een van die hoekstene van die joernalistieke beroep, waarvoor ek baie lief is.

Gister het NB Uitgewers ‘n tweede keer teruggekrabbel. Skielik vra hy nou al drie die ministers wat hy beswadder het, en hul families om verskoning vir hul onverdiende pyn en lyding. Hy staan heel weg van die boek en bied verder o.m. ook aan om sy R2,3 miljoen wins op die boek beskikbaar te stel aan mnr. Barend du Plessis om aan ‘n organisasie van sy keuse te skenk, met naamregte, d.w.s. iets soos die Barend du Plessis-hulpfonds.

Na hierdie skouspelagtige ommeswaai van die ontnugterde uitgewers sal Jean Oosthuizen seker saamstem dat sy manifes ‘n “mistykie” was.  Dit was, om dit sag te stel,   voortvarend, oningelig en onjuis.

Bird Island die boek is toe inderdaad “uit die duim gesuig”; ‘n fabrikasie van fiktiewe insidente, ‘n spul wanvoorstellings en ‘n “laagtepunt in die SA publikasiewese”, soos dit al deur ‘n regdenkende redakteur beskryf is. Of stem jy nog nie saam nie, mnr. Oosthuizen?

‘n Apologie vir sy beledigende taal soek ek nie. Wat sal dit my in die sak bring, of vir genl. Constand Viljoen, wat reeds in sy graf is? ‘n Bietjie meer nederigheid aan mnr. Oosthuizen se kant oor sake waarvan hy klaarblyklik minder weet as wat hy  gedink het, en ten minste ‘n openbare erkenning dat hy oor hierdie misbaksel van ‘n boek sleg misgetas het, sal ek wel  by hom wou aanraai. Dit sal die eerbare weg wees om te volg.

In sy manifes beweer mnr, Oosthuizen voorts dat ek “in die NP se alie ingekruip was”, wat seker sy goeie reg is om te glo en sy demokratiese reg om uit te basuin, hoewel dit lynreg indruis teen bv. die taksering van die gerespekteerde prof. Johannes  Froneman van my rol in die oorgangspolitiek.  Laasgenoemde beskou ek as ongetwyfeld die gesaghebbender taksering. Ons laat dit maar daar.

Maar mnr. Oosthuizen het in sy manifes meer oor my op die hart.  Hy skryf ook nog die volgende:  “Hy  het op die NP se takke en besture gedien en was lid van die geheime broederbond. Moet ons nou sý mening ernstig opneem as objektief? Rerig? “ Korrek  – in een opsig. Ek was lid 12951 van die Afrikaner-Broederbond en is dit nou nog van die Afrikanerbond. My lidmaatskap het nie uitgelek nie. Dit is deur myself in die jare 90 bekend gemaak. Ek was ook lid van die F,A,K, is lid van die Akademie, die Erfenisstigting en ‘n Vriend van die Voortrekkermonument, wat seker deur mnr, Oosthuizen met afkeuring  bejeën sal word. Sy goeie reg. Ek is trots op daardie verbintenisse.

Wat nie korrek is nie.  is dat ek sogenaamd “op die NP se takke en besture gedien” het. Die vergissing is voorheen aan mnr. Oosthuizen uitgewys.  As hy dit iewers reggestel het, het dit ongelukkig nie onder my aandag gekom nie.  As hy volhou dat hy nie met hierdie bewering die waarheid geweld aandoen nie nie, vra ek hom beleefd  om te bewys waar en wanneer ek lid van ‘n NP-bestuur was.

Vergaderings van die NP-hoofbestuur wat ek bygewoon het, was op uitnodiging as redakteur van Die Volksblad. Dus: ex officio. Dit was niks buitengewoon nie. Prof. Piet Cillié het as redakteur van Die Burger dieselfde gedoen. Ook ander redakteurs van Die Burger en Die Volksblad totdat die inisiatief van koerantekant gekom het om daardie gebruik te laat vaar.

