May 29, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
“Kinderbagasie” het eers na my 60ste jaar in my woordeskat verskyn. Deesdae hoor ek die woord al hoe meer. Veral van die kansel af. In Pinksterweek is in ons gemeente opnuut gewag gemaak van dié “bagasie” wat sommige jong slagoffers tot in hul grootmensjare treiter.
Voorbeelde wat genoem word, wissel van ‘n vals beskuldiging, ‘n taai oorveeg, ‘n afgedankste loesing tot by ekstreme vorme soos seksuele molestering (die “hande op die lyf”, die “fluisterstem in die oor”) en dies meer.
Dat kinders soms swaar ly onder bose ouers, nare onderwysers en allerlei gesagsfigure met voete van klei is ‘n feit. Met die slagoffers van mishandeling, teistering en vertrapping en hul lewenslange gesukkel om beproewings te verwerk, het ‘n mens (ook ek) diepe deernis. Oor die begip ”kinderbagasie” het ek desondanks tog sekere vrae.
My kennis van sielkunde is maar effentjies. Ek het in die Honneursklas op Tukkies vroeg-vroeg belang verloor en die res van die jaar liewers in die Capitol gaan fliek as om in Weskoppies praktiese ondervinding te gaan opdoen. My opinie is dus ‘n leke-opinie.
My indruk, vir wat dit werd is, is egter dat party mense iets onplesierigs uit hul kinderdae onthou opvallend nadat hulle as grootmense drooggemaak het en ‘n verskoning broodnodig het om hul onbehoorlike optrede te probeer regverdig.
‘n Mate van skeptisisme moet dus bely word oor die buitengewone prominensie wat die huidige generasie aan hierdie relatiewe nuutjie van “kinderbagasie” gee. .
Maar kom ons los my en my twyfel eers eenkant. Ons gaan lees in Genesis – die verhaal van die eerbiedwaardige Abraham wat in opdrag van Bo sy seun Isak na die berg Moria bring om hom te gaan offer.
Isak raak kennelik ongemaklik as hulle so in broeiende stilte aanstap. Hy sien sy pa het hout en vuur, maar geen offerlam nie. Hoe dan? Abraham stel hom gerus dat God sal voorsien. By die offerplek aangekom, is Isak (wat die hout op sy rug soontoe moes dra!) nog altyd in die duister. Hy aanskou onbegrypend sy pa se altaarbouery. Eensklaps gryp Abraham sy seun dan, bind hom vas, sit hom op die altaar en vat die mes om hom te slag.
In daardie stadium gryp die Engel van die Here in, maar watter trauma het die arme Isak nie dan al beleef om so goedsmoeds ter slagting gelei te word nie – sy kinderlike vertroue aan flarde geskok deur ‘n vaderlike geweldsdaad wat, in die woorde van oud-premier John Vorster in ‘n ander verband, eenvoudig “too ghastly” was “to contemplate”?
Vergeefs soek ek in Genesis ‘n vertroostende verduideliking van die vrome Abraham aan sy verskrikte seun, of enige insig oor hoe Isak deur die vreesaanjaende gebeure diep in sy hart getref moet gewees het. Die volgende wat ons van Isak hoor, is wanneer die skone Rebekka sy bruid word.
“Kinderbagasie”? ‘n Vertroude vader wat jou vasbind om jou te slag, moet tog ‘n onvergelykbaar groter trauma vir ‘n kind wees as ‘n onverdiende klap of ‘n kwaai pak slae. Maar Isak kry nie angsaanvalle nie en sy verhouding met sy pa bly klaarblyklik ongeskonde.
Ook in Genesis lees ons die verhaal van Lot en sy twee dogters, albei nog maagde, wat hy absoluut carte blanche aan ‘n seksbeluste spul woestaards in Gomorra aanbied: “Doen met hulle wat julle wil.” Maar dié verfoeilike daad van gruwelike troubreuk eindig, volgens huidige standaarde, verrassend. Diè twee gaan bly saam met die vlugtende Lot in ‘n grot. Daarna maak hulle hom dronk en verlei hom.
