Jul 7, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Sabiepark
Mount-Aux-Sources, die Amfiteater, Cathredal Peak, Cathkin Peak, Champagne Castle – almal magtige spitse van die Drakensberg, almal asemrowend indrukwekkend. Dit was ‘n vooreg om op pad Sabiepark toe twee dae rond te ry deur die sogenaamde “Verlore vallei” tot by Thendele, Didima en uiteindelik Monk’s Cowl in die “Sjampanjevallei” (wel, amper tot by die skoorsteen).
Elke besoeker aan die Drakensberg behoort hom genoeg tyd te gun om al vier dié hoofare van die sentrale en noordelike bergroetes behoorlik te ontgin, wat hierdie kroonjuwele (en andere) ontsluit.
Piekniek in die koninklike Natalse park, ‘n wyntjie op die dek van die Cathredal Peak Hotel, ‘n pot Vyf Rose by die serene Champagne Castle Hotel, sommer net ‘n kort wandeling by die Drakensberg Sun en ‘n aftog na die “kaalvoet-vrou” by Retiefpas is treffende ervarings met hope vars berglug, ‘n verskeidenheid attraksies en ‘n kragtige visuele impak. Kry ‘n goeie kaart en sit af berg toe – gawe slaapplek vir elke beursie is om elke draai.
Vir my en Tokkie het op ons ontdekkingsreis ‘n onverwagte ekstra gewag: ‘n tradisionele Woensdagmiddag-konsert van die Drakensberg-seunskoor aan die voet van die Sterkhorn, naas Catkhkin Peak. Dié Woensdag, 29 Junie, was ‘n seunskoor uit Dallas, Texas, op besoek. Netjiese seuns in formele kleurbaadjies.
In die atmosfeerryke ouditorium het die Drakensberg-seuns gunstelinge soos Anli van Rooyen se Halleluja, Bridge over Troubled Waters en Jerusalem (in Afrikaans) die besoekers van oral meegevoer. In die koor se weergawe was twee tenoortjies, Nathan Julius en Paul Roos, die soliste – absolute engelstemme.
Maar as een naam neergeskryf moet word vir toekomstige referensie is dit Roderick Demmings, graad 12-leerling by Dallas se St. Marks. Hy toor op ‘n vleuelklavier met jazz wat die tone laat krul. Ek ken nie juis jazz nie, maar The Saints Go Marching In was ‘n aangename herkenning. Die gehoor was op hul voete … nie die eerste gehoor en sekerlik nie die laaste wat vir die (swart) jonge heer Demmings sal opstaan nie!
Ons was bevoorreg om tuis te gaan by ‘n gasteplaas, Brandkraal, in die hartjie van die berg se toeriste-hartland. Dis huislik, gesellig, plat op die aarde, uiters billik en boonop Afrikaans-vriendelik. Ons sal weer kom, het ek in Freddy en Agnes Bondesio se gasteboek geskryf.

Op Brandkraal word meer as 1 000 koeie van 03:30 soggens gemelk. Die moderne tegnologie is iets om te aanskou. Op die laaste dag van ons kuier is seker vier of vyf kalwertjies gebore – een het ons klaarblyklik met minute misgeloop. Hy was nog steierend op dom beentjies toe ons op die plaaspaadjie langs die “kraamkamer” stilhou.
Ontbyt word op die maat van boeremusiek opgedis. Terwyl jy weglê aan vars plaasprodukte, klink die mazurkas van agter ‘n toe deur op. “Freddy dans vir oefening,” deel Agnes mee. Sy selfoon lui en – seker op die vraag hoe dit gaan – hoor jy hom lakoniek bo die konsertinamusiek opmerk: “So skud-skud”!
Oor die skoonheid van die Drakenserg-omgewing kan ‘n mens liries raak. Oor die helder blou lug bokant die magtige bergspitse. Sy baie watervalle (o.a. die Tugela) en ander waters. Sy golwende valleie. Sy tradisionele Zoeloehutte. Sy rotskuns. Elke uitdraaipaadjie lewer sy eie verrassing. Draai by soveel as moontlik in. En ‘n laaste stukkie advies. As jy van Winterton of Bergville se kant bergop ry, hou maar die oë oop vir Thokozisa. ‘n Kleurryker inligtingsentrum met lekkerder eetplekkies en winkeltjies sal jy nie maklik raakloop nie. (HvD)
Jul 6, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Sabiepark
Sneeu op die pieke van die Maluti’s en die Drakensberg, ryp op huise se dakke en kraakwit op die gras onder jou voete, die helderblou uitspansel van die sogenaamde “big sky country” uitgestrek bo jou, die kwik al om die vriespunt … padwerke, padwerke, padwerke. Soos die dik kokistreep op die padkaart van die AA in my deursak beskryf hierdie “bakens” ons reis van Bloemfontein na Sabiepark.
