Jun 17, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

‘n Luiperd stap uit die oewerbos – maar hierdie keer op die S3.
More uit Melkbos
Vra iemand my oor my nommer-een-pad in die Wildtuin, antwoord ek vinnig: die S100. Op daardie gruispad naby die Satara-ruskamp, al langs die N’wanetsirivier af tot by N’wanetsi-piekniekplek met sy skouspelagtige uitkykpunt aan die einde van die H6, is elke rit ‘n teugie Wildtuinvreugde – al is dit ook net weens die reuse-trosvrye wat langs die rivier ingeryg staan, en die verwagting dat elke oomblik ‘n luiperd uit die ruigte kan stap.
Daardie spontane reaksie laat my egter al hoe skuldiger voel teenoor die S3, “ons eie” boomryke rivierpad, wat oorkant Sabiepark al langs die Sabierivier suidwaarts kronkel, en waar altyd ‘n kans is om een van die Vyf Grotes teë te kom. Is ek nie dislojaal teenoor die S3 as ek die S100 só opvysel nie?
Die S3 is darem “ons eie” – as ‘t ware Sabieparkers se “tuisveld”, omdat jy van die piekniekplek duskant die motors op hom kan sien ry. Sabieparkers kan binne minute op die toneel wees as motors opdam. Van die S3 af sien jy weer die groen oase van die piekniekplek en verskeie van Sabiepark se mooiste huise. Die pad bied ook die ervaring van diep-diep in die bos wees, al is jy ‘n hanetree van die Krugerhek
Die S3 is die Wildtuinpad wat ons gesin die meeste ry – soms op my vaste roete na die Phabenihek vir inkopies op Hazyview, soms as ‘n ompad na Skukuza vir kerk of “werk” (inkopies of die internetkafee), soms op pad na Pretoriuskop met sy karaktervolle kamprestaurant, soms net op ‘n vinnige oggenddraaitjie of laatmiddag-uitstappie vir die laaste uur of wat voor die Wildtuin se hekke sluit.
Dadelik is jy in prima-olifantkontrei wanneer jy net binne die Krugerhek op die S3 regs draai. Aan talle bome is die bas in repe afgeruk. Dikwels kry jy op die pad gestroopte takke of vars mis. Tussen die bome sien jy dalk ‘n glimpsie van ‘n slurp se puntjie wat heen en weer girts – of meer. Soms wemel die wêreld van olifante. Teeltroppe versper moedswillig die pad of seil gly-gly teen die wal af rivier toe om in die water te plas.
In ‘n groepie olifante wat die pad haastig oorsteek rivier toe is ‘n keer ‘n bitter klein kêreltjie. Hy lyk of hy net enkele dae oud kan wees, indien wel. Tokkie wil hom net optel. Ek moet haar herinner dat ‘n pasgebore kalf tot 120 kg kan weeg – selfs (ietwat) meer as haar man se massa op die uiterste van sy “gewigtigheid” (wat hopelik verlede tyd is)!
Die S3 bied verskeie roete-moontlikhede. Jy kan jou voor by die Doispanepad aansluit as jy só om Skukuza toe wil ry. Dis ‘n draai, maar jou kanse op spesiale waarnemings – selfs skaars wildehonde – is goed. As ek tyd het, ry ek dikwels ‘n verdere draai. Uit die Doispanepad swaai ek regs in die S65, verby die N’waswitshaka-watergat. Dan benader jy Skukuza uit heeltemal ‘n ander hoek, met die H1 verby die Granokop en die De La Portedrinkgat, waar renosters kom drink.
Op die S65 het ons al oomblikke ná ‘n luiperdvangs op die toneel aangekom (die rooibokram was nog nie dood nie). Een middag kon ek en Tokkie lank by 12 leeus sit. Hulle het, wrintiewaar, die hele dag op dieselfde plek deurgebring. Lyk of hulle ewe gedienstig op ons vertraagde aankoms gewag het! Ons het naamlik die oggend al nuus oor hul teenwoordigheid gekry, maar was toe op Hazyview.
