Nov 16, 2008 | Hennie van Deventer se Blog

Op ‘n dag het ek ‘n brief van Bybelkor ontvang, koelbloedig gerig aan “Geagte Mnr. Van Deventer ‘Pens'”. Waarop ek toe aan ds. Hans Linde, Uitvoerende Direkteur, terugskryf: “U skryf aan my as ….’Pens’. Ek kan kategories stel dat ‘Pens’ (met of sonder aanhalingstekens) nooit deel van my van was nie. Ek is ook onbewus van so ‘n bynaam, hoewel dit uit ‘n fisieke hoek nie misplaas sou wees nie.”
Die liewe ds. Linde skryf toe in alle erns terug: Die vlaggie ‘Pens’ verskyn agter meer as een naam op ‘n adreslys wat van ‘n ander instansie ontvang is. Hy vermoed dat dit ‘n aanduiding is dat die betrokke persoon ‘n pensioentrekker is.
Inderdaad, ds. Linde, inderdaad! So was dit op Huisgenoot se adreslys wat daardie vabonde blykbaar aan die kerk staan en verkoop het. En dis reg: Die vlaggie ‘Pens’ beteken pensioentrekker. Maar ek was darem nie regtig omgekrap nie.
Hierdie storie word weer opgediep met verskuldigde ekskuse aan almal wat dit tevore gehoor of gelees het. Dit bly vlak in my geheue. As iemand jou so aan die “pens” vat, vergeet jy dit nie sommer nie!
Maar hoekom dit hier ophaal? Die sleutel vind u, geagte leser, in die laaste lyntjie van die inleidingsparagraaf: dat so ‘n bynaam vir die uwe “uit ‘n fisieke hoek nie misplaas sou wees nie.” So was dit in 2002 toe daardie briefwisseling plaasgevind het. So is dit – spyt my waternat om dit te bely – des te meer die geval hier op die rugkant van 2008. Daardie bynaam sou inderdaad uit ‘n fisieke hoek al hoe minder misplaas gewees het!
Om ‘n pensioentrekker te wees met ‘n “pens” beïnvloed ‘n hele paar dinge. Een is die soort leesstof wat my trek. Oor enige vorm van mode-artikel raak ek moeilik gaande. Om in die mode te wees, is immers hoegenaamd nie een van my ambisies nie en gerief tel bepaald meer as voorkoms.
Toe lol my liewe gade ‘n ruk gelede om my aandag op ‘n uitspraak van n tydskrif se moderedaktrise te vestig. Ek was terstond die herrie in. Die nooientjie beweer naamlik ewe beterweterig en uit die hoogte hoe ‘n verskriklike mode-nee dit is vir ‘n lywige man om ‘n broek met ‘n rek om die middel te dra – en dit juis in ‘n stadium dat ek hoopvol van winkel tot winkel loop om my voorraad van heerlik, gemaklike rekbroeke aan te vul.
“Weet daardie poppie watse gesukkel dit is om ‘n gordel op sy plek te hou as jy so lyk,” ontplof ek. “Jy moet net heeltyd bly rem, want die ding voeter gedurig om af te sak.”
Almiskie, sê my vrou, dit is wat hier staan en dis nie ‘n hierjy-tydskrif nie. Sy wil nou nie kant kies nie, maar sy dink die “poppie” het tog ‘n punt. “Wat van kruisbande as ‘n gordel dan so lastig is?”
Nou kyk, ek is nie anti-kruisbande nie. “Een joviale man in bretels,” het ‘n Hollandse joernalis my by geleentheid genoem (bretels bedoelende kruisbande, soos ek later vasgestel het). Maar kruisbande is vir my so half formelerig – 100% by ‘n pak klere of selfs by ‘n sportbaadjie, maar vreemd by byvoorbeeld ‘n braai of in die bos. Vir daardie doeleindes is ‘n rekbroek tops,
Buitendien glo ek dis darem erg voorbarig van jong dingetjies met slanke lyfies om vir ouer mense met gesette posture oor hul klere te kom voorskryf. Veral nog as dit ‘n dametjie is wat gesette omies wil reg help. Wat weet ‘n meisie nou van die ongemak wat ‘n glyende gordel om ‘n boeremaag meebring (as jy ‘n gordel kry wat lank genoeg is) of hoe swaar jy ontspan as kruisbande om jou kouers knel?
