Jan 28, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Dalk is dit onwys om die saak aan te roer terwyl ek in ‘n toutrekkery met Incredible Connection gewikkel is oor die snelle ineenstorting van die letters op my drarekenaar se sleutelbord.
My Acertjie is skaars ses maande oud. Sy e, r, i en n is egter al klaar koebaai wrede wêreld. Ander letters loop meedoënloos dieselfde pad, net ietwat stadiger. Incredible noem dit “normal wear and tear”, ofskoon die spoed waarteen die agteruitgang geskied darem ook daar wenkbroue laat wip.
Onse ridders van die tikmasjien uit ‘n vorige era dra hiermee blykbaar ‘n spesiale kruis. So kom ek agter toe ek iewers iets lees – op sosiale media by oud-joernalis Albe Grobbelaar dalk? – van ene se onvermoë om die ou gewoonte af te te skud om die klawers so hardhandig by te kom soos vanouds.
Ja-nee, ons kon. Ons kon ‘n masjientjie laat rittel en beef soos ‘n hond wat gif gevreet het, soos kollega Johan van Wyk ‘n keer in ‘n seldsame kompliment aan die uwe opgemerk het– ‘n pluimpie waarin hy, kloeke man wat hy is, moes erken het dat van aanslae hom vreesbevange gelaat het.
Daardie getroue ou werkesels kon dit vat. Hedendaagse toerusting soek egter om geliefkoos te word. Hoe teerder die streling, des te langer die gewilligheid om diens te lewer. Die komplikasie is net: Al weet ‘n mens dit, kan jy absoluut niks daaraan doen nie. Jou styl is jou styl. Finis en klaar.
Immers: As jy ‘n “aanrander van ‘n tikmasjien” was, is jy soos ‘n gewoontemisdadiger of ‘n drankverslaafde. Jy kan jouself nie help nie ondanks die reinste voornemens. Helaas.
Die makers van rekenaars weet natuurlik van ‘n tikmasjien niks, ook niks van die weerstand wat in sy toerusting ingebou moes word teen ‘n outydse joernalis wat vaart optel met ‘n storie. Die vervaardigers, verskaffers en almal in die rekenaarbedryf sal moet terug tekenbord toe, soos sommige rugbyspanne telkens.
Hiermee dan ‘n noodoproep aan hulle. Vind tog asseblief ‘n manier om daardie letters te pantser dat dit nie so vinnig verweer nie. Gee vir ons ‘n keuse as ons ‘n rekenaar koop soos motorvervaardigers al lankal leer doen het. Gee ons ‘n tipe stadsbuks of ‘n robuuste veldvoertuig, asseblief.
Jan 20, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Kyk, van Bitcoin verstaan hierdie ou man geen snars. Ek raak nie daaraan met ‘n lang tang nie.
Maar snaaks tog hoe ‘n mens onbewustelik in jou kop sekere assosiasies kan vorm. So koppel ek elke aand se brokkie op die TV-nuus oor die Bitcoin se op en af om die een of ander rede aan ‘n storie uit 1434 in die stad van my vadere, Deventer in die Overijssel.
In Deventer is ‘n sogenaamde “valsemunter” daardie jaar oor ‘n “valuta-oortreding”, as ek dit so mag noem, lewend in ‘n reuseketel gekook. Hy is as’t ware gekook oor sy kokery!
Op die stadsplein het teen ‘n muur so ‘n onheilspellende ketel gehang. Het hom met eie oë daar gesien op ‘n besoek in die 80’s en is nou weer daaraan herinner deur die vermaarde Perskorjoernalis Gerhard Burger van Port Elizabeth wat iets daaroor raakgelees het.
Vir outentiekheid behou ek die rillerstuk in zijn oorspronkelijke Nederlandsch:
Muntmeesters hadden in deze periode een grote verantwoordelijkheid. Ze waren belast met de productie en het waarborgen van de kwaliteit van munten en vervulden daarmee een sleutelrol in het handelssysteem. Niet iedereen ging echter goed met die verantwoordelijkheid om. Zo werd de muntmeester van Batenburg, een klein stadje op de grens van Gelderland en Brabant, in Deventer betrapt met valse munten.