Moet my tog nou net nie beskuldig dat ek die Ou Testament met sy ingrypend anderse kulture, tradisies en praktyke wil misbruik om wandade van hier en nou te probeer vergoelik nie. Abraham was onder onmenslike druk om sy geloof te bewys en Lot se optrede was walglik, kort en klaar.
Maar dat sulke Bybelverhale my eie onsekerheid oor die kwessie van “kinderbagasie” voed, kan ek nie ontken nie. As ek lees wat Abraham en Lot hul arme kinders aangedoen het, is ek verbaas om byvoorbeeld van die kansel te hoor van ‘n “bekende sportpersoonlikheid” wat in die kleedkamer angsaanvalle kry net oor niks meer nie as ‘n onderwyseres wat hom kleintyd in die klas ‘n klap gegee het oor ay alewige gesnuiwery weens hooikoors!
Arrie-nee, hoeveel loesings en klappe het ek (en my maats) nie self gekry nie, en dan is my pa boonop dood toe ek maar ‘n tenger vyf jaar oud is. Ek moes die swaar eenvoudig op eie houtjie verwerk. Ook daarom sukkel ek om van die suspisie ontslae te raak dat nie almal wat “kinderbagasie” pleit, inderdaad sulke slagoffers was soos hulle te kenne gee nie.
Ek wil nie ongevoelig klink nie. Ek weet ook ek steek my kop in ‘n byenes. Ek kan egter nie help om te wonder nie of te veel gewig in terapiekamers nie soms aan onbeduidenhede in ‘n mens se kinderjare geheg word nie om sodoende emosionele stoornis of afwykende gedrag van ‘n ander oorsprong te verklaar.
Bestaan ‘n waterdigte metode om tussen “egte kinderbagasie” en “nie-egte kinderbagasie” of “gewaande kinderbagasie” te onderskei? (HvD)
May 27, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Ligte klassieke musiek het in my lewe gekom met die periodieke Plate-aande Saterdagaande in die skoolsaal van Potch-Volkies. Dit was nie die gewildste aktiwiteit nie, want die skoolsaal se ligte het dwarsdeur bly brand, en selfs ‘n handjies-vashouery was uit. Van die snitte wat oor en oor gespeel is, is egter tot vandag toe gunstelinge.
Eers op Tukkies in die jare vyftig het ek met “U eie keuse” op die Afrikaanse Radiodiens (nou RSG) kennis gemaak, al was die versoekprogram al sedert 1945 (toe ek vier jaar oud was) op die lug. Op alleen-aande was die mooi musiek ‘n troos.
In 1974 toe ek en Tokkie van Bloemfontein vir ses jaar Johannesburg toe is, het ek Kosie Jooste se huis in Randburg sterk oorweeg. Hy laat val toe hy het die eerste “U eie keuse” op 20 Oktober 1945 uitgesaai. Die man het in my estimasie gestyg, maar sy huis se pype het darem te erg gerammel as jy ‘n kraan oopdraai!
(Na Jooste, het verskeie aanbieders gevolg: Pieter Naudé, Jan Spies, Vincent Hesse, Hennie Pietersen, André Liebenberg, Frikkie Oosthuizen, Henk Bierman, Retief Uys, Anton Prinsloo, Robert Young. Deesdae is dit natuurlik Wouter de Wet, wat ook tenniskommentator is. Young is die vader van die gewilde “U eie keuse”-CD’s. Retief Uys was ‘n vriend uit die Bloemfonteindae. Malaria het sy lewe geëis).
In April 1988 was Pa en Ma Malan vir oulaas by ons op Buffelsbaai waar ons vroeër altyd saam vakansie gehou het. Wat ek nie sal vergeet nie, is die laaste siens die aand op George se lughawe: hy, ’n uitgeteerde bondeltjie mens in ’n rolstoel op ’n windverwaaide laaiblad, wagtend om aan boord geplaas te word.
