
Tokkie teister my weer met haar weergawe van my opgewekte liedjie “die lewe in die bos, dié is so wonderlik…..” In haar variasie op die tema verskil die woorde nie. Sy sing dit egter spottend; wanneer die bos – soos soms onvermydelik is – ‘n mens klippers laat kou.
Die rede vir T. se lied is die gasvrieskas. Hy’t begin roet gooi weens ‘n verstopping. En luister maar na iemand wat weet: swarter roet as ‘n gasvrieskas se roet bestaan nie. Die gemors in die kombuis is hartverskeurend.
Terselfdertyd daag die rekening vir die ses nuwe batterye op. Dis nie toortsbatterye daai nie, boetie, en hulle kos ook ietwat meer. So skuins oor die R10 000 vir die ses. Ja, R10 000.
Maar gisteroggend toe ons ontwaak, drink vyf sebras uit ons watergat, kom vier kameelperde peuselend aan, voed ‘n koedoemamma haar kalfie vlakvoor ons stoep en maak ‘n fris troppie rooibokkies hul opwagting – alles in vyf tot tien heerlike minute.
Jy voel sommer dadelik beter.
Die middag is die sebras terug, en is dit ‘n sebrababa se beurt om voor ons moedersmelk in te kry. In die “goue uur” toe die sak rooi oor die westerkim sak, voeg ‘n duikertjie hom by die sebras vir ‘n uitgebreide besoek en sak ‘n regiment gebande muishondjies met ‘n missie op ons lapas toe. Na hulle kom huismoles tussen twee bosnagape en die gewone aanloop van die gewone nagapies.
Vanoggend kom ons gou agter die uil het op ons stoep oornag, daar’s blouwildebeeste op die werf en die groot ou nuweling-vlakvark staan ook weer nader vir ‘n ietsie te ete.
Die groot nuus in Sabiepark vanoggend is egter: ‘n luiperd het vroeg-vroeg in Maroelaan ‘n vlakvarkie gevang, en die prooi hang in ‘n jakkalsiebessie in die Hongonyi-driffie skuins oorkant wyle Piet Möör se plek, Net Reg.
‘n Eerste verkenningsrit van die Van D’s lewer niks op nie. Gelukkig kry ek weer rapport uit daardie geweste en ry op my spore terug. Eers sien ek die vlakvarkie hang – kleinerig en met kwalik genoeg vleis vir ‘n luiperd-aptyt. Ek neem hom af.
Die volgende oomblik trek kolle my aandag. Die luiperd lê lewensgroot in die driffie. Dit lyk of hy aan iets kou. Van tyd tot tyd tel hy sy manjifieke kop op en fokus daardie kil groen oë op die man met die kamera wat aanhoudend flits. Gelukkig sit ek in die Honda.
Ek ry huis toe so vinnig ek kan om vir Tokkie te gaan haal. Gelukkig is daar toe nog net een ander voertuig op die toneel. Ons parkeer die Honda strategies en sit lank die luiperd en dophou totdat hy eindelik grasieus opstaan, sy bene rek en stadig ‘n entjie versit dieper die bos in.
Toe hy roer, gewaar Tokkie agter hom die eerste hiëna wat belangstellend nader staan. Hy stap egter ‘n eerbiedige draai by die luiperd verby voordat hy hom in ‘n onkolletjie neervlei, naby genoeg as ‘n stukkie vlakvarkvleis dalk uit die jakkalsbessie loskom. Ek neem hom ook af.
Hierbo is een van vanoggend se luiperdfoto’s. Mooier het ek ene nog nie in Sabiepark afgeneem nie. Die blink kol is die Honda se een truspieëltjie. Ek kan my skop dat ek die steurnis nie agtergekom het nie. Maar wat dit is my beurt om te sing: die lewe in die bos, dié is so wonderlik….”
Tokkie se spot is op ‘n einde wat hierdie vakansie betref – so glo ek. Dankie, ou kollepels! (HvD)