VAT DIT KORT!

Iemand, veel jonger, vra my gister op my 83ste na ‘n lewensles.  Sonder nadenke kom my antwoord: waak teen te lank.

Waarskynlik kan die antwoord, en die snelheid waarmee dit afgevuur is,  verbind word met ‘n geleentheid wat onlangs bygewoon is.  Daardie een is werklik ver by sy natuurlik einde verby.

Ek begin toe ‘n lysie maak:  feeste, konserte, kerkdienste, preke, toesprake, prysuitdelings, dinees, partytjies, kuiers, telefoongesprekke  … In my lewe was daar hope waar ek wanhopig op my horlosie begin loer het.

Laat my gerus ook maar introspeksie doen.  Natuurlik was ekself in my lewe nie onskuldig nie.  Meermale het ek voortgedreun as ek lankal moes gaan sit het.  Of aanhou skryf as my sê al lankal gesê was.

‘n Kollektiewe verskoning is aangewese aan almal wat onder my hand onder die ongelukkige verskynsel van sogenaamde “woord-skittery” gely het. Al was my beweegrede dalk ook rein en onbesproke, was dit onvergeeflik.  Vergewe my, asseblief.

Maar hoekom word grense so maklik oorgesteek? In ‘n sekere sin het dit met voorbereiding te make. Ek onthou ‘n storie van iemand wat iets sou gesê het soos:  ‘n uur se toespraak kan ek in 10 minute voorberei; vir een van tien minute verg dit ‘n uur.

Dis nie al rede nie.  Party mense is eenvoudig verlief op hul eie stemme of oorskat die waarde van hul eie insigte en spitsvondigheid. Al was Hamlet hul voorgeskrewe Shakespeare in  matriek  het hulle skoon vergeet van Polonius se wyse woorde: “Brevity is the soul of wit” (”and wisdom”, wil ‘n mens byvoeg).

Sommige het die skewe opvatting dat van hulle verwag word om eindeloos voort te borduur ten einde reg aan ‘n geleentheid te laat geskied.  Ek ken mense wat die kuns ken om selfs ‘n dankwoord so woordryk uit te rek dat dit later dreig om die hoofrede na die kroon te steek.

Die etiket “te lank” geld natuurlik nie net interaksies met mense soos hierbo genoem nie.   Mense klou soms te lank aan ‘n posisie vas en sportmanne hou verby hul rakleeftyd speel uit die dwase opvatting dat hulle onvervangbaar is.

Die waarheid oor die waan van onvervangbaarheid is immers opgesluit in ‘n ander storie wat ek ken. Druk jou hand in ‘n emmer water.  Die gat wat oorbly as jy dit uithaal, so onvervangbaar is jy.

In party gevalle het jy natuurlik kwalik ‘n keuse.  Jou base hou jou amper lewenslank in jou pos en gee jou nooit die kans om iets anders te doen nie. As jy te lank bly leef, is die reg, die mediese wetenskap en die waardes van die gemeenskap weer struikelblokke wat jou eie ingryping verhinder.

Meesal is die keuse egter jou eie.  Kies dan reg, beveel die 83-jarige oom jou ernstig aan.   Moenie afskeep nie, maar pas tog maar op vir die versoeking om net aan te hou, en aan te hou en aan te hou.  Laat “brevitas” jou leuse wees.

Om ‘n langasem te wees, wek gewoonlik meer weersin as bewondering en rig aan jou beeld oneindig groter skade aan as wat dit vir jou statuur gee.  Glo my maar. Ek praat uit ondervinding.

VROEDVROUE EN JOERNALISTE

In Joan Kruger se boek ”Wieg” laat sy o.m. die lig val op ‘n kranige dr. Hendrik van Deventer, een van Nederland se voorste geneeshere in die 17de eeu.  Verloskunde is een van sy vele kundighede, en hy skryf in 1701 ‘n lywige werk waarin hy “een nieuwe ligt” vir aspirant-moeders en vroedvroue laat opgaan oor regte en verkeerde maniere van doen by kraamgevalle.

Dr. Van Deventer stel ‘n lys met allerlei vereistes vir vroedvroue saam. Van sy insigte is byvoorbeeld dat hulle nie “ligsinnig, driftig of praatsiek”moet wees nie.

Van sy ander vereistes (soos die uiterste  higiëne) sal ongetwyfeld vir vroue relevant of ten minste interessant kan wees, maar synde ‘n leek grawe ek nou nie te diep aan my genant se skrywes nie.  Lees daarvoor liefs Joan Kruger se boek of sy magnum opus self, as jy dit iewers kan vind.

