Feb 12, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

In ‘n Suid-Afrikaanse galery van beroemde honde sou Jock of the Bushveld ‘n ereplek beklee. Dié onverskrokke baster-staffie (kleinste van ‘n werpsel wat in 1885 in die Laeveld geteel is) was by uitstek ‘n jaghond. Dapper en meedoënloos. Hy het vir niks teruggedeins nie, en het instinktief geweet hoe om ‘n gewonde bok plat te trek of hoe om ‘n leeu besig te hou totdat die doodskoot knal.
Van Jock staan ‘n beeld in ‘n tuin op daardie mooi grensdorp in Mpumalanga, Barberton, ook beelde en kentekens oral op die platorand van die oostelike Drakensberg, en in die Nasionale Kruger-wildtuin, waar een van die nuwer kampe na Jock heet. Die boek Jock of the Bushveld deur Percy (later sir Percy) Fitzpatrick word nie om dowe neute nie as een van die klassieke Suid-Afrikaanse werke gereken. Die avontuurlike lewe van Jock is ook twee keer verfilm.
Pole het ook ‘n Jock (in Pools: Dzok) wat met ‘n monumentjie verewig is. Dzok van Krakau het mense aangegryp met sy onwrikbare trou aan sy baas vir wie hy ‘n jaar lank in wind en weer pal bly wag het op die plek waar dié rondom 1990 deur ‘n hartaanval neergevel is. Die beeld (op die foto) van die hond (van onsekere ras), omring deur oop mensehande, is werklik treffend en lok die toeriste in strome na sy staanplek langs ‘n besige straat aan die buitekant van die ou stad se mure.
Die inskripsie lui eenvoudig:
Dzok, die hond
Die mens se getrouste viervoetige vriend ooit versinnebeeld ‘n hond se grenslose toewyding aan sy meester.
Karel de Pauw het uit Londen laat weet van Dzok se beeld na aanleiding van die geselsie oor honde (Honde met harte vir honde) ‘n rukkie gelede. Hy skryf sy vrou is n Pool en het aan die Universiteit van Krakau studeer. Op ‘n besoek aan die ou stad enkele jare gelede het hulle op die monument ter ere van Dzock afgekom. Die naam Dzok was vir sy vrou vreemd en het hom laat wonder of dit nie van ons eie Jock afgelei is nie.
Helaas kon niemand in Pole tot dusver lig werp nie en hy kon nog nie uitvind of Jock of the Bushveld ooit in Pools vertaal is. Op die internet kry ek toe ook iets van Dzok (met die naam Jock in hakies), wat die indruk wek dat die vermoede van die een of ander konnotasie tussen ons Jock van die Bosveld en Dzok van Krakau wyer bestaan as net by Karel.
Al wat opgeteken is, is dat vele mense hulle na sy baas se dood oor die treurende Dzok wou ontferm. Hy wou niks van hulle attensies weet nie. Net die woord Dzok het enige reaksie uitgelok. Sal dit nie lekker wees as ‘n leser hiervan dalk weet hoe Dzok sy naam gekry het nie?
Nog ‘n kopkrapper: hoeveel monumente ter ere van honde bestaan oor die wêreld? Ek sal liewer nie probeer raai nie. Een sal egter dadelik by Kapenaars opkom.
‘n Onvergeetlike gelukbringer van die Vloot in die jare veertig tuur naamlik nou al hondegeslagte lank oor die water naby die hawe van Simonstad – in brons. Hy was die Deense hond Just Nuisance; ‘n kameraad, ‘n metgesel, selfs ‘n beskermengel van matrose van die Britse vloot in die Tweede Wêreldoorlog.
‘n Hond wat met ewe veel liefde onthou word, is Greyfriars Bobby van Skotland, ‘n Skotse terriër vir wie ‘n standbeeld in die hoofstad Edinburgh opgerig is.
