HOOR-HOOR, BROER DANA!

Middag uit Melkbos

Vir Dana Snyman voel ek om vandag toe te roep: “Hoor-hoor, my bloedbroer!” In sy “Van Alle Kante” vanoggend in Die Burger skryf hy oor die naamlose sluipskutters op koerante se webwerwe op ‘n manier wat my laat dink hy is op die hoogte van my eie persoonlike lyding hierdie week.

Die ou lyf voel of dit in dosyne trapskrums gekarnuffel is. Onkundiges, kwaadwilliges, moedswilliges, noem maar op; almal is bo-oor my met min genade oor my poging om doodeeenvoudig net die onbetwisbare feit op rekord te plaas dat die redakteurs van my geslag nie verslaggewers verplig het om te lieg nie.

Uiteindelik het die oorsprong van daardie liegstorie, Max du Preex, met ‘n elegante systappie vinnig daarvan weggestap. Dit is rede tot dankbaarheid dat die waarheid hier tog wel geseëvier het (lees blog hieronder: ‘n Leuen begrawe). Dit maak alles die moeite werd. Nogtans voel hierdie ou ietwat mishandel in die proses van “debatvoering”. Min respek vir feite of die onderwerp ter sake is in daardie “debat” geopenbaar. Glo my.

Wat jou voel om in wanhoop te laat uitroep, is daardie alwyse eiewyses wat met hul eie agendas vir jou wil voorskryf. As jy nie hierop en hierop reageer nie, is jy ‘n lafaard! Dan blyk dit hulle begryp nie ‘n snars van waarom dit gaan nie.

Oor koerante en hul verbintenis met die Nasionale Party (wat geen geheim is nie) en oor my verbintenis met die Broederbond (wat geen geheim is nie) , het ek hoofstukke geskryf in my loopbaanboekies, Kroniek van ‘n Koerantman en In Kamera. Hoeveel diepte-artikels uit my pen is in koerante gepubliseer.

Dan wil uitdagende jong Turke (van agter skuilname) jou uit die hoogte dwing om in kort woordgrepe (“word bytes”) opnuut te antwoord op ou-ou vrae waarop uitvoerige antwoorde beskikbaar is – as hulle maar net die moeite wou doen om ‘n biblioteek te besoek.

Maar weet hulle wat en waar ‘n biblioteek is? Ek twyfel soms. In hul ywer om jou te beledig en af te kraak, tel die waarheid en bewyse van die waarheid klaarblyklik min. Een verkondig brutaal: nee dankie, hy stel nie belang om HvD se boekies te lees nie; ek sal tog net daarin my eie beul blaas. Maar dan dring hy aan op antwoorde op die naiëfste vrae, wat eintlik net onthul hoe bloedmin hy weet en hoe oningelig hy deur die lewe gaan.

My antwoord is sonder omhaal: ek sal my nie deur liggewiggies laat dwing om vir hul gerief dinge op die internet in kortbegrip weer te gee wat in harde kopie uitvoerig en beredeneerd geraadpleeg kan word nie. Vergeet dit, liewe webmaatjies, en gaan soek vir julle ‘n ander speelplek.

Van die “kommentatore” op die koerante se webblaaie het my nogal geamuseer. Ene Retha beweer sy onthou die uwe uit sy Volksblad-dae as ‘n “vet, ronde spinnekop” in ‘n fluweelbaadjie (sic) en strikdas. Behoede dit – ek had sulke fyn kleertjies nie in my kas nie. Tokkie lag haar morsdood vir die beeld wat sy in haar verbeelding van die ou “spinnekop” met die strikdas oproep.

Die einste Retha het my meewarig laat glimlag met ‘n verontwaardigde bydrae oor HvD en ‘n KP-advertensie, waaroor ek – kan nie die okkasie onthou nie – volgens haar my onbehae sonder seremonie betuig het. Ek aanvaar dat ek die ding bekrap het. Ongelukkig ‘n slegte gewoonte gewees as iets my nie geval nie! Seker ook die woord “leuens” deur dun lippe uitgepers. KP-propaganda het nie lekker in my “fluweelbaadjie” gaan sit nie, en dit bely ek graag, ook teenoor diegene wat dit as ‘n aartssonde beskou om so “subjektief” te wees.