Ek vra ook: wat dra die vroulike geslag by hul deurtrekkertjies en ander goetertjies? Rekkies natuurlik – of so vermoed ek, altans. Van ‘n G-string met ‘n gordel of kruisbande het hierdie omie nog nooit gehoor nie. Dan wil hulle hul fraai bekkies oor ons kom rek.
Amper wen daardie modemeisie toe die argument by verstek, want die soektog na rekbroeke word uiteindelik ‘n uitgerekte en ontnugterende operasie. Winkels het dit eenvoudig nie meer op die rak nie.
Maar net toe ek wil moed opgee, sien my vrou – in ‘n tegemoetkomende luim –
‘n advertensie raak vir wat die vervaardiger as “avontuurdrag” bestempel. Wel, avontuur of nie avontuur nie, die broeke het rekke om die middel – en hulle kom van 3X tot 7X, net soos die dokter ge-“order” het.
Ek spring toe in my motor, ry amper die volle breedte van die Skiereiland en koop vir my twee nuwe “avontuurbroeke”. Hulle sit heerlik. So “whê vir die modepoppie. Moenie jou bekkie oor my rek-kie, meisiekind!
Die laaste woord behoort aan een van die kleinkinders (4) wat uit die bloute wil weet: “Is oupa vet?” Oupa erken dat sy maag neig om buitensporig groot te wees. Daarop die kinderlike wysheid: “Hoekom gaan Oupa nie toilet toe nie?”
Ai, my kind, as dit maar so maklik was om n paar kilo’s af te skud. .Dan het Oupa daar tent opgeslaan. In sy kas hang immers ‘n paar deftige broeke, Pierre Cardin en so, wat ongelukkig ‘n gordel of kruissbande vereis. (HvD)
Nov 15, 2008 | Hennie van Deventer se Blog

Skukuza-gholfbaan - die 18de putjie
Skukuza is verreweg die grootste kamp en die slagaar van die Kruger-wildtuin. Al die fasette van ‘n omvangryke infra-struktuur is daar saamgeknoop. Soek jy ‘n dokter, ‘n poskantoor, ‘n noodhersteldiens vir jou motor, noem op – Skukuza is die regte adres.
Nie alle Wildtuinbesoekers is egter versot op Skukuza nie. Te besig, sê baie. Hulle oornag net in die kamp as laaste toevlug – indien die ander kampe tjok en blok is. Vir diegene het ek nuus. Hier is my lysie van vyf sleutels tot die hart van Skukuza – en tot ‘n kuiertjie wat deur en deur die moeite werd sal wees.
1.Twee ure van betowering
Vat ‘n fles koffie of wyn en gaan sit minstens twee ure by die voëlskuiling Lake Panic. Watervoëls is gek na die pragtige plek. Jy sien sierlike bosbokkies en njalas, hope seekoeie, krokodille en skilpadjies. Ons het olifante raakgeloop wat hul kinders “swemlesse” gee. Wees geduldig, net agt motors word toegelaat. Moet nie jou kamera, verkyker en voëlboek vergeet nie. Bring jou la-a-a-ngste lens. Beter foto-geleenthede duik min op.
2. Bospiekniek
Pak ‘n piekniekmandjie en soek ‘n afgesonderde plekkie uit diep in die bos by Skukuza se afsaalplek vir dagbesoekers aan die Sabierivier. Huur ‘n braaiskottel. Dit word agter jou aangepiekel. Oorkant die rivier is baie wildpaadjies en ‘n gewilde drinkplek. Loer maar af en toe soontoe. Alternatief: As jy tyd en lus het om verder te ry, vat ‘n halfdag-uitstappie na Nhlanguleni wes van Tshokwane. Dis werklik bos, heerlik aards en primitief met silwerskoons toilette.
3. ‘n Potjie avontuurlike gholf
By Skukuza se gholfbaan moet elkeen ‘n vrywaringsvorm teken. Oral is waarskuwings soos: “Pas op vir leeus.” Word jy “aangeval, gegaffel of verskeur”, dis vir jou rekening! Verwag vars seekoeispore of stomende olifantmis op die setperke. ‘n Leeu het al by die eerste putjie aan buffelvleis gesmul. Die ruim grasdak-klubhuis is beroemd vir sy ontbyte – groot porsies, smaaklik, niks duur nie. Die kroeg is altyd oop … en die uitsig oor die setperk op die meer is hemels.
