RUIKER VIR ‘n LANDDROS

En hierdie ruiker rose? Dis bedoel vir landdros Desiree Stigling van Pretoria wat die blonde “Real Housewife” Mel Viljoen so netjies op haar plek gesit het oor haar lawwe poging om die TV-program Carte Blanche te muilband.
Viljoen is hof toe met die bewering dat Carte Blanche se mense hulle van teistering skuldig gemaak, haar privaatheid geskend en haar naelbesigheid skade berokken het toe hulle by haar kom rondloer het vir allerlei onbehoorlikhede wat oor die besigheid opgeborrel het.
Mense wat so graag agter privaatheid skuil, kan gerus die uitspraak gaan lees waarin uitdruklik verklaar word dat “hoewel sekere regte op privaatheid op die oog af geskend kon wees, kan dit nooit die reg op vryheid van die media troef nie.” Hoor-hoor.
“Enige joernalis wat sy of haar sout werd is, moet ondersoek instel as dit in die openbare belang is, het landdros Stigling tereg ook bevind – ‘n uitspraak wat inderdaad in die woorde van John Webb van Carte Blanche, die noodsaaklike rol van joernaliste bevestig.
Nie alle edelagbares en edeles verstaan altyd so mooi hoe koerante werk nie. Persoonlik het die uwe nogal groot moeite gehad toe hy vir wyle regter Lucas Steyn moes verduidelik dat ‘n subredakteur verantwoordelik is vir die opskrif (kop) en nie die verslaggewer nie. Ook die feit dat jy vir ‘n opskrif net soveel ruimte vir soveel letters het, was bo die regter se vuurmaakplek. Skryf net ‘n kleiner opskrif met meer letters, was sy oplossing.
Maar die ergste wat hierdie arme drommel onder die onbegrip van ‘n regter gely het, was dit nie. Om vir regter O. Galgut, ‘n Engelssprekende, te oortuig die uitroep “hef ‘n bedpan” is maar Johan van Wyk se manier van beklemtoning in sy rubriek Stop van Myne sit nie in elke man se broek nie. Die regter het gemeen dis ‘n sinoniem vir “gaan dinges man”.
Miskien was die regter nie so ver verkeerd nie!

SPRINGBOKPLAAG IN KAROO

Tower die beeld in jou verbeelding op: jy ontwaak en waar die vorige aand Karoovlaktes rondom was, is nou hektaar op hektaar vir kilometers ver tot by die gesigseinder ‘n see van springbokke wat rondmaal en ‘n reuse-stofwolk opskop wat oor die dorp hang.
Dit is die jaar 1849 en presies hierdie scenario wag een oggend op die inwoners van Beaufort-Wes. Duisende dring die dorp met ‘n hoewegedreun binne en vat die strate oor. Mense gryp hul skietgoed en skiet blindelings om huis en haard te beskerm.
Op hul plase aanskou boere verslae die ongekende verwoesting soos veld, heinings, watergate, skape, waens en selfs osse vertrap word, Elke groenigheidjie verdwyn in derduisende gulsige bekkies. Dis soos ‘n sprinkaanplaag – net erger. Vir party beteken dit die einde van hul boerdery.
Oor die ganse Noord-Kaap en Karoo tot aan die kus het sulke tonele hulle daardie tyd jare herhaal: bevolkingsontploffings in geil jare en massiewe trekke op soek na weiding wanneer droogtes toeslaan.
Op die trek het troppe verenig. Honderde het duisende geword, duisende tienduisende. tienduisende honderdduisende en so aan. Selfs skattings van miljoene word gehoor.
Dit kon tot weke duur voordat so ‘n enorme trop verby beweeg het. Selfs doringdraadheinings kon hulle nie stuit nie. Die verwoeste landskap was kaal en leeg tot die volgende reëns. Dit was asof dit deur ‘n brand verteer is.
Ek het oor die “springbokplaag” gaan nalees na ‘n wenk van Johann Bekker op Nagkantoor. In antwoord op ‘n vraag het hy o.m. vertel hoe die polisie aan dorpenaars op die trektroetes ammunsie uitgedeel het om skadebeheer toe te pas en hoe van die bokke wat dit tot aan die kus gemaak het, seewater gedrink en in hul duisende op strande gevrek het.
Die skrywer Lawrence Green het die verskynsel uitvoerig opgeteken in sy boek “Karoo”. Hy vertel hoe swaar gewapende gesinne op waens in konvooie die trekbokke ingewag en voor die voet bly skiet het, soms sommer twee of meer bokke met een koeël. Die vroue kon nie voorbly om biltong te maak nie.
In 1880 het een boer 68 springbokke platgetrek wat op een plek gestaan het. ‘n Jaggeselskap se oes was 750 bokke op ‘n enkele jagtog, skryf hy.“This was hunting on a gigantic scale, and nowhere else in the world has such slaughter been known.”
Die laaste reuse-migrasie wat opgeteken is, was in 1896. Daarmee was een van suider-Afrika se skouspelagtigste natuurverskynsels – groter en grootser as Serengeti op sy beste – iets van die verlede.