De stad Deventer nam dit begrijpelijkerwijs zeer hoog op. Valsmunterij ondermijnde niet alleen het handelsverkeer, maar ook de reputatie van Deventer als betrouwbare Hansestad (handelstad). Een dergelijke misdaad moest dus hard worden bestraft. Op een stadsrekening uit 1434 is te lezen dat het stadsbestuur een lokale koperslager opdracht gaf tot de vervaardiging van een nieuwe koperen ketel voor de terechtstelling van de valsemunter. Bepaald werd dat de oneerlijke muntmeester in de ketel moest worden ‘gezoden’, ofwel in olie gekookt…
Hoe dat precies verliep is niet helemaal duidelijk, maar vast staat wel dat de muntmeester deze terechtstelling niet kon navertellen. De veroordeelde kreeg hierna bovendien geen normaal graf, maar werd simpelweg in een ton onder de grond gestopt.
Lange tijd hing de beruchte valsemuntersketel hierna aan de gevel van de Waag, om voorbijgangers te herinneren aan de zware straf die op muntvervalsing stond. Het is onbekend hoe vaak de ketel daadwerkelijk is gebruikt. Wel bekend is dat overtreders na 1598 niet langer in olie werden gekookt, maar voortaan werden opgehangen.
Franse soldaten schoten volgens overlevering tijdens de bezetting in de periode 1795-1814 kogels op de ketel af, waardoor deze het uiterlijk kreeg van een vergiet en definitief onbruikbaar werd. De ketel bleef hierna nog lange tijd aan de muur van de Waag hangen, maar had na verloop van tijd zoveel te lijden onder de weersomstandigheden dat in 2015 werd besloten hem te verplaatsen naar stadsmuseum De Waag. Sinds 2024 hangt er echter toch weer een ketel aan de buitenmuur van de Waag. Het gaat om een replica, gemaakt door het Koperslagersgilde uit Den Bosch.
Hierdie storie is aan niemand spesifiek se adres gerig nie. Die moraal behoort egter duidelik te wees: Deventenaaars laat nie met hulle mors. Trap dus in julle spore!
Jan 18, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

‘n Kollega, Chris (Molie) Moolman, se beskrywing van ‘n regtige groot fiasko was dat dit die grootste bokkerop sedert Perdeberg in die Boere-oorlog is.
Die Min Shaw-moles wat in die nuwe Huisgenoot (deels) oopgekrap word, sou honderd persent aan Molie se Wet van Katastrofes voldoen het.
Een ding weet ons vandag vir seker: Min Shaw (91) is NIE met die katelknaap Shaun Mynhardt (52), haar bestuurder en biograaf, getroud soos voorheen met gedokterde foto’s en versinde e-posse – lekker soetsappig daarby – uitvoerig berig is nie.
Hierdie feit voel ek my geroepe om aan die hand van Huisgenoot se jongste mededelings in die verband bekend te maak; soos ek my voorheen geroepe gevoel het om – met ‘n skeutjie sardoniese kommentaar van my eie – aan die hand van Huisgenoot se vorige mededelings in daardie verband die teendeel bekend te maak, naamlik dat ‘n romantiese huwelik voltrek is en dat ‘n wittebrood op Mauritius sou volg .
Dit blyk, liewe vriende, dat Huisgenoot (en die liewe Min) die slagoffers van ‘n diaboliese misleiding van reusagtige proporsies was. Die detail laat ek daar. Om in die besonderhede van die petalje dieper te delf om agter die kap van die byl te probeer kom, vind ek werklik te veeleisend en uitdagend. Elke leser liewer vir hom- of haarself!
Darem net dit: sowat van verwikkelde duimsuiery het ek nog nie voorheen oor ‘n verhouding tussen twee mense teegekom nie. Soveel duimsuiery en soveel raaiselvrae. Nadat jy alles gelees en probeer verteer het, bly immers die groot vraag: Hoe op dees aarde was al hierdie dinge moontlik? Verder: Hoe kon sulke omvangryke bedrog met valse e-posse plaasvind? Wat sou die motief wees vir al die liegstories? Wat dryf iemand tot sulke duistere gedrag?
Genoeg. Kom ek wens die ontnugterde Min in al haar broosheid net die allerbeste toe waar sy in ‘n Randse staatshospitaal gereed gemaak word vir ‘n operasie na ‘n ongeluk wat nie onverwant is nie aan die hele jammerlike episode waarvan die einde seker nog nie gehoor is nie.
Jan 7, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Verbode minnaars – sy aan sy. Foto:Werner Olivier.