Bobby se roem begin by ‘n wonderlike vriendskap tussen hom en ‘n skaapwagter, Jock (weer ‘n Jock!) K, saam met wie hy elke Woensdag mark toe is, en daarna vir ‘n middagete by Traill’s Dining Rooms in Greyfriars Place daar naby.
Een dag in 1858 word Jock in die pad gesteek. Bobby gaan soek hom en kry hom in ‘n vuil stegie in Edinburgh. Hulle oornag saam op ‘n hopie strooi in die kelder van ‘n derderangse losieshuis – maar die volgende oggend staan Jock nie op nie. Hy is dood.
Drie dae na die begrafnis, presies eenuur die middag soos altyd, was die eienaar, John Traill, verbaas toe Bobby instrompel op soek na kos. Hy het hom ‘n been gegee. Nege jaar lank het dit so aangegaan. Toe word Traill in die tronk gestop omdat hy ‘n hond sonder lisensie skuiling gebied het. Die volgende dag was die hele storie in die koerant die Scotsman onder die opskrif: Strange Story of Dog.
Een wat die berig gelees het, was die burgemeester, William Chambers. Hy neem toe self vir Bobby aan, betaal sy lisensie en gee hom die reg van vrye toegang tot die stad.
Tot Januarie 1872 verdwyn Bobby van die toneel. Toe verskyn in die Scotsman ‘n doodsberig. John Traill het hom laat begrawe in ‘n blomtuin naby die Greyfriars-kerk.
‘n Standbeeld is daarna opgerig op die hoek van Candlemaker Row en die George VI-brug. Die graf van sy skaapswagtervriend, Jock, het ook ‘n grafsteen gekry, geskenk deur Amerikaanse bewonderaars. En by Greyfriars Place 6, waar Traill se eetplek was, is ‘n bronsplaket: Greyfriars Bobby het hier geëet 1858 – 1872.” (HvD)
Feb 10, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Alexander se vriend probeer hom oplig. (Foto: Beeld)
In die Krugerwildtuin het mans, vroue en kinders “getjank dat die water rol” oor die dood van die olifantbul Alexander – een van die wildtuin se grootste ivoordraers. Eintlik het die trane emmers vol gerol oor die ontroerende afskeid van ‘n vriend wat agtergelaat is.
Dié het, aldus die noordelike dagblad Beeld, aasvoëls en hiënas van Alexander se karkas probeer verdryf, sy gevalle vriend met sy tande probeer optel en – toe dit misluk – op hom gaan sit en hom met urine probeer “laaf”.
Beeld het met meesleurende berigte en pragfoto’s oor die natuurdrama berig. Die Burger, hier in die Kaap, het die menslike storie (“human interest” op sy allerbeste) onverstaanbaar en tot sy eie skade afgeskeep.
Dat die dood in olifantgeledere nie sommer net ‘n onvermydelikheid is wat vinnig oorwaai nie, word keer op keer opnuut onderstreep wanneer toeskouers – soos nou met Alexander se vermeende hartaanval naby die Mopani-ruskamp – bevoorreg is om dié sensitiewe diere se “begrafnisrituele” te sien ontvou.
Toe ek ‘n jong joernalis was, in die jare sestig, het die sage van Hapoor en Ouma in die Addo-olifantpark mense aangegryp. Toe Ouma sterwend was, het Hapoor haar die genadeslag toegedien deur die haar brein met sy tand te deurboor.
My kollega Ollie Olwagen, skepper van allerlei liedjies en versies, het ‘n liedjie daarvan gemaak: “Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot…” Na ‘n paar biere het ons dit uit volle bors gesing. Drank kan ‘n mens simpel maak!
Met my eie oë het ek nog nie sulke olifant-smart soos dié van Alexander se verpletterde vriend beleef nie. Na ure se waarnemings van olifant-gedrag van Sabiepark se uitkykdek langs die Sabierivier af en heelwat naleeswerk klop die gebeure naby Mopani egter absoluut met wat ek sou verwag het.