‘JAGTOG VAN DIE EEU’

Tussen 20 000 en 30 000 stuks wild is op die Vrystaatse vlakte by Bloemfontein op ‘n bondel gejaag sodat prins Alfred, tweede seun van koningin Victoria van Engeland, en sy jaggeselskap na hartelus kon afmaai.

Tussen 800 en 1 000 het in die uurlange koeëlreen geval: springbokke, kwaggas, sebras, blesbokke, elande, volstruise, hartebeeste, wildebeeste, koedoes en wat nog. ‘n Klomp van die paniekbevange diere is met spiese doodgesteek. Ander is doodgetrap.

Agterna is die slagting op 24 Augustus 1860 triomfantlik as “The greatest hunt in history” aangekondig en in een verslag is aangeteken: “Suffice it to say that such a hunt, taken with all the concomitant circumstances and incidents, has not taken place in any part of the civilised world (sic) within the present century.”

Die gasheer was Andrew Hudson Baine, eienaar van o.m, die plaas Bainsvley (deesdae ‘n gewilde hoewegebied buite Bloemfontein ) waar die bloedstollende jag plaasgevind het.  Die wild is dae lank deur ’n gewerfde skare swart handlangers te perd van oral aangejaag en op een kol vasgekeer.

Vroeg die oggend van 24 Augustus het prins Alfred en sy jaggeselskap van 25 mense ogedaag. Op hul spoor was toeskouers in waens en op perdekarre.    Party was te perd.

Omstreeks 14:00 het die skietery begin.  Die prins het ‘n groot wildebees platgetrek.  Die gewonde dier het op die koninklike jagter afgestorm, maar is deur ‘n tweede skoot neergevel.  Daarna was dit soos oorlog met soms skaars tien tree tussen die jagters en die voorste linie wild.

Prins Alfred het onder die malende diere geskiet so vinnig soos gewere van weerskante vir hom aangegee kon word.   Hy en makkers het later wild en wakker met jagspiese onder gewonde diere ingevaar. Hulle was rooi van die bloed tot by hul skouers, en het meer soos slagters gelyk as soos jagters.

Rooi stofwolke het oor die plat Vrystaatse aarde gehang van die stormlope soos die verskrikte wild dan hier en dan probeer deurbreek.  Hul wanhopige pogings is telkens gestuit deur die swartmense wat in ‘n digte kring om hulle saamgetrek was.

Die gevaar om deur wilde diere in hul doodsangs of deur jagters en handlangers se perde vertrap te word, het volgens deelnemers bygedra tot die opwinding van die jag.  Van die perde het in die chaos losgebreek en op vlug geslaan.  Twee het selfs in ‘n kleinhuise skuiling gaan soek!

Die chaotiese toneel op die ongewone jagveld word uitgebeeld op die skildery hierby.  Dit is deur Thomas Baine en is deel van die William Fehr-versameling van die Kaapse kasteel.

In die uur wat die jag geduur het, het net die prins alleen sowat  25 bokke platgerek.  Die  hope vleis is vir die jubelende handlangers gegee.

Om getalle te bepaal hoeveel doodgeskiet, later van hul wonde beswyk of deur die handlangers gevang is, is egter nie maklik nie.  Volgens sekere weergawes  is 800 tot 1000 diere van alle soorte uitgewis.  Seshonderd stuks grootwild is doodgeskiet en ‘n onbekende getal met spiese doodgesteek.

Volgens ander berekeninge lyk die prentjie erger. Sommige waarnemers bereken dat van die 20 000 tot 30 000 stuks wild wat omsingel is, sowat 5 000 op die een of ander manier verlore gegaan het.

Dan lees ek in een verslag: ”It was a very exciting day, and were his Royal Highness to live for a hundred years  I do not believe he could ever see such a scene again, for the game in South Africa is fast disappearing. “

Kommentaar is seker oorbodig.

(Ek het oor die onheuglike Vrystaatse jagtog gaan nalees terwyl my vrou, Tokkie,  met Eben Venter se boek “Decima” besig was.  Sy het telkens geskok vir my daaruit aangehaal.  Venter skryf o.m,. oor oud-president Theodore Roosevelt Jr. van Amerika se maandelange Afrika-safari in 1909 waarin min respek vir Afrika se wild betoon is en veral renosters voor die voet afgemaai is.)