Op die einste S65 het ons ook al ‘n maanhaar gekry by sy laat impala-ontbyt wat hy by ‘n agtelosige luiperd gegaps het. Die vies luiperd het in ‘n boom sowat vyftig meter ver sy wonde gaan lek.
‘n Voordeel van die rivierpad is dat dit ontoeganklik is vir woonwaens en heelwat minder verkeer dra as die geteerde Doispanepad (die S1). Net jammer dis nie ook ontoeganklik vir al daardie groen Land Rover Defenders of Nissan Hardbody’s met die rye bankies vir toeriste wat toenemend “ons pad” kom snuif trap.
Naskrif: Hierdie is dalk my laaste blog voor ons Dinsdag ry. Hoop die S3 bring vir iemand geluk hierdie vakansie! Moenie die pad tussen Onder-Sabie en Krokodilbrug vergeet nie. Petrus Pap verwys daarna in kommentaar op my vorige Wildtuinblog op Litnet. Onthou, ry met die S28 Krokodilbrug toe en met die H4-2 terug na Onder-Sabie. Ek gaan dit doen.
Jun 16, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
As ek na die weer kyk, moet vandag, Jeugdag, ‘n pannekoekdag wees. Kom ons maak egter vandag versiedag.
Hierdie drie onverwante versies word om die volgende redes op my blog gesit:
1. Genade, mej. Benade!
Hierdie bydrae kom van die Linetblogger Lora n.a.v. die uwe se blog ‘n ruk gelede oor Van Tonder die donder die hel:
Daar was ‘n jong meisie, Benade,
Sy dag baba’s was blote Genade.
Maar van komm-u-nie-keer
Moes die juffrou toe leer,
Kom baba’s en skande en skade.
2. Hasie Vaaljan, vers twee
Pierre le Roux van Mosselbaai het laat weet Hasie, Hasie Vaaljan wat ook ‘n ruk gelede op hierdie blog was, het ‘n tweede versie:
Hasie, Hasie Vaaljan,
Die walvis het gelam.
Snoekie was die nursie
En sardiens was die baba …. baba … baba.
3. The obits
Ton Vosloo het meer as ‘n dekade gelede by die verjaardag of iets van Eric Wiese ‘n Engelse versie aangehaal met ‘n slotstrofe wat nogal vir my pikant was. Ek het dit op die internet gaan soek en opgespoor:
I get up each morning and dust off my wits
Open the paper and read the obits
If I’m not there I know I’m not dead
So I eat a good breakfast and go back to bed.
(HvD)
Jun 15, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit ‘n sopnat Melkbos
Wintervakansie, Wildtuintyd! Ja, ons is ook weer op pad.
Vreemdelinge in ons bos-“Jerusalem” raak meermale oorweldig deur al die konfigurasies wat jy in een dag-uitstappie in die Wildtuin kan inbou. Vir eerste besoekers wil ek vandag dieselfde raad gee as vir ons kuiergaste.
Vir hulle is my advies sonder uitsondering: ry die “Goue Driehoek”: Skukuza, Onder-Sabie, Tshokwane, Skukuza, of omgekeerd: Skukuza, Tshokwane, Onder-Sabie, Skukuza. Dit kan sewe vrugbare ure word.
Sommige Wildtuin-liefhebbers het ‘n broertjie dood aan die besige H4-1- teerpad van 44 kilometer tussen Skukuza en Onder-Sabie – jy sien dikwels meer karre as diere, kla hulle. Wild is egter redelik volop. Die lieflike uitsigte op die rivier en die prentjiemooi Sunsetdam met sy voëllewe, net buite die Onder-Sabie-ruskamp, kompenseer vir al die karre.
Jy kan op dié been van die driehoek die bedrywige (soms te bedrywige) Nkuhlu-piekniekplek, of Onder-Sabie self, aandoen vir bene rek en verversings. My keuse is die kafeteria by Onder-Sabie se reuse-houtdek. Dit is, nie om dowe neute nie, ‘n uiters gewilde kuierplek, ook vir buitelanders. Seekoeie is die wêreld vol. Jy kan ook, koue bier in die hand, ‘n groot verskeidenheid ander diere van die dek af sien. Net jammer, Onder-Sabie se restaurantdiens was nog laas berug stadig.