Maar die weiering om dit te publiseer? Ai, ai.ai. Arme ou HvD was maar net die instrument wat maatskappybeleid (direksiebeleid) moes toepas. Geen advertensie van enige ander party kon daardie tyd nog aanvaar word nie totdat die direksie, op aandrang van die redakteurs, die beleid hersien het. HvD, glo dit of nie, was een van die drywers van die voorstel dat ons moet oopmaak.

Maar pleks dat ek daaroor ‘n held is, is ek oor “my” weiering ‘n skurk. Harde lewe!

Dalk sal die huidige geslag dit moeilik vind om hierdie ou man te glo. Ek “lieg” egter nie; ek “verdraai ook nie die feite” nie, soos die strydvaardige Max du Preez beweer nie. Advokaat Langdavid de Villiers moes immers so kort gelede soos 1987 uit die Naspers-direksie skededdel omdat hy Esther Lategan, ‘n onafhanklike kandidaat in Stellenbosch, ondersteun het. So ‘n naakte anti-NP-demonstrasie is nie met “voortgesette lidmaatskap van die direksie versoenbaar geag nie”. Njannies.

Engelse advertensies was ook lank taboe. Nadat die Friend ter ruste gelede is (soos Max se verbeeldingryke beskuldiging nou), was HvD instrumenteel om daardie verbod opgehef te kry. Skryf, Retha, skryf!

Ongelukkig is die verbod op advertensies van sekswerkers in koerante ook opgehef. Daarin was HvD gelukkig nie instrumenteel nie. Miskien moes daardie vurige meisies se “gunsies” teen ‘n prys, en die katalogus van die beskikbare ware wat hulle adverteer, liewer “toe” gebly het!

En hiermee sela oor hierdie onderwerp – die 80’s en ons nare redakteurs van destyds se verskriklike vergrype, bedoel ek, nie die gewillige meisies se gulhartige dienste nie. (HvD)

‘N LEUEN BEGRAWE

More uit Melkbos

Opvallend afwesig in Max du Preez se repliek op my brief (Beeld/Die Volksblad, 7 September) is enige herbesoek aan die ongegronde bewering wat die kort polemiek op tou gesit het: dat politieke joernaliste kwansuis deur Naspers-redakteurs in die 70’s en 80’s “gedwing” sou gewees het om die waarheid geweld aan te doen.

Daardie verregaande beskuldiging is hopelik nou finaal begrawe. Rus in vrede. Verslaggewers is nie gedwing, verplig, aangesê of onder druk geplaas om te lieg nie. Punt. Die waarheid oor hierdie saak is op die wennerspodium – altyd ‘n mooi gesig.

Die “gesuiwerde” klagstaat teen ons generasie wat Du Preez in sy repliek opnuut stel, is nie ‘n verrassing nie. Ek het in my brief erken dat “baie foute” daardie tyd begaan is, en mense genooi om “na hartelus” te kritiseer. Du Preez laat hom nie twee keer nooi nie!

Hierdie “klagstaat” verteenwoordig hoe Du Preez sake mettertyd al hoe meer begin sien het, en ek respekteer volledig sy goeie reg om dit keer op keer op te rakel. Geen haan sou in ieder geval ná sy relatief standaard-onderhoud gekraai het nie, was dit nie vir daardie moedswillige “dwing-om-te-lieg”-stertjie nie.

My oorhoofse kritiek teen Du Preez is dat hy ‘n komplekse en veeleisende era gans te staties skilder. Die politieke, en joernalistieke, landskap het in min dekades só skouspelagtig verander soos juis in die 80’s. Afrikaanse koerante het in die herskepping ‘n sleutelrol gespeel. (Die Volksblad het dan selfs – agterlangs – KP-advertensies begin plaas!)

