Aug 5, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Sabiepark
Miskien moet ek uitreik vir die tafelblad voordat ek hierdie woorde neerpen (“Touch wood, sê die Engelse), maar ons beleef aan die bobbejaanfront die rustigste jaar sedert ons kennismaking met Sabiepark in 1998.
Geen strooptog op die voorstoep of ander bose aktiwiteitwat wat die gemoedsrus versteur en omvangryke skoonmaak-operasies verg nie.
Ja, daardie ou vrinne met hul sekelsterte het al by die watergat kom drink en enkelinge het dit al tot op die stoep gewaag. Maar in die algemeen behou hulle (tot dusver) vanjaar ‘n eerbiedige afstand.
Dank jou die duiwel vir die verandering in gesindheid en/of gedragspatroon by ‘n lotjie wat die Van Deventers al erg suur gehad het. Sal ek byvoorbeeld die daardie snikhete somersdag vergeet toe hulle in die swembadjie kom afkoel het?
Natuurlik moes ons die water daar en dan uittap en die skropborsels uithaal. Die stoepkussings was self maar ‘n yslike gemors. Om van die stoepteëls nie te praat nie.
Daar was – nog erger – die dae dat hulle deur die amper ondeurdringbare Van Deventerskanse gebars het om binnenshuis ondersoeke ter plaatse te kom loods. Maar sal ek my bloeddruk nou onnodig aan strawwe eise onderwerp deur sulke onplesierige skandes en skades in herinnering te roep?
Die doel van hierdie skrywe is immers nie om ou koeie (of bobbejane) uit die sloot te grawe nie; bloot om ‘n welkome wending te rapporteer en oor ‘n moontlike oorsaak te bespiegel.
Die oorsaak is dalk aan ‘n verwisseling in leierskap toe te skryf. Die nuwe aanvoerder lyk bepaald minder boosaardig en uitdagend as sy (saliger?) voorganger. ‘n Tweede teorie is dat ‘n verandering in die Van Deventers se liggaamstaal agter die nuwe respekte kan sit waarmee die inwoners van Wildevy 154 bejeën word.
Ons KYK hulle nou eerder as om op en af te spring en nare geluide voort te bring om hulle af te skrik.
Die kyk-advies kom van ‘n vriend in Amerika, Ben Coetzee, wat jare her by Nasionale Parke was en nie heeltemal die Van Deventers se gebrek aan welwillendheid jeens die bobbejaanspesie deel nie. “So, jammer man, maar ek sukkel om my vreugde oor jou ongemanierde gaste te onderdruk,” het hy sy sienswyse op ‘n keer openhartig gestel.
Dit was nadat hy en sy seun, Dirk, in 2005 in die Krugerpark kom foto’s neem het vir sy eersteklas-boek, “Birth of an African Landscape”, en hulle oor ‘n hele paar dae en ‘n hele klompie kilometers slegs een bobbejaan gesien het.
Nêrens het hy gelees of gehoor van enige kommer oor die bobbejanegetalle nie, het Ben laat weet, en hy het al aanvaar hulle het uitgevrek onder Natuurbewaring se neuse. Toe bereik die uwe se klagtes hom daar in Memphis se wêreld waar hy en Jeanette hulle ingegrawe het (selfs Amerikaanse burgerskap verwerf het).
Ewenwel, simpatiek of nie so besonder simpatiek nie, had Ben toe nogal ongewone raad. Hy het die volgende speletjie aanbeveel wanneer bobbejane om die motor rondhang:
“Sonder om sterk en direk na enige individu te kyk, soek ‘n nie-dominante, ondergeskikte uit, kyk dan direk na haar en maak groot oë (net groot oe, nie ander bewegings nie). Sy sal skrik en indien sy bly sit, oral om jou kyk maar nooit weer na direk n jou nie, terwyl sy jou wel uit die hoek van die oog belangstellend dophou.
“Probeer dieselfde met ‘n meneer in die trop. Hy sal ietwat van stryk gebring word maar heel anders reageer, iets sinneloos doen, soos krap, opstaan, paar treë stap en weer sit, of wat ookal (displacement activity) nie gewoond om so geintimideer te word nie.
