Apr 29, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Superman het sy buiging in 1938 gemaak – in die jaar van die simboliese Ossewatrek, eers net as strokiesprentheld. In 1941 vlieg hy egter al die wêreld vol in kort animasiefklieks. In 1948 en 1950 volg twee vervolgreekse op die silwerskerm – “serials”, het ons hulle genoem. In 1951 verskyn die eerste vollengte Superman-rolprent, Superman and the Mole Men met George Reeves.
Die geskiedenislessie is aan die adres van Dana Snyman wat in die rubriek Van Alle Kante in Die Burger van 29 April vir die 70’s se Bruce Lee (Brucelee) ‘n chronologiese staanplek voor Superman wil gee, en almal van latere generasies wat oor die magiese Clark Kent en sy Lois se herkoms in die gryse verlede dalk soortgelyke wanpersepsies het.
Hoe sal ek nou nie weet nie? Ek was in 1948 in standerd een (graad drie) aan die Laerskool Diamantveld in Kimberley toe ek in die Plaza in Transvaalweg in ‘n eerste kennismaking met die immergroen held so meegevoer raak dat ek nog dierelfde middag myself van die tuinmuurtjie by Diagonalstraat 10 ten hemele probeer lanseer.
Anders as die regte Superman het die jong nabootser nie blitsvinnig asemrowende hoogtes bereik nie, maar bedremmeld tussen die leeubekkies asters en sonneblomme in ‘n naasliggende bedding neergeplons. Sy regterarm moes gips kry weens ‘n polsbreuk.
Sy juffrou, ‘n dierbare mej. Muller, het die stomme seuntjie so innig jammer gekry dat hy taamlik lank meer tyd op haar skoot deurgebring het as in sy skoolbank.
Apr 28, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Stellenbosch die roep my en ek moet gaan. Vreemde woorde uit die mond van ‘’n geswore Tukkie?
Nou-ja, dis darem nie heeltemal waar nie. Nie Stellenbosch wat geroep het nie, maar die Matie-kleinseuns, Jacob en Thomas, se 19de verjaardag.
Ek en Tokkie is op geleide toere deur hul koshuise, Eendrag en Helshoogte. Sy het onder meer kennis gemaak met naamgenoot Tokkie, laasgenoemde se gelukbringer-hoender. Oupa moes erken dat die koshuiskultuur – veral die respek vir tradisie – hom imponeer. En wil jy glo: in Eendrag se binnehof staan twee groot jakarandas wat wil begin blom!

Moet ook erken dat Stellenbosch se Victoriastraat met sy erewag van akkerbome in hersfkleed ‘n skouspel is, die US met sierlike geboue kan spog en die skolebuurt langs die Eersterivier buitengewoon indrukwekkend is. Moet goed vir die siel wees om aan Gimmies, Bloemhof of Rhenish skool te gaan.
Dan die Fat Butcher in Van Riebeeckstraat – ‘n -biefrestaurant soos ek laas in Boston en Cambridge in Massachustts mee kennis gemaak het. Voortreflik verby met ‘n wonderlike atmosfeer. Net twee dinge: jy moet lank vooruit bespreek en nie sensitief wees vir pryse nie! (Gelukkig was skoonseun, Brent, die gasheer.)

Die mooi foto van die gesin Claassens is deur my in ons hoekie in die Fat Butcher geneem. Links sit kleinboet Christopher (14). Voor hom is sy melktert-nagereg nadat hy ‘n steak van 600 gram weggesit het. Die man is ‘n kranige flank.
Dat Jacob nou kitaar speel, was ‘n verrassing. Dis aan sy kamermaat te danke. Wat die foto saam met sy ouma, volgens sy ma, Marisa, des te meer merkwaardig maak, is die twee bossiekoppe so saam. Moet iets in die gene wees. Hulle glimlag ook ewe breed. Ouma was boonop in haar jeug ook ‘n musiekmens met ritse diplomas vir klavier
Apr 15, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Gee elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord. Dit is die digter DJ Opperman se resep vir ‘n koerant om sy sirkulasie ‘n stoot te gee. Die aanhaling kom uit sy bundel Joernaal van Jorik.
Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord. is ook die titel van my nuwe koeranteboek wat binne weke by Naledi verskyn. Dankie daarvoor, DJ Opperman.
Die storie agter die voorbladskildery vertel ek later.
So stel Naledi vandag my boek bekend:
Uit polemieke en petaljes; rusies en romanses; herries en hofsake en wat nog put gesoute koerantman Hennie van Deventer ‘n ryk oes vir sy boeiende boek oor koerante en die nuus wat hul lewensbloed is.
Die veteraan van die perswese staan bekend as ‘n gebore en geesdriftige nuusmens. Hierdie is sy sesde boek met ‘n binneblik op die koerantwêreld.
In ‘n onderhoudende keuse van stories met ongewone kinkels roer hy allerlei omstredenhede aan: Charlize Theron se “net 44 wat nog Afrikaans praat”, Amanda Gouws se verweer vir vroue wat vloek, Ton Vosloo se ontdekking van “’n ander Suid-Afrika”, die slagspreuk “Kill the Boer …
Sy temas is talryk. Hy ryg die staaltjies en anekdotes in en verklap geheimpies uit redakteurskantore en raadsale.
Wie humor soek, sal heelwat daarvan kry – ook heelwat politiek of lig op persoonlikhede: nie net huishoudelike name in die media nie, maar groot letterkunde-geeste soos die korrelkop Langenhoven, NP van Wyk Louw en Opperman, politici soos Verwoerd en Vorster, skoonhede soos prinses Diana en Anneline Kriel en, les bes, selfs ontkleedanseres Glenda Kemp.
Bestel dit by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za of naledi.co.za(Naledi se webtuiste). Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos die boek net R260.
Apr 11, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Van die aangename elemente van ons eienaarskap van Tarlehoet vir 25 jaar is die verbintenis wat dit meegebring het met die kerk in Skukuza, met ds. Carl en Sarah Louwrens en met die Skukuzaners (gemeenskap van Skukuza).
Dis ‘n vreugde om Sondae spesiaal vroeg op te staan en Skukuza toe te ry vir die diens om 08:30. Die atmosfeer in daardie kerkie is behaaglik intiem, en die boskarakter is treffend. Dit spreek jou aan. Soms kry jy as bonus op die pad soontoe luiperds of leeus.
Ons het ook kennis gemaak met die gemeente se unieke Paasdienste op die indrukwekkende Mathekenyane-Granokoppie tussen Skukuza en Pretoriuskop, langs die H1-1 suide toe. Treffend is dit om op kampstoeltjies hoog bokant die veld te sit terwyl die nag stadig toesak, en om die Paasverhaal in lied (met kitaarbegeleiding), poësie, Skriflesing en gebed te herdenk.
Aand-geleenthede op die Granokoppie eindig tradisioneel met ‘n piekniek-ete onder die sterre. Die gemeente bring opvoustoele, mandjies kos, en ietsie vir die keel. Dan word ‘n hond uit ‘n bos gekuier. Ook die Kers-sangdiens en die tradisionele agterna-kuier om die kospotte onthou ons met behae.
Die tradisionele half-marathon met sy kermis-atmosfeer die eerste Saterdag van Augustus is ‘n lekker okkasie. Die gemeente verkoop kerrie en rys op ‘n groot skaal. Tokkie het al gehelp om op Tarlehoet se beskeie gasstofie vleis en rys gaar te maak. ‘n Keer is die rys in ‘n yslike “ryskoffer” Skukuza toe vervoer.
Die gemeenskap word deur Tokkie as ‘n “uitgebreide familie” beskryf. Soos hulle kan saamstaan en saamwerk, is ‘n openbaring. Die voorreg om aanhaaklede van daardie “uitgebreide gesin” te wees, kon ons op opwekking-Sondag op 9 April opnuut intens beleef toe ds. Carl, nou emeritus, soos vanouds die erediens gelei het. Sy boodskap oor die Emmaus-gangers was, soos al sy boodskappe, vars en prikkelend.
