‘N OU BOEK BRING VREUGDE

Wat maak dat ‘n mens ‘n ou boek na jare weer optel, daarin blaai, begin lees en dan end-uit opnuut geboei word?

Wens ek weet. In matriek, in 1957, was een van my voorgeskrewe werke daardie Paul Gallico-meesterstuk The Snow Goose. ‘n Eksemplaar daarvan staan in ‘n boekrak in die gang waar ek nie naastenby so gereeld kom soos in die studeerkamer met sy oop boekrakke nie.

Iets dryf my egter nou die dag om die boekrak te gaan oopsluit, The Snow Goose tussen die motbolle op te diep en dit van hoek tot kant te verslind. Watter genot! Die eenvoud en egtheid van dié klassieke oorlogslegende het my in 2009, soos in 1957, aangegryp.

‘n Gedig oor die eensame boggelrug Philip Rhayader, sy geliefde Fritha en dié manjifieke voël was in my matriekjaar een resultaat van my bewondering vir Gallico se werk. In die eindeksamen kon ek my gedig neerpen in antwoord op die vraag: “Tell the story of The Snow Goose in your own words”. Dit het seker gehelp dat ek ‘n A vir Engels behaal het.

Toe ek die boek neersit, het ek in ‘n oorvol kas tussen X-straalplate, manuskripte en halwe manuskripte, plakboeke, ou koerante en tydskrifte, ander dokumente en dies meer die Volkie-jaarblad van 51 jaar gelede gaan uithaal.

Die gedig oor The Snow Goose het ongelukkig heelparty gebreke – dit besef ek nou beter as eers – maar vir wat dit werd is, hier’s hy:

White were the sails in the moonlight
Of the small boat afloat in the bay,
And furious flames licked to heaven
And smoke clouds wandered away.

But a white bird came flying and honking
Through the darkening mist in the sky,
On the brink of destruction it hovered
With a queer sense of fear in its cry.

The boat had a ghostly appearance:
Its sails were withered and torn,
And the man at the tiller was shouting,
And the white bird was blowing its horn.

The man was a hunchback and ugly;
His hands were bent at the wrist, like a claw;
But his face had a glow of excitement
As only his love for the hunted could draw.

He saved several hundreds of soldiers
And sailed, with the snow goose above,
Back to the lighthouse at Aelder
And to Fritha, the girl of his love.

An officer found him abandoned,
A bird was perching the rail;
The hunchback was badly machine gunned,
To return to his love he did fail.

Gaan lees gerus The Snow Goose – of lees dit die tweede keer. Dis net 55 bladsye. Ek wed jou dit gaan jou laat goed voel. (HvD)

DOK KRY ‘N KISHOU!

Tukkies, 1962 - die jaar toe HvD kennis gemaak het met Romeins-Hollandse Reg ... en met prof. Nico van der Merwe, 'n karakter soos min. Hier voer HvD ienk Koornhof van Kollegetehuis die pil. Die toeskouer is Piet Henning, ook 'n regstudent.

Tukkies, 1962 - die jaar toe HvD kennis gemaak het met Romeins-Hollandse Reg ... en met prof. Nico van der Merwe, 'n karakter soos min. Hier voer HvD ienk Koornhof van Kollegetehuis die pil. Die toeskouer is Piet Henning, ook 'n regstudent.

Dit is nogal verrassend hoe een enkele woord ‘n gesprek, of ‘n grapsessie, of veral die onthou-jy-nogs van ou vriende se afstof van gedeelde herinneringe in ‘n onverwagte koers kan stuur. Een sleutelwoord is al wat nodig is om ‘n hele negosiekis assosiasies oop te sluit, en ‘n stroom gedagtes los te laat wat soos voëltjies (bedrywige withelm-laksmanne?) van tak tot tak wip.

Die verband sal mettertyd duideliker word, hoop ek, maar om die leser nie langer aan die raai te hou waarheen hierdie gryse blog-skrywer vandag op pad is nie, deel ek graag mee dat gister, eergister se blog oor kerkklokke my skielik laat onthou het van 1962 se derdejaar-regteklas aan Tukkies.