My belang in die saak is n boodskap wat ek óor die onderwerp van wakker oud-kollega Tobie Wiese ontvang het

Ek lei af hy lees op die oomblik “Wieg”. Met prysenswaardige bedagsaamheid lig hy hierdie HvD oor die bestaan van daardie onbekende een in.  In die skryfstyl bemerk hy selfs ‘n (vleiende) ooreenkoms wat hom laat dink dat laasgenoemde ‘n voorsaat moet wees.

My eerste reaksie was dat ek met toenemende bewondering van die genant lees.  Sy terrein van kundigheid laat my egter twyfel oor enige gemeenskaplikheid, al sal ek my nie teen die suggestie verset nie. Dit is wat ek vir Tobie terug laat weet.

By besinning is dit egter juis die goeie arts se terrein van kundigheid wat by my kom spook en selfs ‘n onderlangse glimlag (geen bybedoeling met die gebruik van die woord “onderlangs” nie) uitlok.  Daartoe dra die woorde  van die Duitse skrywer  Karl Gutzkow by. Joernaliste is die vroedvroue en grafgrawers van hulle tyd, het hy gemeen. Dit is woorde wat ek in my “Flaters en kraters” uit die 90’s goedkeurend aanhaal. Ek behoort dit te onthou het.

Soos vroedvroue is joernaliste immers by die geboorte van nuwe geskiedenis betrokke, nes hulle soos grafgrawes by die einde van eras ‘n kritieke bydrae lewer.

Klaarblyklik het ek te onnadenkend en te gou die bestaan van “enige gemeenskaplikheid” tussen daardie HvD se terrein van kundigheid en my eie ontken. Dit was ‘n slordige en oppervlakkige redenasie.

‘n Tweede gemeenskaplikheid is in die proses van koerantmaak te bespeur: ‘n dinamiese akiwiteit wat met ‘n daaglikse konsepsie begin. Al hoe swangerder en swangerder raak dit deur die dag terwyl die volume van die baba groei en visuele waarnemings toenemend moontlik raak.  In ‘n stadium raak die geslag (karakter van die dag se koerant) duidelik. Leemtes kan geïdentiseer raak  en reddende ingrepe  is soms moontlik.

Ook in die idioom van die joernalistieke vaktaal is ooreenkomste te vind. Veral in skeppende skryfwerk soos hoofartikels en rubrieke  kom die kraam-begrip dikwels te berde. Dat iemand nog vinnig ‘n geskrif moet gaan “kraam” het ek dikwels gehoor, ook dat iemand aan ‘n bepaalde stuk werk swaar “gekraam” het.

Van moeilike “bevallings” word ook gepraat – veral as op nommer 99 iets onverwags gebeur wat die proses dramaties op sy kop keer.

By hoeveel sulke “bevallings” – heuglik en minder heuglik – was ek nie persoonlik die “vroedvrou” nie.  Maar genoeg hiervan.

Ek sal tog vir Tobie ‘n vervangende boodskap moet stuur, lyk dit.

ONTHOU TOG, LIEWE MENSE, DIS ‘N NUWE JAAR!

In my jare as nuusredakteur in die 60’s en 70’s was een van die eerste inskrywings in die dik dagboek op my lessenaar elke jaar: Herinner oor tjeks. ‘n Roetineberig was om mense daaraan te herinner dat die jaartal aangeskuif het.
Vergeet jy dit op jou tjek, het jy vir jouself ‘n bose boel sonde gesoek. So ‘n tjek is summier afgekeur. Dit was nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.
Tjeks bestaan natuurlik lankal nie meer nie. Maar wie van die ouer garde het nie ‘n keer of wat – dalk meer keer – die sware ontnugtering beleef van ‘n tjek wat geweier word nie? “VNT” is daarop geskryf: “Verwys na trekker”. Ons het sommer gepraat van ‘n tjek wat gehop het.
En nie almal wat vir hul geld gewag het, was ewe geduldig met jou ekskuse en verduidelikings oor nou “ligte mistykie”nie.
Die keer toe ek dit self oorgekom het, onthou ek met ‘n brandpyn in my buikholte. Dit was jare na my nuusredakteurskap. Trouens, ek was al afgetree. Ludie de Jongh van Melkbos het aan my huis bouwerk verrig en is weekliks per tjek vir sy dienste vergoed.
Toe kom hy – in Januarie 1999, as ek reg onthou – een oggend skoorvoetend hier aan met die slegte nuus. Absa weier my tjek.
Ek was woedend. Wat my nog ‘n paar kerwe kwater gemaak het, is dat kollega Piet Theron van Die Volksblad en sy vrou, Petro, op besoek was. Hulle kon nie juis anders as om agter te kom hoe die wind waai nie. Bittere verleentheid!
My rekening was by die Heerengracht-tak in die stad. Die bestuurder was die bedaarde Jurie Blom. Ek skree bra onbeskof in sy oor dat ek dadelik my rekening sluit. Absa sien my nie weer nie.
Later dring dit deur die arme Jurie en sy tak is onskuldig. Tjeks word sentraal hanteer deur mense vir wie jy net ‘n rekeningnommer is, nie ‘n gesig nie.
Nog later word die rede vir die weiering bepaal. Die uwe het vergeet om die jaartal met die jaarwisseling aan te pas. Sy tjek is dus reeds ‘n jaar oud.
Jammer, Ludie. Jammer, Jurie. Jammer, Piet en Petro, dat ek my so sleg gedra het.
Jare later loop ek en Jurie mekaar op die dek van ‘n vakansieskip raak. Hy stel my aan mev. Blom voor en verneem na my gesondheid. Toe, met ‘n skewe glimlaggie: “Is mnr. Van Deventer nog so kwaai?”