UIT DIE HART VAN ‘n EGGENOOT

Jy kon ‘n speld hoor val toe ds. Heerden van Niekerk sy treffende boodskap oor die vrugte van die Gees by die gedenkdiens vir Lize van Rensburg gistermiddag in die NG kerk Welgemoed inlei met ‘n huldeblyk uit die hart van haar man, Rudie, die skrywer.

In my amper 83 jaar het ek al my kwota gedenkdienste of meer bygewoon. Slegs by drie wat ek kan onthou, was daar huldeblyke, hetsy mondeling of skriftelik, deur die eggenoot wat alleen agterbly. Al drie was deur koerantmanne.

Voor Rudie s’n vir sy “fyn, klein, liefdevolle” Lize, was daar Johan van Wyk s’n vir sy Zandra en Piet Cillié s’n vir sy Bettie. Vir al drie langslewendes haal ek my hoed af vir ‘n uiters moeilike taak wat in uitdagende omstandighede met onderskeiding en waardigheid uitgevoer is.

Elke gedenkdiens het momente en elemente wat dit van elke ander onderskei en op grond waarvan jy dit in jou geheue liasseer. Rudie se huldeblyk aan sy sonskyn-vrou was so ‘n moment.

‘n Tweede onderskeidende element van die diens was die program of begrafnisbrief, soos ons dit in vorige tye genoem het.

Dat Lize ‘n sprankelende vrou en moeder moet gewees het, intens lief vir die mense om haar, vir die lewe en vir helder kleure (o.m. waar te neem in haar keuse van serpe en brilrame) tref ‘n mens dadelik as jy die kleurryke blad met sy vrolike blompatrone ter hand neem (foto). Felisitasies aan die ontwerper vir ‘n klaarblyklik raakvat-produk.

‘n Derde uitstaande kenmerk van die gryse, nat middag was vir hierdie Volksblad-man die getal kollegas uit die jare 70 en 80 wat die laaste eer kom betuig het. Ons was elf in totaal as ek nie mistas nie. In alfabetiese volgorde: André Brink, Ansie Welman, Deon Meyer, Emile Terblanche, ekself, Jan Bezuidenhout, Johan Coetsee, Philip van Rensburg, Rudie, Tobie Wiese en Tom Ferreira. Nogal merkwaardig, sou ek reken.

By die tee agterna in die kerksaal het dit in een hoekie amper soos ‘n redaksievergadering van doerie tye gelyk, as dit nie vir die kieries, ander sigbare of verskuilde mankemente, plooie en grys hare was nie . Tye stap aan.

BRIEF IN BEELD OOR MISMAAKTE VOLKIEWAPEN

 

Ou wapen (links) en die nuwe (regs)

A luta continua. Die stryd duur voort teen die verkragting van my geliefde skool, Volkies Potch, se wapen van ‘n arend op ‘n skild – klassiek weens sy eenvoud en krag.
Die volgende brief uit my pen verskyn vandag in die dagblad Beeld:
Vandag wil ek die wapen opneem vir ‘n wapen – my geliefde skool, Volkies van Potchefstroom, se klassieke en tradisieryke arendwapen.
Op die verre Melkbos neem ek kennis van ‘n ongelukkige nuwe wapen wat toenemend die karaktervolle en klassieke oue verdring. Die besige nuwe vertoon ‘n krans van akkerblare om ‘n arend wat ook ietwat anders lyk as die een wat nou al amper 100 jaar (sedert 1925) op generasies Volkies se borse pryk. Die ou skild is skoonveld weg.
Natuurlik het dit mode geword om ter wille van verandering blindelings te verander. Maar instellings met respek vir tradisie en hul identiteit torring nie sommer aan iets wat oor geslagte soveel sentiment opgebou het nie.
Ek kan eerlik nie dink dat my Volkie-matriekmaats van 1957 – die klompie wat nog oor is – hulle kan vereenselwig met so ‘n onsensitiewe inbreuk op ‘n identiteit waarop hulle dekades lank trots is nie. Ook nie enige ander alumnidraers van die swart, rooi en goud nie.
Uit Potchefstroom verneem ek uit Volkiekringe rammelinge van weerstand en protes. Grootse prestasies is immers deur die jare onder die ou arend-wapen ingeryg. Administrateursbekers en ander topbekronings is verower. Die naam Volkies is daardeur met eer beklee,
Maar alumni is nie in die ingryping geken nie. Ons is nie eens die hoflikheid betoon van ‘n kennisgewing nie. Sou dit nie billik gewees het om by wyse van ‘n referendum eers alumni te raadpleeg voordat aan so ‘n hartskwessie gekarring word nie?