Die uwe was toe wel nie meer in sy derde jaar op die kampus nie – wel al histories in jaar nommer vyf, tot die goed verbloemde ongeduld van Pa en Ma Malan wat die rekeninge moes optel en van Die Volksblad in Bloemfonrein (minder goed verbloem) oor die beurshouer wat eenvoudig te verknog is aan sy kampus om sy beursverpligtinge te begin nakom. Van die derdejaar-regteklas kan ek egter met ‘n sekere gesag skryf, omdat dit is waar ek my in ‘n skielike wending in studierigting in 1962 bevind het.

Noem dit maar ‘n poging tot akademiese rehabilitasie na ‘n jaar waarin die uitgee van die studentekoerant Die Perdeby voorkeur geniet het bo die minimum-eise van nagraadse studie in die sielkunde, maar toe die akademiese jaar 1962 aanbreek, staan ek o.m. ingeskryf vir Romeins-Hollandse Reg III. (Ook Romeinse Reg, ens).

Die klas was in die oostelike hoek van die waardige Ou Letteregebou met eminente leermeesters soos prof. Nico van der Merwe, ‘n briljante regsbrein met ‘n silwer tong, en die minder flambojante Pierre Olivier wat as appèlregter in Bloemfontein geëindig het. Prof. Nico se forté was delikte en adv. Pierre syne kontrakte.

Nico, seun van die N.J. van der Merwe wat bestem was vir groot dinge in die politiek, maar vroeg oorlede is, was ‘n skaretrekker soos min. Sy klas was die enigste in my vyf jaar op die kampus wat ek vir geen geld sou mis nie. Ook die ander klasmaats het moeite gedoen om teenwoordig te wees om die spitsvondige, selfversekerede jong professor in aksie te hoor. Sy lesing oor seduksie was onoortreflik. Ons het aan sy lippe gehang as hy so op sy bors slaan en deklameer: “Laat die hof sê wat hy wil. Maar wat sê ek, Nico van der Merwe? Ek, Nico van der Merwe, sê so en ek, Nico van der Merwe, is reg!”

Ek meen hy was 29 toe hy hoogleraar geword het, maar sy loopbaan by U.P. is ongelukkig kortgeknip oor ‘n insident wat in ‘n prominente berig bo-aan Die Transvaler (destyds die enigste Afrikaanse oggendkoerant in die noorde) se voorblad gerapporteer is, en waarin – as ek reg onthou – prof. Nico se blonde buurvrou ook die een of ander kritieke betrokkenheid had.

Ek kom later terug by prof. Nico – ‘n man van so ‘n stoffasie vat en los jy nie in die bestek van twee paragrawe nie! Maar eers iets oor die klasmaats.

Een was Louis Harms, die einste wat Jacob Zuma (en regter Nicholson) se liggies nou die dag in die Appèlhof so vinnig laat verdof het. Hy was toe al ‘n slim seun, waarskynlik die numero uno (ja kyk hoe onthou ek my Latyn!) in die klas. Hy het links voor gesit en tot ons ander se irritasie al die antwoorde op al die vrae geken. Veral oor die skuldbeginsel in die deliktereg was hy in ‘n ander liga as party ouens wie se name ek nie nou sal noem nie.

Ook in die klas was Meyer Kahn, wat grootbaas van S. A. Brouerye geword het, ‘n ere-professor en die regrukker van die S.A. Polisie in ‘n stadium toe die poging rot regruk ‘n sterk man moet laat sidder het . Sy punte was nie op dieselfde vlak as dié van Louis Harms nie. Vir hom het prof. Nico een keer op ‘n toetsvraestel gekryf: “Mooi so mnr. Kahn, as jy so aanhou. Sal jy net-net dop.”

Dan was daar “Killer” Botha wat prokureur in Johannesburg geword het en jare gelede in vreemde omstandighede vermoor in sy woonstel in Nothcliff gevind is. Killer het afgemete gepraat. Op ‘n dag verras prof. Nico hom met die volgende vraag: “Killer, as ek in die straat afloop en en ek klap iemand onderstebo, wat is dit?” Killer: “A-a-a-nra-a-anding, pro-o-fes-sor.” Prof. Nico: “Nee, Killer, as jy hom klap, is dit aanranding. As ek hom klap, is dit moord, moord, moord!”