4. Gaan kerk toe
Gaan kerk toe. Vakansiedrag is doodreg. Die rustigigheid in die intieme kerkie in die personeeldorp spoel verheffend deur jou gemoed. Ds. Carl Louwrens het altyd ‘n boodskap wat tref, en die hegte klein Skukuza-gemeenskappie is gasvry verby. Kyk uit vir die knoetsige hardekool van die kerkklok en doopvont. Veral spesiaal is ‘n stilte-nagmaal op ‘n weekmiddag terwyl vlakvarke die grasperk omdolwe en voëls in die reuse-koorsboom hul eie koorsang aanhef. Sondagdienste begin om 08:30.
5. Boeiend en ontroerend
By die Stevenson Hamilton-gedenkbiblioteek herroep boeiende uitstallings die Wildtuin se romantiese geskiedenis. Jy kan die kosbare natuurboeke deurblaai en koerant lees (gewoonlik net ‘n dag oud) of by die hondebegraafplasie onder ‘n koelteboom talm: ‘n kolletjie ontroerende “heilige grond”. Elke klipstapeltjie of eenvoudige steentjie vertel ‘n storie van die band tussen ‘n veldwagter en ‘n getroue vierbeen-vriend wat baie kampvure en avonture gedeel het. ‘n Mens voel om jou hoed vir almal te lig.
Sien jou in Skukuza!
(‘n Verkorte weergawe hiervan het in die tydskrif Weg se Desemberuitgawe verskyn. HvD)
Nov 12, 2008 | Hennie van Deventer se Blog

As die gruwels van vrot diens die dag opgeteken sou woord in ‘n soort Guinness-boek van kampioen-gruwele sal hierdie chroniese slagoffer ook ‘n straaltjie of twee wil aanbied.
My kwota van minagting van verbruikersregte het ek darem ook al deeglik verduur, en stelle wat met “diensverskaffers” afgetrap is, vul ‘n dik bundel. Dalk is die ergste wat my al getref het, egter nie naastenby so erg soos wat ander arme drommels al getref het nie. Om daardie rede weerhou ek my van die versoeking om ‘n kroniek van HvD se guntelingstories oor afskeepdiens (of geen diens) hier neer te pen.
Gun my darem ‘n klaaglied oor die komplot wat blykbaar teen die uwe in werking is om 90% van sy oproepe, sel en landlyn, sy e-posse en ander beleefde dog dringende kommunikasies botweg te ignoreer – soos n 60-sone op ‘n snelweg deur die Karoo. My selfbeeld is desgevolglik al so in flarde dat ek skoon die bibberasie kry as ek die “enter”-knoppie druk om nog ‘n e-boodskappie iewers in ‘n donker put af te stort of ‘n nommer skakel net om deur ‘n geblikte stem verveeld in my dinges ingestuur te word.
Mag ek darem byvoeg dat my bewondering vir die kreatiwiteit en ondernemingsgees van ‘n loodgieter wat so stil-stil begin het om ‘n museum van gebarste warmwaterstoestelle tussen die dakbalke van ‘n Van D-eiendom te vestig, amper die oorhand kry by my wrewel oor die gesukkel om die goed verwyder te kry?
Miskien moet ek, ten besluite, soos die dominee graag sê, darem net ook so ‘n klein ietsie kwytraak oor winkel-assistente wat weens siendeblindheid, hardhorendheid of die een of ander nie-ooglopende gestremdheid daarin slaag om die uwe altyd mis te kyk of nie te hoor nie as die verwarring my daar tussen hul winkelrakke pak en ek ‘n behoefte aan ‘n bietjie aandag probeer tuisbring by iemand wat net voortgaan om op die selfoon te vry of ‘n stuk kougom droog te bearbei met ‘n rats tong.
Nee, liewe vriende, julle lees my verkeerd. Vandag stort ek heuning uit, nie bitterals nie. Vandag bring ek blomme, nie distels nie. Vandag hou ek ‘n pouveer uit om in ‘n hoed te druk, nie n tak met haak-en-steek-dorings nie.
Telkom, julle is eenvoudig te goed om waar te wees in ‘n kultuur waarin die term “goeie diens” nog net in verslete ou woordeboeke voorkom.
