Feb 17, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Op Sowetodag, 16 Junie 1976, was Carl Niehaus se skool aan die Wes-Rand oorgehaal vir ‘n hengske waatlemoenfees. “ Die rye, groen ovaalvrugte is in die skadu agter die hoofgebou onder sproeiers nat en koel gehou.”
So lees ek in die kloeke Niehaus se boek van “selfontdekking”, Om te Veg vir Hoop, op bladsye 35 en 36. (Die boek het in 1993 by Human & Rousseau verskyn.)
Niehaus borduur verder: “Ek en ‘n paar maats was besig om die staaltafels waarop die vrugte oopgesny en uitgedeel sou word, op te slaan toe die skoolhoof ons roep. Die kluis waarin die skyfskietgewere opgesluit is, was langs sy kantoor en het oopgestaan…”
Op gesag van dié veteraan-ANC-stryder het ons dit dat die waatlemoenfees toe summier afgestel is en dat die seuns aangesê is om elkeen ‘n .22-geweer te gaan haal om hulle te bewapen teen die “hordes skoolkinders uit Soweto” wat volgens gerugte blanke skole sou aanval.
Niehaus het “ oorweldig gevoel deur die eise van daardie geweer in my hande.”
So kan ek aangaan, maar genoeg is genoeg. ‘n Waatlemoenfees in die hartjie van die winter, bid jou dit aan. Sproeiers aan aan die agterkant van die gebou om die waatlemoene op 16 Junie koel te hou – moet jy daaroor lag of moet jy huil?
In Boesmanland sê hulle nie iemand lieg nie. Hulle sê hy het ‘n baie ryke verbeelding. Carl Niehaus – “doktor” Carl Niehaus vir sommige wat alles vir soetkoek opeet – openbaar hier inderdaad ‘n uiters ryke verbeelding.
Kom ek sê dit prontuit: as jy so oor ‘n skool se waatlemoenfees kan lieg, kan jy oor enigiets lieg.” (HvD)
Feb 16, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Die land is in 1988 aangegryp deur ‘n driejarige steekhaarbrakkie, Josef, se wanhopige pogings om die bebloede liggaampie van sy lewenslange maatjie, Lucky, in Bellville uit die pad te sleep. Die verkeer in ‘n besige straat in Brackenfell het honderde meter ver opgedam en motoriste het aangedaan die heldhaftige Josef aangemoedig terwyl hy met Lucky sypaadjie toe sukkel.
Lucky, ook ‘n steekhaarbrakkie, is in spitsverkeer doodgery en Josef was duidelik verpletter. Die hondjie kon eenvoudig nie ophou treur nie totdat sy eienaar oortuig geraak het die dood sou ook vir hom die genadigste uitweg wees.
Hondeliefhebbers landwyd wou egter niks daarvan weet nie. Ten einde laaste het Josef ‘n gelukkige nuwe tuiste gekry – en nuwe geselskap in die vorm van die nuwe baas se eie steekhaarbrakkie.
Josef se laaste liefdesdaad is later deur die Bond teen Wreedheid teenoor Diere met ‘n eerbewys bekroon – een van die eerste troeteldiere wat daardie eer te beurt geval het.
Verstommende verhale van hoe honde aan hul meesters en here verknog raak en van hondehelde se doodsveragtende optredes om geliefde base in die uiterste nood met hul eie lewens te beskerm, is wyd opgeteken. In my eie hondeboekie, ‘n Vriend vir altyd –
honderde hondestories (Human & Rousseau, 2000), is verskeie opgeneem. ‘n Jaar na sy verskyning, op 9/11/2001, het ‘n gidshond die wêreld se respek verwerf deur sy blinde eienaar uit een van die brandende toringgeboue van die Wêrelhandelsentrum tot veiligheid te bring.
Dat opperste toewyding nie beperk is tot tussen mense en honde nie, word deur die verhaal van die twee maatjies Josef en Lucky gestaaf. Selfs twee twee honde wat blykbaar wildvreemd vir mekaar was, het ‘n amptenaar van die Universiteit van Kaapstad in De Waalrylaan ook met hul honde-deernis geroer.