Daar was ook dr. Cor du Preez, mediese dokter en beroepskandidaat vir hoeveel partye in hoeveel tussenverkiesings. Vir hom was die regte veel komplekser as die geneeskunde, het hy bely. ‘n Mens se liggaam is soos ‘n motorenjin. As jy die enjinkap optel, sien jy sommer hierdie draad is hiervoor en daardie draad daarvoor. Maar in die regte? Daar loop die drade sommer deurmekaar.

Ek onthou hoe die senuweeagytige Dok die dag in erfreg ‘n intestate boedel op die swartbord moes gaan beredder. Uiteindelik het almal wat reeds dood was, ‘n kado-tjie uit die boedel gekry. Die nog lewendes is voor die voet onterf. Prof. Nico het op en af gespring. “Dok, jy’s tog ‘n dokter, weet jy dan nie hoe lyk ‘n lyk nie?”

Nou die kerkklok-assosiasie – met die nodige spyt dat dit so laat in hierdie skrywe eers aan die beurt kom. Die storie is dat ons ‘n keer in ‘n toets die vraag gekry het: Bespreek die vonnis Methodist Church vs. The Master.”

Dok Cor kry nie daardie draad onder sy enjinkap nie, en probeer toe sy dilemma agter ‘n speelse kommentaartjie versteek: “Ai, prof, ek het nooit gedink ‘n Engelse kerkie sou my klokke so laat lui nie.”

“Ja, dok,” antwoord prof. Nico: “En toe is dit nie die geklink van huweliksklokke nie, maar die kluitklap op die kis!” Kishou, prof. Nico! (HvD)

HOOR JY DIE KLOKKE?

Sondaars kom, sondaar kom,
Roep die klokke om en om ….

Ek wonder hoeveel keer het hierdie woorde van die digter Totius al spontaan in die gedagte gekom wanneer kerkklokke lui. In ander tale is waarskynlik ewe bekende frases wat met beierende kerkklokke geässosieer word.

In die sonore klanke van die kerklok – ‘n tradisie wat uit die vroeë Middeleeue kom – is immers iets digterliks opgesluit. Of die klokkespel die erediens aankondig wat aanstons begin, of ‘n huwelik of begrafnis, dra dit op ‘n treffende en aangrypende wyse ‘n boodskap oor – hetsy uitnodiging, vermaning, jubeling of hartseer. Dit spreek jou hart aan, of jou gewete.

Onthou die sentimentele liedjie oor Jimmy Brown. In sy lewe het die klokke drie keer spesiaal net vir hom gelui: by sy geboorte (jubelend), sy huwelik (uitbundig en vol vreugde) en sy begrafnis (droewig). Die liedjie was veral gewild aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog hier rondom 1945. Edith Piaf het dit beroemd gemaak onder die Franse titel Le Trois Cloches. Ek gaan net nou maar die Piaf-weergawe op die draaitafel sit.

In ons gemeente, die NG gemeente Melkbosstrand, is die kerkklok al jare stil, soos ek dit het om nie die gemeenskap se rus op Sondagoggende te versteur nie. Dit dui dalk op bedagsaamheid en ‘n opofferende gesindheid, maar vat tog iets weg van die kerk se kommunikasie met ‘n mensdom wat soms nodig het om herinner te word dat ‘n bron van geloofsversterking, opbeuring, troos en meegevoel binne bereik is.

In ons “tweede gemeente”, Krugerpark in Skukuza, lui die kerkklok te vroeg vir diegene wat, soos ons, van buite die Wildtuin kerk toe kom. Kersoggend het ons gesorg dat ons betyds vir die klokkespel is. Op die foto staan die tweeling, Jacob en Thomas Claassens, by Jimmy Pressley van Skukuza terwyl hy die klok van die karaktervolle Skukuzakerkie oor die personeeldorp laat galm.