Op die 43 kilometer-lange H-10 tussen Onder-Sabie en Tshokwane is die Nkumbe-uitkykpunt, waar die uitsig van 180 grade ‘n kameelperd onder op die vlaktes van die Laeveld tot ‘n blote stippeltjie reduseer. Hier het ek al klipspringers in die middel van die pad aangetref – hoogs ongewoon. Leeus het besoekers al vinnig in hul motors laat spring. Groot troppe sebras en blouwildebeeste kom voor, veral op die agterpaaie.
Noem jy die naam Tshokwane, ruik verskeie generasies Wildtuingangers die braaivleis of die uie in ‘n roergereg in die gas-ontbytskottel wat jy kan huur. Maar jy hoef nie self kos te maak nie; die personeel braai jaartse worse elke dag. Stop ook vir roomys, tee en skons of ‘n vrugtesappie – of sommer net om jou vere reg te skud vir die res van die rit. Wees gewaarsku: in spitstye gaan dit soms dol. Buite spitstye kan dit verrassend stil wees. In dol en stil tye is blou-apies lastig.
Die 40 kilometer op die H1-2 tussen Tshokwane en Skukuza lewer soms frustrerend min wild op, maar dit het potensieel lonende inzits-paadjies na o.m. Leeupan en die Olifantdrinkgat. By Leeupan het ek al leeus gekry en by die Olifantdrinkgat olifante. By laasgenoemde ook drie jagluiperds waarheen ‘n vriendelike Vrystater ons beduie het.
Talryke ander “goue driehoeke” (of “goue sirkels”, of “goue reghoeke”) is binne maklike bereik van Sabiepark en die Krugerhek. Hier is nog vyf belowende roetes vir ‘n dagreis:
1. Skukuza, Renosterkoppies, Nkuhlu-piekniekplek, Skukuza;
2. Skukuza, Nhlanguleni, Tshokwane, Skukuza;
3. Skukuza, Onder-Sabie, Mlondozidam, Skukuza;
4. Krugerhek, Pretoriuskop, Transportdam, Skukuza;
5. Skukuza, Renosterkoppies, Afsaal, Skukuza;
Onthou, dikwels wag die wonderlikste verrassings waar jy dit die minste verwag. ‘n Mens moet maar net wawyd wakker wees en nooit, nooit jaag nie – dan mis jy maklik die kleiner katte, ratels en steenbokkies … of selfs ‘n uitgegroeide olifant of renoster.
Geniet elke oomblik! (HvD)
Jun 14, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Ek was nooit só belangrik of bevoorreg dat ek ‘n toespraak moes lewer wat iemand anders vir my uitgewerk het nie. Oor die komplikasies kan ek dus net bespiegel.
‘n Mens skrik seker as jy jou self skielik dinge hoor kwytraak waarmee jy nie saamstem nie.
Na aanleiding van die storie oor Albertus van Rhyn (vorige blog) kom die storie by my op van “Oom Jim” Fouché, staatspresident, wat ‘n vername kunsgeleentheid in Bloemfointein moes open. Die toespraak word vir hom geskryf deur ‘n taamlik aweregse kunsdosent. “Oom Jim” hou hom streng by die notas in sy hand. Skielik kyk hy egter op: ”Nou stem ek glad nie saam met wat ek hier sê nie!”
Ek was een aand teenwoordig toe daaardie platjie Hendrik Schoeman min lus was om ‘n toespraak te hou – al was ‘n kopie van sy toespraak reeds by die koerante. Toe hy aan die woord kom, sê hy iets soos die volgende: “Ek is nie lus vir ‘n ‘spiets’ nie. Julle kan maar more in die koerant lees wat ek gesê het.” Daarna het hy grappies vertel.