Die volgende ontmoeting was in die kankersaal van Pretoria se H.F. Verwoerd-hospitaal. Pa Malan was in ’n beswyming. Ek het die nag by hom gewaak en is in daardie eensame ure deur ’n diepe droefheid beetgepak. Ons het ’n lang pad saam afgelê.
Vroeër die aand het ’n pasiënt in die verste hoek sy radio op “U eie keuse” ingeskakel. Robert Young was die aanbieder. Dié verheffende musiek te midde van lyding was ontroerend. Ek kon nooit weer na daardie program luister sonder om daardie aand in die kankersaal in herinnering te roep nie. Vier dae later is Pa dood.
Van almal wat daardie aand in Saal 21 deur Young en sy musiek betower is (ook die bekende Oom Fasie van die TV-program “Nommer Asseblief”), is dit waarskynlik nog net ek en die verpleegsters wat in en uit is, wat in die lewe is – ’n ongemaklike gedagte.
Ewenwel, op ‘n dag het ek en Tokkie gaan sit en “ons eie keuse” saamgestel. Hier volg ons lysie “hartsmusiek”, nie in gewildheidsvolgorde nie:
Nonnekoor & Laura se aria uit Casanova (J. Strauss II)–dir. sir Neville Marinner
. Mozart se klavierkonsert Nr. 21 in C Majeur (‘Elvira Madigan’) K. 467 Adante
Amazing Grace—Diana Ross
Gebed van ‘n jong meisie—Joseph Cooper
Fa La Nana Bambin—Anna Maria Alberghetti
8de Variasie op ‘n rapsodie van Paganini op ‘n tema van Rachmaninoff
Largo uit Nuwe Wêreldsimfonie (Dvorak)—Stuart Burrows
Bella Figlia dell’amore-kwartet uit Rigoletto (Verdi)
Tsjaikofski se Klavierkonsert Nr. 1 in B Mol Mineur
Non, Je Ne Regrette Rien—Edith Piaf
O Holy Night—George Beverly Shea
Hoe Groot Is U (S.K. Hine) —Rudi Neitz
Marieke—Jacques Brel
Seënbede—Anneli van Rooyen
Barcarolle uit Verhale van Hoffman (Offenbach)—op harp
Jantjie—Tygerberg-kinderkoor
Neuriekoor uit Madama Butterfly (Puccini)
Wals op. 39 nr. 15 van Brahms—Wessel van Wyk
Va pensiero (Slawekoor) uit Nabucco (Verdi)
Stille Nacht—Bielefelder Kinderchor
Die omvang van die lys sal Wouter de Wet seker sy hande in die lug laat gooi. Dis stof vir twee programme. Toemaar, Wouter, dis in elk geval nie vir die radio bedoel nie – sommer net vir ons eie plesier.
Van die historiese, sentimentele en ander redes waarom bepaalde snitte op ons lysie pryk, vertel ek graag in ‘n volgende aflewering (HvD)
May 27, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Baie dringend benodig – Perry Como se liedjie”I love you and don’t you forget it.” Hierdie klein advertensie in Die Burger het mense dae lank laat wonder. Die storie agter die storie is dat ‘n weduwee daarna op soek was vir haar oorlede man se gedenkdiens. Dit was sy gunsteling-lied.
Ek hou ook van Perry Como, maar verkies persoonlik treffers soos “Magic moments”, “Don’t’ let the stars get in your eyes” en “More”. Vir ‘n gedendiens sou my keuse op “I believe” val.
Vir my eie gedenkdiens (Tot-siens-diens) is my keuse egter nie Perry Como nie. Ek soek die “Largo” uit die “Nuwe Wêreldsimfonie” van Dvorak, uitgevoer op die orrel deur Melkbos se gewese orrelis, Riana Hanekom.