Skukuza se kerkklok is waarskynlik een van min – dalk die enigste – wat aan ‘n stuk hardekoolstam hang. Die meeste is in indrukwekkende kloktorings gemonteer, soos in Notre Dame-katedraal in Parys wat onuitwisbaar in die geheue ingeprent moet wees van elkeen wat die rolprent The Hunchback of Notre Dame gesien het.

Wie sal ooit die toneel vergeet van die misvormde Quasimodo wat vir dood aan die Notre Dame se reuse-klokke swaai terwyl hy man-alleen die verwoede inval van Frollo afweer en so die mooie Esmeralda se lewe red?

Reuse-klokke? Dis miskien ietwat oordrewe. Die Notre Dame se grootste klok. Emmanuel, in die suidelike toring weeg “maar” 13 000 kilogram (so swaar soos twee olifantbulle). Daar is swaarder klokke in die wêreld.

Die swaarste waarvan ek weet, die ses meter hoë Tsaar-klok in die Kremlin in Moskou, weeg meer as 200 000 kilogram (sommer ‘n trop olifante)! Dit hang egter nie, maar staan op ‘n gemesselde platform. Daardie klok enorme klok het nogal ‘n tragiese geskiedenis. Dit het nooit gelui nie, omdat dit in ‘n brand gekraak het.

Laat die Tsaarklok buite rekening. Dat die Notre Dame se Emmanuel self darem nie ‘n liggewig is nie, besef ‘n mens as jy hom met Londen se beroemde Big Ben by die Westminster-abdy vergelyk. Big Ben (wat, terloops, vanjaar sy 150 ste verjaardag vier) se kloktoring is van die hoogste ter wêreld. Sy vier gesigte tel ook onder die grotes. Die meganisme van die klok self weeg egter net 5 000 kilogram.

In ‘n land met n trotse kloktradisie, Nederland, en veral in Friesland, hang oral by selfs kleinerige kerkies menere van 2 500 kilogram en meer, vergelykbaar met die massa van ‘n jong olifantkoei. Google die woord “kerkklok” om na die klokkespel van ‘n veertigstuks van hulle te luister. Dit is verheffend.

Uit dié land kom ook ‘n stukkie klok-ironie. Die swaarste klok wat ooit daar vervaardig is, ‘n makro-ene van 36 000 kilogram, het nog nooit ‘n erediens, huwelik, of begrafnis aangekondig nie, maar is dadelik op n skip gelaai en na Tokio verskeep waar dit, soos die Tsaar-klok in die Kremlin, ‘n toeriste-attraksie is.

Bestaan ‘n kragtiger wêreldwye simbool van die Christendom se Blye Boodskap as die galmende kerkklok? Ek twyfel. Die kerkklok kan egter ook ander boodskappe doeltreffend uitdra. Dinsdag in Amerika lui hulle ter ere van die inhuldiging van daardie land se eerste swart president, Barack Obama. In Manhattan, New York, gaan ‘n hele dosynstuks opgewonde Amerikaners by die Trinitykerk aan die toue hang vir ‘n weergalose uitstorting van emosie.

In die Tweede Wêreldoorlog is alle kerkklokke in Groot Brittanje tot stilstand gebring. Hulle het slegs gelui om mense teen vyandelike invalle te waarsku.

In Suid-Afrika het ons die veldtog wat deur die Anglikaanse gemeente van Waterkloof begin is om kerkklokke landwyd daagliks om 12:00 te laat lui as ‘n verenigde front teen misdaad. Die idee is dat mense, waar hulle hulle bevind, om 12:00 die oë sal sluit in gebed vir die slagoffers van misdaad – en ook vir die misdadigers. Vandag het 78 klokke landwyd as deel van die veldtog gelui, lees ek op die internet,

Van misdaad gepraat: ‘n mens weet werklik nie of jy moet lag of huil nie oor ‘n berig wat enkele maand gelede in die Natalse koerant The Mercury verskyn het. Suid-Afrika se gewetenlose diewe diewe ontsien deesdae nie eens meer die Kerk nie, blyk dit. ‘n Kerkklok wat amper 200 jaar oud is, is van ‘n kerktoring in Pinetown in Kwazulu-Natal gesteel. Met watter doel? Die polisie vermoed die klok wat in Skotland vervaardig is, sou vir ‘n skroothandelaar of ‘n tweedehandse winkel bestem gewees het. Bid jou dit aan! (HvD)

EEN REUSE-KRAAMSAAL

Die verkeer kom tot stilstand op die Watergatpad in die Skukuza-omgewing sodat die "kindergarten" die pad kan oorsteek.