‘’DS MURPHY” ONTWRIG OUJAARSDIENS

Alles wat verkeerd kan loop, SAL verkeerd loop. Dié gesegde is so van 1952 se kant as Murphy se Wet bekend. In ’n Kaapse NG-gemeente het ‘n “ds. Murphy” by ’n Nagmaaldiens op ’n Oujaarsdagaand nogal beduidende dilemmas veroorsaak,

By daardie gewyde geleentheid het die moedswillige kwelgees Murphy uit die staanspoor begin knor. Die koster was met verlof en die leraar moes instaan. Dié vergeet die kerk se sleutels by die huis, en die pastoriemoeder kom lewer dit met skreeuende bande af.

Krisis nommer twee: ook die orrelis is weens onvoorsiene omstandighede afwesig.. Die begeleiding word dus ook die herder cum koster se taak. Maar dié arme man was baie senuagtig of totaal onvoorbereid … of albei, rapporteer ’n kerkganger. Hy sing toe ’n solo, want die musiek en woorde het nie op die skerm verskyn nie.

Krisis nommer drie raak die  veeleisendste.  Die Nagmaaltafel word in gereedheid gebring. Die net word verwyder en sorgvuldig opgevou. Maar, o jittetjie, waar is die brood dan? “Kan ons maar so sonder brood voortgaan?” pleit die moedelose leraar amper. “Nee,” skud nege Nagmaalgangers heftig die kop; nie sonder brood nie.

“Cometh the hour cometh the man.” ’n Ouderling vloog dadelik weg na die Engen-vulstasie om die nodige te gaan koop, terwyl die gemeente sing en die Here prys.

Maar, glo dit of nie, by die vulstasie word die vrywillige onvrywillig die getuie van ’n diefstal. Dit verg tyd en oorredingsvermoë soos min om hom weens die nood in sy gemeente voor die polisie se koms van die misdaadtoneel los te skeur.

Swetend daag hy ten einde laaste by die kerk op met ’n plastieksak in die hand. Die brood kan nou gebreek word en die geleentheid volgens die formulier voortgaan. Maar wat kom uit die konsistorie te voorskyn? Nie gewone brokkies Nagmaalbrood nie; net een bord met hompe “Chelsea buns”.

Die gemeente moes noodgedwonge dié taai brood moedig inwurg terwyl hulle in wroegende stilte verlang na ’n ekstra slukkie wyn.

Agterna skryf ’n besoeker in ’n kerkblad ’n mens bly ’n mens, onvolmaak en feilbaar, maar net te veel het darem by daardie diens skeefgeloop. Wat hom betref, staan die afkorting “vdm” vir “voor Donderdagmiddag”, en hy is glad nie oortuig dat die liturg hom in sy voorbereiding daaraan gesteur het nie.

Ai, antwoord dié toe, hy bely hy is skuldig – hy kon beslis beter voorberei het. Die fiasko het egter daartoe gelei dat die nuwe jaar vir hom baie nederig begin het … en as nederigheid, soos Andrew Murray dit stel, die sieraad van heiligheid is, dan was dit een nuwe jaar wat beloof het om ’n baie heilige jaar vir hom te wees!

Mag dit vanaand met dienste oral vlotter verloop

Voorspoedige nuwe jaar!.

BY DIE “SAKTYD” VAN 2023

Terwyl 2023 in sy pylvak met versnelde pas na sy “saktyd” marsjeer (strompel?), diep ek weer ‘n  deerniswekkende vooraand-foto op van my oud-hoofredakteur by die dagblad Beeld, Schalk Pienaar. Oor enkele ure sou die eerste uitgawe van die rolpers kom.

Toe al in ‘n stryd teen kanker, dwaal Pienaar in afwagting op die vars koerant alleen deur ‘n verslaggewerskantoor waarin die tikmasjiene vir die nag stil geword het.

Dat die hoofredakteur diep in sy eie gedagtes versonke was, is aan sy lyftaal tasbaar. Verskeie vrae oor die nuweling moet immers in sy gemoed gemaal het. Die oorheersende: sou die toekoms vir sy koerant voorspoed inhou of mislukking?