Ons telefoon druis al lank as jy probeer praat. Elke af en toe is dit: “hoesê?” of “please repeat” of lag ek en Tokkie as ons moet ernstig klink en andersom. Arme T. begin al subtiel navraag doen oor die pryse van billike (effens gebruikte) gehoortoestelle.
Eergister seg ek: tot hiertoe en nie verder nie. Ek bel Telkom en rapporteer my probleem. Kort daarna pieng-pieng-pieng my selfoon. Die klagte is ge-“log”. Geen twee uur later nie lui die voordeurklokkie. ‘n Netjiese tegnikus meld hom aan om die fout te soek. Skaars ‘n halfuur later het ons ‘n diagnose.
Hy deel mee ‘n kabel sal waarskynlik opgegrawe moet word. Hy “log” dadelik so ‘n aanbeveling. Kragtie, enkele ure later is hier nog ‘n SMS: hulp is op pad.
Gisteroggend is hier ‘n span van drie by die voordeur. Nog ‘n uur of twee later en daardie lyn is so klokhelder dat jy na ’n sopraan-aria daaroor kan luister.
Ek is as ‘t ware nog besig om blad te skud en dank te betuig, toe daag die volgende SMS op. “Probleem opgelos – hoop jy’s tevrede.”
Telkom se mense, ek hoop kulle kry hierdie loflied te lese. Julle is tops hoor, absoluut tops! (HvD)
Nov 11, 2008 | Hennie van Deventer se Blog

Soewenier van 'n kort plesier...
My vriend Piet Parlement (op sy dag ‘n bekende lid van die ou Volksraad) het op Melkbos kom kuier. Ek herinner hom aan die aand toe die aarde gebewe het. Hy lig sy glas in ‘n speelse heildronk en ons lag lekker saam oor sy woonwa-fase.
Piet is ‘n deeglike kêrel. Toe hy sin kry in ‘n woonwa, het hy wyd begin lees oor die onderwerp. Partymaal het hy sommer by woonwaparke ingery en met ‘n verskeidenheid eienaars geselsies aangeknoop.
Hul geesdriftige vertellings oor onvergeetlike vakansies by allerlei begeerlike bestemmings gee die deurslag. Hy doen toe sy keuse, en met ‘n meevallertjie uit ‘n vergete niggie se boedel stap hy by ‘n handelaar in om sy droom te verwesenlik.
‘n Verruklike model was dit inderdaad. Uiters modern en met elke denkbare gerief vir ‘n ontspanne vakansie. Piet begin as ‘t ware die slapies tel totdat hy die eerste keer sy huis op wiele vir ‘n gesinsuitstappie kan haak.
Toe D-dag aanbreek, was die logistiek al hoeveel keer uitgewerk, en was die moets en moenies aan elke gesinslid volledig bekend. Ook die staanplek is met sorg uitgesoek: ‘n rustige oase van reusebome, netjiese grasperke en ‘n blouselblou meer waarin ‘n kantige bergkruin op sy rug lê.
‘n Genotvolle, kommervrye langnaweek het gewag … hopelik die eerste proeseltjie van ‘n nuwe heerlikheid wat belowe het om net aan en aan te hou. Die eerste aand is vroeg ‘n vuurtjie aangesteek. Bier in die hand, strek Piet hom later agteroor uit op ‘n opvou-swembadstoel en met behae en dankbaarheid mymer hy oor hoe goed die lewe vir hom is.
Teen slapenstyd was hy in ‘n romantiese stemming. Gelukkig was die kleinkinders wat saamgebring is, moeg gebaljaar. Hul rustige asemhaling verskaf algou die sein dat die tyd aangebreek het om ‘n perfekte dag liefdevol af te rond.
Maar “oupa! ouma!” klink dit toe skielik ontsteld uit die verste hoek op. “Is hier ‘n aardbewing?” vra ‘n benoude stemmetjie. “ Hoekom skud die karavaan so?” koor ‘n ander. ‘n Kortaf ontkenning was onvoldoende. ‘n Verduideliking is geverg, en is stotterend verskaf. Nie juis oortuigend nie.
Die Maandag het Piet die koerant gebel en navraag gedoen oor sy advertensietarief. “Onder watter hofie? ” “Woonwaens te koop,” was Piet se antwoord. Omdat hy nog altyd ‘n man met ‘n goeie sin vir humor is, begin hy toe op die daad tot die advertensiemeisie se verbasing onbedaarlik giggel. (HvD)
Nov 8, 2008 | Hennie van Deventer se Blog

Die gesin Van Deventer op Mikonos in 1986 met die Oceanos agter ons.
