Sep 2, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Met die regte “kontakte” kan jy alles regkry en oral inkom. So glo sommige mos – veral sommige politici (darem gelukkig nie almal nie) van elke herkoms en generasie.
As jy sukkel om by die hemel in te kom: “Man, hoekom bel jy nie net gou vir Petrus nie?”
Die stryd is aan om my geld uit Shosoloza Meyl terug te wurg ná die ineenstorting van passasiersdienste en die opskorting van o.m. die Premier Classe se Oos-Kaapse roete.
Pleks van more op die trein klim (rooi tapyt, verwelkomingsdrankie, deftige kompartement, aandete uit die boek), ry ons nou maar Sondag met die Honda George toe. Dis ten minste goedkoper.
Nietemin, om sy geld terug te kry, is vir die arme passasier ‘n omslagtiger taak as wat dit vir PRASA (Passasiersdienste van Suid-Afrika) ‘n probleem was om sy dienste oornag op te skort en derduisende reisigers te verontrief en ontwrig.
Om te begin, moet ek my kaartjies terugvat Kaapstad-stasie toe, van waar dit na Johannesburg gestuur sal word vir verdere “prosessering”.
Hier kom Mnr. Politikus nou in die prentjie.
Hy is besig om kaartjie te koop Johannesburg toe (daardie roete is intussen weer oopgestel), en verneem belangstellend na my besigheid op die stasie. Ek verduidelik en verduidelik die jammerlike sage, maar hy bly onbegrypend.
“Man, hoekom gaan praat jy nie net met …… nie?” – en hy noem die naam van die grootbaas van die Premier Classe.
“Goeie plan, ou vriend, baie dankie,” wou ek sarkasties terugkap.
Jinne, dat ‘n mens nou so dom kan wees en nie self daaraan kon gedink het om die grootbaas te gaan spreek nie. Hy kon mos maklik-maklik ‘n spesiale trein vir jou gereël het!
“Alte seker, mnr. Van Deventer, bly om van diens te kan wees. Sê net weer hoeveel waens moet ons vir jou aanhaak!” (HvD)
Sep 1, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
‘n Vriendin van my vrou, Tokkie, het haar man altyd bederf met die sappigste skaapvleis van haar pa se plaas in die Vrystaat af. Daardie vent, wat nie ‘n reuse-salaris verdien het nie, was ‘n regte lekkerbek en het wyd en syd verkondig hy eet net skaapboud en die beste tjops.
Op ‘n dag sit sy vrou vir hom blad voor. Hy trek sy neus op. Sy kap hom toe: “Piet, as jy self vir die vleis betaal het, sou jy die skaap se agterent ook geëet het.” Sy het ‘n ander woord vir “agterent” gebruik – een wat begin met ‘n “p”. Doodskoot!
Daardie “p”-storie kom by my op toe ek die skokkende vermorsing van goeie kos op die foto’s sien. Dit kom van ‘n kragsentrale op Ellisras. Die werkers se kospakkies wat hulle elke dag verniet ontvang, is met minagting na die bestuur geslinger, omdat die kospakkies nie, volgens ‘n beweerde ooreenkoms met Eskom, ná ‘n jaar met gekookte kos vervang is nie.

Daar is seker woes getoi-toi en gedreunsing terwyl die onwaardige kos-rondsmytery hom afspeel.
Ek meen ek sien gesonde appels, goeie vleis en broodjies tussen die rommel, en kry weer daardie sinkende gevoel wat die afgelope tyd al hoe erger by my opstu.
Watter kaliber mense mors so met kos? Moenie my kom vertel iets of iemand anders is daarvoor te blameer nie as hul eie skreiende gebrek aan waardes, beskawing en basiese ordentlikheid.
Dieselfde hartverskeurende, moedknakkende gesindheid tref jy ook aan by bedelaars wat by jou voordeur aanklop en kos vra. As jy vir hulle ‘n broodjie smeer, smyt hulle dit neer. Hulle soek vleis … of, eerder nog, geld waarmee drank gekoop kan word.