My olifantboekie, Mayafudi (ook in Engels oorgesit as Mayafudi – memories of an elephant) het ek beskryf as die “die produk van eie waarnemings, naleeswerk, vertellings, verbeelding en romantisering”. In die boekie is die fiktiewe dood van onder andere Mayafudi se ma, die matriarg Ukuthula (Vrede van binne), en sy tweelingsuster, Nkosikazi (Klein prinses), sentrale elemente.
Na Alexander se dood het ek Mayafudi weer van die rak gaan haal.
Die afskeid van Nkosikazi word soos volg beskryf: “In somber eerbetoning stap die oorlewendes van die trop later stadig om en om die slagoffers, hul slurpe hoog gelig asof in ‘n laaste saluut. In ‘n koor galm hulle hul bewoënheid uit. Daarna begin die slagspanne om die karkasse op te sny en te bewerk. Die olifante slof verwese weg. Hulle kyk nie weer om nie. Wat verby is, is verby.”
Toe die matriarg haar kop neerlê (na ‘n doodskoot deur ‘n sitrusboer) , speel ‘n veel omvattender ritueel hom af: “Haar trop vorm in broeiende stilte ‘n sirkel rondom haar soos ‘n ondeurdringbare ringmuur. Hulle loop stadig, doodstadig, twee keer om en om. Dan steek hulle onseker vas.
“‘Die bejaarde Moholoholo (haar man) tree na vore en streel die groot lyf stadig met sy slurp. Dit is soos in ‘n rituele slurpoplegging. Groot teerheid straal uit die aanraking. Daar is iets sags in die skuur van sy growwe vel teen hare.
“Mayafudi se emosies is in ‘n warboel ….. Die volgende oomblik is dit of ‘n vreemde mag hom beetpak en vorentoe druk. Hy onthou hoe Ukuthula baie jare gelede ‘n vasgekeerde renostertjie in die modder te hulp gesnel het, Net so druk hy nou sy tande versigtig onder sy moeder se kop in. Hy beur met mag en mening. Hy kry haar egter nie opgelig nie.
“Net langs die ooptetjie waar Ukuthula se bene onder haar geswik het, is ‘n opgeskote maroelaboom. Mayafudi stroop ‘n slurp vol takke en blare van die boompie af en probeer die groenigheid in die koei se mond indwing. Dit lok geen reaksie uit nie.
“Hy sien hoe ‘n jong kalfie, een van sy halfbroers wat ‘n noue band met Ukuthula gehad het, nader kom. Hy probeer hom in die beskermende holte tussen sy ouma se voorbene inwurm asof hy melk soek. Ook hierdie poging om tot haar deur te dring, is vergeefs. Die ou olifant lê net, bloedbevlek en doodstil.
“Asof iemand ‘n bevel gegee het, beweeg die res van die trop skielik ‘n entjie agtertoe. Mayafudi, sy vader, Moholoholo, en ‘n ouer suster, Matcheleni (Die Spoggerige Een) bly alleen by Ukuthula agter, volgens instinktiewe olifant-protokol. Dit is die naastes se intieme afskeid.
“Die ander olifante keer die rug op die troostelose toneeltjie asof hulle nie kan verduur om dit langer te aanskou nie. Hul slurpe hang lusteloos grondwaarts – ‘n teken van hul diepe hartseer en rou.
“Ook die drie naasbestaandes by haar draai na ‘n laaste kyk in Ukuthula se rigting en ‘n laaste druk met hul slurpe om dat hulle heel van haar wegkyk. Die een na die ander gee dan ‘n tree terug en raak haar vlugtig aan met ‘n swaaiende agtervoet. Daarna kry die trop kans om die laaste eer te kom bewys. Die roubeklaers pluk bondels blare en gras. Hulle werp dit op en rondom die karkas soos kranse….” .