Die Kaap was lanklaas so deur skepe betower. Oral het mense die laaste paar dae met kameras en verkykers oor duine geklouter om die die 300 meter lange reuse-vliegdekskip USS Theodore Roosevelt met sy 85 vliegtuie in die visier te kry. In die hawe was die missielkruier die USS Monterey ‘n trekpleister soos min.
Almal het bespiegel waar die Roosevelt se onsigbare waghond – ‘n kernduikboot – vasgemeer lê. Dalk naby Robbeneiland? Almal was verstom oor die asemrowende statistieke soos dat die skip se bemanning van 3 200 (die SAUK praat van 5 000) meer as 1 000 kg spek in ‘n maand verorber. “Moenie al ons ‘bacon’ oplaai nie,” het iemand juis Sondag benoud gepleit terwyl ons van Sunset Beach dophou hoe die voorrradehelikopters sonder ophou heen en weer vlieg.
Dan het ek, arme, eenvoudige landrot, voorheen gedink die Pendennis, die Constellation en die Oceanos is allemintig!
Met die Pendennis Castle het ek en vroulief Tokkie in 1970, jonk en nog kinderloos, ‘n romantiese eerste bootvaart onderneem, van Kaapstad na Durban. Ai, om so oor die dekreling te hang en dop te hou hoe Tafelberg oor die diepblou see al hoe kleiner en kleiner word …. dis mos die lewe, pappa!
Ons kwartiere was, in ooreenstemming met ons beursie, maar taamlik beskeie. Ons was iewers in die boeg van die skip ingedruk. ‘n Ketting het daardie deel van die dek afgesper waar die ouens met die min pitte nie durf kom nie. Maar ag, ook aan ons kant was dit darem net ‘n plesier om smiddae saam met ons nuutgevonde bootvriende te sit en Pimms no. 1 drink terwyl die skaduwees oor die Indiese Oseaan langer rek.
Met die Griekse lynboot die Constellation is die gesin in 1985 na Mauritius. Ons wellewende kelner se naam was Sotiris, onthou ek. Tot vandag bly dit my by hoe hy tot diep in die nag skottels vol Griekse kos bly aandra het. Vir die kapteinsete was die voorgeskrewe drag “black tie”, d.w.s. aandpak. ‘n Ander aand was daar ‘n kostuumbal.
‘n Skerpsinnige politikus uit die vorige bedeling het op ‘n manier te wete gekom dat die boonste dek die plek is waar die slanke danseressies tussen hul nagtelike kabaretvertonings bedags die son opsoek. Toe maak hy dit ook sy gereelde bestemming.
‘n Boeiende roetine het hom amper elke uur op die uur afgespeel. Eers rys Mnr. Politikus waardig uit sy dekstoel. Hy staan nonchalant so ‘n bietjie rond. Hy kyk in alle rigtings. Daarna stap hy doelgerig na die trappies. Vir die volgende 20 minute of wat was hy dan afwesig.
Nouja, ‘n mens van vlees en bloed kan jou nuuskierigheid ook net so lank in bedwang hou. Teen die vierde, vyfde keer is hierdie waarnemer hopelik onopsigtelik agterna. Vir sy persoonlike moeite en opoffering kry hy toe nie net ‘n onbelemmerde blik op die gemelde dames se onbedekte wilgerlatylywe nie, maar ook op die veel indrukwekkender proporsies van ‘n fris vroulike kollega van die tydskrifte-afdeling wat, skynbaar onbewus van die turende medepassasier se identiteit, al hoe meer uit haar dop kruip. Ook vir haar was die bodek die aangewese uithangplek vir haar daaglikse dosis sonaanbidding.
‘n Nare herinnering is van die uwe se duim wat in ‘n sware kolos van ‘n buitedeur se pad gekom het. Met die baftablou nael en ‘n kloppende pyn is ek na die skeepsdokter wat tot my ontnugtering wou weet of ek nie vir hom ‘n skuifspeld het nie. Sy behandeling sou wees om die skuifspeld warm te maak en dan ‘n gaatjie in die nael te druk vir die bloed om te ontsnap, het hy my meegedeel. Dit het my terstond laat besluit die pyn is nie regtig so erg nie.