‘n Duitse herdershond-kruising was besig om sy naam gestand te doen deur ‘n beseerde bulterriër-kruising langs die uiters besige snelweg te begelei. As die bulterriër agter raak, het die straatwyse wolfshond telkens teruggedraai en hom met die neus op die spoor gehou, weg van die voortsnellende motors af. Die bulterriër het sy dankbaarheid betoon deur die herdershond te lek en sy stert te kwispel.
Nog ‘n klassieke bewys van sulke honde-toewyding is Ben en Bill, twee jack russells van Averley, Engeland.
Ben, die groter een, het sy oë verloor toe ‘n boosdoener hom op straat met ‘n skerp voorwerp takel. Bill tree van toe af op as Ben se gidshond. Die eienaar van ‘n skuilplek vir honde het hom daaroor soos volg uitgelaat: “Baie mense voel jammer vir Ben, maar hy is doodgelukkig solank Bill aan sy sy is. Hy ruik hom uit en volg hom oral.”
Hierdie deerniswekkende vriendskap is deur ‘n TV-span verfilm. Meer as 5 000 mense het na vore gekom met die wens om die onafskeidbare twee aan te neem.
Hond vreet hond, lui die spreekwoord. Klaarblyklik is dit egter ‘n halwe waarheid. Hond waak ook oor hond. Hond red hond. Hond treur oor hond.
Soos die storie uit die Wildtuin oor die hartseer van Alexander, die dooie olifantbul, se maat, asook die storie van die swaeltjie van Parys se smart nadat sy wyfie deur ‘n motor getref is, behoort hierdie hondestories en hope ander met ‘n soortgelyke strekking skeptici twee keer te laat dink of diere wel emosie kan toon of nie.
Noem my maar ‘n romantikus, of iets erger, in my lewe het ek egter genoeg gesien, gelees en gehoor om te glo dat die mens gerus soms ietwat nederiger kan wees oor sy vermeende superioriteit in elke opsig oor die diere van die veld. (HvD)
Feb 15, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Twee swaeltjies dartel-duik sorgvry oor ‘n pad. Enetjie, die wyfie, se tydsberekening laat haar in die steek. ‘n Motor snel op haar af. Sy probeer wegswenk, maar te laat – sy word getref en syg op die teer neer, ‘n patetjiese bondel wit, blou en bruin veertjies.
Die mannetjie pyl besorgd na benede en kom sit by die sterwende wyfie. Haar oe raak al hoe dowwer en sy hyg na asem. Al waaraan hy kan dink, is om haar te voer. Hy gaan soek so vinnig soos hy kan lekker saadjies, en voer haar met ‘n oop bekkie en fladderende vlerke. Gretig probeer sy iets eet, maar sy het nie die krag om te sluk nie.
“Ek moet nog kos gaan soek,” dink die mannetjie raad-op. Hy los haar net ‘n paar sekondes alleen. Toe hy terugkom met ‘n tweede liefdesoffer, is alles verby. Die mooi voeltjie het haar laaste asem uitgeblaas.
Die mannetjie probeer haar eers weer voer; daarna probeer hy haar lewelose liggaampie met sy snawel uit die pad sleep. Hy fladder paniekbevange heen en weer om haar. Toe gaan sit hy langs haar en huil met ‘n oop bekkie – absoluut ontroosbaar.
Enkele daena die Wildtuin-sage van Alexander die olifant se skielike dood en sy maat se rou wat toeriste so aangegryp het, beland hierdie storie uit Frankryk per e-pos op my rekenaarskerm.
Miljoene mense in Amerika, Europa en tot in Indie het trane gestort toe hulle die foto’s sien wat deur ‘n onbekende fotograaf vir ‘n appel en ‘n ei aan een van Frankryk se topkoerante verkoop is, lui die teks.
Die koerant met die swaeltjie-storie het geglo verkoop soos soetkoek en al die eksemplare is opgeraap kort nadat dit op straat verskyn het.