Dis ‘n graf in die gras, dis ‘n vallende traan – dis al
In die skrynende slotstrofe van die gedig van Jan F. E. Celliers. Dis Al, bevat ’n storie. Die graf in die veld getuig van die verwoesting wat oorlog aanrig. Die banneling keer terug na niks. Alles is tot niet.
In die Anglo-Boereoorlog was Celliers, toe in sy middel-30’s, self op kommando. Hy het ‘n oorlogsdagboek gehou, wat later gepubliseer is. Al spel hy dit nie in Dis Al so uit nie, word aanvaar sy banneling is ‘n Boer wat ná daardie katastrofiese oorlog uit St. Helena of Ceylon terugkeer.
Elke graf oral is natuurlik ‘n storie uit eie reg. Dis immers die laaste punt agter die bekleder se lewensverhaal. Party lig die sluier egter meer as ander, soos in Celliers se aangrypende gedig.
‘n Uitsonderlike graf in die veld met ‘n storie is in die distrik Rouxville in die Vrystaat, vlak duskant die Lesothogrens. Die steen is ‘n lewensgetroue beeld van ‘n opgeskote seun. Die voetstuk verklap sy naam en kort leeftyd: Etienne Fouché, gebore op 6 Oktober 1927 en oorlede op 29 Augustus 1936, net voor sy negende verjaardag.

Oom Jim Fouche by die graf van sy jongste seun, Etienne. (Foto: Rapport)
Etienne was die jongste seun van ‘n jong boer, Johannes Jacobus Fouché, en sy vrou, Letta McDonald met wie hy in 1920 getroud is – die nimlike Oom Jim en Tant Lettie wat mettertyd in die openbare lewe met rasseskrede tot heelbo sou vorder: van administrateurspaar van die Vrystaat tot die minsame tweede Staatspresidentspaar van die land vir sewe jaar (1968 – 1975). Tussenin het hy as ‘n uiters gewilde minister van verdediging gedien.
Etienne se grafsteen op die destydse familieplaas Babel (nou ‘n gasteplaas in ander besit) is ‘n kunswerk, uit marmer gehou deur die Italiaanse beeldhouer Leopoldo Sangvinetti van Carrara aan die hand van ‘n foto wat sy ouers na Italie gestuur het nadat hul seun aan griep, longontsteking en hartversaking oorlede is.
Die plaas Babel het sy vreemderige naam gekry van die Elandsberg wat, as jy van die ou opstal Oos gekyk het, uit die aarde verrys, hoog soos die toring van Babel. Fouché se oupa (Stephanus Philippus) het waarskynlik die plaas só genoem. Oom Jim was innig aan die grond verknog waar hy met sy seuns op sy ryperd ‘n bekende gesig was; des te meer ná sy jongste seun in die geil aarde sy laaste rusplek gevind het. (Die Fouchés het net een ander kind gehad, dr. Jacobus Johannes (Buks) Fouché, wat in die jare 60 as ambassadeur in Nederland gedien het. Hy was 14 jaar oud toe kleinboet Etienne oorlede is.)
Terwyl hy nog minister van verdediging was, is die Vrystaatse edelman in Rouxville se stadsaal gehuldig. In sy toespraak vertel hy toe van skipbreukeling wat op ‘n eiland uitgespoel het. Hy het lank gelukkig op die eiland gewoon. Toe kom ‘n skip waarmee hy kon huis toe gaan. Vir die eilandbewoners se hy toe: “Dit was lekker hier en ek was gelukkig onder julle, maar ek moet nou huis toe gaan, na my vaderland toe.”
In daardie stadium was Oom Jim se stem al krakerig en kon ‘n nattigheid op die wang bespeur word. Toe kom hy met sy toepassing. Die politiek, sê hy, is vir hom so ‘n eiland. Dit is lekker en hy is gelukkig. Maar dit word tyd om huis toe te gaan, terug na sy “vaderland”, na Babel toe. Toe juig die Rouxvillers en stroom die trane.
Die dagblad Die Volksblad het sy woorde vertolk as ‘n sinspeling dat hy uit die politiek wil tree; sy kop staan plaas toe. Die verwagting is selfs op die plakkaat geskep – maar toe kom niks van die uittree-planne nie. Hy word daarna die enigste staatspresident wat sy volle termyn van sewe jaar uitdien. In 1980 is hy oorlede. Hy en sy hartsplek is nooit weer herenig nie.