Van vroeg November af vir ‘n maand of word die ganse Kruger-wildtuin ‘n reuse-kraamsaal. Hoeveel klein rooibokkies van hier onder by Berg-en-Dal tot bo by Pafuri gebore word, kan ‘n mens net raai. My raaiskoot sou wees: 20 000, 30 000. Dalk tas ek mis – dit kan selfs meer wees.

In elk geval, waaroor niemand kan stry nie is dat jaarlikse vernuwing van die rooibok-bevolking die grootste massa-uitbreiding van enige spesie enige plek moet wees – wat die ooievaars seker ‘n sug van verligting laat slaak dat hulle nie, soos mensebabatjies kamma-kamma, per “huurvlug” afgelewer hoef te word nie. Die stomme voëls sou nooit rus kry nie.

Die resultaat van die plate klein rooibokkies hier, daar en oweral is van die wonderlikste toneeltjies wat die somerbesoeker aan die Wildtuin op kan reken, en in my boekie veel meer werd as net die gekwispel van ‘n leeustert doer in die verte of n “luiperd” hoog in ‘n boom waarvan die kolle dalk net doodgewone skaduwees is.

Veral in Desember stop ek dikwels by rooibokkies, soms tot die ergernis van die “Vyf Grotes-garde” wat agter my voet in die hoek die park deurkruis op soek na leeu, luiperd., renoster. olifant en buffel.

“Wat sien jy?”

“Rooibokkies?”

“Rooibokkies – gmf!”

‘n Troppie van 200 rooibokkies met sy goed georganiseerde “kindergarten” is egter een van die mooi gesigte van die Wildtuin hierdie tyd van die jaar, soos die sterkbos wat begin blom en die vlaktevlam wat die veld amper letterlik “aan die brand steek” met sy rooi.

Hou ‘n bietjie dop hoe die kordate kleintjies saambondel, hetsy in hopies spits oortjies plat op die grond of in dartelende groepies wat kompleet lyk of hulle “ring-a-ring-a-rosy” speel. Hou ook maar dop: ma word amper net opgesoek as die behoefte aan melk die bokkie oorweldig. Anders word die maatjies se geselskap verkies.

‘n Skielike opwelling van moeder-afhanklikheid kan net een ander ding beteken, naamlik dat ‘n roofdier in die kontrei is. Veral as die ooitjies soos op ‘n militere parade almal spits in een rigting tuur, met spiertjies wat in hul sye aanhoudend saamtrek, kan jy weet dat gevaar dreig. Begin hulle in ‘n koor te sis, kan jy maar jou kamera opskroef. Dan kom daar aksie!

Ek wonder dikwels hoekom juis so ‘n mooi, elegante bokkie nou juis die primêre prooi moet wees van leeus, luiperds, krokododille, wildehonde en hiënas – ja inderdaad, vergeet die storie dat daardie onwelriekende skuinsrûe net aasdiere sou wees. Dit is maar van daardie onnaspeurbare weë van die natuur.

Gelukkig darem is rooikbokkies allesbehalwe sagte teikens. As ‘n trop rooibokke eers begin rondspring om die vyand te verwar, kan dit enige roofdier van stryk bring. Rooibokkies kan tot 9 meter ver spring en 2,5 meter hoog. Ek het ‘n oorhaastige span leeus op jag al sleg sien mistas na sulke vlieënde bokkies. Dan voel ek om luid te roep: Hoera!

In Sabiepark het ek een Sondagoggend van kerk in Skukuza af gekom en naby my huis moes stilhou toe ‘n troppie van seker oor die 100 hulle opraap en een vir een oor die pad spring voordat hulle proesende in die bosse verdwyn. Ek was meegevoer deur so ‘n demonstrasie van akrobatiese sinchronisasie.

