Dec 1, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Oornag het 38 plakkerskrotte op die Seepuntse Promenade, vlakvoor bakens soos die bekende Bordeaux-woonstelle, verrys toe ‘n Griekwastam sy voorvaderlike regte op die Seepuntse strandfront kom opeis.
Dié nuus het mense oor die lengte en breedte van ons land ‘n week of wat gelede, om dit sag te stel, laat stik. Saam met die e-pos was ‘n handvol foto’s. Op een is die Bordeaux-blok prominent. Agter toring Leeukop.
Maat die media bly swyg hieroor soos die graf. Later begin die besef deurbring: iemand het, met watter motief ook al, ‘n klomp internetgebruikers ‘n poets gebak, gekul of mislei – kies maar die regte woord. Die foto’s waarmee die liegstorie geloofwaardigheid help gee is, is klaarblykliik met fyn manipulasie iewers op ‘n rekenaar geskep.
Nou weet elkeen wat nie onder ‘n kalkoen uitgebroei is nie, dat e-posse gevaarlik misleidend kan wees. Selfs die gewone stroom welmenende beroepe om steun vir skynbaar edele aksies is dikwels ‘n front vir skelmstreke – só is ons al dikwels gewaarsku. Daarom weerhou ek sonder uitsondering my steun vir alle petisies, gebedskettings en wat nog. ‘n Mens weet nie wat daaragter sit nie.
Gevaarliker as bogenoemde in ‘n land waarvan die senuwees maar taamlik rou en uitgerafel is, is doelbewuste politieke misleiding, soos die storie van die plakkers – opgedis met die sousie daarby dat dit ‘n regstryd van vyf jaar kan inlui, en “ if you thinking of buying a beachfront property – think again!”
Raad het ek nie juis nie, want hoe stuit jy ‘n leuenaar wat sy gif via die internet by goedgelowige mense inpomp?
Al wat ek kan aanraai, is: hou gerus maar die media dop. Koerante en die radio, selfs TV, sal bepaald nie so ‘n storie onopgevolg laat verbygaan nie. As dit nie die koerant haal nie, is dit loutere bog, soos die vals internetfoto’s van Mugabe se huis en Mbeki se vliegtuig destyds loutere bog was.
Een ding bewys hierdie stelling van my onbetwisbaar: dat die waarheid nie sonder die tradisionele media as korrektief staande sal kan bly teen die bombardement van internet-knoeiers nie.
Kom ons praat maar net oor koerante – my klein area van spesialistekennis. Hulle word deesdae uit baie oorde verguis, en hulle kry dit nie altyd honderd persent reg nie. Maar skaamteloos lieg soos internet-grapjaste lieg hulle nie.
Punt.
Nee wat, diegene wat só internet -behep is en dwaaslik glo, praat of optree of koerante se tyd verby is, kan gerus gaan nadink oor die noodsaaklike rol wat hulle speel, en toenemend sal moet speel, om te sorg dat die gemeenskap dermate juis ingelig is dat hulle die regte besluite kan neem – wat een van die media se kernrolle in ‘n gesonde demokrasie is. (HvD)
Nov 30, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Die uitbuiting van Kersfees kom in hope gedaantes.
Een is in allerlei verbuigings van die Engelse woord “Xmas”.
‘n Kreatiewe nuutskepping sien die uwe vandag op die tydskrifrak by ‘n afdelingswinkel op die voorblad van ‘n tydskrif met die naam “Cleo”.
Al gehoor van “Sexmas”?
‘n Ou man kan maar net raai wat dit beduie. Maar dit sit waarlik die kersie op die koek! (HvD)
Nov 30, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Blogbesoekers het, te oordeel na hul reaksie, nogal gehou van die sonsondergang-foto’s van Saterdagaand 28 November, toe Johan, Mariza en Michael vir oulaas hier op Melkbos kom eet het voor hul vertrek na George.
Begeester deur die reaksie, het ek ‘n paar vorige sonsondergange gaan uitkrap. Ongelukkig het ek versuim om die datums aan te teken. (HvD)


Nov 29, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Melkbos, Saterdagaand 28 November 2009

Johan, Mariza en Michael op ons stoep, 28 November 2009
Nov 28, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
‘n Paar vinnige dinge het in die lewe van die Van Deventers gebeur. Vergun my asseblief ‘n kort familie-flitsie om bekendes in te lig.
Vir eers is Michael se aanneming bekragtig. Hy word nou Michael van Deventer, ons vierde kleinseun (geen kleindogters, ongelukkig, want klein meisietjies is alte fraai en dierbaar!)
Johan en Mariza van Deventer se status (en verantwoordelikhede) verander dus nou van pleegouers tot volwaardige ouers. Oor dié ontwikkeling is ek en Tokkie ingelig pas nadat ons op Sondag 15 November van ons bootvaart op die Sinfonia in die Kaap terug was.
Enkele dae later is Johan aangestel as takbestuurder van Tile Africa op George. Hy skuif al Maandag oor Suid-Kaap toe vir wat hopelik die begin van ‘n goeie nuwe loopbaan sal wees (al sal hy sy whiskeytjie op George aanvanklik sonder water moet geniet!)
Hierdie week is hul huis op Melkbos verhuur en het hulle dadelik op George gehuur. Mariza en Michael volg Johan oor twee weke.
Donderdagaand het Johan en Mariza hier by ons aan huis saam met ‘n groepie vriende gekuier om Michael te verwelkom en Melkbos te groet.
Ek wou ‘n grappie oor die Van Deventers se aktiwiteite in die teelbedryf/teëlbedryf maak.
Marisa Claassens, ons dogter, is (namens haar tweelingseuns, Jacob en Thomas) ‘n geregistreerde Labradorteler. Michael se swart Labrador-reun, Sam, is, trouens, een van die Claassense se Sjasja se eerste werpsel. Sasja (‘n goudbruin hond met al wat ‘n “papier” is) was, op haar beurt, ‘n geskenk aan die tweeling van Johan en Mariza.
Nou betree Johan die teëlbedryf (met ‘n umlaut)… en Sam groei só vinnig dat hy binnekort sy kleim ook aan daardie front sal kan afsteek (sonder ‘n umlaut).
Die geheue is ook nie meer wat dit was nie. Toe vergeet ek my teël/teel-storie totentaal. Gelukkig (en dankie vir die geduld) dat die blog soms ook vir persoonlike dinge ingespan kan word. (HvD)
Nov 27, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Bing Crosby se weergawe van Irving Berlin se immergroen trefferliedjie “White Christmas” word allerweë as die topverkoper-kortspeler van alle tye beskou.
Die oggend nadat ‘n opgewonde Berlin “White Christmas” in 1940 langs sy swembad gekomponeer het, het hy glo vir sy sekretaris gesê: “Gryp jou pen en skryf hierdie liedjie neer. Ek het nou net die beste liedjie geskryf wat ek ooit geskryf het — hel, ek het nou net die beste liedjie geskryf wat enigiemand ooit geskryf het!”
Gister hoor ek “White Christmas” ietwat prematuur – soos al die Kersversiersels wat al in November hul verskyning maak – in ‘n Tygerbergse winkelsentrum opklink.
Skielik kom die gedagte by my op: “Hene, ou Bing, Julius Malema gaan nie hou van wat jy nou hier sing nie!” (HvD)