Hier volg nou die manifes van 15 Augustus 2018. My advies aan mnr. Oosthuizen is: lees dit aandagtig, vergelyk jou aansprake daarin met die werklikheid soos dit ontvou het, en besin oor hoe jy jou geloofwaardigheid as meningsvormer  self ondermyn wanneer jy toelaat dat jou vooroordele jou oordeel so vertroebel.

Hennie van Deventer

Jean Oosthuizen se manifes:

 

Ek glo nie in samesweringsteorieë nie maar ek wil ook ‘n straaltjie pie op Birds Island.

  1. Ek dink nie alles in die boek is noodwendig korrek nie.
    2. Ek dink ook nie alles in die boek is uit die duim gesuig nie. Dit moet ‘n baie dik duim wees.
    3. Ek dink Volksblad se oud redakteur wat so selfversekerd verklaar alles in die boek is bog praat bog. Hy was self in die NP se alie ingekruip, het op die NP se takke en besture gedien en was lid van die geheime broederbond. Moet ons nou sý mening ernstig opneem as objektief? Rerig?
    4. Die oud generaals soos oom Constant se verklarings oor Birds Island se dinge is ook maar net dit. Nóg ‘n verklaring. Amper soos daai destyds dat die weermag nie in Angola was nie. Sak Sarel. Nag general.
    5. Die basis van die storie in die boek was al in die 80’s welbekend onder baie joernaliste al het Volksblad se oud redakteur nie daarvan geweet nie. Hy het ook nie van Vlakplaas “geweet” nie.
    6. Ek weet nie of Mark Minnie homself geskiet het nie. Indien wel wonder ek hoekom.
    7. Ek dink te veel mense wat niks van die saak weet nie dink hulle weet alles daarvan en dit geld vir beide kante.
    8. Wat ek weet is dat daar baie vir ons gelieg is in die verlede. Politici het nie toe minder vir ons gelieg as nou nie. Ook nie generaals nie.
    9. Die derde oud minister se verweer dat hy nie Nagmaal sou kon gebruik as hy skuldig was nie maak my ook nie opgewonde nie. Katolieke priesters wat kinders gemolesteer het, het Sondag na Sondag Nagmaal gebruik én bedien.
    10. Ek hoop ons kom nader aan die waarheid ter wille van almal wat betrokke is.
    11. Laastens wens ek mense wil ophou om die boodskapper te skiet.

Jean Oosthuizen

15 Augustus 2018.

DANKIE, LOUISE

Ek glimlag van oor tot oor. Reken ek moet maar een van my laaste botteltjies wyn oopmaak en ‘n glasie klink om die mooie resensie deur Louise Viljoen op Maroelamedia van my reisverhaal “Na verre hawens” te vier.

Verlede week sou die bekendstelling gewees het op die MSC Orchestra op pad terug Kaap toe van Walvisbaai af. Raai wat het daarvan geword!

Ewenwel, ek sit nog so en peins oor die streep wat Korona ons getrek het met die ingrendeling en al sy tentakels toe ek die Facebook-boodskappie kry om by  https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boekresensie-na-verre-hawens/ te gaan loer.

Daar is die resensie toe.

Vir Louise ek het laat weet ek is oorstelp en oorweldig.  Dis werklik ‘n pragtige resensie.

Sy noem dit o.m. “256 bladsye tjokenblok vol heerlike vertellings van ons skeepsreise oor 50 jaar heen.”

Wat my getref het, is dat sy die Bybelversie voor in die boek spesiaal vermeld: “Sommige mense het met skepe op die see gevaar, en op die groot oseane handel gedryf. Hulle het die Here se werk gesien, sy wonderdade op die diepsee … Hulle was bly toe dit kalm word en Hy hulle na die hawe toe lei waar hulle wou wees.”

So dikwels kyk mense daardie kapstokkie voor in ‘n boek mis, en so dikwels bevat dit ‘n besonderse stukkie pitkos.

Toe ek die versie in Psalm 107 (Nuwe Lewende Vertaling) raaklees, het ek dadelik geweet: dis nommerpas vir “Na verre hawens” bedoel.