Hoekom ek die drang ervaar het om Mayafudi te herbesoek? Sekerlik nie met die oog op bemartking nie. Die boekie is in ieder geval gratis te lese op my webwerf, www.hennievandeventer.com Beskou dit eerder as my huldeblyk hier van ver aan Alexander en sy vriend, en ‘n persoonlike saluut aan die hartstogtelike olifantliefde wat ons deur hulle opnuut geopenbaar gesien het. (HvD)
Feb 8, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Murphy Se Wet bepaal dat alles wat kan verkeerd loop, verkeerd SAL loop. Dié gesegde is so van 1952 se kant as Murphy Se Wet bekend, maar sy wortels lê veel dieper in die verre geskiedenis.
Rondom 1870 reeds het die volgende versie in ‘n Amerikaanse koerant in die deelstaat Ohio verskyn:
I never had a slice of bread,
Particularly large and wide,
That did not fall upon the floor,
And always on the buttered side.
As ‘n sny brood val, val dit altyd op die gesmeerde kant – ‘n skitterende voorbeeld van Murphy se Wet in werking.
Toe die rekenaar begin algemeen raak so 30, 40 jaar gelede het die geleentheid om Murphy se Wet in die prakjyk in aksie te sien, vertienvoudig, indien nie verhonderdvoudig nie. ‘n Uitgebreide definisie van die Wet het terselfdertyd in omloop gekom. Ek haal dit hier in Engels aan, omdat dit een van daardie stukkies Engels is, wat lomper word as jy dit probeer vertaal:
“Whatever can go wrong will go wrong, and at the worst possible time, in the worst possible way.”
Vir my was die lewende simbool van Murphy se Wet baie jare Oom Baffie Coetzee wat in die jare sestig van die vorige eeu ‘n skoolhoof op Fickburg was. Hy was ook Die Volksblad se korrespondent, en het met groot entoesiasme foto’s geneem van als en nog wat wat op Ficsburg gebeur. As hy met sy films in Bloemfontein opdaag, was die ontnugtering gewoonlik groot. Sulke vaal, uitgewaste negatiewe kon slegs Oom Baffie produseer.
Oom Baffie het vas geglo hy word in die donkerkamer gesaboteer. Op ‘n dag ontbied ek die hooffotograaf na die nuusredakteur se kantoor om te kom kyk wat dan skort.
“Oom Baffie, wys my watter knoppies druk jy,” versoek hy.
“Ek druk die regte knoppies,” antwoord Oom Baffie verergd.
Later het ek rede gekry om te wonder of Oom Baffie wel die regte knoppies gedruk het. Toe ek hom na jare raakloop, deel hy my mee hy het ‘n boek oor sy lewe geskryf.
“Wanneer verskyn die boek?”
“Gaan nie verskyn nie?”
“Hoe dan so?”
Nee, Oom Baffie het die verkeerde knoppie op sy PC gedruk. Toe’s die hele boek net …poef!.. die kuberruim in. Weer Murphy! Ai, ai. ai, arme Oom Baffie.
Sondag in die kerk was die nimlike Murphy baie bedrywig. Sal nie sê watter gemeente nie, want ervaring her geleer op sekere sensitiewe tone trap jy maklik. In elk geval, ‘n besoekende leraar preek en hy daag op met sy drarekenaar wat hy gewoonlik self van die kansel af hanteer. Die opkoppeling gee egter probleme.
Die dominee jaag ore in die nek huis toe – maklik 40 kilometer heen en weer – om die “regte kabel” te gaan haal. Hy kom wonder bo wonder betyds met sy kabel, maar steeds bly die herderlike “laptoppie” steeks. Net een genade bly oor: die skyfies moet maar op die gemeente se primitiewer manier deur ‘n derde party op die skerm gewerp word terwyl dominee preek.
Nie onverwags nie, ontstaan nou ‘n lastige sinchronisasieprobleem. “Dankie, Pieter,” merk die dominee elke keer op as hy die volgende skyfie verlang – mettertyd al al hoe strammer terwyl skyfies en preek verseg om dieselfde ritme te vind.
Eers: “Dankie, Pieter”, die ene hoopvolle welwillendheid.
Dan: ‘Dankie, Pieter,” ietwat gespanne.
Dan: “Dankie, Pieter,” duidelik geïirriteerd.