Tokkie verbind die ongeluk by die deur nou nog met die gereelde uitstappies na die bodek. Hoe sy daardie vurk by die hef kry, weet ek nie. Dis sommer pure moedswilligheid, vermoed ek.
In elk geval met daardie Constellation is ons toe op pad na Mauritius. Maar die see was rof, hoor. Ons is amper 12 uur laat uit Durban weg. Toe vorder ons weens die reuse-deinings boonop teen ‘n slakkegang. In ‘n stadium is gevrees die beurende, krakende boot sal sommer nog voor Mauritius al in die oop see n U-draai moet maak en terugkeer.
Darem nie, maar uiteindelik was ons minder as 24 uur op Mauritius. ‘n Gedaan Vauxhall-taxi moes sy ry ken om by al die plekke uit te kom waar ons wou draai: Port Louis se mark, die Pamplemousses-tuine, Trou Aux Biches se akwarium, Le Touessrok en die eilandjie Ile Aux Cerfs waar die danseressies en die inhibisielose kollega tuis sou voel.
Ons was net betyds vir die Constellation se vertrek op sy terugwaartse vaart met ‘n harde fluit en onaardse rammeling in sy enjinkamer. Die ou vaartuig is ook al lank skrootwerf toe. Daardie reis het ongetwyfeld sy bydrae gelewer om die metaal te vermoei.
Maar die lus was behoorlik geprikkel. Ontmoet nou Hennie-die-skipper. Minder as ‘n jaar later is ons met Oceanos (spreek uit Okeanos, asseblief!) van die Epirotiki-redery op ‘n vierdaagse vaart na die Griekse Eilande. Dit was die dae van die Tsjernobil-kernramp, met onvoorsiene gevolge vir die Van Deventers.
Toe ons in Athene se hawe, Piraeus, aan boord gaan, kry ek in ons kajuit op die bed ‘n prgram vir dag een met die volgende ontnugterende mededeling: “11:00 – The MTS Oceanos sails for Istanbul (Turkey), a distance of 354 nautical miles.”
Istanboel! Turkye! Is ons op die verkeerde boot? Ek skrik my bloeddruk deur die dak. Toe ek uitasem by die betaalmeester kom, kon hy my gerus stel: “Nee, die verkeerde boot is dit nie. Weens Tsjernobil het baie passasiers egter kop uitgetrek. Twee vaarte moes toe saamgegooi word.”
Istanboel, hier kom ons dan! Ons is die oggend vlugtig oor die Bosphorus en oral in die stad rond, en Tokkie kon nog tyd inruim om twee Turkse matjies aan te skaf – nogal mooi en nie te peperduur nie.
Volgende stop was die kleurryke eilandjie Mikonos – soveel romantieser as die Langebaanse kloon; daarna daardie Griekse kroonjuweel op die kruin Santorini met sy panoramiese helderblou see-uitsigte en Kreta.
Dit was ‘n vakansie duisend – veral die ure op die dek met die stewige voorraad Suid-Afrikaanse wit wyn wat ons in ‘n yslike sak saamgebring het om die buitensporige pryse van aan-boord-alkohol vry te spring. Deesdae mag jy dit nie meer doen nie, verstaan ek. Hulle besnuffel jou koffers glo van hoek tot kant.
Die Oceanos (onthou die “k”) het so diep in ons harte gekruip dat ek skoon bewoë was toe hy, darem heelwat later, blinkpens bo in die dieptes van die Indiese oseaan aan die Suid-Afrikaanse Wildekus wegsink.
Tokkie onthou van daardie vaart geamuseerd die gedoente met haar haardroër. Dié was minus die regte konneksie. In haar drasak wat altyd vir alle soorte noodtoestande ingerig is, was egter wel ‘n muurprop van Europese model. Sy vra toe die kêrel in beheer van die kajuitwaardinne vir ‘n skroewedraaier. Hy was dadelik suspisieus. “Screw driver? What for?”
Toe sy verduidelik, kry hy ‘n spasma. Wil sy dan die Oceanos eiehandig die lug inblaas? Nee, hy stuur die skeepselektrisiën, wat toe opdaag nie met ‘n skroewedraaier nie, nota bene, maar twee stukkies hegpleister. Sy raad was skokkend aards: plak die lewendige kaal drade sommer met die hegpleister aan die muurprop se gaatjies vas! Daardie haardroër is op daardie vaart nooit uit die tas gehaal nie.