‘‘Pure mens.’
Ben het spesifiek gevra dat ek dit asseblief nie tuis op die werf probeer doen nie , maar na ‘n semi-geslaagde eksperiment met die “ vuil-kyk-formule” op pad na Skukuza was die Van D’s toe tog hier by Tarlehoet ‘n bietjie stout.
As die resultaat daarvan was die ongekende bobbejaan-skietstilstand wat ons nou belewe, vra ek nie eens askies vir ons ongehoorsaamheid nie! (HvD)
Aug 3, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Sabiepark
Vier meter van die swembadjie se rand, tien meter van waar ek hier sit en skryf, is ons bosplek Tarlehoet se watergat en langs hom die voëlbad wat deur die vreemde weë van die dieredemokrasie ook amper meer drinkplek as badplek geword het.
‘n Mens sou kon sê dat ‘n verskeidenheid dors diere as ‘ t ware met hul keelgate gestem het om die gemesselde klipbadjie vir hul drinkdoeleindes te annekseer. Hou maar daardie badjie dop as hy vol is – die diere, klein en groot, kom en gaan.
Ode aan Sabiepark, of aan Tarlehoet, kan volledig wees as dit nie ‘n buiging na die twee drinkplekke insluit nie.
Om ‘n dier te sien drink, het mos ‘n spesiale bekoring. Miskien is dit die trillende onrus van hul spiere; miskien die brose kwesbaarheid teen allerlei vorme van kwaad wat skielik uit die bos kan bars, maar iets, iets, aan drinkende diere is daar wat die waarnemer instinktief na sy verkyker of kamera laat gryp.
By Tarlehoet se twee drinkplekke is al die volgende besoekers waargeneem: koedoes, blouwildebeeste, sebras, duikers, hiënas, vlakvarke, rooibokkies, gebande muishonde, skilpaaie, nagapies en ‘n duisternis voëls, waaronder bloukuifloeries, tarentale en neushoringvoels.
Streng gesproke moet die muskeljaatkat ook op die lys kom; dis sy kontrei, maar nóg ek nóg Tokkie het hom nog ooit op ons werf sien drink. Die reuse-landslak het ons inderdaad hier sien drink, maar uit die swembad. Dit diskwalifiseer die vreemde verskynsel van insluiting op ons lys “drinkebroers”.
‘n Prikkelende gedagte is dat olifante dalk ook al hier gedrink het. Ons het foto’s van ‘n olifant vlakby die drinkgat toe ‘n paar van die ou groot kokkedore enkele jare gelede deur die heining gestap en ‘n paar bome in Sabiepark kom omstoot het. Maar ons weet nie of daardie ou sy slurp in die water gesteek het nie.
Een van ons eerste gewaarwordings van diere by ons watergat was kort nadat ons in 1998 Sabieparkers geword het. Vroeg een oggend het ek uit die badkamervenster ‘n groepie blouwildebeeste by die watergat sien aantree. Hulle het nie lank gebly nie. Tokkie se verwyt was dat my “luidrugtige manier van tande borsel” hulle verdryf het!
‘n Jaar of drie gelede is ons diep in die nag gewek deur ‘n verskriklike geplas. Toe ons opvlieg, kry ons in die flitslig vier hiënas aan’t spoke in die water. Hul gevroetel met hul snoete het die teorie laat ontstaan dat hulle aas kom herwin het wat hulle vroeër daar gebêre het. Dis glo ‘n hiënagewoonte.
In die dae voor die luiperds Sabiepark se vlakvarkbevolking so hartverskeurend uitgedun het, was hier twee ou grotes wat graag op ‘n warm dag in die water kom afkoel het. Hulle het klaarblyklik nog nie gehoor: varke moenie in die water mors nie, want die ander diere wil dit drink!
Ewenwel, koedoes het ons tot verlede week, vreemd genoeg, nog net by ons voëlbad sien drink. Nou het ek foto’s soos die ene hierby van die jong bul by die watergat.