Op die ver paaie (wel, ons het uiteindelik van O.R. Tambo af tot Tarlehoet presies 2004 kilometer gery) was ook ander bakens. Op pad na Winburg, naby die imposante nuwe tolplaza by Verkeerdevlei, het die bordjie “Josephinesdal” byvoorbeeld my herinneringe teruggevoer tot die heel laaste Geloftefees waar die uwe in 1991 (nog in die ou Suid-Afrika) die spreker was.
Later, in die Oliviershoekpas het die bordjie “Retiefklip” my herinner aan die Geloftefees by Kerkenberg, naby die monument van die kaalvoetvrou. Die “saal” is in ‘n skeur tussen twee groot rotse. Die reën het op 16 Desember 1980 só op die sinkdak gedawer dat my normaalweg forse stem kwalik die mas kon opkom. ‘n Vrystater se verklaring was: “Jou stem weier om die liberale dinge kwyt te raak wat oor jou lippe kom!”
Op Winburg het Tokkie poseer voor die ou Hotel Winburg waar ons op 31 Desember 1966 ons eerste huweliksnag deurgebring het, en by ‘n olifantjie-spuitfontein wat na bewering die hartjie van die Vrystaat is – die presiese middelpunt. Die ou hotel is nou in die proses van herskepping tot ‘n herberg.
Later, in die Koninklike Natalse Park, het sy ook poseer by die murasies van die eens deftige “Royal Natal” by Mount-Aux-Sources waar ons ons tweede huweliksnag deurgebring het. Gras groei nou waar die wittebroodspaar Van Deventer hand-aan-hand die swier van daardie vergange tye bewonder het. Maar daaroor meer in ‘n volgende blog.
Op Paul Roux het ons oornag by Tokkie se neef Piet Botes en Retha. Die wortels van my vrou se Roux-familie lê hier wyd – op plase in die distrik en ook in die verwaarloosde begraafplaas. Piet het my met sy bakkie na die treinhalte Kaallaagte gebring (hulle spreek hom uit Ke-láágte) waar ek en ma, Baby, altyd afgeklim het as ons van Kimberley af vir Oom Danie en Tant Susie du Plessis op die plaas kom kuier, onder meer met ons padkosmandjie en rolletjie beddegoed. Oom Danie het ons kom haal met ‘n kapkar met twee spoggerige, kopspelende perde in die tuig. Die seuntjie van Kimberley het hom verwonder.
Rondom 1947 het oom Danie vir hom een van daardie plat nuwe Hudsons gekoop, wat soos ‘n sigaar lyk. Die registrasienommer was ORE … iets. Die bynaam “Ore” het die goeie mense van Paul Roux nogal irriteer. Ewenwel, eendag het die Hudson (Hornet?) se dakstoffering in Bultfonteinweg, Kimberley, skielik losgeskeur en op oom Danie neergedaal. Hy, altyd vinnig van humeur, het die kar met ‘n hamer bygedam en hom vol knoppe gevoeter. Maar dis ‘n ander storie.
Ons is van Bethlehem af deur Golden Gate na Harrismith, waar ons ‘n boks vol nastergalkonfyt uit daardie kontrei gekoop het. Sowel die effense ompad met sy skouspelagtige Oos-Vrystaatse bergtonele as die eksklusiewe konfyt van bessies wat deur spanne swart vroue met die hand in die berge ge-oes word, word van harte aanbeveel. Die roete neem jou verby Clarens waar buite die dorp ‘n bord is: “Welkom in Clarens … praat gerus Afrikaans. Dis jou goeie reg.” Mooi skoot, Clarens!