Asof die duiwel regtig sy mes vir die vergaderde kuddetjie in het, ontstaan nou ook ‘n klankprobleem. Die luidsprekers begin rommel en grom soos veraf donderweer. Dit wil nie ophou nie. Naderhand is die hoofouderling op die kansel, toe die koster, daarna die gemeente se eie leraar wat klankstelsels ken. Die dominee preek vasberade, maar die luidsprekers bly lol en die gemeente sit op naalde en spelde tot die “Amen”.
Ten besluite, moet ‘n stigtelike video gewys word. Niks gebeur egter op die skerm nie. “Dankie, Pieter …. Dankie, Pieter… Dankie, Pieter.” Maar niks. Eie leraar gryp weer in met n paar aankondiginge. Die skerm bly leeg. “Sal die orreliste iets sag vir ons speel?” Halfpad deur die strelende musiek flikker die skerm, en sy hou op. Maar die uitkoms is van korte duur. Net daarna sak die Groot Stilte weer toe, swaar en onheilspellend.
Hy het ‘n opsomming van die video,” kondig die besoekende leraar later aan., duidelik nou erg moedeloos. Daarvoor moet die stomme Pieter, seker toe al ‘n senuweebol so groot soos hy is, toe weer ander knoppies begin soek – ‘n taak wat hy ywerig en doelgerig uitvoer. En met welslae. Maar, glo my, dit het soos ‘n ewigheid gevoel voordat die skerm skielik flikker: “Opsomming.”
“Dankie, Pieter!” sê die besoekende leraar verlig.
My swaer Fanie van Wyk vertel van ‘n dominee wat glo jy moenie te lank voor die tyd jou preek voorberei nie. Dan gee jy net die duiwel kans om kwaad te doen. Wel, klaarblyklik het die bose lank kennis gehad van wat Sondag op daardie kansel gaan gebeur. Hy kon selfs vir Murphy saamnooi kerk toe! (HvD)
Feb 7, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Alle as is nie verbrande hout nie. Een soort word by krematoriums gegenereer en word, op versoek, gewoonlik by ‘n gunstelingplek van die oorspronklike besitter van die verbrande materiaal gestrooi. Langs die kus, op ‘n berg, in die bos, in die woestyn, op ver paaie – solank aan die bestemming vir die oorledene romantiese herinneringe kleef.
Sommige voorkeur-bestemmings is nie net eksoties nie, maar ook avontuurlik. Ek het ‘n vriend, ‘n motorfiets-entoesias, wat niks anders vir sy as begeer nie as dat dit uit ‘n valhelm in ‘n kloof uitgeskud word terwyl die Harleys en die Gold Wings volspoed bly voortdreun.
Gister, wanneer lees ek in Die Burger oor ’n laaste rusplek ‘n nogal ongewoon nie-eksotiese wens. Die oorledene wil doodgewoon na sy agterplaas toe, daar tussen die beendere van die honde wat na aan sy hart was, en wat nou ook al in die onstuitbare proses vasgevang is om tot stof terug te keer. Sy seun tipeer sy pa as maar altyd ‘n “stoutgat”.
Gewoon of ongewoon, die laaste wil van ‘n geliefde oor wat van sy of haar hopie as moet word, is gewoonlik vir die treurende naasbestaandes soos ‘n bevel. Ek ken niemand wat so hardvogtig is dat hy of sy willens en wetens so ‘n vertroetelde hartewens in die wind sal slaan nie.
Of dit nou beteken jy moet ver ry, pieke bestyg, gate grawe, op ‘n “rally” gaan of sommer die assies in ‘n gunsteling-blompotjie op die kaggelrak uitstal, gewoonlik kan die oorledene in relatiewe vrede rus dat elke haalbare opdrag oor die hantering van die stoflike oorskot met respek en deernis tot op die titteltjie deurgevoer sal word.