Die storie agter die storie is dat ek hierdie meesleurende Dvorak-skepping leer ken het toe ek einde 1958 vakansiewerk by Die Volksblad in Bloemfontein gaan doen het. Kollega Wiets Beukes het dit graag op sy draaitafel gesit.
Vir my was dit simbolies. Die eerste proesel van die grootmens-joernalistiek het inderdaad ‘n “nuwe wêreld” vir my geopen. “Going home …” dit is boonop ‘n vertroostende wete as jou dag aanbreek om finaal afskeid te neem.
Elkeen van die 20 liedere op my en Tokkie se “Ons eie keuse” in die blog hierbo het natuurlik “’n storie agter die storie” hoekom ons hulle as “hartsmusiek” reken. Die redes kan sentimenteel of histories wees, soos hierbo. Soms het die kunstenaar die deurslag gegee. Diana Ross (“Amazing Grace”), Anna Maria Alberghetti (“Fa La Nana Bambini” – die treurige wiegeliedjie met die snik aan die einde), Edith Piaf (“Non,je ne regrette riem”) en die Tygerberg-kinderkoor (“Jantjie”) is maar ‘n paar.
Van Piaf het ons ‘n langspeelplaat, “Homage a Piaf”, as trougeskenk gekry. Daarop sing die “Mossie van Parys” o.m.ook “Milord” en “Le Trois Cloches”. Aangrypend! Die smeulende Alberghetti het ek leer ken toe ek vir Tokkie op Bultfontein gaan kuier het. CD’s van haar is skaars. Ek het onlangs een van Duitsland laat invoer – teen ‘n prys.
“A Country style Christmas” (foto bo) is die naam van ‘n reeks Kersplate wat ons in 1976 in kniediep sneeu in Cambridge, Massachusetts, gekoop het. Daardie “wit Kersfees” het diep in ons harte ingeboor. Die Amerikaanse Kersmusiek was vir ons hemels. George Beverly Shea – wat ‘n stem!
Amper 20 jaar later het ‘n besoek aan Oostenryk sy eie musiek-herinneringe in sement gegiet. Johan Strauss II se ”Nonnekoor” en die onoortreflike Mozart se “Elvira Madigan” val in daardie kader.
“Stille nag” was ‘n seker keuse vir my en Tokkie se lys. Maar watter opname? Uiteindelik moes ons kies tussen die Amerikaner Carl Smith se weergawe op “A Country style Christmas” en ‘n opname van die Bielefelder Kinderchor op ‘n plaat wat ek as nuusredakteur van Die Volksblad amper 50 jaar gelede by Lufthansa present gekry het. Laasgenoemde het net-net gewen.
Die oorheersende SAUK-storie (“radiosepie”) van die 60’s was “Soetmelksvlei” en in die volksmond was die “18de Variasie uit ‘n rapsodie op ‘n tema van Paganini” gou bekend as die “Soetmelksvlei-serenade”. Ek het my neef Ben Smith van Pretoria altyd (tot my heimlike lekkerkry) verstom as ek die regte naam so kon afrits.
Wyle Fred Schnetler, meesterlik op die gebied van motors en musiek, het die pikante gewoonte gehad om vir vriende op bakenverjaardae CD’s te sny met musiek uit hul geboortejaar. Toe ek in 2001 60 word, was daar ‘n Fred-CD in die pos. As toegif Jacques Brel se ”Marieke” bygevoeg. Joe, luister ek graag.
Die naam van die komponis van “Gebed van ‘n jong meisie”, Baderzwska-Baranowska, is ewe seer ‘n mondvol as die “18 Variasie….” ens. Die hemelse musiek het ek en Tokkie na ‘n lang tyd so drie jaar gelede by Cas en Nella Jacobs in Centurion gehoor. Geen twyfel daarna nie dat dit op ons lysie hoort!
Van gebede gepraat: te veel CD’s van wisselvallige kwaliteit kom deesdae op die mark met ‘n geestelike inslag. Rudi Neitz se “Hoe groot is U” en Anneli van Rooyen se “Seënbede” (wat aan my oorlede swaer Neels Nothnagel behoort het) roer my egter elke keer.