Op Ladysmith is ons langs die rugbyveld verby waar my Tukkiekoshuis, Kollege, in 1962 die doeltreffendheidsbeker op ‘n rugbydag gewen het. Hierdie skraal vleueltjie is uit die span vir die eindstryd gelaat, en het as vlagman opgetree. Die opponente skop en dis rakelings oor. Die uwe wys dis mis. Terug op my pos voor die paviljoen peper die toeskouers my: “Was dit oor of mis?” “Dit was oor,” bevestig ek die ander vlagman se aanduiding. “Hoekom wys jy dan dat dit mis was?” “Omdat dit amper mis was.”
Vir Vossie Grey, studentemaat, deesdae ‘n uithalerboer, is hierdie storie om die een of ander rede skreeusnaaks. Hy skud telkens opnuut van die lag as dit opgehaal word, soos daardie aand weer aan etenstafel op hul spogplaas, die JanVos-landgoed, naby Davel. Ek en Tokkie het by die gasvrye Greys oornag, Oor Vos se boerdery is baie om te vertel. Hou hierdie ruimte dop.
Op pad na Vos toe was daar ook nog bordjies “Dundee” en “Wakkerstroom” wat my gedagtes in trurat gesit. Op Dundee is ek op 3 Januarie 1941 in Sister Gilbert se Nursing Home gebore. Op Wakkerstroom was my Pa Malan in sy jong dae winkelier (Wakkerstroom Algemene Handelaar, was die naam, meen ek). Op Chrissiesmeer, anderkant Ermelo, het ons brandstof ingegooi. Pa-hulle het altyd by familie daar gaan kuier …. waar dit in die winter nogal ‘n gesukkel was om die ys soggens van die ou Studebaker se voorruit met ‘n knipmes en ‘n ketel warm water af te skraap. (HvD)
Jun 26, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Bloem
Vrydag word ons in Bloemfontein begroet met die nuus: “Stad blink gepoets vir blitsbesoek”. Dis toe nie hierdie Verlore Seun wat nie vergeet is nie; dis Oprah wat haar “honoris causa” kom haal. Tot slaggate is vinnig opgevul om die “koningin van klets” se sagte Amerikaans sitkussings te spaar. Ohopoho!
Wat ‘n Kuier (groot K is doelbewus) was dit nie die laaste paar dae in die Vrystaatse hoofstad, waar ek en Tokkie vroeër twee sulke gelukkige skofte deurgebring het nie – 1966 tot 1974 en toe weer 1980 tot 1992. ‘n Kuier propvol groot K’s is dié naweek ingepas – met al die ophef oor die “koningin van klets” se besoek maar onderlangs op ons persoonlike lysie van groot dinge en groot oomblikke.
Die Koue het sy merk gemaak. As die Van D’s dalk al vergeet het hoe Bloem kan bibber as die kwik vriespunt toets, sal ons dit ná dese deeglik onthou. Snerp ‘n ysige windjie boonop om die hoeke, boeta, dan bars jy. Ons het! Tokkie is vinnig winkel toe vir ‘n sweetpakbroek met wol uitgevoer.
Koffie saam met ‘n veertig-stuks ou vriende Vrydagmiddag in die knusse restaurant Santa Fé (eienares: Santa Nortjé) by die Vrouemonument was ‘n fees. Toe ons gaste begin aankom, skuif die gordyn oper en oper. Twintig jaar raak skielik oor ‘n botterbroodjie en melktertjie oorbrug. Ons gesels die koue skoon uit ons lywe uit.
Kollegas het gisteraand reünie in die kleine gehou by Sarel Venter se 70-vieringe, rondom lam op die spit, pappadel (‘n papbolletjie-met- sous-variasie op die tema frikkadel), heerlike ander bykosse en, piece de resistance, ’n oorspronklike “koerantkoek” met Sarel se geboorte op die voorblad (kyk vorige blog). Oud-Volksbladders die skrywer Jaap Steyn (my voorganger as hoofsub), Piet Theron, Jan Scholtz, Sarel en die uwe kon lekker sentimenteel raak oor die goeie ou dae.
Kerk vanoggend in ons ou gemeente Berg en Dal met ds. Gert Terblanche in sy toga op die preekstoel en die sonore, tradisionele orrelklanke uit ‘n elegante stel nuwe orrelpype was ‘n tuiskom-ervaring soos min. Toe sing ons nog as slotgesang die ontroerende lied 512, Nader my God by U. Sielsverheffend!
