TREK OP JOU SOKKIE(S)!

More uit Melkbos

Kragwoorde rol oor Pedro Kruger se lippe in die openingstoneel van die opvoering “Lyf” (as ek die naam reg onthou) terwyl hy spook om met die een of ander langsteel-klou sy sokkie aan sy voet te kry.

Dit is ‘n toneeltjie by die KKNK wat my al jare bybly – ook omdat my neef van die Rand, nie ongewoon aan sterk taal nie, uitermate geskok was oor sulke vloekery op die verhoog.

Eers toe ek hier skuins voor 70 nie meer sonder hulp my regtersokkie kon aankry nie, het ek besef watter frustrasie só ‘n belemmering vir ‘n mens kan wees.

Kruger het in daardie opvoering die rol gespeel van ‘n man wat in ‘n gestremde lyf vasgekeer is, en brand om uit te breek. In my eie geval het my arms bloot “te kort” geraak. Heupverwering en vrot gewigsbeheer het saamgespan om my vir daardie simpel takie van my vrou afhanklik te raak.

Dis maar ‘n komplikasie as huweliksharmonie by geleentheid ietwat versteur is, maar die sokkie moet aan. Dan steek jy jou trots vinnig in jou sak, boeta, en jy roep dringend uit die slaapkamer om hulp.

Op ‘n dag enkele weke gelede kom dit so dat ek vir middagete iewers moet heen terwyl Tokkie afwesig is. In daardie stadium het ek darem al ‘n paar kilo’s afgegooi gehad op my pad na ‘n skraler HvD, en ek neem toe maar vasbeslote stelling in op die bank in die slaapkamer om my eie potjie te probeer krap as’ t ware. Wat anders?

Dit knor maar ek byt vas. Ná ‘n minuut of wat se gespook is die sokkie aan, bra skewerig maar darem. En onthou nou, ek het nie só ‘n knyper-affêring tot my beskikking soos die een waarmee die Pedro-karakter sy ding op die verhoog gedoen het nie.

Tokkie vra nie uit nie en ek rapporteer niks, maar ek wag opgewonde op die eerste beste geleentheid om my onafhanklikheid weer aan ‘n toets te onderwerp. Dit breek die volgende oggend aan. Terwyl my vrou in die kombuis ons “tierpap” (Jungle-hawermout) saamslaan, takel ek die sokkie. Ruk ‘n bietjie, pluk ‘n bietjie, buig die rug, knak die knie – en … woeps … my voet is bedek. (Baie soos die kontorsies van ‘n kameelperd wat sak om water te drink, dag ek stilletjies by myself.)

Tokkie kom loer in vir haar roetine-joppie, en toe sy my só klaar ge-sokkie aantref, is sy die ene lof oor dié prestasie. Heuglike oomblik!

Sedertdien gaan dit al hoe makliker. Ek het amper al vergeet van die sukkelfase, en hoe lank dit geduur het. Maar ek staal my om ‘n terugstorting te vermy. Want om jou eie sokkie te kan aantrek, is ‘n stukkie lewensvreugde waarvan jy nie die waarde kan snap voordat jy dit verloor het nie.

In bepaalde gevalle is herstel ongelukkig nie haalbaar nie – al eet (en drink) jy hoe gedissplineerd. Dit spreek vanself. Maar as herwinning van die vermoë enigsins haalbaar is, gaan voluit daarvoor, is my aanbeveling van harte. Trek jou sokkies op, mater, dis die moeite werd! (HvD)

LIGTE MISTYKIES

Middag uit Melkbos

“Ekskuus, hoor, ek het ‘n ligte mistykie gemaak.” Dit is woorde wat ‘n mens nie dikwels hoor nie. Nie omdat foute nie volop is nie; eerder omdat mense traag is om vir hul foute pa te staan.

Vanoggend oor die radio het ‘n dr. Potgieter oor dié onderwerp gepraat. Ek het net skrams iets van die gesprek gehoor, en weet dus nie watter koers dit ingeslaan nie. Wat wel vasgesteek het, is die een of ander verbysterende syfer wat hy genoem het van resultate op Google as jy “docter’s mistakes” intik – iets soos nege miljoen.

Ek het self die oefeninkie gedoen – dis nader aan tien miljoen!