Daar was ook die insident met die toebroodjies. Ons seun, Johan, moes saans voor slaaptyd ‘n broodjie eet om sy bloedsuiker te stabiliseer. Tokkie verduidelik vir die kajuitwaardin en sy knik instemmend. Maar hier kom sy aan met ‘n berg brood, hopeloos te veel vir Johan of selfs vir almal van ons. Tokkie vra sy moet die volgende aand minder bring. Weer knik sy instemmend. Toe daag sy op met dubbeld soveel.
My advies was om nie verder te onderhandel nie. Toe sluip Tokkie maar soggens in die skemer dek toe om die dankbare albatrosse met die oorskot van die brood gelukkig te maak. Maar toe sien sy iets waaroor sy tot vandag toe wroeg: hoeveel swartsakke met die vorige aand se bottels en oorskietkos sonder seremonie in die see gestort word.
Arme , arme see. Hoe morsig moet dit nie op sy bodem lyk nie met al die groot skepe wat kruis en dwars oor die oseane vaar? Dink net hoeveel swartsakke moet die Theodore Roosevelt nie uitskud nie nadat sy 3 200 manne (of 5 000?) so smaaklik gëeet en gedrink het soos ons in die koerante gelees het! (HvD)
Oct 6, 2008 | Hennie van Deventer se Blog

Danie die deurtrapte draaksteker lag van oor tot oor
Van een Danie Krynauw (blaai aan tot by vorige blog) na ‘n ander ….
Op Melkbos waar die Van Deventers na aftrede kom wortels inslaan het, het ons vriende geword met die “ander“ Danie Krÿnauw van die Kaap – die Danie met die umlaut op die “y” wat burgemeester was van Milnerton in die 90’s van die vorige eeu.
“Ander” Danie onthou een oulike anekdote oor ‘n identiteitsvergissing toe die nuwe TrustBank-gebou in Adderleystraat met ‘n glansdinee geopen is. Jan S. Marais was die gasheer. Staatspresident Nico Diederichs was die spreker. Albei Danies was op die gastelys.
Die Danie met die umlaut en sy vrou, Esbé, het net hul sitplekke ingeneem toe iemand hom ferm op die skouer tik. Hy kyk op in die ernstige gesig van die Pers se Danie. “Jammer,” spreek daardie Danie hom aan, “maar julle sit op ons plekke.” Uiters verleë, staan Danie en Esbé toe vinnig op en mik koes-koes deur toe. Een van daardie aanvallige jong TrustBank-meisies van destyds sien egter wat gebeur, draf agterna en los die deurmekaarspul tjoef-tjaf op.
Burgemeester Danie het nooit daardie aand vergeet nie. Pleks dat ek Saterdag by sy 80ste my kollega Danie, latere uitvoerende hoof van tydskrifte by Naspers, gevra het of hy dit ook steeds onthou.
Oor Danie nommer een het ek in die vorige blog twee s-woorde gebruik: stylvol en sjarmant. Danie nommer twee is eweneens ‘n s-man. Jy sou hom kan beskryf as ‘n man vir stories (soms stouterig), vir strepe trek, vir skryf en vir skerts.
Nou moet ek dadelik meld dat my drarekenaar ‘n Engelse speltoetser op het. Elke keer as ek tik “skerts”, foeter hy om dit te verander in “skirts”. Dit is nogal nie onvanpas nie – in die lig van al die “spesiale meisies”, “verloofdes”, “enigste liefdes” en dies meer wat vriend Danie (kammakastig) op sy kerfstok het. Melkbossers sien hom ook soos ‘n ware Franse heer rondloop en oral net hande soen. ‘n Mens is eintlik verlig om uit sy eie mond te hoor Esbé sal sy enigste weduwee wees!
Van weduwees gepraat: hier is ‘n regte-egte Danie Krÿnauwstorie wat verklap hoe ‘n deurtrapte draaksteker hy is. Dit speel af in die plaaslike Pick ‘n Pay waar hy by die kassier opdaag met ‘n hand vol mottegif. Hy wil graag weet wat kos dit, deel hy die kassier mee, want sy vrou strooi elke oggend so ‘n bolletjie, fyn gemaal, oor sy ontbytkos.