So 170 kilometer van Rouxville, in die Vrystaatse hoofstad, Bloemfontein. het ‘n gebroke vader vir sy lieflingseun ‘n marmer- praalgraf gebou: ‘n sarkofaag in die ou Suidpark-begraafplaas met sierlike suile, blombakke en bankies in die koelte van groot bome waar jy rustig kon gaan sit en na die voëlgeluide luister.
Die vader was dr. Barnie Human, stigter van Human Motors, seker die grootste eenmansaak in Suid-Afrika, vertak in meer as ’n dosyn maatskappye, met jaarlikse verkope van duisende voertuie. Sy legendariese slag om motors te verkoop, het ‘n bekende Suid-Afrikaanse motorbaas laat opmerk het: “As Human Motors na motor town in Johannesburg se Eloffstraat oorgeplant kan word, sal daardie ouens nie weet wat hulle getref het nie. “

Die Human-praalgraf in Bloemfontein.
Die seun was Callie (16), die kroonprins van die ontsaglike sakeryk. wat in Desember 1967 op pad skool toe – die Greykollege – in ’n motorfietsongeluk gedood is. Hy het ‘n boek by die huis vergeet, omgedraai en op,pad huis toe onder die wiele van ‘n vragmotor beland. .
Met Callie se dood is die toekomsdrome vir ‘n Human-dinastie verpletter. Sy ontroosbare pa het troos gesoek deur monumente vir sy seun, ‘n belowende jong gimnas, op te rig. Waarskynlik die bekendste is die Callie Humansentrum by die Vrystaatse Universiteit: ‘n reusagtige binnenshuise sportsentrum met elke denkbare gerief, en doelmatig vir elke soort byeenkoms, van ‘n konsert tot ‘n gradplegtigheid tot ‘n kerksaamtrek.
Dit was inderdaad treffend hoe juis die verbondenheid met sy kerk op verskeie wyses in dr. Human se gedenktekens vir sy seun manifesteer het. Met ’n groot skenking het hy byvoorbeeld die bou moontlik gemaak van die NG kerk op Margate, sy vakansiegemeente waarheen duisende Afrikaanse vakansiegangers steeds op Kersdae stroom. Hy het ook ’n eie Bybelfonds op sy seun se naam geregistreer vir die verspreiding van Bybels aan kinders.
Dr. Barnie Human is op 20 Junie 2006 oorlede en mev. Swanie Human op 2 Maart 2012. Albei is in die praalgraf ter ruste gelê. Die Human-sakeryk het uiteindelik vererf na ‘n kleinseun, Jacques (Strys) Strydom, seun van die enigste dogter, Christa. Dié is in Februarie 2024 op ‘n perdeskou by Victoria-Wes op 54 aan ‘n hartaanval oorlede.
In twee grafte langs mekaar in die Van Reenen-begraafplaas in die Drakensberg is die treurige verhaal van ‘n verliefde paartjie se verbode liefde opgesluit. Dit is die grafte van Valerie Wilcocks (22) en Johan Bestendig De la Harpe (21). Op albei grafstene staan geskryf: Geslaan deur weerlig op Mont-Aux- Source, 18 Desember 1932. Tot op daardie dag en datum was die onderskeie families in ‘n vurige vete.
Die Drakensbergse Romeo en Juliet is in ‘n skielike somer-donderstorm deur ‘n enkele weerligstraal neergevel. Valerie en Johan en sy perd, Moskou, waarop hulle saam gery het, is op slag gedood.
Valerie, eiesinnige dogter van die destydse Vrystaatse administrateur, CTM Wilcocks, was verlief op Johan De la Harpe, seun van Percy de la Harpe,’n boer van die plaas Die Goue Hek (seker waar die naam Golden Gate vandaan kom). Op 17 Desember het Johan sy mondigwording gevier. Vermoedelik kon sy die partytjie nie bywoon nie, en het die twee afgespreek om mekaar die volgende dag by hul “geheime plek” vir hul hul eie viering te ontmoet.
Die jong verliefdes het vroeër van hul onderskeie familieplase af gery en ontmoet in die area naby waar Mont-Aux-Sources die kettinglere geleë is. Daar het sy op Moskou oorgeklim. Toe die donderslag …

Piet Retief se naam in groen verf op ‘n klip by Kerkenberg.