‘n Teken van die tyd is die sogenaamde Muur van Herinnering waar die nissies in ‘n ry by ‘n kerk of elders ingeryg sit. Een voordeel is dat jy nie deur jou medemens ingeasem word nie – ‘n diepliggende aversie van my vrou, Tokkie, wat by voorbaat oor daardie bose gedagte aan die ril gaan, veral as die Kaapse winde so waai waar hulle wil.
‘n Tweede verdienste van die nis-opsie is die bestaan van ‘n relatief permanente adres waar die nageslag in tere herinnering die hoof in eerbied kan gaan buig of by geleentheid – soos Vaders- of Moedersdag – ‘n blommetjie kan neersit.
My eie nis is langs die NG kerk Melkbosstrand. Dis nis nommer 11, soos my huis in Penguin Place nommer 11 is en soos my vorige huis in O’Kulistraat, Welgemoed, nommer 11 was. Van tyd tot tyd gaan maak ek seker dat my plekkie nog onbeset is, want ek het persoonlike, traumatiese ervaring van die stres en lyding wat dit meebring as iemand as ‘t ware by jou verbyglip in jou laaste rusplekkie in. Dit was die lot van ‘n ouma wat vir jare soos ‘n arend oor haar graf langs dié van haar vooroorlede man gewaak het. Toe sy haar rug draai, gebeur die ondenkbare.
Dit soek ek waaragtig nie – my plek in die muur is my plek. Ek het in harde kontant daarvoor betaal!
By die Voortrekkermonument tref ek onlangs nie ‘n Muur van Herinnering nie maar ‘n hele Tuin van Herinnering aan waar pragtige bome, struike en fonteine ‘n rustige atmosfeer skep. Nadere ondersoek van die inskripsies wat in die granietdeurtjies ingekerwe is, lewer die name van heelparty bekendes op – van hulle nog in die lewe, maar dan klaarblyklik van die bedagsame soort wat nie na hul dood onnodige moeite aan enigiemand wil verskaf nie. Prysenswaardig!
Die strooi van die as is nie altyd sonder insident of komplikasie nie. Die volgende het regtig met ‘n oud-kollega gebeur: Oupa se as moet op Bloubergstrand in die branders gestrooi word. Al die familie is daar in hul kerkklere. Die kerkklere blyk ‘n lastigheid te wees, want dit is juis op daardie tyd hoogwater. Selfs met opgerolde broekspype kom jy dan nie ver nie.
Twee, drie proeflopies word gehou. Die langste naasbestaande kry die sombere taak. Maar, o wee, hy trap op ‘n stuk seebamboes, struikel en verloor sy ewewig. Daar trek oupa se laaste oorblyfsels met ‘n slap bogie rot net voor sy tone.
‘n Brander vat dit en begin dit uitstoot strand se kant toe, waar die vergaderde roubeklaers in stilte die seremonie sien skeefloop. Toe kies ‘n meisietjie met bokstertjies en ‘n gesmokte wit rokkie plassend die hasepad. “Tjips”, roep sy, oupa is op ons!”
Toe Melkbos begin nis-georienteerd raak, het die uwe ‘n versie oor die nuwe “nis-mark” geskryf wat in my hekelbundeltjie Polisie, Polisie, Ons Reenboog Is Geroof, opgeneem is en wat ek graag tot aller stigting hier wil aanhaal:
Oor die muur
As ek die dag finaal dis-nis is,
my assies in ‘n nis gekis is,
kan jy maar oral vonkpos stuur:
die ou is oor – en in – die muur!
Tot wederom. (HvD)
Feb 5, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

In die dokter se wagkamer sit ‘n mens gewoonlik maar op naalde en spelde, nie wetende wat jou gaan tref nie. Dis seker die spanning in die lug wat mede-pasiënte soms so koddig laat optree.
Die ergste beproewing is die spesie wat blykbaar hul spanning verwerk deur aanhoudend te babbel. En slim soos die houtjie van die galg – moenie praat nie! Waarom jy nog moet ingaan dokter toe weet jy nie altyd so mooi nie, want dikwels is jy teen daardie tyd kant en klaar gediagnoseer en geprognoseer, as so ‘n woord bestaan.