In ‘n versoenende gees sal ek my jonger oud-kollega, ondanks hierdie voorbehoud, tog dit toegee dat nie al sy feite en vertolkings voor die voet deur my afgemaak word nie. Hopelik boor hy ook nog in die ouer man se takserings ook ‘n raakpunt of twee oop, ongeag al die wantroue en misverstand.

Naskrif: Hiermee volstaan ek ongelukkig … of gelukkig. My doel was om te bewys dat ons geslag redakteurs NIE politieke joernaliste gedwing het om te lieg. soos Max du Preez in ‘n onderhoud beweer het nie. Toe die tafel vir hom gedek is, het hy verkies om nie die uitdaging te aanvaar nie. Hy het NIE daardie beskuldiging herhaal nie. Hy het ook NIE vlees en bloed daaraan gegee met ‘n naam of name nie. Dit bring ons by die logiese einde van daardie saak. Andere kan dalk brand om ‘n debat aan ‘n wye front te voer. Die politiek van die 80’s wek immers baie teenstrydige emosie. Mag ek mooi vra dat diegene daardie debat dan liefs elders voer, asseblief? Wat ek op die hart gehad het oor sake soos koerante se steun vir die NP, redakteurs en die AB, en dies meer is elders volledig en ook oor en oor opgeteken. HvD.

ONS SEUN WORD 40



Johan en Migael

Eerste tuiskoms

More uit Melkbos

Ons seun, Johannes Cornelius van Deventer, is op 14 September 1971 gebore, presies 30 jaar ná sy pa, wat weer presies 30 jaar ná sy pa gebore is. Aanstaande Woensdag sal ons in George ‘n glasie klink op sy 40ste. Ek ry spesiaal vir daardie edele doel by Nuy langs.

Die gewone bereiking van ‘n gewone 40ste is dit nie, want op ses maande na is dit ook sy 40ste herdenking van ‘n lewe op insulien. Toe Tokkie dit gister teenoor ons apteker op Melkbos laat val, kon hy dit nie glo nie. Veertig jaar oud en amper 40 jaar op insulien – nog nooit gehoor nie!

Op die foto bo is Johan (soos hy nou lyk) en Migael wat al tussen drie en vier jaar by Johan en Mariza is. Hy is in die proses om sy nuwe ID-dokument te kry as Van Deventer-kleinkind nommer vier. Op die foto onder is Johan en sy ma by die voordeur van ons huis in Kmdt. Senekalstraat, Bloemfontein, by die eerste tuiskoms van die nuweling in die lente van 1971.

Ek sê doelbewus “eerste tuiskoms”. Nege maande later was daar ‘n tweede tuiskoms, omdat hy op ses maande, tot algemene verstomming, ook van medici oral, uit die bloute as diabeet gediagnoseer is.

Die gesukkel om die baba op insulien gestabiliseer te kry, het drie frustrerende maande geduur. By sy tweede tuiskoms kon hy al loop. Hy kon nooit kruip nie – daardie fase is woerts by hom verby terwyl hy in die babasaal in die Nasionale Hospitaal veteraan-status begin kry het, en die stad se senior kinderarts radeloos rondtas.

Daardie nooit kruip nie, kan besmoontlik aan verskeie dinge verbind word, soos ‘n onmoontlike lelike handskrif. Dalk ook dat bure van sy kleinseuntjiedae af verbaas was dat hy altyd op ‘n haastige drafstap was. Stadig loop is nou nog nie vir hom nie.

Ek ken Johan goed genoeg om te weet hy sal ‘n uitvoerige verslag van sy lewe en eienskappe, goed of minder goed, nie met welgevalle hier lees nie. Ek weerhou my daarvan. As jou eerste kind 40 word, en veral 40 teen die agtergrond soos hierbo geskets, kyk ‘n mens egter vanselfsprekend terug op die pad wat afgelê is. Dit sluit noodwendig in hoe diabetes, en insuliengebondenheid, sy lewe beïnvloed het. Dit was, om dit sag stel, in vele opsigte beperkend. In standard vier, vyf rond is sy ma byvoorbeeld saam buitelugskool toe. Sy het haar eenkant gehou, maar was naby as probleme sou opduik. Dit kon nie vir ‘n groot seun lekker gewees het nie.