Twee dae later het ‘n mooi rooibokkies tot ons plesier die eerste keer na ons wete by een van ons drinkplekke (ook die watergat) kom krom rug trek – altyd ‘n sierlike gesig. Ongelukkig was die kamera nie byderhand nie. Voordat ek kon korrel, het hulle snuf in die neus gekry.
Maar koedoes en rooibokkies by ons watergat: dit is twee eerstes van die wintervakansie van 2009 wat in die annale opgeteken moet word.
Die okkasie van die naweek was Skukuza se halfmarathon. Dis nogal ‘n aardigheid om die gewapende “beamptes” met hul R1’s en 458’s by elke kilometermerk aan te tref. Maar ook geen wonder nie: voor die wegspring (met ‘n geblikte leeubrul) moes die helikopter ‘n renoster, ‘n leeu en ‘n luiperd van die roete afkeer!
Die halfmarathon was in sonskynweer. ‘n Dag later was hierdie wêreld grys en koud en het plek-plek aansienlike buitjies uitgesak. Ons beleef ‘n anderster winter in die bos. (HvD)
Jul 30, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Vir wie dit die grootste fees was weet ek nie: vir die luiperd met sy jong vlakvark in die takke van die jakkalsbessie skaars vyf meter van die pad of vir ons groepie Sabieparkers wat in Maroelaan kom en gaan met ons verskeidenheid kameras – van selfoonbuksies tot die langste van langlens-menere.
Wat ek wel goed weet, is dat die wintervakansie van 2009 weer, soos altyd, sy hoogtepunt opgelewer het wat bo alle ander belewenisse en ervarings uittroon.
Dit gebeur nog elke jaar sedert ons in 1998 winters (en soms somertye ook!) hier aan die wal van die Sabierivier, twee kilometer van die Krugerwildtuin, kom nes skrop het. Een dag iewers vroeër of later elke vakansie gebeur iets wat jy instinktief besef: hier’s dit. Hier’s ons vakansie van vanjaar nou in ‘n enkel belewenis vasgevang en gedefiniëer. Niks gaan dit vanjaar klop nie.
Gewoonlik is dit maar een van die groot vyf wat vir die bobaas-belewenis van ‘n vakansie sorg: ‘n trop leeus, ‘n horde olifante, buffels, renosters, olifante en renosters saam soos in 2008 by die piekniekplek… en nou ‘n massiewe luiperdmannetjie met sy vlakvarkie in die boom.
Gisteroggend het ek en Tokkie die oopgespalkte vlakvarkie gewaar. ‘n Entjie verder, in die koelte, was die luiperd rustig in ‘n driffie. ‘n Hiëna het vol verwagting snuif-snuif opgedaag.
Gistermiddag sê ek vir Tokkie: wil jy nie gaan kyk wat by die luiperd aangaan nie? Binne enkele minute is sy terug. Die luiperd se feesmaal is in alle erns aan die gang.
Ons was betyds vir ‘n strategiese stilhouplekkie in die smal gruisstraatjie. Met my kamera vasgenael op die luiperd kon ek elke beweging volg, terwyl hy stuk vir stuk korte mette maak van sy prooi.
Onder het twee hiënas gewag, trippelend van lus.
In ‘n stadium het waarskynlik die mensesamdromming die luiperd begin irriteer. Hy gryp grommend wat oor is van sy vleis (albei sappige boudjies was nog ongeskonde) en is woerts uit die boom uit met die vleis in sy kake.
Heeltmal so slim was dit nie. Onder het die hiënas gewag, oorgehaal vir ‘n skermutseling. Onse luiperd het kortom geswaai en is weer die boom op waar hy sonder enige spanning of haas sy ete kon voltooi. Toe was hy uitvoerig sy mond en pote en verdwyn in die bos.
Vanoggend het Tokkie hom weer in die boom gekry. Hy was ‘n boudjie aan die geniet.
