Wyse woorde van die hoogs bekroonde historikus Herman Giliomee in Sondag se Weekliks in Rapport: “Die belangrikste beginsel van omgaan met die geskiedenis (is) om elke handeling binne die raamwerk van die tyd waarin dit plaasgevind het, te beoordeel.”
Amper 30 jaar gelede, op 5 Julie 1989, het pres, P.W. Botha in sy bastion, Tuynhuis, die ANC-leier, Nelson Mandela – fier en statig in ‘n splinternuwe blou dubbelborspak – verrassend hartlik ontvang. Ondanks alle vorige protestasies en kwalifikasies – die ANC-leier se afswering van geweld onder meer – het die Nasionale Party-leier begin praat met die ANC.
Presies dit – praat met die ANC – het Ton Vosloo, redakteur van Beeld, in Januarie 1981 voorgestel; agt jaar voor die ontmoeting in Tuynhuys, sewe jaar voordat Niël Barnard, hoof van Nasionale Intelligensie, se eerste, aanknopende gesprek met Mandela in Pollsmoor, en amper ‘n dekade voordat die internasionale ikoon op Sondag 11 Februarie 1990 as aanstaande president uit die Victor Verster-gevangenis sou stap.
Vosloo se baanbrekende kopskuif het Botha destyds met afgryse laat sidder. Hierdie verrassende oproep uit die binnekring van konvensionele Afrikanerdom het my, wat een van sy adjudante was, self ietwat onkant gevang, moet ek bely. Later sou ek telkens weer daaroor wonder: Hoe sou die geskiedenis kon verloop het as vroeër na Vosloo geluister is? Kon ‘n paar vrugbare jare nie daardeur gewen word nie?
Agterna gesien, is dit klinkklaar duidelik dat Vosloo geen skielike bevlieging gekry het nie. Sy profetiese visie was die manifestasie van ‘n nuwe realisme wat al geruime tyd by verligte redakteurs en hul koerante ontkiem het. Wat die oproep wel was, was ‘n soort waterskeiding. Asof deur ‘n onsigbare krag aangedrewe, het koerante soos Beeld, Die Burger en Die Volksblad daarna al hoe sterker die pas begin aangee in ‘n uitbreidende soektog na geregtigheid, menswaardigheid, versoening, verandering en hervorming.
‘n Gedugte arsenaal ideologiese wette het nog die toekomspad versper. Bewysbaar uit koerant-argiewe, het die drie Afrikaanse dagblaaie in die Naspers-stal – twee van hulle, Die Burger en Die Volksblad, nogal amptelike mondstukke van die NP – egter in gelid met hul Sondag-suster, Rapport, dit konsekwent en toenemend hul taak gemaak om hierdie ideologiese koevoete te identifiseer, te bevraagteken te help begrawe.
En gee hom die eer: dr. Wimpie de Klerk, redakteur van Die Transvaler, die noordelike mondstuk van die party, het in hierdie opsig, in selfs dalk nog moeiliker omstandighede as sy kollegas van die Nasionale Pers, ook sy kant gebring.
Al van die tweede helte van die 70’s af, maar veral in die 80’s , is die onhoudbaarheid van allerlei arbeidswette, veiligheidswette, maatskaplike wette soos die sogenaamde Ontugwet, die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike en, les bes, daardie hoeksteenwet van apartheid, die Wet op Groepsgebiede, toenemend krities onder die loep geneem.
Skermutselings tussen pers en party het gevolglik taamlik gereeld begin voorkom – soms skerp en bitter. Onverskrokke kollega Willem Wepener van Beeld, waar hy Ton Vosloo opgevolg het, was veral in die spervuur oor sy rondborstigheid. Oor die Groepssgebiedewet het hy bv. pront verklaar: “Skrap dit”. Ook oor Nelson Mandela het hy nie doekies omgedraai nie: “Die tyd het aangebreek om hom uit die tronk vry te laat.“
Onder sy kollegas het sy waagmoed vir Wepener die naam “Ysterman” verwerf. In Tuynhuys was daar egter met elke nuwe Wepener-sarsie beroering. Dit is hoe die naam “Kruithuis” destyds ontstaan het!