Ontroerend, was die herbesoek ná twee dekades van die Vrouemonument en Oorlogsmuseum gewis ook. Mense, moenie by Bloemfontein verbyjaag nie. Hier in die uitsonderlike museum is hartsgoed met soveel liefde, passie, sorgsaamheid en styl aangebied dat jy van klip moet wees om nie daardeur aangegryp te word nie.
‘n Onbekende vir dié twee Melkbossers was die monumentale groot kwilt van Naomi Moolman van Vanderbylpark – ‘n hele muur vol (6,38 meter breed en 3,34 meter lank) wat in Augustus 2010 aangebring is. Die Anglo-Boere-oorlog word in 48 meter materiaal, met sewe kilometer garing, 144 afgestrykte foto’s en 163 gekwilte voorwerpe (koffieketels, vuurherde, doilies, ens) treffend uitgebeeld.
Naomi (niggie van ons vriendin Nella Jacobs van Centurion) en haar span flukse helpers het in die ongelooflike kort tyd van ses maande dié reusewerk voltooi, van die ontwerp af tot die laaste garingstekie van die kwiltwerk. Altesaam 21 kleurdrukker-en 14 swart kassette is opgebruik. Die “Erfeniskwilt” heet hierdie indrukwekkende liefdesarbeid van die Vanderbylparkers, en ‘n onvervangbare erfenis is dit inderdaad.
Die bewondering, dankbaarheid en bewoënheid wat in die besoekersboek uitgestort word deur strome buitelanders en besoekers uit elke uithoek van die land, spreek boekdele. Maar eintlik weet Suid-Afrika hiervan te min. Wens ek kon die TV-regisseurs, tydskrifjoernaliste en al wat mediamens is, oortuig om te kom kyk – en die waarde van hierdie skat self te kom takseer (HvD).
Jun 26, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Sarel Venter (70) met sy “koerant” waarin jy alles vir soet-(verjaardag)-koek kon opeet!
More uit ‘n bibber-Bloem
Toe Oom Blackie Swart 80 word, het die SAUK ‘n verslaggeefstertjie na De Aap gestuur. “Hoe voel u nou op 80?” wou die blonde dingetjie weet. “Baie sterker as 80 jaar gelede,” was sy spitsvondige antwoord.
Dié storie het ek gisteraand by die viering van my kollega Sarel Venter se 70ste in ‘n bitterkoue Bloemfontein vertel om die punt te maak dat iemand van 80 – des te meer iemand van 70 – in die algemeen gesproke, veel meer mens as iemand van 0! Sy glipsies is ook minder katastrofies, tensy dit glipsies van dieselfde aard as ‘n baba s’n is!
Tog is 70 klaarblyklik die een of ander grens wat jy oorsteek. Die oomblik dat jy 70 word, raak jy die teiken van grapjastery oor oud word, waarvan die neerbuigende hovaardigheid van sommige ‘n nogal irriterende element is. Party windbolle glo 70 beteken jy is versukkeld, finish en klaar. Wel, Sarel is allesbehalwe versukkeld op 70. Hy is nog die man wat hy altyd was, iemand na wie op 70 opgesien, watwou van bejammer word.
In my heildronk het ek ook ‘n storie vertel oor my oud-onderwyser Johan Theodorus Claassen wat een van die slotte was in Avril Malan se seëvierende Springbokspan in die Britse eiland in 1960. Vir hom het die afrigter, Boy Louw, op daardie toer gesê: “Clasie, as jy in die span is, voel ons veilig. Daar is vastigheid.”
Dit is ‘n pluimpie wat Sarel ook deur en deur verdien, het ek die teenwoordige vriende meegedeel. Waar Sarel Venter in die span is, was nog altyd vastigheid; daar is dit solied soos graniet; dinge sal nie sommer net lostorring nie. Jy voel altyd veilig in die wete dat hy is waar hy is.
Soliede Sarel, wou ek hom noem omdat dit so mooi allitereer. Maar dit laat nie aan Sarel reg geskied nie. Rotsvaste Sarel pas beter.
In sy hoofartikelkommentaar as assistent- en adjunk-redakteur was sy oop kop en stewige hand ‘n kernelement. Sarel kon ‘n beginselstandpunt waterdig stel en helder formuleer. Oor kerklike sake was hy ‘n top-kommentator in die Afrikaanse joernalistiek. Veral een hoofartikel uit die tsoenamitye van die 80’s onthou ek goed. Dit was oor die getuienis van die sogenaamde Silverton-193, ‘n klompie reaksionêre NG-leraars, ná ‘n saamtrek in Silverton om mekaar teen die “liberaliste”, ook in die media, op te klits. Dié hoofartikel (natuurlik anoniem uit Sarel se pen) is deur Die Ligdraer, mondstuk van die destydse N.G. Sendingkerk, in geheel opgeneem “omdat dit getuig van besondere insig en groot betekenis het vir kerklike verhoudinge.”