Tokkie was ‘n belowende jong pianis met hoë Universiteit van Suid-Afrika-kwalifikasies en ek ‘n dromer dat ek ook nog een dag my vingers so oor die klawers sou kon laat gly. Natuurlik moes daar heelwat klaviermusiek op ons lys kom. Tsjaikofski se “Klavierkonsert Nr.1” was ‘n vanselfsprekende keuse. Ons het in die dae van ons jonkheid ‘n plaatjie daarvan in Bloemfontein gekoop. Wessel van Wyk se idilliese weergawe van Brahms se “Wals opus 39, nr.15” verdien ook sy plek.
Ag, maar dit kan ek eintlik van al die ander sê, hoewel ek darem nie elkeen se storie hier kan vertel nie. Ek hoor reeds mense brom dat my blogs darem te lank is.
Maar dit wil ek nog graag byvoeg: dat ons, nadat ons ons lysie gemaak het, steeds heelwat verheffende musiek hoor wat ons graag ook sou wou opsit. Nie een van die uitsoek-20 sou ons na nadenke egter wou weglaat nie. (HvD)
May 22, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Jy is buitengewoon as jy nie, soos amper almal om jou, ‘n “trooskombersie” of meer het nie. Of dit nou ‘n verslete ou baadjie, ‘n knipmes met ‘n stamboom of ‘n geliefde pyp is (manlik); serpies (Hilda van Sewende Laan), ‘n handsak of ‘n stukkie spesiale juweliersware (vroulik), of ‘n verrinneweerde teddiebeertjie (kind) – so klou die meeste van ons vas aan dingetjies wat vir ons sentimentele waarde het, en wat dikwels net vir ons mooi is.
Kyk maar na die TV-advertensie van “Goggatjie” se skeerbeker van Absa I-Direct op TV. Sy huis is rot en kaal besteel, maar “Goggatjie” dink dadelik aan die veiligheid aan sy bekertjie met die skerpneus-gesig wat seker ‘n lang pad saam met hom gekom het. Dan …o wee… die spinnekophart van ‘n vrou ….
Op die foto is Michelle du Plessis van Centurion en haar draadhoender wat die hele wêreld saam met haar rond toer. Ek kry dit op www.Beeld.com se lekker rubriek My Storie. Michelle het die hoender, “Chicken” in Centurion gekoop toe sy vir haar onderhoud gegaan het om op ‘n luukse-boot oorsee te gaan werk. Van toe af is hulle onafskeidbaar. “Chicken” sal jy altyd in haar handbagasie kry.
Die beskeie hoendertjie was al oral. In die hele Suid-Afrika, Kanada, Los Angeles, Miami, Fort Lauderdale, San Diego, San Fransisco, Hawaii, Bora-Bora, Tahiti, Fiji, Australië, Nieu Seeland, Pago, Somao, Gwam-eilande, Yap-eilande, die hele Meksiko, Guatemala, Panama, Bahamas, Barbados, Karibiese Eilande, Peru, Ecaudor, Kuba, Venezuela, Colombia, Costa Rica, Japan, Hong Kong, en nog vele meer.
Elke plek wat hulle besoek het, het gesorg vir ‘n foto of tien vir bewys, skryf dié mooi nooi op Beeld.com. Gelukkige hoendertjie!
Hierbo het ek teddiebeertjies in die kategorie geplaas van n “trooskombersie” vir ‘n kind. Wag ‘n bietjie. Heelparty grootmense, soos die skone Dezi (Elma Postma van ‘n Boer soek ‘n vrou), erken sonder skroom dat hulle steeds saans iets sags (soos n teddiebeertjie uit die kleintyd) bed toe vat. Gelukkige teddiebeertjie!