Later moes die damwal bars. Een na die ander hoeksteen-wet van apartheid is geskrap, onder meer ook die gehate Paswette. Toe hulle in April 1986 verdwyn het, het Afrikaanse koerante hartlik saamgejuig met die swart menigte wat van een van sy swaarste apartheidsjukke bevry is. Ook die hoofartikels daaroor word in argiewe bewaar.
Oor die verbod in 1988 op sir Richard Attenborough se omstrede rolprent “Cry Freedom” (oor die aktivis Steve Biko wat in 1977 in polisie-aanhouding dood is) was die Naspers-dagblaaie almal afkeurend. Premier Botha was erg gesteurd. Sy wens wat hy direk aan Ton Vosloo, toe besturende direkteur, oorgedra het, was: redakteurs moet hom bel en hom waarsku as ons van hom verskil en hom in ons koerante gaan pak. Die antwoord was eenparig: jammer, daarvoor sien ons nie kans nie!
Dit was die jaar waarin Botha later na joernaliste in die algemeen as “lunsrieme” sou verwys.
Koerante het nie net kritiseer nie, maar het ook kreatief en opbouend saamgedink, en dikwels op die voorpunt gedink, oor boustene vir die toekoms. Al verkennende is berge versit. Een pragtige voorbeeld van hoe ‘n koerant met sy skeppende denke as ‘t ware ‘n katalisator in die Groot Mirakel van Suid-Afrika geword het, is deur pres, Nelson Mandela aan sy tafelgenote onthul toe hy op 9 Oktober 1997 ‘n middagete tot sy eer by Naspers in Kaapstad bygewoon het.
Ton Vosloo, voorsitter, Koos Bekker, besturende direkteur, Boetie van Zyl en Niel van Heerden, direkteure, en Conrad Sidego, Khulu Sibiya en Zelda Jongbloed van Naspers is aan tafel vergas op ‘n boeiende relaas oor hoe ‘n Dawie-rubriek oor groepregte in 1989 in die gesprek tussen die NP en die ANC vir ‘n deurbraak gesorg het. Die rubriek is geskryf deur Wiets Beukes, wat toe redakteur was. Hy het Piet Cillié opgevolg.
Dawie se standpunt was dat oor wette soos die Groepsgebiedewet, die Bevolkingsregistrasiewet en die Wet op die Aanwysing van Aparte Geriewe “ingrypend herbesin” moet word, omdat ‘n nuwe Grondwet “kleurblind” moet wees.
Die gedwonge klassifikasie van mense was een van die “onhoudbare erfenisse van die ou apartheid”, het hy betoog. Die “groep-gedagte (sal) in die eerste plek van alle dwang en diskriminasie gestroop moet word”. Groepvorming sou “bevry” moet word om spontaan plaas te vind, en een van die “basiese regte van die mens” sou herstel moes word: “Dat elke mens die reg het om vryelik te assosieer en self te besluit by watter groep hy sy heil wil soek.”
Mandela het, volgens hom, in een van hul eerste ontmoetings F.W. de Klerk se aandag op die rubriek gevestig. De Klerk het onmiddellik positief gereageer: “Nou ja, as Dawie so sȇ, sal ek vir my mense sȇ ons kan dit (daardie groepwette) maar los.” Daardie antwoord het Mandela verheug. Hy het aan sy topstruktuur gaan rapporteer: “Met die man sal ons kan saamwerk.” Daarna het sake begin vlot.
Die partymondstuk-status tot diep in die jare tagtig van Die Burger, Die Volksblad en die heengegane Die Transvaler, was histories verantwoorbaar deur ‘n gemeenskaplike oer-herkoms uit die breë Afrikaans-Nasionale beweging in jare van platgeslaanheid. Dit is na my wete nooit amptelik geformuleer nie. Geen “kontrak”, geen voorskrif, selfs geen verwagting is aan my gestel toe ek redakteur van Die Volksblad geword het nie. Geen dusdanige dokument is, sover ek weet, ooit aan enige ander Naspers-redakteur gegee nie. Maar dat dit tot vandag suspisies voed oor waar die Afrikaanse koerante in die legkaart van die apartheidsera inpas, moet geredelik erken word.