Die LV vir Lichtenburg lewer in die jare 60 ‘n toespraak in ‘n landboudebat in die Volksraad met ingewikkelde voorstelle oor die strukturering van die mielieprys. Almal weet hy lees iets voor wat iemand anders opgestel het, wat teen die parlementêre reëls was. “Orde, orde,” roep die Speaker. “Uit wie se goed lees jy?” pla ‘n medelid. Lichtenburg se man kyk hom deurvorsend aan: “Ek lees uit my eie!”
Nelson Mandela kom in die 90’s by Naspers besoek aflê. Hoogtepunt is ‘n deftige middagete in die direkteure se eetkamer op die 18de verdieping. Toe bêre hy ook sy toespraak in sy sak, en hy looi ons vir ‘n goeie halfuur genadeloos oor ons “rassisme”. Ek sal dit nooit vergeet nie. Weens twee jenewers vooraf en drie glase wyn aan tafel was ek ná ‘n kwartier se slae in hoë nood. Ek kon egter nie uitstap, direk by Madiba verby nie, omdat dit sou lyk soos ‘n daad van protes.
Dat my broek droog gebly het tot die bitttereinde was meer geluk as goeie blaasbeheer. (HvD)
Jun 13, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Mooi staaltjie op vanoggend se boekeblad in Die Burger oor dr. Albertus van Rhyn se afwyking van ‘n voorbereide toespraak terwyl hy Hoë Kommissaris (ambassadeur) in Londen was. Naas Steenkamp (oud-“laventelpister”/lid van die diplomatieke diens) vertel daarvan in sy boek “Op ‘n galop na Buckingham-paleis”, wat deur Martie Retief geresenseer word.
In die toespraak, voorberei deur Steenkamp, sou die HK (deesdae ambassadeur) uitwei oor Suid-Afrika se pad vorentoe onder apartheid. Hy steek toe die toespraak in die sak, met dié woorde: “I can’t see what my secretary wrote here”. Hy begin toe die grap vertel van Cleopatra wat in die woestyn is en Marcus Antonius wat aan haar tent kom klop. Cleopatra vra: “Who’s there?” Marcus Antonius antwoord: “Lady, I did not come to make a speech”.
Dieselfde gehoor, toe skaterend, is ingelig oor boererate. “Niks is beter as suurpruim nie as ‘n mens dalk sukkel om ‘n stiff upper lip te hou.” Van Rhyn het aan die einde staande applous gekry.
Darem jammer Martie (en seker dan ook Naas Steenkamp self) noem hierdie joviale Namakwalander net ‘n “eertydse politikus”. Hy was dit inderdaad ook, maar hy was 23 jaar redakteur van my ou koerant, Die Volksblad, in Bloemfontein. Van 1923 tot 1948. Meer joernalistieke bloed in daardie are as politieke bloed, sou ek reken!
Oor wie se skuld dit is dat die arme Volksblad (soos hy al jare heet) nie altyd raakgesien word nie, sal ‘n mens kan debatteer, maar hy word taamlik gereeld misken. Sondag was in Rapport ‘n korreksie oor die verkeerde antwoord op ‘n leidraad in sy Blokkiesraaisel waarin Volksblad ook aan die kortste ent trek. Die antwoord wat verlang word is dat Die Burger die oudste Afrikaanse koerant is. Hy is natuurlik nie. Daardie onderskeiding behoort aan Die Volksblad/Volksblad, wat sy ontstaan as Het Westen op Potchefstroom gehad het. Daar het hy in 1915 Het Volksblad geword. Sy rolpers is in 1916 per ossewa na Bloemfontein gebring op advies van genl. C.R. de Wet – romantiese storie.
Volksblad het dus in 2004 al sy hondertal gehaal; Die Burger (en die Nasionale Pers) se eeufees is eers in 2015. En amper ‘n kwart van daardie eerste 100 jaar was Albertus van Rhyn in die stoel (ek en Bart Zaaiman saam vir ‘n tweede kwart!).