’n Kollega het enkele maande gelede in ‘n koerantbrief dokters in Bloemfontein gekasty oor ‘n reeks verstommende foutiewe diagnoses terwyl die kanker meedoënloos aan sy vrou vreet. Een, ‘n spesialis, het selfs teenoor ‘n kollega opgemerk dat sy dalk ‘n soort kanker-fobie sou hê. ‘n Mens trek jou ha..a..are uit jou kop, soos my Tant Minnie altyd gesê het.

‘n Ander kollega het vasgebyt en ‘n span dokters hof toe gevat oor ‘n mislukte operasie met rampspoedige gevolge vir sy seun. Die skuldiges se sakke voel dit. Ek skryf hierdie stukkie egter nie om dokters by te kom nie. Almal begaan foute en op elke terrein van die lewe word die bal gereeld gruwelik laat val.

Dr. Potgieter het afgeskop met die grappie dat dokters se foute begrawe word; advokate s’n word opgehang (in die goeie ou dae van die doodstraf), argitekte plant bome voor hulle s’n en onderwysers stuur hulle s’n politiek toe!

Koerantmense het in my tyd ‘n weergawe bygevoeg: hul eie foute word op die voorblaaie gepubliseer vir almal om te lees.

Ja, ongelukkig kom ek uit ‘n dissipline waar die pot kwalik die ketel kan verwyt. Dit moet ek erken. Ek erken ewe geredelik dat verskonings soos tydsdruk, verwarrende inligting uit onbetroubare bronne en selfs die drukkersduiwel se rol soms ietwat opportunisties oordryf word om puur en simpel vrot werk te wil verdoesel.

Dus: dokters, advokate en prokureurs, argitekte, onderwysers en wie nog, wees gerus dat hierdie ou uit nederigheid en bittere eie ervaring oor mistastinge saampraat. Trouens, twee boeke met veelseggende titels het in die jare 90 oor joernalistieke blapse uit my pen verskyn: Scoops en skandes en Flaters en kraters. Verskeie boeke kan nog oor skandes en kraters gepleeg word. Stof is legio.

Oor een verwyt wat koerante gereeld kry, het ek wel ‘n ietsie op die hart. Dit is dat hulle onwillig sou wees om hul foute te erken. Ja, hulle plaas iets groot op die voorblad. As hulle oortuig kan word dat hulle die kat aan die stert beet gehad het (wat onwaarskynlik is!), plaas hulle teensinnig ‘n onopvallende regstellinkie op bladsy twee, hoor jy dikwels.

‘n Lang dissertasie hieroor is nie op my agenda nie. Moet dus niks verwag oor al die wakende ombudsmanne, of selfs oor al die valse beskuldigings dat mense verkeerd aangehaal sou gewees het, terwyl die waarheid is dat die klipgooiers eintlik in glashuise woon nie; dat dit dikwels hulle is wat uit onbeholpenheid of ander redes hul voet in ‘n ding gesit het.

Nee, kom ons los maar daardie klas verwere vir ‘n ander debat op ‘n ander dag. Eintlik kry ek skielik vanoggend n.a.v. dr. Potgieter se bydrae die begeerte om slegs een opmerkinkie in hierdie verband op my blog te sit. Dit is dat juis koerante se erkenning van hul foute en bereidheid om dit reg te stel, in sekere gevalle selfs met ‘n ekskuus daarby, na my oordeel hulle nogal positief onderskei van annerlike dese en gene wat om die dood nie ooit sal erken dat hulle gegly het nie.

Jy kry inderdaad sulke soort snare wat nooit wankel in hul onwrikbare geloof in hul eie volmaaktheid nie. Ek wil waag om te sê dat hulle in bepaalde groepe meer algemeen voorkom as in ander, maar ek is nie lus vir baklei nie. Daarom sal ek my nie laat uitlok om enige beroepsgroep by name te noem nie. Nie eens politici nie. (HvD)

PAD NA “AFRIKA”

More uit Melkbos

Suid-Afrikaners is só bederf met die ryke oes aan natuurwonders in ons mooi land dat party daarvan totaal onderskat word.

Een onderskatte wonder is die sogenaamde Kaart van Afrika, naby Wildernis. Ek wonder hoeveel mense stop daar. My eie inklinasie was om verby te ry, Toe laat sak ek, tog nuuskierig, die Honda se voorruit om ‘n vrywillige gids, Helene, te vra hoe ver ‘n mens moet stap.