Dalk verstaanbaar, as jy uit ‘n hoek van onbegrip kyk, word koerante verdink dat hulle weens hul partybande, formeel of informeel, soos dit in die geval van Beeld en Rapport was, gevangenes van die Nasionale Party was, en daarom outomaties ook stoere kampvegters vir die status quo.
Toenemend is by koerante besef dat die ongemaklike verbintenis nie kon voortduur nie. In 1988 het Ebbe Dommisse, redakteur van Die Burger, toe die bul by die horings gepak. Op sy inisiatief is by die Kaaplandse kongrs van die NP ‘n besluit geneem om die ou koppeling te laat vaar. In die Vrystaat is geen besluit ooit geneem nie. Die gebruik om jaarliks by die NP-kongres die koerant as party-mondstuk te herbenoem, het eenvoudig in onbruik verval. In Transvaal was geen amptelike mondstuk oor nie nadat Die Transvaler se vlerke in 1983 geknip is en hy in sak en net ‘n Pretoriase koerant moes word.
Met die Dommisse-inisiatief is ‘n proses voltrek wat in die middle van die jare 80 momentum begin kry het namate die gekompliseerdheid van die landspolitiek ou bindinge al hoe meer onder druk geplaas het.
Oor hierdie aspekte van die geskiedenis word om die een of ander rede ‘n sluier getrek asof ‘n onwilligheid bestaan om die verlede onbevange te bekyk en ewewigtig te beoordeel. Dit is ten seerste te betreur omdat wanpersepsies oor die rol van die Afrikaanse koerante, en veral redakteurs, helaas, deur die verspreiende onkunde gedy.
Met die onheuglike Magnus Malan-sage het sulke wanpersepsies weer uitgeborrel. Ou vooroordele is afgestof. In die kaalvuis-debat oor die omstrede Bird-Island-boek het beskuldigings rondgevlieg, soms in heel onelegante fraserings. Die kerksake-kommentator Jean Oosthuizen het bv. in ‘n Facebook-inskrywing die volgende kwytgeraak: dat van ‘n bepaalde Afrikaanse redakteur in die era van Magnus Malan en Barend du Plessis tog bekend is dat hy in die NP “se ali ingekruip” was.
Noodwendig ontbreek die ruimte om in ‘n enkele koerant-artikel op al die dimensies van ‘n gekompliseerde verhouding in ‘n gekompliseerde tyd in te gaan. Die rol van die Afrikaanse koerant in die politieke oorgang is in elk geval eerder ‘n navorsingstaak vir historici. In die gemoed van hierdie oud-redakteur van die jare 1980 tot 1992 leef egter geen skuldgevoelens oor in watter deel van wie se anatomie hy dan ingekruip sou gewees het nie.

By-redakteur, 1961
Die Perdeby, studentekoerant van Tukkies, vlieg vanjaar al 80 jaar lank, swaai by geleentheid die heuningkwas of deel by ander geleenthede sy goedgemikte stekies uit op die kampus. Zoem voort, liewe By – my eerste “koerant” waarvan ek in 1961 bevoorreg was om redakteur te wees.
Wat ‘n jaar was 1961 nie – Suid-Afrika word ‘n Republiek. dr. H.F. Verwoerd verbreek bande met die Statebond, kerkmense bots by Cottesloe oor die politieke rol van die kerk ….Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.
Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. Verwoerd kom kuier twee keer. Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen. Dr. Anton Rupert is die spreker op Lentedag. Hy bepleit ‘n “nuwe rassebenadering”. N. P. van Wyk Louw praat op gradedag. Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.
Op die hoofartikelblad het ‘n gereelde rubriekie verskyn, waarby ‘n tekening was van ‘n vet Meksikaan met ‘n hangsnor en ‘n rokende pistool in die hand. Hy sê: “Ek skiet jou as nie saamstem nie ….” In die uitgawe van 24 Maart moet daar eenstemmigheid wees “ dat ons nou almal Commonwealth Old Boys-kleurbaadjies kan dra!”
Die Perdeby was darem nie net politiek nie. Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het. tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Sy het mev. Gerdia Pretorius geword en het tussen Klerksdorp en Lichtenburg verongeluk.(G’n fout met die redakteur se smaak nie!)
Sosiale nuus was o.m. dat die naelloop-kampioen Sep Serfontein gekroon is tot 1961 se Mnr. Asterhof . Vir die eer moes hy daardie koshuis se ses verdiepings op en terug in minder as 46 sekondes.