Party Jobstroosters put mos behae daaruit om vir enigeen wat wil luister die swartste prentjie denkbaar te skilder. Dan praat hulle boonop uit “eie ervaring” – word jy somber met strak gesigte meegedeel terwyl die tonge bejammerend klik.
‘n Middeljarige man skuifel een middag omtrent dubbeld gevou aan, terwyl sy vrou hom in ‘n stoel in die wagkamer help. ‘n Wildvreemde vrou met die neus soos die snawel van ‘n arend aan die oorkant van die wagkamer kyk die storie so en bevind daar en dan: ‘Artritis met komplikasies.’
Die man se vrou skud haar kop. ‘Nee’, verduidelik sy, ‘dit was doen-dit-self, met betonblokke.’ Lekker bloutjie geloop!
Praat oor diplomasie wat in sy afwesigheid skitter. Een ou tante wat al deur die donker tonnel was, gesels oor haar ervaring met die ontvangsdame by die spesialis. Die ander mense weet hul moet ook nog daar deur – maar word so bang gepraat dat een arme oom glad onbedaarlik begin bewe.
Ouers se “diplomasie” is soms ook bra gebrekkig en hul kennis van kindersielkunde klaarblyklik maar karig. Pa en Ma sit met n klein pikkie in die wagkamer . Kort-kort maak hulle die outjie bang. Los dit, los dat. “Netnou kom die dokter hier in met daai vreeslike spuitnaald … ”
Of in die die tandarts se wagkamer ” Sit stil , ek roep sommer die tandarts om te kom boor in jou bek.”
‘n Spesiale spesie in die ou dae was die Springbokradio-verslaafdes. Hier teen 15:00 moes jy pluisies saamvat. Dan dawer die draradio’s by al wat ‘n spreekkamer is terwyl die nuutste geheime van Die geheim van Nantes ontrafel word of iets in dier voege; omtrent ewe irriterend as wanneer jy verdiep raak in ‘n artikel in ‘n tydskrif wat jy nie gereeeld sien nie, en – skielik – hier ontbreek ‘n blad. Seker ‘n goeie resep op die agterkant gehad – of dalk n mooi meisie!
Dokters se wagkamers lewer gelukkig ook episodes om oor te glimlag. ‘n Seuntjie het probleme met sy waterwerke. Terwyl hy ongemaklik op sy boude sit en rondskuif stap ‘n jong man in uniform die wagkamer binne. “Oom army-man,” wil die seuntjie belangstellend weet, “is jou totterman ook seer?”
‘n Ander keer sit die wagkamer vol toe ‘n man binnestorm: “Dokter moet gou kom, my vrou skenk geboorte in n taxi.” Die dokter gryp sy tassie en laat spaander. Later lek die storie uit: toe hy die “mammie” se rok opruk en begin onderklere uittrek, kry hy ‘n vuurwarm klap. Daar was verskeie taxi’s en hy was in die verkeerde een!
Onthou julle nog die Annelie van Rooyen-liedjie oor die meisie wat dokter toe is en toe’s dit al die tyd die outjie op wie sy op skool so verlief was – die “flank van die eerste span”? As ek reg onthou, had daardie liedjie ‘n gelukkige einde – “they lived happily ever after”.
Bedink egter die ontnugtering van die arme vrou wat op grond van die sertifikate teen die wagkamermure begin vermoed sy en die dokter was klasmaats. Toe sy hom sien, kan sy dit amper nie glo nie. Hy’s dan stokoud.
Tog vra sy uit: waar was hy op skool, watter jaar en so?
“Jy was in my klas,” kondig sy uiteindelik aan.
Die verpotte mannetjie verskuif sy brilletjie om haar beter in fokus te kry.
“O watter vak het jy gegee?” (HvD)
Feb 2, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Oor wyn moet jy versigtig skryf. Skryf jy te entoesiasties, kan wantrouiges maklik dink: “Aha, hier’s ‘n slang in die gras.” Skryf jy te neutraal (of veroordelend!), ontstaan die vermoede dalk jy’s ‘n opperste skynheilige.