Een van die reeks pragtige foto’s van die mannetjie se smart by sy dooie wyfie is hierbo herhaal. Ek weet nie wie om daarvoor erkernning te gee nie. Net so weet ek nie wie vir die teks verantwoordelik is nie.
Met die gevolgtrekking van die onbekende outeur kan ‘n mens egter moeilik verskil. Dit is dat voels klaarblyklik ook emosies soos vreugde en hartseer ervaar.
Is hierdie reeks foto’s dan nie die bewys nie?
Maar nou moet ‘n mens versigtig wees. Jy word gou-gou van “antropomorfisme” beskuldig – ‘n groot woord wat niks anders beteken nie as dat jy diere vermenslik.
In haar resensie van my olifantboekie Mayafudi (kyk die blog: “By die dood van ‘n olifant” enkele dae gelede) het die gedugte Cecile Celliers my met daardie voorhamer bygekom – en ek moet erken ek is dadelik woordeboek toe om agter te kom wat ek gesondig het. Dit was die eerste keer dat ek daardie geleerde woord teenkom.
Dat “antropomorfisme” vir sommige literatore ‘n doodsonde is, en dat baie dierekenners ook maar vinnig koes om tog net enige suspisie van so ‘n swakheid in hul wetenskaplike mondering te vermy, het hierdie leek daarna al hoe meer agtergekom.
Nou soek ek nie rusie met slim mense nie, maar wonder ek tog stilletjies: hoe verklaar ‘n mens die gedrag van hierdie swaeltjie en van Alexander, die groot ivoordraer, se maat as hulle nie tot “menslike” emosies soos diepe droefheid en liefde in staat is nie?
Ek het ook nog ‘n paar soortgelyke hondestories om te vertel, maar kom ons los dit tot ‘n volgende keer. (HvD)
Feb 15, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Hierbo pryk ‘n nie-professionele (eintlik maar taamlik amateuragtige!) eie montasie van die ses swaeltjiefoto’s waaroor in Amerika, Europa en elders emmers vol trane gestort is – sien die blog hieronder: ” ‘n Swaeltjie se smart.”
Die volgorde is links bo, regs bo, middel links, middel regs, links onder en regs onder.
Die eerste foto is van die wyfie in die pad nadat sy deur ‘n motor getref is. In die volgende drie foto’s probeer die mannetjie angsbevange help deur haar te voer en uit die pad te probeer sleep. Die laaste twee foto’s wys sy hartseer en verslaendheid.
Geen erkenning word aan die fotograaf gegee nie, omdat ek nie weet wat sy naam is nie. (HvD)
Feb 14, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Ter nadenke op Valentynsdag:
Kom ons deel vandag ook ruikers uit aan al die valetjies wat deur die jare goed getryn geraak het om al die donkiewerk te doen!
HvD
Feb 12, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Vanpas ge-das vir die East India Club - al lyk ek verder soos 'n voelverskrikker!
Visum-skok, basuin koerante die slegte nuus uit. ‘n Skok is dit absoluut en inderdaad om nou R1 000 bloedgeld op te dok vir ‘n visum vir Engeland. Die een of ander lomperd het hier sleg gegly, en dis om van briesend te word dat ons so gestraf word vir sulke lamsakkige onbeholpenheid op regeringsvlak.
Ontsteltenis oor die visum-bokkerop loop wyd. Kom ons los dit maar eenkant – en gesels liewer oor die wonderlike Londen. Wat ‘n stad! Dis mos ‘n plek wat sommer baie diep in Suid-Afrikaanse harte kruip.
In ‘n peiling onder Suid-Afrkaners oor hul gewildste kuierstad sal die Britse hoofstad aan die Theems seker moeilik geklop word. Na ‘n bietjie wik en weeg kry hy ook my stem. Want Londen is ‘n stad met ‘n kloppende hart. Sy duisternis attraksies en aktiwiteite lok jou weer en weer.
Ek was een van die bevoorregtes wat in my lewe heelwat “amptelik” kon reis – veral as redakteur. In Londen was ek veel meer kere as in Oos-Londen. Maar na al my besoeke was ek steeds nie uitgekuier nie – dit verklap die tinteling in my bloed wat ek in 1999 weer ervaar het toe ek, met mev. Van Deventer en ons dogter, Marisa, aan my sy, al daardie bekende landmerke te voet en uit ‘n rooi bus vir oulaas in die oog gekry het. Ook al 10 jaar gelede – tyd vlieg!