Haar antwoord het verras: “Jy sien dit sommer van hier af.” Sy het met haar regterarm na ‘n houtrelinkie gewys. Ek klim uit, eers sonder kamera. Dadelik roep ek vir Tokkie om ook te kom kyk … en “bring sommer my kamera, asseblief”.

Twee riviere, die Kaaimans en die Silwer, het in die vallei voor jou die replika van die Afrikakaart uitgekerf, al die kontoere … wel, amper al die kontoere, en die boggel op die koop toe.

Die Amerikaners, meesters in bemarking soos hulle is, sal jou ver laat ry om na so iets te gaan kyk, met groot kennisgewingborde vol beskrywings in flambojante hiperbole wat jou lok. En jy sal nie agterna voel jy’s geflous nie.

Ons is dalk te beskeie, of eenvoudig vrot bemarkers.

Maar gaan kyk self. As jy van Wildernis af ry, soos die uwe, draai jy by die hotel links, rigting George. Die grondpad klim en kronkel deur Wildernishoogte todat jy die bord “Kaart van Afrika” kry. Dan draai jy links in Remskoenlaan.

Ongelukkig is op die hoek ‘n onaantreklike plakkers-kolonie, maar sluit maar daarvoor jou oë. Net enkele kilometers se ry bring jou by die stilhouplek. Boonop sien jy Wildernis en sy kuslyn van bo af buitengewoon skouspelagtig doer ver onder. Hou net dop vir die plaasnaam “Forever wild” en vertoef by daardie naambord ‘n paar oomblikke om die beste hoek vir jou foto te kry.

Helene en ‘n vriendin “doen diens” by die “Kaart van Afrika”. Hulle versorg liefdevol ‘n tuintjie wat hulle daar gemaak het, en hou die plek sindelik, ‘n taak wat ná naweke veral avontuurlik kan raak. Onderkleertjies word glo meermale daar uitgeskop … “forever wild”!

Na links sien jy die N2-verkeer in die Kaaimansrivierpas en voor jou, in die verte, die Outeniekwaberge, waar juis die Silwerrivier ontspring. Ook na link is is ‘n groot woonstelblok, maar, lig Helene in, geeneen van die woonstelle van R3.5m elk is nog verkoop nie. Erge verspoelings kom gereeld daarlangs voor, en die versekeringsmense wil nie byt nie, dankie. Boonop is daar ‘n onopgeloste dispuut oor ‘n deel van die grond.

Remskoen loop dood. Jy ry op jou spore terug “grootpad” (Whitesweg) toe. As jy steeds links hou, sluit die pad aan by die ou George-Knysnapad deur geil bosse, welig begroei met varings. Jy steek ook twee keer die Silwerrivier oor stewig gemesselde brûe oor. Jy ry, net buite George, verby die Saasveld-kampus van die Nelson Mandela-universiteit (voorheen die bosboukollege) wat uit eie reg ‘n besoek werd is. Die Amerikaners sou ‘n manier gevind het om dit onweerstaanbaar te laat klink!

Jy kan ook by ‘n T regs draai Knysna toe met die “pad van die sewe passe”. Dit wil ek ‘n volgende keer doen.

Ons sal net moet roer, mense. Tyd is nie aan ons kant nie. ‘n Stuk van die ou pad is baie erg verspoel, en vir hierdie leek lyk daardie skade ongelukkig onherstelbaar, tensy jou geld jou brand. (HvD)

Naskrif: As jy van George se kant kom, draai op pad uit na Knysna links Saasveld-kampus toe, later regs na Wildernishoogte en weer regs in Remskoen.

VEERTIG JAAR LATER

More uit Melkbos

Wat alles gaan deur ‘n ma se gedagtes as haar oudste kind die dag 40 word?

Op die hooffoto klink Tokkie en Johan ‘n glasie by sy 40ste op Woensdag 14 September op George waar hy, Mariza en Migael nou woon en waar hy ‘n karwas bedryf.

Die kleiner foto’tjie is van sy tuiskoms by Kmdt. Senekelastraat 33, Bloemfontein, rondom 20 September 1971.

In ‘n vorige blog het ek dit sy “eerste tuiskoms” genoem, nadat hy op ses maande terug is hospitaal toe met diabetes mellitus. Eers drie maande later, in die winter van 1972, was sy “tweede tuiskoms”. Toe kon hy al loop.