Van ‘n ander toeskouer het ons later verneem ‘n element van sorgeloosheid het ingesluip wat hom uiteindelik duur te staan gekom het. Tussen die tak en die mond val een boudjie toe op die grond, waar ‘n dankbare hiëna dit gryp en verkas vir ‘n “fees van die ongenooides” (met verskoning aan P.G. du Plessis).
Uit nuuskierigheid is ons later weer na die toneel. Alles was stil, met geen teken van die natuurdrama wat ons bevoorreg was om te beleef nie.
Uit die hope, hope foto’s sit ek ene hierby. Later, dalk eers terug in die Kaap, sal ek op Picassa ‘n albumpie sit. (HvD)
Jul 29, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Tokkie teister my weer met haar weergawe van my opgewekte liedjie “die lewe in die bos, dié is so wonderlik…..” In haar variasie op die tema verskil die woorde nie. Sy sing dit egter spottend; wanneer die bos – soos soms onvermydelik is – ‘n mens klippers laat kou.
Die rede vir T. se lied is die gasvrieskas. Hy’t begin roet gooi weens ‘n verstopping. En luister maar na iemand wat weet: swarter roet as ‘n gasvrieskas se roet bestaan nie. Die gemors in die kombuis is hartverskeurend.
Terselfdertyd daag die rekening vir die ses nuwe batterye op. Dis nie toortsbatterye daai nie, boetie, en hulle kos ook ietwat meer. So skuins oor die R10 000 vir die ses. Ja, R10 000.
Maar gisteroggend toe ons ontwaak, drink vyf sebras uit ons watergat, kom vier kameelperde peuselend aan, voed ‘n koedoemamma haar kalfie vlakvoor ons stoep en maak ‘n fris troppie rooibokkies hul opwagting – alles in vyf tot tien heerlike minute.
Jy voel sommer dadelik beter.
Die middag is die sebras terug, en is dit ‘n sebrababa se beurt om voor ons moedersmelk in te kry. In die “goue uur” toe die sak rooi oor die westerkim sak, voeg ‘n duikertjie hom by die sebras vir ‘n uitgebreide besoek en sak ‘n regiment gebande muishondjies met ‘n missie op ons lapas toe. Na hulle kom huismoles tussen twee bosnagape en die gewone aanloop van die gewone nagapies.
Vanoggend kom ons gou agter die uil het op ons stoep oornag, daar’s blouwildebeeste op die werf en die groot ou nuweling-vlakvark staan ook weer nader vir ‘n ietsie te ete.
Die groot nuus in Sabiepark vanoggend is egter: ‘n luiperd het vroeg-vroeg in Maroelaan ‘n vlakvarkie gevang, en die prooi hang in ‘n jakkalsiebessie in die Hongonyi-driffie skuins oorkant wyle Piet Möör se plek, Net Reg.
‘n Eerste verkenningsrit van die Van D’s lewer niks op nie. Gelukkig kry ek weer rapport uit daardie geweste en ry op my spore terug. Eers sien ek die vlakvarkie hang – kleinerig en met kwalik genoeg vleis vir ‘n luiperd-aptyt. Ek neem hom af.
Die volgende oomblik trek kolle my aandag. Die luiperd lê lewensgroot in die driffie. Dit lyk of hy aan iets kou. Van tyd tot tyd tel hy sy manjifieke kop op en fokus daardie kil groen oë op die man met die kamera wat aanhoudend flits. Gelukkig sit ek in die Honda.
Ek ry huis toe so vinnig ek kan om vir Tokkie te gaan haal. Gelukkig is daar toe nog net een ander voertuig op die toneel. Ons parkeer die Honda strategies en sit lank die luiperd en dophou totdat hy eindelik grasieus opstaan, sy bene rek en stadig ‘n entjie versit dieper die bos in.
Toe hy roer, gewaar Tokkie agter hom die eerste hiëna wat belangstellend nader staan. Hy stap egter ‘n eerbiedige draai by die luiperd verby voordat hy hom in ‘n onkolletjie neervlei, naby genoeg as ‘n stukkie vlakvarkvleis dalk uit die jakkalsbessie loskom. Ek neem hom ook af.