Sarel was inderdaad as meningsvormer ‘n pilaar in ‘n dekade van Afrikaner-verwarring en -verskeurdheid. Ongelukkig kry sulke bydraes van formaat deesdae skaars erkenning. Hierdie hulde tel ongelukkig nie meer so vreeslik nie. Ek is ook ‘n “has-been”. Ek bied dit nogtans met ‘n lekker hart aan. (HvD)
Jun 20, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Kyk vorige blog
Jun 19, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Op die N4, by Mthomjeni, naby Machadodorp in Mpumalanga, was die Star Stop Milly’s ‘n baken.
Ek hou nie van stilhou langs die pad nie, en doen dit nie onnodig nie, maar brandstof- en ander behoeftes verplig jou soms. Op die N4 op pad Sabiepark toe was dit dan uithou en aanhou totdat die imposante wit grasdak-geboue van Milly’s langs die skilderagtige foreldam op die plaas De Kroon links van die grootpad opdoem.
By daardie afdraai het ek minder teësinnig as elders my flikkerlig ge-aktiveer. Die plek was inherent aantreklik, mooi geleë, netjies, skoon en doeltreffend. “Star stop” – hy het die naam verdien.
Hoeveel liters Caltex het ek al daar eers in my rooi Mercedes, daarna in die blou Kombi (die “Bosbus”), en later in die ou Honda CR-V laat ingooi? Hoeveel keer is my voertuig se voorrruit hier gewas? Hoeveel hamburgers, geroosterde broodjies en koffies is in BJ’s geniet?
‘n Keer het ons spesiaal gestop omdat my neef Ben Smith van Randburg ons meegedeel het jy kan in die geriefswinkel sulke oulike armbandjies koop om die muskiete van jou lyf te hou. Jy spuit hulle met sitronella-olie.
Een keer het ons Johan en Mariza, ons Georgekinders, met die “Bosbus” op O.R. Tambo gaan haal (toe dalk nog Johannesburg Internasionaal?). Ná die pitstop by Milly’s vra Johan my: “Pa, waar is die noodwiel?” Die Kombi se noodwiel is ondanks voorsorg – ‘n stewige slot – in die blessitse Johannesburg gesteel. Eina pyn!
Partymaal was dit nie nodig om by Milly’s te stop nie. As ons by Milly’s verbyry, kry ek egter weer moed vir die res van die reis Sabiepark toe: Nelspruit is nie meer só vreeslik ver nie!
Nou moet ek oor Milly’s in die verlede tyd skryf. ‘n Verwoestende brand waarskynlik weens kooltjies wat op die grasdak beland het. Niks is oor nie – buiten die vulstasie. Dié is gered deur water uit die dam wat deur ‘n helikopter in groot emmers op die smeulende buurgeboue bly uitgiet is.
Mense stop seker nog om petrol aan te skaf. Ek sal nie graag nie. Die swart gebrande murasies sal my laat siek voel oor só ‘n eersteklas-plek wat in vlamme op is.
Wat my verwonder, is dat ek wat nogal my vinger op die nuuspols probeer hou, die twee-dae-oue nuus oor Milly’s vandag uit Nederland op Facebook raakloop – ‘n adres waar ek bittermin kom. Was dit nie oor die radio nie? Het ek net die betrokke bulletins gemis? In Die Burger was dit bepaald nie – maar dis nie snaaks nie. Machadodorp is “ver, ver, anderkant die verste ster” (ekskuus, Uys Krige) – amper 2 000 km van Kaapstad.
In Die Burger se nagkantoor werk mense wat nie eens weet waar Machadodorp is nie, raai ek. En ek probeer nie snaaks wees nie. Baie Kapenaars is mos maar berug onkundig (en onbelangstellend) oor die lewe anderkant die Hexrivierberge, of hoe?
Naskrif: Dinsdag is ons op pad (of, eerder, in die lug – as die aswolk opgeklaar is!) (HvD)