Trafalgar, Piccadilly Circus, Big Ben, Buckinghampaleis, Hyde Park, ‘n lekker pub … oral waar jy kom, voel jy tuis! Dis daardie gemaklike tuis voel in Londen wat jou liefde wen en jou laat voel die nuwe visumvereistes is soos om ‘n tolplaza voor jou voordeur op te rig!
Iemand wat moeg is vir Londen, is moeg vir die lewe, het ‘n wyse opgemerk. Ek sekondeer. Pas net op vir Londen op Kersdag. Dan rol hulle die sypaadjies op, sluit die plek toe en steek die sleutel weg! Openbare verkeer knars tot stilstand. Dit het ons nie besef nie. Die gevolg was ‘n triestige niksdoen-dag in St. John’s Wood (waar ons woonstel destyds was) op 25 Desember 1999. Ons armsalige Kersete was oorskiet-toebroodjies, rosyntjiekoek en jenewer!
‘n Week later was dié ontnugtering vergete. Londen se Nuwejaarsparade was ‘n verrassing van ‘n lekkerder soort. Die Engelse het dit – met selfvertroue wat aan Amerika herinner – the world’s greatest parade – gedoop. Nie sonder grond onder hul voete nie.
Presies op die middaguur op 1 Januarie, toe Big Ben sy twaalf slae slaan, het die prosessie by Westminster-brug in beweging gekom. Vir 100 minute het Londen se vernaamste strate – Whitehall, Regent Street, Piccadilly — daarna ‘n prettige, raserige kleurefees geword.
Hier was die rolverdeling van 10 000 op 1 Januarie 2000: 25 van die wêreld se beste mars-orkeste, verskeie pelotons Amerikaanse tamboernooiens, straat-artieste, reuse-ballonne, koetse, narre, Noag-karre…
Oorspronklikheid was die wagwoord. Ons het ons so verstom dat ons net-net betyds by Heathrow was vir ons vlug huis toe. Hopelik leef hierdie jolige tradisie nog voort.
Herinneringe aan Londen kan hemelsbreed verskil. Een kies ‘n ongelooflike opvoering in die West End, ‘n tweede ‘n kriekettoets op Lord’s, ‘n derde die marmerprag- en- praal van die afdelingswinkel Harrods in Knightsbridge se Food Hall.
Tokkie, weet ek, onthou veral ‘n toneeltjie in die katedraal St. Paul’s, bekendste meesterstuk van die argitek Sir Cristopher Wren.
Sy vestig my aandag een middag op ‘n jong blinde paartjie wat, styf ingehaak en koppe omhoog, die atmosfeer indrink. By die bushalte hoor hulle ons praat Afrikaans. Hulle stel hulleself bekend. Die twee kom van Namibië af – stoksiel-alleen in ‘n groot wêreldstad met hul wit wandelstokke, avontuurlus en moed.
In my herinneringe het my Londense “huis-weg-van-die-huis”, die East India Club aan St. James Square, ‘n ereplek. Dié klub, ‘n vinnige stappie van Piccadilly Circus af, is so stywenek Engels dat my beste leerbaadjie “te informeel” geag is vir die ontbytkamer waar die Lords en die Sirs die London Times en Daily Telegraph oor hul tee en roosterbrood sit en lees. Ek is ferm weggewys om my ordentlik te gaan aantrek!.
‘n Ander keer toe ek op pad uit in ‘n kortbroek in die voorportaal verskyn, was die ge-uniformde deurwag stamelend van skok! Hy sou my “naaktheid” met ‘n laken wou bedek.
In die ongemaklike gesprek wat volg, kom dit toe uit hy’s self ‘n Suid-Afrikaner (van iewers aan die Oos-Rand) en pas maar net die reëls toe, want die werk is bestendig en die fooitjies is goed. Wiens brood mens eet…. (HvD)