My boek is ‘n uitnodiging om saam te reis.  Hierdie blog is ‘n uitnoding om die Van Deventers se  reise deur die oë van so ‘n  fyn waarnemer soos Louise Viljoen te geniet.  As die skakel om die een of die ander rede nie werk nie, tik net twee of drie van volgende die soekwoorde in: Maroela, Hennie van Deventer, Na verre hawens, Louise Viljoen.

Dankie, Louise,

 

 

LAG, LAG IN TAMATIESTRAAT

tmatievooorbladDie ganse wêreld is in Tamatiestraat soos nog nie in my lewe van 79 jaar nie.  My idioom is eintlik ‘n volkome eufemisme. Korona keil die wêreld op met ‘n venyn wat ons ergste nagmerries kwalik sou kon optower. Dit saai ontwrigting, ekonomiese ellende, siekte, hongersnood, dood …. op sy minste angs, stres en eensaamheid.

Half ironies dat juis in hierdie ernstige Tamatiestraat-dae my humorboekie Praat-praat in Tamatiestraat ‘n tweede lewe gaan kry.  Die boek-boek (op papirus)  is tien jaar gelede deur die ontslape uitgewer Griffel uitgegee. Kort daarna het Griffel gevou  – darem nie weens my boek nie, hoop ek! Nou het De Novoboeke ‘n e-boek daarvan gemaak. Hierdie week maak hy sy buiging met ‘n voorblad wat my nogal plesier gee. Ek glo julle sal verstaan waarom.

In Tamatiestraat is’ n seleksie van (hopelik) humoristiese blogs/stories uit die HvD-stal, wat in die laaste jaar of drie hier, op my eie webwerf, www.hennievandeventer.co.za, op Litnet of in allerlei Media24-publikasies verskyn het.

In die boek is ‘n 70-stuks hoofstukke. Elkeen is bedoel om die lagspiere te prikkel. En moenie bekommerd wees nie: om te lag is ‘n “lewensnoodsaaklikheid”. Kraai maar dat die trane rol daar in jou geslote ruimtetjie – geen regulasie word oortree nie. Trouens, as jy my vra wat my wens vir die boek is, sal ek antwoord: dat hy in die mond van lesers ‘n nuwe titel kry –  Lag, lag in Tamatiestraat. 

Van die temas wat ontgin word, is die stuitighede by begrafnisse; die vuur en avontuur van opwindende laat liefdes; krom en skewe kommunikasie; dikvellige kuiergaste; mediese moleste, betjoinste boetebessies … noem maar op.

De Novo  noem dit ‘n “plesierige storiebundel” wat allerlei verleenthede, skades en skandes weerspieël wat die uwe in sy omswerwinge slagoffers sien en hoor oorkom het, of, helaas, self oorgekom het. ‘n Voorbeeld van die self-oorgekom-soort, is o.m. die Huisgenoot-storie van die buurtwag wat my en Tokkie, kaalbas in die bad, met sy priemende lig deur die badkamer verras. Dalk is daar mense wat nou nog daaroor tjie-tjie-tjie. Of oor Ouma se rooi nagrok wat so geheimsinnig uit die outehuis op romantiese uitstappies verdwyn het.

Ander se skades en skandes sluit in ‘n arme drommel wil ‘n einde maak aan alles – toe word sy “sterfbed” onder hom uit gekaap. n Entoesiastiese dame sonder ‘n draad storm met ‘n oorlogskreet op haar lippe swembad toe – en ontdek, tot in haar siel geskok, ‘n onverwagte toeskouer.

Vir diegene wat in die grendeltyd lus voel vir ‘n paar opgeruimde oomblikkies verwys ek graag na De Novo se Boekeblad. Laasi gerus Tamatiestraat af. Die adres is  http://www.denovowebs.co.za/product/praat-praat-in-tamatiestraat/   Die boekie is spotgoedkoop, skaars ‘n middelslag bottel wyn se prys, en dié mag julle in elk geval nie nou koop nie.