Hierbo is een van vanoggend se luiperdfoto’s. Mooier het ek ene nog nie in Sabiepark afgeneem nie. Die blink kol is die Honda se een truspieëltjie. Ek kan my skop dat ek die steurnis nie agtergekom het nie. Maar wat dit is my beurt om te sing: die lewe in die bos, dié is so wonderlik….”
Tokkie se spot is op ‘n einde wat hierdie vakansie betref – so glo ek. Dankie, ou kollepels! (HvD)
Jul 23, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Sabiepark
As jy ooit ‘n leeu wil jag, in die dag of in die nag, gooi sout op sy stertjie en wag ….
Oor die geldigheid van die stukkie advies in ‘n ou-ou kinderliedjie laat ek my liewer nie uit nie. My tema is in elk geval nie leeujag nie, maar vlermuisjag. Vir daardie doel word ‘n direkter metode aangeraai: ‘n skepnet van ‘n swembad.
Vir die beste resultate kan mev. Tokkie van Deventer se dienste gerus bekom word; sy swaai daardie net met ‘n behendigheid wat ‘n mens verstom. Sy verloor ook nie haar ratsheid met die jare nie ….
Haar debuut as vlermuis-afweerder was al ‘n dekade gelede.
‘n Lelike verteenwoordiger van die orde chiroptera wat helder oordag in die woonkamer begin duikbewegings oefen het, is eers sonder welslae deur die uwe met opgerolde sokkies bestook.
Met die ratser, meer gemotiveerde Tokkie kon hy egter nie so maklik kat en muis speel nie. Sy tref hom met die skepnet en hy syg bedwelmd op die vloer neer. Verligting alleweë. Beelde het begin opdoem van die nare karakter wat nes maak in ons hare of snags oor ons slapende gesigte swiep.
‘n Verbete vrugtevlermuis-aanslag op die nagapies se piesang ‘n stuk of vyf jaar later wek my teensinnige bewondering vir die swiepende figure se vermoë om in die pikdonkerte doodsekuur op hul teikens af te pyl. Die armswaaiende van Deventers word telkens net-net gemis.
Toe neem Tokkie weer die skepnet op. Elke keer as die swaaiding om hulle swiesj-swiesj, ontduik hulle dit met spoed en grasie. Maar Tokkie het nie haar slag verloor nie. Ten einde laaste pen sy een tussen die apies se piesang op die piesangtafel vas. My vriend Manie Steyn van Krugersdorp is dadelik by met ‘n kierie. Een vrugtevlermuis minder.
“Die opfoetering van die fledermaus” het wyle Sannie Steyn die operasie later genoem. Die oorlede vlermuis se makkers het daar en dan besluit: liewer Bang Jan as dooie Jan. Met ‘n laaste uitdagende verbyvlug is hulle die donkerte in.
Vanjaar is die vrugtevlermuis weer op hul stukke. Elke aand sak hulle op die stukkies piesang toe met ‘n gesinchroniseerde lugaanval.
Vir die tweeling, Jacob en Thomas Claassens uit die verre Kaap, het dit nogal opwinding bygedra – veral om te hoor van ouma se reputasie met die skepnet om haar geliefde apies teen die onplesierige diere se attensies te beskerm.
Met die een en die ander het sy nooit tot ‘n demonstrasie oorgegaan nie.
Maar die kinders was net terug by Kommandeurstraat 3, Welgemoed, toe ‘n dringende roep my stoep toe laat storm. ‘n Yslike vrugtevlermuis lê die skepnet kant en wal vol. Wriemelende en sissend. My taak was om vir die kinders met die selfoon ‘n foto te neem – wat ongelukkig nie skitterend was nie.
‘n Ruk later hoor ek dieselfde dringende roep. Nommer twee lê vasgepen in Tokkie se net. Die geluide wat hy voortbring, sou ons ook graag t.w.v. die kinders op die selfoon verewig. Ek is terug in die huis, maar hoe dit gekom het, weet ek nie: die vrugtevlermuis is heen sonder dat HvD sy toets as klankingenieur geslaag het. (HvD)
Jul 19, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Sabiepark
Ek berig uit ‘n Sabiepark wat in die greep van ongekende luiperd-koors verkeer. Verlede Vrydag voor die jaarvergadering het ‘n luiperd ‘n bosbokram in ons straat, Wildevylaan, platgetrek, naby die piekniekplek.