Toe hy by die skool ‘n slag, soos ons dit genoem het, “lae suiker” kry, word sy ma dadelik ontbied. Toe sy opdaag, reageer hy al mooi op die glukose wat hom ingejaag is. Sy onderwyseres wat haar asvaal geskrik het, lê egter op die naat van haar rug in die siekeboeg. Die arme ding het haar “boeglam” geskrik!

Op ‘n skooluitstappie na die Vrystaatse Universiteit het lae bloedsuiker hom oorval. Die kind is op ‘n Vrydagmiddag in ‘n badkamer toegesluit, en niemand het hom gemis nie todat sy ma alarm gemaak het. Dit was hospitaalsake.

Een aand het hy in Bloemfontein nie van ‘n aandwandeling teruggekeer nie. Tot die polisie was later by die soektog betrek. Hy word toe opgespoor waar hy op ‘n sypaadjie omgekap het. ‘n Motor se ligte het geval op sy staffie, Novo, wat ontsteld by sy basie op en af spring. Novo was sy geskenk toe hy ‘n rukkie gelede op nuwe insulien, ook Novo, geplaas is. Daardie aand het Novo sy hond hom gered soos Novo die insulien vir hom al die jare ‘n lewensredder is.

Ek het Johan se drafstappie as tipies uitgesonder. ‘n Ander lewenskenmerk is hulpvaardigheid. Op skool al het hy sonder aarseling ‘n ma te hulp gesnel wat met haar baba van die pad in ‘n sloot gery het. Hy het die baba in sy ouma se arms geprop en toe die ma uitgehelp.

Hoeveel skildpadjies hy gered het en hoeveel pap bande hy vir wildvreemdes help omruil het, weet ek nie. Die ironie is dat juis hy wat altyd met die beste gesindheid vir enigiemand stilgehou het om te help, by ‘n lokval, nie ver van Atlantis nie, beroof moes word. Sy vrymoedigheid het seker ‘n knou weg.

As sy ma vir hom ‘n monument kon bou, sou sy dit oor o.m. hulpvaardigheid doen, glo ek. Sy energie wat in die vestiging van haar geskenkewinkeltjie Tokkie in Bloemfontein gestort is, was enorm – het selfs as student by veilings op ‘n kasregister en winkelrakke gaan bie om die projek bekostigbaar te hou. Vermoed hy het dit meer geniet as om in die Privaatreg-klas te sit.

Van sy Ouma het ons ‘n mooi foto waar Johan haar soos ‘n mudsak mielies oor die skouer strand toe dra. Op haar 90ste het hy skielik die ingewing kry dat sy weer by die see moet kom. Dan voeg hy altyd dadelik die daad by die woord. Ek glo as Ouma (nou 97) haar herinneringe oor Johan begin uitpak, sal hoog op haar stapeltjie wees hoe hy altyd vir haar uit sy pad gegaan het.

Iewers lees ek hoe seuns op verskillende ouderdomme oor hul pa’s sou dink. Op 40 wonder ’n seun, volgens daardie weergawe, hoe sy pa ‘n sekere situasie sou hanteer het – Pa was altyd só wys … Hoe reg of verkeerd daardie teorie is, sal ek vir Johan moet vra. Een “wysheid” van sy pa was dat sy intense voorliefde vir en kennis van motors hom vir die motorbedryf uitgeknip maak. Soos sake maar hul beloop neem, het hy ander weë bewandel. Nou bedryf hy ‘n karwassery in George. Wonder hoeveel ander karwas-eienaars weet soveel van die wringkrag en dinge van die karre wat deur hul spuite gaan! (HvD)

BLERRIE FOOL PLOEG AL WEER!

More uit Melkbos

‘n Gunstelingstorie wat Johan van Wyk meermale in sy rubriek Stop Van Myne in Die Volksblad opgehaal het, was van die kwaai droogte in die Vrystaat. Toe kom die reen. Die volgende oggend dreun die trekkers op die lande.