Dit lyk darem of die twee strydende gesinne versoen is, aangesien die twee minnaars langs mekaar in die Van Reenen-begraafplaas lê.
Nie verdaarvandaan nie, ongeveer 30 km suid van Harrismith, oor die steil Oliviershoekpas by Kerkenberg, is ‘n klip op ‘n klein plato reg onder ‘n rotsstapel te sien waarop die naam van Piet Retief en die datum van sy 57ste verjaardag, 12 November 1837, deur sy dogter, Debora, met groen verf aangebring is terwyl ‘n gedeelte van sy trek daar uitgespan het.
Naby is die monument van die kaalvoetvrou ter ere van die Voortrekkervroue wat liewer kaalvoet die berg wou oorsteek as om deur vreemdes verslaaf te word.
Daardie klip op die plaas Aberdeen is natuurlik geen grafsteen nie, hoewel amper so. Minder as twee maande later, op 6 Februarie 1838, is Retief en sowat 100 man (onder wie ongeveer 29 bruinmense) deur die Zoeloekoning Dingaan vermoor nadat hul belowende onderhandelinge skipbreuk gely het.
Die groen geverfde woorde op die Retiefklip kan vandag nog besigtig word, omdat dit deur ‘n glaskassie wat later aangebring is, teen wind en weer beskerm word. Met die 1937-Eeufeesviering is ‘n gedenkplaat deur mev. J.C. Preller (‘n kleindogter van Debora Retief) onthul en in 1986 is die Engelse weergawe van die plaat deur studente van die Pretoria Technikon geskenk.
(Tydens die Anglo-Boereoorlog het nóg mense – veral lede van die Bethlehem-kommando – hul name langs dié van Retief s’n gevoeg).
Jan 2, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Op ‘n tyd het ek en Tokkie groot vreugde daaraan gehad om vir mense na aan ons eie geskepte CD’s vir Kersfees te skenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, vroue, Kersfees, ens.
Ons twee het die snitte saam uitgesoek. Die knap Hildegard Martin van Melkbos het vir die res gesorg. Van ons vriende luister nou nog en laat weet getrou hoe hulle die musiek geniet. In 2016 het ons die praktyk ná 10 jaar gestaak.
In daardie jaar het ons drie bakens bereik: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste troudag. Die tema van ons laaste CD was om klaarblyklike redes: afskeid. Die titel was een woord: Dankie.
Nou het 10 jaar verloop. Tien jaar! Vanjaar, 2026, bereik ons weer drie bakens: my 85ste, Tokkie se 80ste, ons 60ste. Eerste van die drie breek sommer more al aan, die laaste is 363 dae ver.
In die dekade het dinge nie stilgestaan nie. Buiten die veroudering in eie geledere bied die aktiwiteite van die Byl onder vriende nogal stof tot nadenke. Van die 100 gaste wat in ‘n tent op ons gras op Melkbos 2016 se bakens gevier het, is 28 al oorlede: amper 30 persent. Van die 72 wat oorbly, is ver van gesond.
Al is ek self deur ‘n operasie of twee en al loop Tokkie nou met ‘n hart-pasaangeër, al beweeg ek ook al hoe moeisamer met my onontbeerlike kierie, het ons steeds rede om oorvloedig dankbaar te wees.
Op die vooraand van bereiking van more (3 Januarie) se eerste baken van die nuwe bakenjaar se drie betuig ek graag ons dankbaarheid vir vele seëninge in presies dieselde woorde as in die binneblad-teks van ons 2016-CD; ek voeg net telkens die woordjie “steeds” by:
Ons het (steeds) heerlike herinneringe aan goeie, geseënde en gelukkige lewens.
Kosbare verbintenisse verryk (steeds) elke dag ons aardse bestaan.
Ons is (steeds) diep dankbaar vir milde genadegawes – totaal onverdiend.
Ons gemoedere is (steeds) gevul met vrede, nostalgie en ‘n tikkie bewoëndheid. Ons kyk (steeds) vorentoe in biddende afhanklikheid.
Op hierdie CD – die tiende en laaste uit ons stal – is ‘n seleksie hartsliedere. Ons strewe was om met woord en melodie ons wye spektrum van emosies te verklank.
Daarmee sê ons (steeds) vir een en almal: Dankie.