Daarmee het die geheimsinnige sluiper hom nou aan meer Sabieparkers as ooit tevore openbaar. Hope Sabieparkers het die luiperd daar rond gesien, voor en na die vangs. Kameras het glo aanhoudend geflits. Vir ons minder gelukkiges was daar darem ‘n bloedkol en ‘n bok-kloutjie as bewysstukke.
Gistermiddag sit ons op die Van D-stoep en gesels toe die vrou des huises, Tokkie, skielik uitroep: “Wat hardloop daar?” Sy rapporteer “ ‘n valerige ding met kolle”. Almal spring op. Twee gaste sien die luiperd helder en duidelik voordat hy weer in die bosse verdwyn.
Die rooibokkies en sebras in die omgewing reageer senuweeagtig. So ver ek weet, was daar nie weer ‘n vangs nie. ‘n Stewige bosbokram het baie vleis.
Ons mis ons kleinkinders, Jacob, Thomas en Christopher, wat gister huis toe is, geweldig. Aan die ander kant is ek ietwat verlig. Dat hulle so heen-en-weer by die luiperd se houplek moes verbystap piekniekplek toe het my keel laat toetrek.
Twee okkasies was die 70-jarige verjaardagfees van my studentemaat Vos Grey by Ermelo en ‘n uitslaap-nag by ‘n nuwe tentkamp naby Pretoriuskop.
By eersgenoemde het ek beleef hoe doen die ou Oos-Transvaal se boere ‘n ding. Die fees het om 11:00 begin met koffie, tee en soetgoed. Dis teen 16:00 verdaag met ditto. Tussen is behoorlik weggelê aan koningskos.
Nog ‘n studentemaat, Johan Bekker, en sy vrou, Antoinette, van Jacobsdal het na die fees saam Sabiepark toe gekom. Op hul eerste dag in hul lewens in die Wildtuin sien hulle toe meer as die Van D’s tot dusver in ons hele vakansie. Lyk of my roetes vir ander mense beter uitwerk as vir ons!
Die tentkamp se naam (ek noem dit liewer nie) verwys na ‘n rivierstroom wat stadig vloei. Ironies genoeg, was die stroompie droog toe ons daar opdaag; Geen water weens ‘n olifant se aanslag op die waterpype.
Nou-ja, olifante maak wat hulle wil. Dat die water ure lank af was, kon die arme bestuur seker nie verhelp nie. Maar ook in ander opsigte was ons verwagtinge te hoog. Die glansfoto’s op die webwerf is bepaald ietwat misleidend en die volume van busvragte buitelandse toeriste wek die indruk van ‘n worsmasjien.
Die tente is in rye ingepak met zero privaatheid. Jou motor moet jy aan die bokant parkeer en dan stap, maklik 100 meter ver. Die oggend toe ons moet ry, reën dit. Tesame met die ou man se pyne lyk die afstand motor toe onbegonne. Die taskarweier met sy vierwiel-veldfiets en oop Venterwaentjie word opgekommandeer, maar weier eers ‘n passasier. Sy “manager” sal die stuipe kry.
Eindelik kry hy die ou man onder die wit badhanddoek jammer. “Klim, Oupa, “gebied hy. Toe laat waai ons – met “oupa” wat met die een hand klou vir ‘n vale. In die ander is sy kamera en verkyker.
Ek verneem na die Samaritaan se naam. Dit is Moses. En daar lei Moses my toe sowaar na die beloofde land!
Om te dink dat ek ‘n aand op Sabiepark se stoep vir daardie kamp verruil het, laat my diep dislojaal voel teenoor my eie plek. Dan het ek nog betaal ook vir ‘n boservaring wat ver afsteek by die Ware Jakob. Dan praat mense van die wysheid van die grysheid! (HvD)