Die 12 jaar dat ek in Bloemfontein redakteur was, van 1980 tot 1992, ag ek nog altyd as goue en gelukkige jare. Daardie koerant het veel om te roem. Sy veelbewoë geskiedenis verdien nie om onder die mat ingevee te word nie. Of is ek nou sommer ‘n “suurpruim”?
Naskrif: ‘n Raaispeletjie vir lesers wat Die Volksblad en sy mense ken: wie’s wie op Charl Marais se eeufees-spotprentjie? (HvD)
Jun 12, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Spore in die sand, die betekenis. In die matriek-eindeksamen in 1957 was dit die onderwerp wat ek vir my Afrikaanse opstel gekies het. ‘n Mens kan jou verbeelding nogal vrye teuels gee … Maar ek het net ‘n entjie geskryf. Toe trek ek ‘n streep deur die ding en begin voor. Hierdie keer minder misterieus.
Hoekom ek skielik terug is by die matriekeksamen en die opstel-onderwerp? Omdat ek die ingewing gekry het om ‘n blog te skryf met die opskrif: Hoe-e, hoe-e in die nag, die betekenis. Jy kan met daardie onderwerp ook jou verbeelding nogal vrye teuels gee.
Die verskil: hierdie blog is geen verbeeldingsvlug nie. Dis die waarheid. Nou die nag word ek regtig wakker van ‘n spookagtige hoe-e, hoe-e. Die wekker se verligte gesig beduie dis 03:00. Sou dit Koeberg wees, is my eerste gedagte? Het die ondenkbare nagmerrie waar geword: Tsjernobil, Three Mile Island, Foekoesjima, Koeberg ?
Ná ‘n ruk dring dit deur dat Melkbos in ‘n buitengewone digte mis-kokon gehul is. Van my kant van die matras sien ek nie ‘n enkele liggie in Kusweg nie. Gewoonlik lê die straaligte daar in ‘n helder streep. Die donker nagprofiel van Tafelberg is onsigbaar. Die see druis sy gewone druis. Jy sien egter nie water of branders nie.
Mishoring! Natuurlik!
Ek onthou ‘n nag in die ou Cape Sun Hotel in Strandstraat, Kaapstad. Dieselfde hoe-e, hoe-e. Naderhand bel ek die toonbank. “Wat hoor ek, brandalarm?” “Nee.” Ek dink aan ‘n ander nag in Cambridge, Massachusetts, toe ek en die ander gaste deur ‘n alarm gewek is. Ons moes uit ons kooie ylings straat toe. Brandwere het loeiend opgedaag. Gelukkig was dit nie regtig ‘n brand nie.
In elk geval, later is ‘n verspieder by my in die kamer in die Cape Sun. Hy hoor niks. Hoe-e, hoe-e, bly ek egter hoor, duidelik en eweredig. “Listen,” sê ek, “there it is, there it is”. Hy luister met gespitste ore. “Oh, it’s the foghorn, sir.” Klem op die sir.
Watter mishoring het ek nou die nag gehoor? Sal nie weet nie. Is daar ene op Robbeneiland? Nog nooit voorheen daarvan kennis geneem nie. Kom dié geluid dalk die hele pad van die hawe se kant af oor die see aangesweef? Klink onwaarskynlik. Nietemin, mishoring was dit – daaroor bestaan min twyfel.
Koeberg staan immers nog vas op sy fondamente.
Oor ‘n week of drie is ons in Sabiepark. As ons daar snags hoe-e, hoe-e hoor, hoef ons nie kop te krap nie. Dis die uil, man! Al waaroor ons onseker sal wees, is of hy terug is op die stoep aldan nie. Die volgende oggend sal yslike wit miskolle op die stoepteëls verklap of hy daar geslaap het of in ‘n boom voor die huis.
As dit op die stoep was, kan jy maar weet: rugbreekwerk lê voor om daardie mis afgeskrop te kry. Dit klou, boeta. Tokkie sê hoeka verffabrieke behoort daardie formule in die hande te kry. Dan sal hul waarborge iets beteken! (HvD)