HIER KOM ONS WEER:  WEDERSIENS VAN WONDERSKIP

Kaptein Kevin Osprey op die boeg van sy skip.

“Die Queen is hier! Die Queen is hier!” klink dit uit duisende kele op.  Baniere wapper in die wind met die woorde: “Welcome QM2”. In lugballonne en helikopters, op seiljagte en bootjies, te voet op die kaai tot doer in die verte – oral drom entoesiastiese toeskouers saam.

So, onthou ek en Tokkie, die verwelkoming vir die Queen Mary 2 op elke hawe van Kaastad na Sydney – ons onbestrede droomvaart in 2014 van ‘n dosynstuks vaarte sedert 1970. Met sulke aansteeklike bewondering en ontsag word Haar Majesteit telkens in hawens hartlik gegroet.  Dit het ons mateloos geïmponeer.

Sommer om die draai, in Februarie, is die Queen weer hier. Sy vaar dieselfde roete as in 2014 op haar Wêreldvaart van 2024, maar met een wonderlike nuwigheid.

Die eerste keer in 25 jaar bied die redery Cunard vir passasiers wat dit verkies,  ‘n kort sektor aan, van Kaapstad na Mauritius.  Agt dae ter see om te deel in die QM 2 se weelde, styl en skitterende programme sonder die pyn van ‘n eindelose vlug terug.  (Ek hou nie van vlieg nie. Raak gou moer gesit. Pes die klein vliegtuig-toiletjies.)

Toe die advertensie op my rekenaar kom, roep ek Tokkie, onmiddelik opgewonde.  Is dit nie waaroor ons al amper ‘n dekade lank lugkastele bou en telkens vergeefs oor navraag gedoen het nie: so ‘n nommerpas-herontmoeting met daardie indrukwekkende skip?

Om nou kortpad te vat met my storie: dit het regtig nie te veel inspanning geverg my vrou te oortuig nie, al is ‘n vaart na Walvis in Maart op die MSC Splendida al geruime tyd bespreek. Dus: op 1 Februarie klim ons in Kaapstad weer op die Queen. Tien dae later klim ons in Mauririus af, oornag in ‘n hotel daar en vlieg die volgende dag terug. Net ses uur in die lug.

Ons beskeie nessie.

Kajuit 6005 waarin ons in 2014 was – “stateroom” 6005, verkies die Cunard-mense om hul knusse nessies te noem – is waarskynlik een van die mees beskeie op die weeldeskip. Maar so gelukkig het ons in hom gewoon die 22 dae en nagte tot in Sydney dat ons mooi gepleit het om hom weer te kry. Sal later hoor. Maar alte heerlik sal dit wees om op ons 10-jaar-herdenking van ons kennismaking in 2014 dieselfde roete as destyds na ons eie plekkie te loop.

‘n Bonus is sy gangetjie:  een van die kortste, met net 30 kajuite. Baie “eksklusief” het dit vir ons gevoel.  ’n Botteltjie Franse sjampanje (Pol Acker se blanc de blancs brut) in ’n silwer-ysemmer het ons met ons aankoms verras. En ‘n boodskap van die kaptein, Kevin Osprey: “We look forward to providing you with happy memories that wil last a lifetime.

Oor my blogs

Ons was dadelik halsoorkop verlief.  So verlief dat ek oor die hele vaart ge-blog het – ‘n eerste in Afrikaans, aldus Cunard.  Die blogs is later in my boek Na Verre Hawens (Naledi, 2019 opgeneem.)

Romantiseer ons nie dalk nie en verwag ons nou te veel? Ek glo nie.  Geriewe sluit immers in die asemrowende Royal Court-teater met sy topvertonings elke aand; die biblioteek met 10 000 boeke; die elegante Britannia-eetkamer; die enigste drywende planetarium ter wêreld met die duisende sterre aan sy firmament; die ritueel van Engelse middagtee (afternoon tea) in die Queen’s Room, na aanspraak die grootste balsaal ter see. Om verveeld te raak, is total onmoontlik.

Dan ook: vyftien restaurants, vyf swembaddens, balsaal, planetarium, teater, gimnasium, skoonheidsalonne, boetiekwinkels, ’n casino, nagklub en ’n dierehawe wat selfs ’n eie lamppaal en brandkraan het vir bedorwe honde om die been teen te lig!

In 10 jaar het die tyd natuurlik vir ons stilgestaan nie. In my eie geval het ‘n permannte kierie bygekom. Maar die vooruitsig om weer op die Queen te vaar, laat steeds die hart bruise en die oë vonkel, al gaan dit langer vat om op die reuseskip al die lope te loop wat in 2014 vir ons lekker lope was.