My eie “trooskombersies” behels nogal ‘n bonte versameling. Ek raak maklik geheg aan allerlei wat vir ander waardeloos kan voorkom. Snags geniet ek byvoorbeeld my drinkwater uit ‘n emalje-koffiebekertjie wat beter dae geken het. Dit was ‘n speelse geskenkie by my laaste einde-van-die-jaar-partytjie by Naspers in 1997. Wonder wie van die ander kollegas nog hul bekertjies het, maar vir my proe water uit geen ander houer presies so verfrissend nie.
Twee kieries lê na aan my hart., Die eerste is van swarthout. My seun, Johan, het dit vir my laat maak met die eerste geldjies wat hy verdien het as koerantseuntjie van Die Volksblad in Bloemfontein. Ek was verras en ingenome. Vandag is die kierie vol merke, soos dit onder meer al deur honde op die strand bygekom is, maar dit bly ‘n spesiale HvD-besitting.
Kierie nommer twee staan in Sabiepark – ‘n meesterstuk van inheemse Transvaalse kiaat met ‘n bielie van ‘n vlakvarktand as handvatsel. Dit was ‘n geskenk van my kollega Jan Scholtz, ‘n vakman soos min wat met hout kan toor.
Op Sabiepark is ek en my Jan Scholtz-kierie ‘n onskeibare tweemanskap. Maar daardie kiaat-kierie het my groot laat skrik op ons eerste kuier nadat dit in my lewe gekom het.
Ek en Tokkie stap piekniekplek toe. Op pad tref dit my soos ‘n donderslag: “Waar’s my kierie dan?” Ek het hom nie by die huis gesien nie, en nee, my vrou weet ook nie. Met elke tree styg die ongelukkigheid. Later is in my gemoed geen twyfel meer nie: my geliefkoosde kierie is gesteel.
Dalk vir muti? Renosterhoring verskaf glo net die regte doepa vir ‘n kwynende libido. Daardie aanspraak is nie onbekend nie. Waarom dan nie ook vlakvarktand nie? Die potensiële gebruike van vlakvarktand eskaleer met elke tree wat ons loop.
By die piekniekplek bereik die spanning breekpunt. Ek moet dadelik gaan soek. Nou drafstap ek. Tokkie bly al hoe verder agter. Sy protesteer en hyg en sweet. Oor my skouer roep ek net na haar toe: “Jy kan by die huis in die swembad spring.” Ek bars behoorlik by die deur in. Soek agter die boekrak, skuif die kas met glase weg. Kyk selfs in die dak op.
In die kamerkas pluk Tokkie haar klere opsy. Veilig in die hoekie staan die kierie. Ons het klaarblyklik die vorige vakansie besef so ‘n waardevolle kierie moet deeglik weggesteek word. Toe steek ons dit amper te deeglik weg! Die geheues is ook nie meer wat dit was nie.
Na die hereniging laat ek my lippe so vee-vee oor die blinkgladde vlakvarktand. Tokkie wil ewe opportunisties weet of ek net so uit my vel sou wees as dit sy was wat weg was en weer gevind is. Volgende vraag! (HvD)
May 21, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Die uitsig uit die Esplanade se hoofgebou
Skepties is die mens gebore. Goeie nuus klink soms eenvoudig te goed om waar te wees. As jy weer jou oë uitvee, is dit neusie verby met ‘n kans uit ‘n duisend.
Toe die nuus ons afgetredenes van die Probusklub op Melkbos bereik dat ‘n hotel op Hermanus vir ‘n winterpromosie kamers teen R60 per nag per persoon aanbied, was die wantroue geweldig.
Die boodskapdraer is skeef aangekyk omdat hy sulke onsin glo. Een ervare hand in die toerismebedryf het ernstig verklaar: “Kyk, ek sê nou vir julle as ‘n hotel R60 per nag vra, is daar fout.” Vee die ding van die tafel, was sy oortuigde advies.
“Sal ons nie gaan kyk nie?” het versigtiger lede gewonder. Josua-verspieders is uitgestuur. Die eerste verslag het bevestig daar is wel so ‘n aanbod. Onsekerheid oor sekere aspekte het egter voortgeduur.