Die simboliek van die foto by die jaarwisseling is treffend. So wag Suid-Afrika mos nou ook op die saktyd van die ou jaar en die verskyning van ‘n nuwe. Vrae oor wat in 2024 vir sy mense en vir die land wag, is in die media aan die orde.

Kom groter voorspoed – dalk ‘n nuwe daeraad – of wag maar weer mislukking en verdere agteruitgang? Eers as die nuwe jaar “op straat kom”, om ‘n koerant-idioom te gebruik, sal ons stadigaan die antwoorde begin kry.

Intussen dobber ons maar so hoop tussen hoop van sommige en die vertwyfeling van ander. Niemand weet werklik nie.

* Terloops, Beeld vier op 16 September 2024 sy 50ste verjaardag. Sy pad het hy oopgekap tot die enigste Afrikaanse dagblad in die noorde. Die Transvaler is weg, Die Vaderland is weg – so ook Hoofstad en Oggendblad in Pretoria. Maar die stryd was lank en moeisaam. En dis ver van volstry. In die digtale era het nuwe uitdagings gekom, nuwe eise, nuwe aanpassings en nuwe probleme.

Mag 2024 ons almal aangenaam verras

GLASIE WAT GOU LEEG RAAK

In 1980 keer ek uit die Rand terug Bloemfontein toe, waar – tot my meerderwaardige onbehae –  laatoes steeds koning kraai. Jy moet omtrent ‘n perd opsaal om die “uitheemse” Bellingham Premier Grand Cru in die hande te kry. Kollegas skinder oor al die Beeld-invloede op hul nuwe redakteur, hoor ek.

In ‘n ambisieuse oomblik trek ek die stoute skoene aan om by Ritsema de la Bat van die KWV vir redakteurs ‘n lansie vir KWV-kwotas te breek, gesien die vername gaste wat hulle soms moet onthaal.  Sy instemming ontsluit  ‘n baken-verskuiwende kennismaking met ‘n besonderse produkreeks.

So kom daardie wyn van statuur Roodeberg in my lewe, ook ‘n verfrissende Chenin Blanc en Riesling en ‘n reeks sjerries wat veral Sondae voor middagete lank ‘n verleiding is. Die fondament word gelê om vir ‘n aangename kuierwyn tot vandag toe niks verder as KWV se Sauvignon Blanc te soek nie.

Uit Roodeberg vind ek heelwat vreugde , maar beleef  ek ook ‘n ongeval wat die hart versuur.  ‘n Kosbare kis van die statussimbool moet saam Kaap toe as geskenk vir politieke beriggewer Al Ries vir ‘n reeks scoops soos min. Op die lughawe JBM Hertzog verloor ek op ‘n skuinste beheer oor die lughawe-trollie; net glasskerwe en dammetjies rooiwyn waar jy kyk!

As ek gedink het ‘n skip se wynlys of die KWV-pryslys is indrukwekkend, wag in 1992  ‘n nuwe openbaring. In die jaar word ek ‘n Kapenaar en word ek met verdrag ingelei in die wondere van Naspers se omvangryke wynkelder waarvan connoiseur Andrew Marais, skakelhoof, die sleutels dra.  Om landgoedere en oesjare spesifieke te prober uitsonder, sou wees om struikeling uit te nooi. Ek vermy liewer daardie waagstuk.

In die verbyry het ek op eie stoom Nuy se Sauvignon Blanc-vonkelwyn ontdek. Op elke feestelike okkasie in ons geledere klap ‘n Nuy-prop.  Deur ‘n Melkbosse vriend met hoë konneksies kom Perdeberg in my lewe.  Toe ons in 2016 my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste troudag vier, is  Perdeberg se Soft Smooth Red en Chenin Blanc op die tafels in die tent wat op Melkbos vir die driebaken-okkasie opgeslaan is.

‘n Vreugde van die salige aftreejare, nou al 25, is ‘n skemerwyntjie op ‘n bankie langs die see met ‘n Privaat-plaatjie teen die rug en met ‘n uitsig op Tafelberg en Robbeneiland. ‘n Durende probleem is een wat ek reeds drie dekades gelede aan wynmaker Beyers Truter bely het op sy vraag hoe die Kaap die Vrystaatse inkommer geval.

In alle eerlikheid hef ek toe ‘n loflied aan aan wyn, maar meld tog ook ‘n kwelling: dat ek sukkel om ‘n glasie so lank te laat hou soos ek Kapenaars sien doen. Het hy vir my raad en dalk ‘n resep?

Alte seker, kom die antwoord.  Die resep is doodeenvoudig; jy kan dit in een woord opsom.

En daardie woord?

Selfbeheersing, sê hy skalks.

Selfbeheersing nè: die vind ek, helaas,  steeds maar taamlik ontwykend!

(Slot)