Skryf jy of jy alles weet, kan dit ‘n eweneens wenkbroue laat wip. Mense kan begin skinder oor die bron van jou kastige kundigheid. Probeer jy te slim wees, gaan ware kenners jou uitvang. Dis gewis, want kennis van wyn kry jy soms op onverwagte plekke.
My tema is wyn, omdat die SA wynbedryf vandag presies 350 jaar oud is. Daarop wil ek graag met wyle Oom Jan van Riebeeck ‘n glasie klink. Ek lees vandag (Maandag 2 Februarie) in Die Waarheid (Die Burger) die Oom Jan het die volgende dagboekinskrywing presies 350 jaar gelede gemaak: “ Heeden is Gode loff van de Caapse druyven d’eerste maal wijn geparst.”
“Gode loff” – Wyse woorde. Want Wyn is … nou-ja wyn is wyn en wyn is Wonderlik. (Mooi nè: W vir Wyn. Vir die Waarheid, vir Wysheid en vir Wonderlikheid!)
In my “heildronk” by hierdie mylpaal in onse land se trotse wyngeskiedenis sal ek probeer probeer om die slaggate hierbo genoem te vermy.
Maar mag ek darem in het beginne sê dat die huidige bohaai hier in die Kaap oor drankverkope op Sondae my dronk slaan (as dit ‘n gelukkige woordkeuse is!)? Trouens, is dit nie skynheiligheid nie om op Sondae vroom die drankrakke toe te sluit, maar op Saterdae (en elke ander dag van die week) kan enigiemand arms vol voorraad vir Sondag se drinksessies koop?
Die deurlugtige 350ste verjaardag word ook gevier teen die agtergrond van ‘n ander nuusbrokkie. Ek lees naamlik dat mense nie minder “kuier” weens die geldknyp nie; hulle “kuier” nou net tuis. Supermarkte verkoop dus meer wyn en restaurante minder
Oor “kuier” by die huis, is my reaksie kort en kragtig: welkom in die klub. Om saans die son op jou eie stoep te sien ondergaan met ‘n glasie yskoue wit in die hand – dis mos die lewe, man. Daardie ontdekking het ek lankal gedoen.
Dit kos jou boonop baie minder, want baie restaurante beroof jou met hul hemelhoë wynpryse. En kuier jy tuis, hoef jy ook nie op jou senuwees huis toe te bestuur met die risiko om dalk die slagoffer van ‘n oorywerige verkeersman te word nie.
Dit van die hart af gekry, deel ek tog graag ‘n vermanende Nederlandse wysheid oor drank wat geraam in my kroeg op die rak staan, en wat nie totaal uit koers is nie – seker ook ten opsigte van die slordige (oormatige) gebruik van wyn.
Die titel is DE DRANK en dit bevat die volgende waarskuwings:
De drank
Brengt in armoede
Maakt twistgierig
Onbekwaam voor werk
Stoort den huis-vrede
Vernielt het ligchaam
Beroof van’t verstand
Verhard het hart
Leidt ze ziel in de hel!
Ja, soos hulle sê: Is te veel wyn in die man, is die wysheid in die kan! Laat ons dus maar matigheid voor oë hou, al verg dit soms vasbyt.
Ek het jare gelede by ‘n middagete langs ‘n bekende Kaapse wynmaker beland. Ek was toe kort in die Kaap en ‘n gretige student van die wynkultuur wat toe so 333 jaar oud was. Hoe op deeske aarde, wou ek weet, kry ervare Kapenaars dit reg om ‘n glasie wyn so talmend te geniet. Myne raak dan so vinnig leeg. Bestaan ‘n geheim hoe om stadiger te drink.
“Ja,” het hy ernstig geantwoord, “daar is inderdaad so ‘n geheim”.
“Vertel.”
“Dit bestaan uit net een woord – selfbeheersing!”
Verspot maklik nie waar nie! (HvD)