‘n Tweede rapport is ingewin – en ‘n derde. Die proposisie het al hoe belowender begin lyk.
Maandag en Dinsdag het die Van D’s en Van W’s (my swaer en skoonsuster van Klaradyn in Brackenfell) in die motor geklim na die Hotel Esplanade op Hermanus toe. Die nuus is eintlik nog beter het dit intussen geblyk: R460 vir ons vier vir twee nagte (d.w.s R57,50 per nag per persoon), met ‘n tweegang-ontbytjie (graankos, een eier en ‘n vleiskossie, koffie en roosterbrood) ingesluit.
Met die ligging van die Esplanade in Marineweg kan niemand fout vind nie. Dis regoor die sogenaamde “kookpot” (Boiling Pot) met ‘n wonderlike uitsig oor die baai en reg in die toerisme-hart van Hermanus, stapafstand na Village Square met sy pikante eetplekkies en geskenkewinkels.
Op pad na die versteekte stegie na die parkeerplek aan die agterkant van die hotel ry ons by ‘n uithangbord verby: R550 per nag. Dit vir een mens vir een nag! En minus ontbyt! Ons glimlag behaaglik.
Ons keuse van akkommodasie het geval nie op kamers in die ou hoofgebou wat see toe front nie, maar ‘n tweekamer-huisie in die boomryke binneplaas; pure Griekeland met die witgepleisterde mure, blou deure en kosyne en slierte bougainvillea.
Kyk, die meubels is nie nuut nie. Maar dis stewig en netjies. In die slaapkamers is antieke hang- en spieëlkaste. Die vertrekke is ruim en skoon. Die badkamers is netjies geteël. Die kombuisie is goed toegerus. ‘n Bonus is ‘n beskutte binnehof met ‘n private braaiplek.
My swaer Fanie het uitgewerk dis presies 100 tree van ons deur tot by die bankie teenaan die “Kookpot” waar hy, volgens hom, heeldag sou kon sit en vir die malende branders kyk. Van so lank stil sit was egter geen sprake nie. Vlakvoor die hotel loop gerieflike sement-wandelpaaie verby, kilometers langs die skilderagtige kus af. Selfs ‘n lid van die kieriekommando (vra my) kan daardie paadjies en die hout-trappe teen die rotshange aandurf. (Moet ook nie ‘n wandeling onder die melkhoutbome tussen Voëlklip en Grottobaai mis nie.)
Vir Fanie, ‘n boekeslaaf, was daar egter nog beter nuus. By die agterhek uit (waar jou motor veilig, agter slot en grendel geparkeer staan) is twee boekwinkels met historiese skatte. Een is die bekende Hemingways. Net buite daardie hek wag ook trosse winkeltjies om ontgin te word.
In vanoggend se Burger is ‘n berig oor ‘n gids van restaurants wat waarde vir geld bied. Op enige sodanige gids vir hotels sal Hermanus se Esplanade ongetwyfeld sterk meeding vir eerste plek. Trouens, as iemand ‘n gids sou uitgee van te-goed-om-waar-te-wees-blyplekke sal die Esplanade ook my kandidaat wees vir die boonste sport op die leer.
Dalk nog net een keer tevore in my lewe het ek ‘n ewe verrassende te-goed-om-waar-te-wees-ervaring gehad. Dit was om in 1976 vir ‘n Amerikaanse “quarter” (25c) op die veerboot van Manhattan na Staten Island te ry met ‘n manjifieke uitsig op die stadsprofiel van New York.
Om jou hele Hermanuskuier spotgoedkoop te hou, gaan koop vir jou vis en skyfies by die Lusitania in die hawe, bring ‘n dag deur in die asemrowende Fernkloof-natuurreservaat en drink saans ‘n ottermaklottertjie uit Boland Kelders se Bon Vinoboks. Ja, ook ‘n doodgewone “Koekemoertjie” kan plesier uit die lewe put!