Van die Akademie het in 1961 helaas maar min gekom. Maar lof vir Die Perdeby het uit verskillende oorde opgedaag. Jan Grobler, gewese Nasionale LV wat met dr. Andries Treurnicht in sy ministersdae oorhoops geraak het, het geskryf: “Die beste ‘By in die afgelope ses jaar wat ek al hier rondlê. Baie, baie geluk.”
Selfs die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het lof uitgespreek: “U het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar — ook vir die redaksie van Die Perdeby.”
In my eie laaste hoofartikel was ek half weemoedig. “’n Mens raak lief vir die ‘By. Dit is nie alleen jou verantwoordelikheid nie, maar ook jou trots. Die verskyning van elke uitgawe word ‘n persoonlike bevrediging soos ‘n kunswerk vir sy skepper.”
Die Perdeby is vanjaar 80. Dat 57 jaar intussen verloop het, stem my opnuut weemoedig
In 1984 is die Phil Webermedalje, die Nasionale Pers (nou Naspers) se hoogste bekroning, die eerste keer toegeken: aan adv. Lang Dawid de Villiers, besturende direkteur. Gisteraand op ‘n deftige dinee in die nuwe KIKS2, langs die Perssentrum, is die rgsadviseur David Tudor, wat ek nie geken het nie, met die eer beloon vir sy bydraes oor twee dekades.
In 1997, kort voor my aftrede, het die voorreg my te beurt geval. By ‘n middagete in die destydse Cape Sun se balsaal het Ton Vosloo, voorsitter, die medalje (en wat daarmee saamgaan) aan my ooorhandig. Met gisteraand se spyskaart voor my, en die name van al die wenners tot dusver op die agterblad, het ek opnuut genoegdoening oor my Weberprys van 21 jaar gelede ervaar. Verskoon my asseblief maar die openhartige onbeskeidenheid.
In die commendation is o.m. verklaar: “Vandat hy in Januarie 1963 die eerste keer by Die Volksblad in Bloemfontein as verslaggewer begin werk het, tot en met die bereiking van die hoogste bestuurspos by Nasionale Koerante in 1992, het hy in elke fase van sy loopbaan ‘n nalatenskap gelos waarop hy trots kan wees.”
Daar is gewag gemaak van die geesdrif waarmee ek dinge aanpak; ook dat ek soms “geesdriftig negatief” kon wees oor swak werk of ander frustrasies. Ek meen dit is steeds ‘n eienskap. Van my briewe aan die pers, blogs en inskrywings op Facebook getuig van daardie “negatiewe geesdrif”.
Wat ek nooit sal vergeet nie, is hoe die nuu soor my medalje aan my oorgedra is. Ton Vosloo het my in Londen gebel en oor ditjies en datjies gesels. Ek het geweet die direksie sou die vorige dag oor die Weberprys besluit en dat my naam in die hoed is. Later kon ek dik nie meer hou nie.
“Wie wen die Weberprys?” het ek die voorsitter in die rede geval.
“O aarde,: was sy antwoord. “Dit is eintlik hoekom ek jou gebel het. Geluk, jy is die wenner.”
Gelukkig was ek (en Tokkie wat saam met my was) op daardie oomblik voor ‘n “pub” naby Piccadilly Circus. Ons het dadelik die nuus gaan vier met ‘n pint of twee.
By David se bekroning was die wyn van Weltevreden. Ek het ‘n glasie chardonnay op hom en die Weberprys geklink, en salig weltevrede gevoel.
(Wenners voor my op die lys sluit ook in : Piet Cillié, Willem Wepener, Wiets Beukes en Koos Human. Ná my op die lys is Naspersers soos Ton Vosloo, Jonathan Ball, Ebbe Dommisse en Salie de Swardt. Ook kollega Herman le Roux is op die lys. Dit is vir my lekker dat hy my telkens nog die eer gee dat dit ek was wat die deurslaggewende lansie vir hom gebreek het.)
Foto’s: Ton oorhandig die Phil Webermedalje aan my; die volledige lys wenners op gisteraand se spyskaart.