Sondagaand kon ons die saamkuier met die Louwrense voortsit danksy ‘n uitnodiging van Jimmy en Lida Pressly van Skukuza vir ‘n laatmiddag-geselligheidjie op die Granokoppie. Dit is ook deur Fritz en Esmarie Rohr bygewoon. (Fritz, ‘n wapensmid, se verbintenis met Tarlehoet is die “elektriese leeslamp” op die soldervlak.)
‘n Saliger skemertyd kan ek my skaars bedink met die Krugerwildtuin aan jou voete en die son wat rooi bal maak in die verre weste. Natuurlik het ons ook ‘n glasie geklink op die Van Deventers se verbintenis van 25 jaar met Sabiepark en Skukuza. Die fees duur voort!
Oor die stylvolle piekniekkos uit die Presslykombuis kan ‘n mens net ‘n loflied aanhef. Absoluut heerlik.
Later vanmiddag verwag ons die Louwrense in Sabiepark. Hulle kom twee nagte oorslaap. Gaan ons kuier!
Apr 1, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Hand op die skouer dui gewoonlik op hegte vriendskap. Wat ‘n voorreg was dit nie om in ‘n verbintenis van 60 jaar plus sovele kere hand om die skouer saam met Manie Steyn afgeneem te word: op Tukkies, in die Wildtuin, in Sabiepark, by hul mooi klinkerhuis in Roodepoort, as kollegas by Naspers, waar ook al.
Manie, ‘n joviale, kleurryke en spitsvondige vriend met ‘n eiesoortige humor en taalgebruik, is gisteraand op Krugersdorp oorlede. Hy het in Desember 83 geword. Die laaste ruk van sy lewe was hy aan sy bed vasgekluister weens rugprobleme en ander komplikasies. Hy het swaar gekry, maar sy vegtersgees het hom tot die einde toe nie verlaat nie. ‘n Blymoedige laggie het steeds opgeklink toe ek hom twee dae gelede vir oulaas gebel het.

Ons vriendskap het begin in Kollege-tehuis op Tukkies in 1960. Dit was net die begin. Ons twee studentemaats het huisvriende, wildtuinvriende en kollegas geword. Ek was seremoniemeester by sy huwelik met Sannie Graaff in 1964 op Reitz en weer by die huwelik van Manie Junior en Claudie in 1994 op Krugersdorp. Toe Manie 70 word, het ek uit die Kaap gevlieg vir ‘n heildronk. Op 80 weer. Hy het my ”Div” en “tjom” genoem en ek vir hom “Mac” – eretitels.
Manie had ‘n eiesoortige taal, deurspek met humor. Almal het geweet wat dit beteken as hy en Sannie op “smoke signals” was. ‘n Gereelde vermaning aan vriende was dat “ons net nie slordig moet drink nie”.
‘n Simbool van die Van Deventer-Steyn-verbintenis is die soliede driepoot-ystermeneer in my lapa in Sabiepark. ‘n Fris vrag tjoppies en wors is in 20 jaar op die geskenk van Manie op die kole gesit het. Almal ken die “Manie-braaier” wat ‘n neef met sy Nissan Sani uit Johannesburg moes saamry. In Sabiepark is ook ‘n “Manie-suite”. Dit is die beknopte buitekamertjie wat syne geword het toe die trappe vir hom te veel geword het.
In Randburg het ons saam ‘n afdak opgesit – die enigste keer dat ek, onhandige Hennie, so iets gewaag het, al was dit net as trae handlanger. Dit was nie ons enigste buitengewone onderneming nie.
By Tukkies se Merensybiblioteek het ek een laataand in my derde jaar (1960) noodgedwonge gaan inbreek. Manie Steyn is saam vir morele en fisieke steun. Ons het ons lywe klein gemaak en by ‘n klein luikvenster ingewurm. Toe is ons, gewapen met flitse, die donker gange in. Die inbraak was nie met kwade bedoelinge nie. Dit was agter ‘n boek aan wat skielik kritiek dringend benodig is om ‘n taak in Afrikaans III te voltooi. Die volgende oggend was die spertyd. Ek is Manie tot vandag dankbaar vir sy morele en fisieke steun. ‘n Goeie punt vir daardie taak was onontbeerlik om vir die eksamen te kwalifiseer.