Naskrif: Die Hotel Esplanade betaal my geen sent vir hierdie getuigskrif nie. Wat my betref, verdien hy elke woord. (HvD)
May 17, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Idols of Idles?
Van die hele Idols-gedoente weet ek soveel soos die spreekwoordelike kat van saffraan. Van die rampsalige debakel rondom Jason en Natasha kon ek egter nie anders as om kennis te neem nie. Meen, die media was op hol asof die 2010-sokker van ons weggeraap is of iets.
Soos dit vir my lyk, het oorywerige ondersteuners van die twee finaliste die selfoonnetwerke so met sms’e gebombardeer dat die spulletjie, soos my ouma altyd gesê het, “toetentaal gekollapseer” het. Miljuisende stemme het ongeteld in die lug bly hang – wat, terloops, die begrip “spookstem” in my boekie ‘n nuwe betekenis gee!
Nietemin, uiteindelik is die verklaarde wenner toe eintlik die verloorder en word die ware wenner as ‘n mede-wenner uitgeroep – of iets in daardie trant. Nie dat dit my juis beroer nie.
Wel duik by hierdie onkundige twee vrae op wat ek graag eerstens aan die adres van Idols-eksperts en tweedens aan die selfoon-ghoeroes wil rig.
Vraag nommer een is watter geloofwaardigheid enige uitslag van enige kompetisie kan hê as begeesterdes maar mag bly stemme uitbring of dit uit die mode raak. Ek lees iewers van ‘n dametjie, meen ek, wat op die rand van ineenstorting was omdat haar 40 stemme vir Jason nie betyds kon deurgaan nie. Veertig stemme van een mens vir een kandidaat – goeie aarde!
Sulke absurde verwringings van die demokrasie lyk vir hierdie waarnemer na ‘n uitnodiging vir manipulering en die resep vir meer fiasko’s as net die huidige verleentheid wat me. Patricia Scholtemeyer en haar M-Net-slimjanne met soveel eier op die gesig gelaat het.
Idles (soos hierbo met die Idols-logo) tong in die kies gespot word, is mos dan ‘n beter naam vir die program wat klaarblyklik uit en uit niks anders as ‘n bogspul kan wees nie.
My tweede vraag is ietwat ernstiger. Denkende aan al die noodsituasies wat enige tyd enige plek kan opduik, wonder ek wat die lot van ‘n dringende sms of oproep na ‘n dokter, die polisie, brandweer en dies meer gaan wees as dit in so gruwelike verkeersknoop in die eter vasgevang sou raak.
Eers 24 uur later by sy bestemming kom? Dan is die slagoffer al dood, beroof of verkrag, die huis afgebrand of die motorkapers ver weg met ‘n gesteelde kar. Selfs ‘n kontrak wat van ‘n vinnige antwoord afhanklik is, kan so sneuwel – of erge huweliksonmin gegenereer word. In sulke gevalle is daar nie die geleentheid om later die gemors te beredder nie, en is verskonings te laat vir trane.
Ekself het al helder oordag, sonder enige kompetisie van Idols-beheptes, ‘n selfoonmaatskappy se noodnommer probeer skakel oor ‘n man wat met sy kop op die bedrywige N1 naby Colesberg lê – in die pad van duisende motorwiele wat teen 120 k/pu van noord na suid voortsnel. Wat ek vir my moeite gekry het, was die mededeling dat al die “konsultante” op daardie oomblik besig was, en daarna geblikte musiek – eindeloos.
Ander belangrike oproepe word telkemale gestuit deur die sein “network busy”.
Slaan my dood, maar ek sal nimmer as te nooit begryp dat instansies wat weet dat hulle vermoë (kapasiteit) in normale omstandighede op die rand van ooreising is, hulle blootstel aan sulke ligsinnige avontuurtjies soos die Idols-stemmery nie.
Tensy dit uit naakte gierigheid is. (HvD)