Een gevolg van die Magnus-sage is dat oud-kollegas uit ‘n vorige era by die koerante weer ‘n slag druk met mekaar gesels. E-posse vlieg. Die verontwaardiging oor die afgelope twee weke se media-sirkus loop hoog.
Dit druis in teen alle joernalistieke etiek om ongetoetste dinge as die waarheid op te dis, word onder mekaar gesệ. Verder: ‘n boek soos “Seuns van Bird-eiland” moes nooit by ‘n gerespekteerde uitgewery soos Tafelberg verskyn het nie – bepaald nie voordat ‘n baie beter saak vir die waarheid daarvan uitgemaak kan word nie.
Oor een ding is die meeste dit roerend eens: dat die karaktermoord op Magnus Malan (en die ongenoemde Barend du Plessis) op ten minste uiters wankelende gronde, of, waarskynliker, op totale valse gronde gepleeg word. In ons era, met al sy en ook ons eie gebreke, was so ‘n media-malligheid ondenkbaar.
Verregaande bewerings van die aard sou eenvoudig nooit gepubliseer gewees het nie, nie in my koerant Die Volksblad nie, nie in Die Burger nie, nie in Beeld nie, nie in Rapport nie, ook nie in ‘n boek by Tafelberg-uitgewers nie. Dit sệ ek onomwonde.
Vaste formules en etiekreëls het bestaan om besluite oor sulke sensitiewe stories te neem:
Wie is die bronne?
Hoeveel bronne is daar en klop hul stories?
Bestaan enige bewyse wat op vaste pote staan?
Wat sệ die benadeelde party (audi ad alteram partem)?
M.a.w. hoe seker is ons dat ons die waarheid beet het en nie ons lesers op hol jag met ‘n spookasemstorie nie?
Die gangbare joernalistike etiek van die dag word geïllustreer deur hierdie mooi storie van kollega Johann Holzapfel (die nimlike Appel), destyds, van 1974 af, saam met my een van die pioniers by Beeld:
In die jare 80 was daar stories in omloop oor Alan Boesak se vurige buite-egtelike romanse. Die veiliheidspolisie het hom dopgehou en ‘n mikrofoon in ‘n hotelkamer geplant. ‘n Intieme onderonsie tussen die twee is op band opgeneem. Dis later aan die media gelek, onder meer ook by Beeld.
Die redaksie was onseker wat om met die kompromitterende band te doen. Eenparig is besluit: dit is die saak vir die redakteur, wat toe Willem Wepener was. Hy het vir Ton Vosloo opgevolg.
Wepener het ook geluister en hom gruwelik vererg. Oor sy dooie liggaam! Dit is “dirt disguised as uplift”.
Later het hy ‘n hoofartikel oor die petalje geskryf met die strekking dat ook in die politiek sekere grense nie oorgesteek mag word nie – speel die bal… nie die man nie.
“Dirt disguised as uplift” – die beskrywing pas die Magnus-storie soos ‘n handskoen. Boonop ontbreek die getuienis wat in die Boesak-geval bo alle twyfel was.
In welke mate die sosiale media vir die hele vervlakking in die openbare diskoers verantwoordelik is, kan ‘n mens bespiegel. Ek meen hul bydrae is is geweldig. Die koorsagtige gegons op die internet skep bepaald ‘n losse mediaklimaat wat ons nie geken het nie.
Ten tweede moet dit in alle billikheid gestel word dat nie alle redakteurs ewe entoesiasties aan die jag op Malan (en Du Plessis) deelneem nie. Party staan tog ietwat tru maar bevind hulle in ‘n onbenydenswaardige posisie in die lig van die verwagtinge van opgesweepte Jong Turke in hul redaksies en leserskorpse wie se wrewel in die ou bestel hoog loop.
Vir daardie mense is sulke veldtogte klaarblyklik ‘n soort ontvlugtingsdwelm uit daardie era se onheile – al saal hulle ‘n wilde perd op en is al hul saal en toom so skromelik ontoereikend soos in hierdie geval.
Hoe stop ‘n mens dit? Die gedagte van ‘n volledige, onafhanklike ondersoek word geopper. Dit klink aantreklik, maar dan is die vraag steeds: wie gaan die ondersoek inisieer en wie gaan die byna bomenslike vermag om ‘n bevinding te maak wat naastenby almal oortuig?