Nêrens lê ons gesamentlike spore dieper as in die Wildtuin nie. Totdat Sannie in 2009 aan nierversaking oorlede is, het ons talryke heerlike gesinservarings gedeel – onder meer onvergeetlike kombi-ekspedisies na al wat ‘n kamp is, van Berg-en-Dal tot by Pafuri. Watter stories het sulke kuiers nie als opgelewer nie en hoe dikwels en het ons nie uit die maag saamgelag nie – ook as die onvoorsiene gebeur en draadstoele se pote onder ons gewig in die nat grond wegsak terwyl ons salig onbewus aan ons wyntjies bly teug!
Na Sannie se dood het ons nie opgehou om by groot kampvure saam te sit nie. By Balule was vyf Kollege-reünies, in Orpen twee en in Sabiepark sommer ‘n hele paar. Manie, die lojaalste van lojale Kollegemanne, was oral ‘n voorbok, al het hy teen die laastes al swaar geloop.
Manie was ‘n MBA-man – ‘n voorslag-bestuurder. In sy vroeë loopbaan by Ster-Kinekor was hy gereeld in Hollywood om kontrakte te sluit. Toe stamp hy en Sol Kerzner koppe. So het hy hoofbestuurder van Naspers se Nasionale Kolleges geword: ‘n gewaardeerde kollega. Een kollegiale vreugde was ‘n bestuurskonferensie in die Namib, by Swakopmund. En daar wen die twee tafelmaats elk ‘n gesogte beker!
.Min dinge is kosbaarder as ou vriendskappe. Soos iemand opgemerk het, is drie vreugdes van die ouderdom ou vriendskappe, ou boeke en ou wyn. Hoe waar is dit nie! Ek onthou skielik helder een oggend toe Manie uit Sabiepark huis toe ry. Op daardie oomblik swiep ‘n visarend laag en roep sy hart uit – ‘n stylvolle Sabieparkse totsiens. Soos daardie visarend s’n is my groet gelaai met ‘n diepe melancholie: Totsiens, my maat Manie.
Ai, as ons net net nog een keer saam om ‘n vuurtjie kon sit.

Foto’s: Uit my Manie-album: Manie, ekke en studentemaats Pierre le Roux, Cas Jacobs en Piet Lategan.
.
Mar 30, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Pas op die rakke in boekwinkels is ‘n nuwe Proteatitel, “Hierdie land”, waarin meer as 50 skrywers vertel wat vir hulle uniek en kosbaar is aan hierdie land; wat hulle trots maak, laat verlang en laat lag.
Dat ek vir my bydrae ‘n bosstorie vertel, sal niemand wat my ken seker uitermate verras nie. Trouens, my storie kom uit Sabiepark, hier waar ek en Tokkie nou uitspan om die kwarteeufees van ons verbintenis met hierdie aardse paradys neffens die Krugerhek van die Wildtuin te vier.
Ek skryf oor kameelperde – nie net oor die opstapelende vreugdes wat daardie edeldiere (edelbure) ons in 25 jaar besorg het en steeds besorg nie, maar ook oor die heengaan van enetjie wat vir my diep treurig was.
So verwoord ek my emosies oor daardie verlies: “Jy, mensekind, was vreemd ontroer deur die toneel, asof een van jou eie naastes jou ontval het. Waarom? Wilde diere word immers gebore, leef ’n ruk; word dan doodgemaak of opgevreet. Dit is die wet van die natuur. Maar die aristokratiese kameelperd se heengaan is iets anders.”
Protea is ook die uitgewer van my jongste Sabieparkboek, “Bure van nature”, wat in 2021 sy buiging gemaak het. Dankie, Protea, en die redakteur van “Hierdie land”, Joan-Mari Barendse, vir die geleentheid om nou weer saam met al die ander medewerkers in “Hierdie land” iets van die hart te kry oor wat vir my baie spesiaal van ons eie stukkie aarde is: sy onvergelyklike diereweelde.
Op die foto is ‘n Sabieparkse mamma-langnek en dae-oud-langnekkie wat selwers ook in die pragboek figureer. Kyk net hoe fier kyk die trotse moeder vir die kamera.