As iemand met gesag uit eie geledere nie hierdie willewragtigs in die bek gaan ruk nie, gaan ons in hierdie liewe landjie van ons nog baie trane stort, vrees ek. Maar waar is die leiers wat bereid is om op te staan en getel te word?
Kom ons los dit maar daar. Ek sluit liewer hierdie betoog, maar wil darem nog net, as laaste kommentaar op die toneeltjies op die foto’s, die woorde van ‘n klassieke oud-kollega in herinnering roep as iets hom buitengewoon dwars in die krop steek. “Dis om van te ….,” het hy altyd gesê. Dan het hy bedoel “om van te braak”. Die woord wat hy gebruik het, begin egter met ‘n “k”. Trouens, dis die woord “kos” met ‘n “t” in. (HvD)
Aug 30, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Oor die baie kraanvoëls in die Overberg raak ek nie uitgepraat nie. Hier is nog twee foto’s wat verlede Woensdag tussen Bredasdorp en Malgas geneem is – hierdie keer van kleiner groepies as die swerms van twintig, dertig wat algemeen was in die omgewing van die De Hoop-natuurreservaat, maar nader aan die pad en aan die kamera.
Van kraanvoëls gepraat: ek wonder hoekom die SA Munt hulle so stief behandel. Buiten dat dit ‘n sierlike, elegante voël is, is dit darem ook ons nasionale voël. Op watter munt pryk dit egter? Die beskeie 5c-stuk. Selfs die volop varkoor/varklelie vaar beter met sy verskyning op die 10c-stuk. Hoekom ontbreek die erkenning vir dié status van die kraanvoël?

In die algemeen word die waarde van ons nasionale simbole deur die muntmakers, helaas, nie juis hoog aangeslaan nie. Die protea haal net die ook maar liggewig-20c-stuk. Die springbokkie vaar die beste met die R1-stuk. Dis ook maar niks om oor huis toe te skryf nie.
Ek is nou nie ‘n ou wat glo aan petisies en daardie klas ding nie (wat het n petisie iemand al in die sak gebring?) maar miskien moet iemand met gesag tog iewers stem dik maak dat ‘n herwaardering kan kom oor die plek van ons nasionale simbole op ons geld.
Dink hoe mooi sal n R200-noot lyk met ‘n pronkende springbok, die R100 met die fiere kraanvoël en die R50 met ‘n koninklike protea – of wat praat ek alles? (HvD)
Aug 29, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Soveel kraanvoels, soveel walvisse, soveel elande, soveel bontebokke … in my dag des lewens het ek nie in 24 uur so ‘n ryke en ongewone verskeidenheid in die natuur gesien nie.
Ja-nee, ‘n kort kuiertjie by die De Hoop-natuurreservaat in die Overberg verlede week, met basis die karaktervolle Boegoe-boskamp een kilometer van De Hoop se hek, was vir die Van Deventers ‘n splinternuwe ondervinding, waarlik genotvol en deur en deur die moeite werd.
Honderde kraanvoëls in swerms van twintig en meer in die veld tussen Bredasdorp en Malgas het my kamera oortyd laat werk. In die loom waters van die Indiese Oseaan by Koppie Alleen het die skuimstrepe ‘n honderd-plus (ja honderd-plus) walvisse verraai. In De Hoop was elande en bontebokke om elke hoek en draai.
Maar die “overdaad in die Overberg” het nie by kraanvoëls, walvisse, elande en bontebokke opgehou nie.
Oor die snaaksigheid van bobbejane langs die water by die Mond in De Hoop het ek in ‘n vorige blog verslag gedoen. Naby Malgas het ek en Tokkie die Honda vinnig tot stilstand gebring en gefassineerd van die pad dopgehou hoe twee ratse skaaphonde ‘n paar honderd skaap vir die vanger op ‘n bondel jaag.