Iemand – weet nie meer wie nie – merk toe meewarig op: Ja, die blerrie fools ploeg al weer!

Hierdie “blerrie fool” ploeg ook al weer. Nadat ek “finaal” besluit het ek steek nooit weer my nek uit in ‘n persdebat nie, kon ek my gister nie verhelp nie. Iemand stuur vir my uit die noorde ‘n onderhoud aan wat Volksblad met Max du Preez gevoer het. (Die onderhoud het ook in Beeld verskyn.) Daarin spoel Du Preez op sy ou trant mond uit oor die Afrikaanse koerante waar hy sy joernalistieke tande in die 70’s gesny het.

Ek ken sy vooroordele, ek ken sy skeefgetrekte relase, en ek kan kwalik onbewus wees van hoe hy my persoonlik verpes nadat hy in koerantrubrieke en elders (ook van sy boeke) al in geen onduidelike taal nie oor al my tekortkominge en gebreke uitgewei het. Wat my egter gister (veral) rooi laat sien, is sy sy aanspraak dat politieke joernaliste in sy tyd (dus ook my tyd as redakteur) “gedwing is om feite te verdraai”.

Dis natuurlik die opperste onsin, maar Du Preez kom telkens met sulke vae veralgemenings weg – en kry daarvoor sy kwota toejuiging. Voordat ek my kon keer, was ek voor die rekenaar. My reaksie verskyn vandag in die briewekolomme van Beeld en Volksblad.

Ek gaan dit ook hier weergee – met die enkele kommentaar, met groot respekte, dat my brief slegs gaan oor die spesifieke beskuldiging van “dwing om te lieg”. Ek soek antwoorde op reguit vrae: Wie, wat, waar, wanneer? Ek soek die naam of name van redakteurs wat sulke verregaande opdragte aan hom gegee het. Is dit Ton Vosloo, wat sy redakteur by Beeld was, of iemand anders?

Ek berei my voor vir wydlopige aanslae, wat, voorspelbaar, weer gaan draai by die Broederbond en waar nie nog nie. Ek het egter werklik nie energie vir ‘n herhaling van ou debatte nie, en vra by voorbaat verskoning dat ek nie gaan antwoord op ander sake buite die kernkwessie in my brief nie.

Hiermee my reaksie op Max du Preez wat vandag in Beeld en Volksblad verskyn:

Max du Preez beskuldig Afrikaanse koerante in ‘n onderhoud in Beeld (Donderdag 1 September) dat politieke verslaggewers gedwing is om “feite te verdraai.” Ter wille van die geskiedenis kan Du Preez gerus openhartiger wees. Sy verwyt bevat ‘n te ernstige aanklag teen ‘n vorige generasie redakteurs om só ‘n gewraakte aanspraak maar in ‘n waas van vae veralgemening te verdoesel.

Van wanneer praat Du Preez presies? In die “Who’s Who” begin sy loopbaan eers in 1982 toe hy Engelse pers toe is. Die presiese begin en einde van sy loopbaan by die Pers en skof as politieke verslaggewer kan dus nie uit daardie bron bepaal word nie. Die gerespekteerde Ton Vosloo was egter redakteur van Beeld van 1977 tot 1983. Dit was kennelik in die tyd toe Du Preez, volgens hom, gedwing is om “feite te verdraai”.

Beskuldig hy Vosloo? Was die sondaar Wiets Beukes, redakteur van Die Burger van 1977 tot 1990? Was dit dalk Bart Zaaiman wat tot April 1980 by Die Volksblad (nou Volksblad) redakteur was, of – behoede dit – Hennie van Deventer, sy opvolger?

Du Preez sê hy het “kapsie gemaak” By wie? As Beukes druk op hom geplaas het of, onwaarskynlik soos dit klink, Van Deventer, verreweg die groentjie-redakteur in daardie stadium, het die veronregte verslaggewer dadelik sy eie redakteur oor dié intimidasie ingelig? Veronderstel sy eie redakteur het sulke verregaande opdragte gegee. Het hy hom op die besturende direkteur, adv. D.P. de Villiers, of die direksie beroep?