Gif by die brekfis! Die jong kassier se oë rek soos pierings. Sy spring op en gaan roep die bestuurder. Danie moet sy storie herhaal. “Meneer,” stamel die bestuurder, “jy moet dadelik dokter toe, hy sal jou verder help.”
Dat Danie nie die gewone 70-plusser is nie, hoor jy sommer dadelik as jy sy nommer skakel. ‘n Swaar Engelse aksent kondig aan: “Buckingham Palace here.” Wat die verklaring is? Seker maar dat hy ‘n stemkunstenaar was wat vele rolle in radiodramas vertolk het. Blykbaar is dit ‘n geval van: een keer ‘n stemkunstenaar, altyd ‘n stemkunstenaar.
Danie is by uitstek ‘n storieman. Hy het ‘n storie vir elke okkasie. Gewoonlik deurspek met skerts en humor. Die skerts en die skryf gaan hand aan hand – soos blyk uit die volgende humoristiese stukkie in een van sy self gepubliseerde bundeltjies, Kry nauw ‘n knertsie:
“Sy (‘n vriendin van Esbé, Christle Böhringer) het baie babatjies in Distrik Ses gevang. Een aan laat moes sy weer ‘n baba in ‘n klein kamertjie gaan vang.
” ‘n Lamp het op die tafeltjie gebrand en ‘n kers of twee was ook opgesteek. Christle het op ‘n primusstofie water gekook. Uiteindelik het die kleintjie ‘n eerste skree geskree.
“Nadat Christle die baba gereed gekry het, het sy die baba nader aan die lamp geneem. Dit lyk toe vir haar asof die baba rooi hare het. Sy gee die baba vir die enkelmoeder en vra: ‘Het die pa rooi hare?’
“ ‘Ek weet nie, nursie, want hy het ‘n hoed opgehet!’ ”
Danie en Esbe het in Junie 2006 goue bruilof gevier. Hulle is op Saterdag 9 Junie 1956 getroud. Danie, die ou grootbek, verkondig ewe windmakerig: “Ons moes trou! Ons seun, Danie, is op 8 Junie gebore.”
“Danie is wel op 8 Junie gebore, ja,” verduidelik Esbé, “ maar, let wel, eers op 8 Junie 1964 – ‘n hele 8 jaar later. Sy voeg by: “Danita (die eerste) is self eers op 26 Maart 1963 gebore, na 7 jaar se huwelikslewe. ‘n Krÿnauw laat hom nie aanja nie!”
Een van Danie se huidige gunstelingstories is van sy “neef” wat so ‘n vinnige kar het. Hy jaag een dag vir ‘n vale, sien die blou lig van ‘n verkeersmotor wat hom agternasit en trap toe die petrol behoorlik weg. Later hou hy onder ‘n boom stil. Na ‘n lang ruk kom die verkeersmotor aangejaag.
“Hoekom ry jy so soos n mal mens?”
“Ekskuus, inspekteur, my vrou het tien jaar gelede met ‘n spietkop weggeloop. Ek was bang dis hy wat haar wil terugbring!”
As Danie by die ontknoping kom, besef elke mens natuurlik hy lieg. Maar met die volgende storietjie vang hy nogal hier en daar iemand wat besorgd kloek:
Die bure daar in Living Sea waar hulle woon, se seuntjie is vyf. Hy speel met ander bure se dogtertjie wat ook vyf is en vra haar vertroulik toe sy langs hom sit: “Het jy al seks gehad?” Sy: “Nee, ek het nog net masels gehad!”
Hierdie twee stories sal ongetwyfeld ook nog hul weg tot in druk vind. Danie is ‘n ywerige bundeltjie-maker.
Die skryfgogga het Danie meer as 60 jr. gebyt toe hy ‘n laerskool-kannetjie was – ‘n hardnekkige gogga wat hom oor 70 lewensjare nooit wou uitlos nie. Stukkies uit sy pen is in Die Klein Burger, in Kerkbode, in skooljaarblaaie, in studenteblaaie, personeelblaaie, ens. gepubliseer. Vandag kan jy nie die gemeenteblad Visnet oopslaan nie of daar is iets deur Danie in.
Danie en Esbé het in 1997 hier op Melkbos kom aftree. Die seelug en ontspanne atmosfeer van ons kusdorpie akkordeer blykbaar goed met hulle. Hulle word net jonger en jonger, indien dan nie van jare nie, dan wel van gees. (HvD)