Ons het die geel muishond die eerste keer hier gesien (binne en buite die reservaat), en baie volstruise, pelikane, flaminke en ander watervoëls.
Vir ons, wat nie stappers is nie, was dit ‘n belewenis om by Koppie Alleen te sit en walvisse kyk toe ‘n vyfdaagse staptog op die Walvisroete van Potberg af daar eindig. Die vroue was in ekstase oor hul ervaring – hoop my en Tokkie se ritse spanfoto’s op allerlei kameras sal altyd vir daardie stappers van die Boesmanland en elders ‘n heuglike herinnering aan hul staptog wees.
Die wuiwende groen koringlande, gespikkel met kolle goudgeel canola, so ver soos die oog kan sien, omskep, om alles te kroon, hierdie mooi deel van ons land hierdie tyd van die jaar in ‘n lushof, wat (soos die veldblomme elders) toeriste in busvragte behoort te lok.
Daarvan gepraat: Die Burger rapporteer dat De Hoop in Junie, gedurende die Groot Sokker, 433 of 112% meer besoekers gelok het. Net 433 en dit is 112%! ‘n Eenvoudige sommetjie vertel die storie van ‘n plek wat baie bied maar klaarblyklik te min besoekers lok. Veral Suid-Afrikaners is blykbaar lui om daardie 40km hoofsaaklik grondpad van Bredasdorp af (50 km van Swellendam) af aan te pak.
Mense, daar is wonderlike anderster soort blyplek vir elke sak, gawe kampplek en genoeg om te sien en te doen, sodat jy De Hoop (die liedjie Skipskop se wêreld) as top-reservaat kan uitsonder. Julle moet kom, kom, kom dat hierdie juweeltjie tog nie, soos andersins onvermydelik sal wees, deur kruipende agteruitgang getref word nie. (HvD)
Aug 27, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
“Geen trein op 3 September van Kaapstad na George nie. Busvervoer sal verskaf word, of gaan eis jou geld terug by ‘n stasie.”
Met hierdie nuus het ‘n hoflike, apologetiese heer by 0860008888 gister my pynlike vermoed (blog van 13/8) bevestig.
Die Shosholoza Meyl (Premier Classe)loop dalk al elders weer – op hierdie roete is sy stoom egter steeds op.
Help nie om te kla dat jy reeds op 26 Maart – vyf maande gelede – bespreek het nie.
Help ook nie om te kla dat jy ‘n Avis-motortjie bespreek het, wat jou amper 50% van die huurkoste as “kansellasiefooi” uit die sak gaan jaag nie.
Help nie om te kla oor besprekings by Sanparke se Wildernis-park , of oor enige ander ontwrigting/teleurstelling nie.
Dis maar hoe dinge nou in SA werk, finish en klaar. (HvD)
Aug 26, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Die bobbejaan is ‘n burger van die berge. Elke bobbejaan het immers sy krans, soos die spreekwoord lui. Ons sing ook “bobbejaan klim die berg …”
In die bekende Afrikaanse liedjie klim ou sekelstert mos ewe jollie die berg om die boere te vererg – “hoera vir die jollie bobbejaan!”
Hoe jy daardie kloutjie by die oor kry, weet ek nie so mooi nie. Maar nietemin en desnieteenstaande, ek wil eintlik vertel van die natuurreservaat De Hoop se jollie bobbejane.
Hierdie foto het ek gister by die uitkykpunt by Die Mond in De Hoop geneem. Die bobbejane kuier hier alte lekker tussen die pelikane, flaminke en dies meer op die wit sand by De Hoop se vlei.
Moenie in De Hoop die bobbejaan agter die bult gaan haal nie – gaan soek hom liewer op die strand. Of wat praat ek alles?
Bobbejane wat n sonbad neem, was nie die enigste verrassing van ‘n vinnige kuiertjie aan die Overbergse kus nie. Van die ander doen ek later verslag. (HvD)