Huidige senior joernaliste by Media24 – onder wie Tim du Plessis, hoof van Afrikaanse koerante, Peet Kruger, redakteur van Beeld, en Francois Lötter, ‘n adjunk-redakteur van Die Burger, was ook politieke joernaliste in die “ou” bedeling. Was hierdie kollegas onder dieselfde dwingelandy? Sal een as stawende getuie na vore kom dat van hom verwag is om “feite te verdraai” ?

Reguit vrae verdien pertinente antwoorde. Voorheen het Du Preez verkies om met venynige ontwyking te reageer as dinge vir hom ongemaklik raak. Dit sou my min verbaas as hy weer siedend gaan instorm en links en regs klappe uitdeel. Hy kan my egter kwalik slegter sê as wat hy reeds gedoen het.

Ek gee hoegenaamd nie te kenne ons generasie is bo kritiek verhewe nie. Ons het klaarblyklik in vername opsigte gefouteer. Kritiseer ons dus na hartelus. Wat werklik in die hart sal wond, is immers nie verdere algemene veroordeling nie; slegs as Du Preez sy klagstaat met feite kan bewys: as ons ontbloot sou staan dat ons inderdaad politieke joernaliste opdrag gegee het om te lieg (want dit is tog wat “feite verdraai” wesenlik beteken). Hy moet asseblief ruiterlik die skuldiges se name noem.

Skriftelike riglyne het in my tyd by Die Volksblad (1980 – 1992) bestaan waarin beklemtoon is dat die waarheid in alle omstandighede heilig is. Dit staan nou nog swart op wit. Die koerant is, op ons versoek, deur ‘n professor in die Christelike etiek hieroor getoets. Hy het ons ‘n skoon “oudit” gegee. Ek glo sonder voorbehoud ‘n verbintenis tot die waarheid was oral by al ons koerante die kernbeginsel van ons joernalistieke etiek.

Du Preez het nou die geleentheid om my en my kollegas finaal te ontmasker oor hoe ons dan, soos hy dit in daardie onderhoud stel, oor hierdie beginsel ons “eie reëls gebuig” het. (HvD)

“SKOOLGELD”

More uit Melkbos

Op hierdie einste blogplek is ek onlangs, wanneer. nogal kwalik geneem oor my onvriendelike opmerkings oor die Hof van Kleineise (‘n “hof met melktandjies”) en my gebrek aan motivering om met ‘n aksie voort te gaan uit vrees vir onnodige beslommernis en ekstra koste.

Toegegee, nie alles wat ek kwytgeraak het weerspieel uitermate kundigheid oor die funksionering van daardie eerwaarde liggaam en sy regspreking vir sogenaamd die gewone man nie. In die proses het ek heelwat geleer, en ek dank medebloggers vir hul geduld met die ou man en hul vriendelike advies.

My lugtigheid en bedenkinge was egter nie volledig uit die lug gegryp nie. Na die pynlike ervaring van Melkbosse vriende met ‘n ” klein eisie” is ek hoegenaamd nie meer onseker oor wat my te doen staan nie. Ek bly ver weg!

Die vriend se Venterwaentjie is van agter flenters gestamp in Blouberg. Telkens as dit by die betaalslag kom, trek die skuldige egter kleinkoppie.

Toe’s dit Hof vir Kleineise toe. Maar o wee, die eerste keer beland almal voor dooiemansdeur. Vername amptenare van die hof skitter in hul afwesigheid. Vir my sou dit beteken het dat ek, soos kiepie, twee vrugtelose reise van Melkbos na George onderneem.

Die derde keer is almal op hul plek. Die hamer val. Doef. Die hof kom in sitting.

Gelukkige einde? Moenie glo nie.

Waar’s die deskundige getuie wat oor die Ventertjie se agterligte kan getuig, wil die voorsittende beampte streng weet.

Maar hier’s dan drie skriftelike kwotasies vir die stukkende ligte, protesteer die klaer.

Aikona, dis onvoldoende en gebrekkig. Hier moet iemand wees vir wie vrae gestel kan word. Daarmee basta.