‘n Jaar of tien gelede het Mercedes in ‘n kleur gekom met die naam “impala” – die Engels, of eintlik die Zoeloe, vir die rooibokkie. Die storie wat ek gehoor het, is dat ‘n grootbaas van Daimler Benz op besoek aan die Wildtuin so begeesterd geraak het met die sierlikheid van die rooibok dat hy opsluit een van sy firma se kleure-verskeidenheid na die bokkie wou noem – al was Mercedes se “impala”-kleur ook ver van rooi.

Ek onthou daar was ook in ‘n stadium ‘n Chevrolet Impala. Sy storie ken ek egter nie.

Maar hier is ‘n feit soos ‘n rooibokram. Dit is dat Oeganda se hoofstad, Kampala, na die impala heet. Die bokkie kom naamlik nie net hier voor nie. In die savannas en digte bosveld van Kenia, Tanzanië, Mosambiek, noord-Namibië,, Botswana, Zambië, Zimbabwe, suid-Angola en Oeganda is hulle ook deel van die landskap.

As ek die skare klein bokkies Desembermaande so sien, wonder ek altyd oor nog twee dinge. Die eerste – en dit in groot nederigheid, hoor – is waarom ‘n klein bokkie pas na geboorte al so kan huppel en spring terwyl ‘n mensebabatjie maar ‘n regte ou papperdtjie is.

Die tweede is oor die storie dat n rooibok-ooitjie in slegte tye geboorte tot ‘n maand lank kan terughou. Sovele kenners het al vir my gese dis net ‘n mite, maar dan is dit tog interessant dat sekere publikasies (ook Wikipedia op die internet) nie skroom om die mite te versprei nie.

Hoe sal ek nou weet – ek is maar ‘n leek op die gebied van die natuur. Al wat ek weet, is dat daardie storie, mite of nie, nogal iets bydra tot die rooibok-romantiek. (HvD)

VIR ‘N WARE BOSVAKANSIE

HvD se Blog is nie ‘n advertensiebiljet nie. Allermins. Hier gesels ons sommer net oor dit, dat en die ander.

In die omstandighede het ek tog geoordeel dat dit nie verkeerd sou wees om bogenoemde hier op te sit nie.

Wat is die omstandighede? In kort maar net dit dat die Van D’s tot die treurige gevolgtrekking gekom het dat ons Sabiepark – waarvoor ons baie lief is – nie meer ten volle kan benut nie.

‘n Kombinasie van stygende jare, afnemende kragte, kleinkinder-betrokkenheid en koste sal meebring dat ons boshuis onvermydelik lang, lang tye agter slot en grendel gaan staan en stof vergaar.

Daarom het ons besluit om te verhuur, verkieslik aan buitelanders wat minstens 7 dae wil vertoef en op bogenoemde voorwaardes.

Die huur is Euro 90/ USD 110 per dag vir ‘n maksimum van vier en Euro 20/USD 30 per ekstra persoon.

Vir Suid-Afrikaners kan ons op ander formules ooreenkom, afhangende van behoeftes.

Mag ek vra dat lesers van die blog die aandag van vriende en/of vriende se vriende wat moontlik sal belang stel, op die geleentheid sal vestig?

My kontakbesonderhede is:

Hennie van Deventer
27 (0) 21 553 1761/ 0832528165
hvandeventer@mweb.co.za

Dankie. (HvD)

MAMMA, WAAR KOM BABAS VANDAAN?

Ooievaars bring babas. Met die stukkie mitologiese onsin het die meeste van ons grootgeword. Eers later het ons ontdek ander faktore speel ‘n deurslaggewende rol om ‘n nuwe bondeltjie in sy bababedjie te besorg. Soos in die geval van Kersvader (of Vader Krismis, soos ek die ou man met die wit baard leer ken het) is pappa se bydrae nie te versmaai nie.

Die mite leef voort in die ontwerp van miljuisende babakaartjies, geïllustreer met allerlei variasies op die tema van ‘n ooievaar wat toegewyd op pad is met sy kosbare vraggie wat in so ‘n hangmatterige affêring uit sy bek hang. Die gebruik om ooievaar-tees te hou, is springlewendig.