Dalk is ek onrealisties maar my hoop is tog ook op die verantwoordelike mense in die media: dat hulle al hoe meer sal herbesin soos Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, Sondag voel-voel die pad vir so ‘n herbesinning begin oopmaak het.
Die waarheid moet uiteindelik seëvier. Daaroor moet ons tog almal saamstem.
Barend du Plessis het gevra dat ek die volgende kommentaar nmens hom opsit:
“Baie dankie, Hennie, vir jou skitterende pennevrug. Dit speek onder andere van die insig en ononderhandelbare sin vir regverdigheid wat jou loopbaan as mediamens gekenmerk het en tot op die hoogste bestuursvlak ondersteun het. Ek hoop en bid saam met jou en so baie mense wat reeds met my in aanraking was, dat die waarheid spoedig en volledig sal seëvier. Ek weet dat daardie waarheid my nie sal seermaak nie, want dit kan nie anders nie as om my van die wrede beproewing waaraan ek en my geliefdes nou onderwerp word, te bevry. Groete en seënwense Barend.”
Die geheimsinnige Mnr. X bevind hom in die gerieflike posisie dat hy eensydig sy storie kan vertel. Verslaggeefster Maygene de Wee, skynbaar die enigste met toegang tot hom, teken dit op; Netwerk24 en Media24 se dagblaaie (met die lofwaardige uitsondering van Beeld) publiseer dit.
Agterdogtig van Bellville vra gister (14 Augustus) in Die Burger vrae oor die merkwaardige onthou ná drie dekades van die blou Volkswagen-Kombi (met die gordyntjies) se roete. Die tyd het aangebreek dat me. De Wee, ‘n senior joernalis of iemand met ervaring van kruisondervraging ‘n kritiese gesprek met Mnr. X voer.
Onthou hy die opset van die “huis in Tsitsikamma” ewe haarfyn as die roete in Port Elizabeth? Waar presies is die gruwelhuis; hoe lyk dit van binne en buite? Hoe groot is die slaapkamer waarin hy die “Oom” moes vermaak? Was die badkamer waar hy ewe bedagsaam toegelaat is om te gaan bad, en-suite?
Hoe ver of naby is dit van die see of aan ander huise? Kan hy dit gaan uitwys?
Blou Kombi’s was volop. Ekself het een besit (darem sonder gordyntjies!) Wat maak Mnr. X so seker dat die een wat hy jare later in militere intelligensie se parkeerarea opgemerk het, dieselfde is as die een waarin hy “ontvoer” is? Net die gordyntjies, lyk dit, want hy wat strate en geboue so haarfyn onthou, het nie na die registrasienommer opgelet nie. Of het hy?
Volgens hom is ‘n vuurwapen in sy sy gedruk. Jare later kon hy dit as ‘n militệre .38 Special identifiseer. Die verskrikte seun moes dus geleentheid gehad het om dit, of wat daarvan in die aanvaller se hand sigbaar was, nogal fyn te bekyk.
Wie sou die vyf mans in die kombi gewees het en hul helpers wat by die vulstasie opgedaag het? Lede van militere intelligensie wat in opdrag van die minister vir hom seuntjies gaan vang het? Was hulle gemasker dat hy hulle nie later kon herken nie?
Hy vertel van die lekker middagete – die lekkerste en meeste kos wat hy nog gesien het. ‘n Mens verwonder jou aan so ‘n makabere feesmaal en dat die slagoffers so gesellig saam kon aansit.
Die lys kan gerek word. Dit behoort egter vir elkeen duidelik te wees dat Mnr. X se opspraakwekkende storie nie langer ongetoets vir soetkoek opgedis durf word nie. In belang van verantwoordelike joernalistiek behoort hy met die vaaghede, onwaarskynlikhede en ongeloofwaardighede gekonfronteer te word.
Hierdie blog is vandag in Volksblad as brief gepubliseer. Dit is te lese by: https://www.netwerk24.com/Stemme/MyStem/kruisvra-mnr-x-oor-magnus-bewerings-20180814
‘n Verwante brief van Maritz Spaarwater in Die Burger is by: https://www.netwerk24.com/Stemme/MyStem/ondersoek-na-skrywers-kan-help-20180814