Daar stap die verweerder – wat boonop sonder rybewys was – toe skotvry by die deur uit. Die arme slagoffer byt op sy tande en gaan huis toe. Geen ander uitweg nie: hy sal maar self moet opdok.

So laat hierdie duusman hom nie moerak nie. Ek skryf maar my skade af as “skoolgeld” – blerrie duur “skoolgeld” . (HvD)

SEWE DAE BY DIE VAN D’S

Middag uit Melkbos

Sewe dae by die Van Ds is nie van dieselfde opspraakwekkende aard as “Sewe Dae by die Silbersteins” nie. Twyfel of selfs die ryke verbeelding van Etienne Leroux die valer alternatief prikkelend vir ‘n leser sou kon maak.

Een resultaat wat “ons sewe” dae wel het, is dat dit op die die uwe se badkamerskaal wys. Sedert HvD op ‘n gewigtige 117 kilogram die sewe-dae-siklus begin volg het (met een lang en verskeie korter onderbrekings), kom die digitale syfertjies op die skerm agter die glasvenstertjie soggens nou op só plus-minus 97 kilogram te staan. Bygesê al my klere, absoluut alles, lê dan in die gangetjie voor die badkamer gesaai, ek het klaar my oggend-draaie geloop en selfs my bril is van my oë af.

Buiten dat ek nou baadjies kan vasknoop wat ek lank nie sou waag om aan te trek nie, het ander newe-bonusse ook uit die ligter massa gevloei. ‘n Dreigende heup-vervanging is vir eers van die baan en ek het ‘n slaapmasker vrygespring. Die simptome van die slaap-apnee wat gediagnoseer is, verg nie meer kunsmatige asemhalingshulp nie, soos voorheen al gemeld. Kortom, ek snork nie naatenby soos eers nie!

Omdat ek nie in die besigheid is om diëte te bemark nie – diëte en bemarkers is volop genoeg! – gaan ek nie ‘n stap-vir-stap- of, eerder, ‘n dag-vir-dag-uiteensetting van die sewe-dae-program hier gee nie, buiten om te verklap dat ‘n bepaalde soort sop (met ‘n streng voorgeskrewe resep) ‘n basiese element is. Die sop vloei sewe dae in liters! Die dieet is inderdaad, kan ‘n mens maar sê, ‘n “sopstorie”.

Die ou Superman, wyle Christopher Reeves, het sy vrou (Emma, meen ek) die kompliment gegee dat sy ‘n hoender gaarmaak “that it is an honour to the chicken”. Vir Tokkie ditto t.o.v. hierdie wondersop (wat toevallig ook fyn hoender daarin het). Party mense kla hulle kry dit nie in hul lyf nie. Nadat my vrou klaar daarmee getoor het, sal ek daardie sop (a la Tokkie) waaragtig in ‘n restaurant bestel!

Verder eet jy hope groente (een dag minstens ses tamaties) en genoeg vars vrugte (een dag minstens drie piesangs). Op dag vyf eet jy biefstuk amper na hartelus, en een aand kry jy ‘n groot aartappel as beloning. Jy ly nie honger nie.

In daardie sewe dae is alkohol egter ‘n absolute nee-nee – nie eens ‘n kelkie wyn vir die pyn nie!

Ná sewe dae moet jy eers weer “normaal” eet, maar pas op: ”normaal eet” en “ooreet” is nie stalmaats nie. Gister op my eerste dag ná ‘n sewe-dae-siklus het ek dalk ietwat na laasgenoemde oorgehel. Die impak op die syfer agter die skaal se venstertjie is onmiddellik.

Dus: sewe dae, hier kom ek weer.

Laaste gedagte: “my” dieet kom oorspronklik uit Londen. Dit het in die Krugerwildtuin in Skukuza gaan draai: in ‘n stadium ook in die pastorie in Tsessebelaan. Nou-ja. ‘n dieet uit ‘n pastorie – met die nodige seënwense en só – behoort darem seker nie sleg vir ‘n mens te wees nie! (HvD)