Op die internet is meer as een webwerf waar ‘n mens ooievaar-kaartjies kan bestel. Party is baie oulik en kreatief. Ek kry niks kommissie vir die verwysing nie, maar gaan krap gerus rond by www.storks.com.

Wat de ongeluk bring HvD vandag by ooievaars, kan u wonder. Laat ek verduidelik. Dis die “Mr. Delivery” hierbo op die foto wat ek en Tokkie nou anderdag op ‘n stillerige toggie in die Kruger-wildtuin langs die Salitjepad raakloop. (Eeienaardig, né, die totale betekenisverskil tussen raakloop en raakry!)

“Stop,” gebied sy en pluk haar Newmans uit. Ek verneem toe die witooievaar (Ciconia ciconia) is nie so ‘n volop gevogelte in hierdie gedeelte van die wêreld nie. Minder volop selfs as die pragtige saalbek met sy opvallende rooi-en-swart gebande snawel, en veel minder volop as ander boeties en sussies soos die wolnek met sy glansende swart verekleed, en veral die swart ooievaars, die kleinswart (of blouwang) en die grootswart, ‘n blinke bielie met ‘n wit pens en onderstert.

“Nie verassend nie,” merk ek op, “in die lig van die werkslas hier te lande.” Meen, baie meer swart babatjies moet in Suid-Afrika afgelewer word as wittetjies, nie waar nie? Tokkie vind hierdie poging tot humor onvanpas, en ons ry verder sonder om die ooievaar-kwessie verder uit te pluis.

Tuis gekom, wil ek dadelik probeer bepaal waar die mite van die ooievaar wat babas bring sy oorsprong het. Dalk is my bronne nie so honderd persent betroubaar nie, maar ek lees toe iewers dat dit juis die witooievaar is wat in hierdie geval die werkesel is (nie die swartes nie!), en dat die storie waarskynlik ontstaan het omdat witooievaars die gewoonte het om op geboue in stedelike gebiede in hul habitats in Europa neste te maak. Jy sien hulle dus gereeld in “menslike” omgewings.

Klink nie onrealisties nie, hoewel ek in Ian Sinclair se gids die waarneming teenkom dat die kleinswartooievaar en die witooievaar op hul somerbesoeke aan Suid-Afrika dikwels saam op oop lande en bewerkte grond aangetref word. In stede en spesifgiek oor my eie huise in Bloemfontein, Randburg, Welgemoed en Melkbosstrand het ek nog nooit so ‘n witte sien rondfladder nie. Maar, natuurlik, die dae dat by die Van Deventers ‘n bondeltjie kon opdaag, is ook dekades al verby.

Dat hy babas bring, is in elk geval nie die witooievaar se enigste aanspraak op roem nie. Die goeie mense van Pole, (tog nie Poland nie!) Litaue en die Oekraïne glo dat witooievaars harmonie bring vir ‘n gesin op wie se eiendom hulle broei – dalk nog ‘n rede vir hul afwesigheid hierlangs!

Die witooievaar is die nasionale voël van Pole en Litaue. Dit is ook die simbool van die stad Den Haag in Nederland. Die beroemde Poolse digter Cyprian Kamil Norwid noem Poolse ooievaars in sy gedig “My song”:

“For the land where it’s a great travesty
To harm a stork’s nest in a pear tree,
For storks serves us all …
I am homesick, Lord! “

In die weste van die Oekraïne is die witooievaar bekend as buziok. Daar word dit verbind met die begin van ‘n nuwe gesin in ‘n nuwe huis. In die Oekraïne word die voël ook beskou as die Boodskapper van die Lente omdat dit een van die eerste voëls is wat na die winter na daardie land terugkeer.

In Afrikaans het ons ‘n ooievaar-spreekwoord wat na my wete taamlik onbekend is. Dit lui: “Een ooievaar maak nog nie ‘n herfs nie.” Die Engelse weergawe is: “One swallow doesn’t make a summer.” Die betekenis is duidelik: moenie veralgemeen nie.

Met ander woorde, moet nie na die laaste paar blogs met hul voëltemas sommer nou aanvaar dat HvD oorboord gegaan het en volslae voël-verskrik geraak het nie! (HvD)