Op 7 April 2012 sal Johan 40 jaar op insulien wees – ‘n feit wat medici nogal verras. (HvD)

KRAKE IN DIE BOKSPAN?

Naand uit Melkbos

Bespeur ek krake in die Bokspan?

Ek gee my nie uit as rugbykenner nie, maar ek is lief vir die spel. Ek is van jongs af langs die veld of voor die radio of, soos deesdae. voor die TV.

Toe Basil Kenyon se Bokke (wat in die praktyk Hennie Muller se Bokke geword het) in 1951 teen die London Counties verloor het (11-9), het ek as penkop-skoolseun in Durban trane gestort. Vanoggend, 60 jaar later, was ek as gryskop-pensioentrekker op Melkbos na aan trane.

Ek gee my ook nie uit as kenner van lyftaal nie, maar ‘n leeftyd in die joernalistiek het my sensitief gemaak vir klein dingetjies wat iets groters verraai.

Francois Hougaard se onderhoud na die wedstryd het vir die uwe alte veel geklink of dit ‘n spanninkie of wat in die span laat deurskemer. Hy stel dit taamlik uitdagend dat die sogenaamde impakspelers inderdaad kom impak maak het toe hulle op die veld kom. Hy noem Bismarck op ‘n manier wat sy kaptein, John Smit, se ore dalk kon laat tuit het.

Jaque Fourie was duidelik krapperig en gefrustreerd. Sy bytende “ons kan nie sonder die bal speel nie,” is, wat my betref, ‘n klaarblyklike verwyt aan die adres van sy voorspelers wat sonder Bakkies sigbaar vuur kortgekom het.

John Smit kom klaarblyklik ook in daardie opsig in die spervuur.

En natuurlik Peter de Villiers, afrigter, wat die skuld vierkant op sy skouers moet dra as spanlede begin mor en opstandig raak omdat hy teen alle verstandigheid in met ‘n kaptein volhard wat nie die beste speler in sy posisie of die besielendste leier op die veld is nie. (Nie dat ek dink Victor Matfield is juis ‘n “God’s gift” as kaptein nie.)

Ons sal seker wen teen Fidji en so aan, maar dit gaan sukkel teen die groot honde as nie vinnig iets gebeur nie. Moenie in die roes van ‘n eenpunt-oorwinning miskyk hoe onoortuigend (en soms amper verward) die Bokke was nie. Dan sal die ontnugtering des te groter wees.

“Karakter gewys” is eintlik maar ‘n aweregse kompliment. “Gewys dat hulle kampioene is,” sou vir my groter betekenis gehad het.

Ek is nie anti-Peter de Villiers of anti-John Smit nie. Maar Peter sal sy slimmigheid moet sluk en die beste span kies. John Smit sal vir alle praktiese doeleindes die nie-spelende kaptein moet word. Hy praat mooi in Afrikaans en Engels en dra ‘n goeie beeld van Suid-Afrikaanse rugby uit – in sy Springbokbaadjie of silwergrys Armanipak, maar, jammer om dit so brutaal te stel, waaragtig nie in die hartjie van die enjinkamer nie.

Ek is ook nie anti-Habana nie. Hy was skitterend toe hy op sy beste was. Hy is ongelukkig nie meer goed genoeg nie. JP Pietersen was bra tentatief. En Morne Steyn? Hy skop suiwer, maar sal sy sokkies moet optrek. Daardie swak verdediging in die “losskakel-kanaal” is sorgwekkend, en sy onvermoe om die bal ver uit te skop wanneer dit werklik saak maak, kan ons nog duur te staan kom.

Fourie du Preez moet ook sokkies optrek. Hy was selde in sy loopbaan so onseker van homself. En Pierre Spies het vanoggend verdwyn.

Jammer as dit alles ‘n bietjie negatief klink terwyl die bier vloei oor ‘n Bok-sege, maar dis hoe hierdie ou in alle eerlikheid sake sien. (HvD)

WOORD WAT RYM MET BLOG

More uit Melkbos

In die broodblik is ‘n volgraanbroodjie met lae GI (Engels: Glycemic Index); in die drankkabinet darem nog ‘n driekwart bottel J&B (Justerini & Brooks-whiskey) vir ‘n doppie by die rugby en ‘n flertsie OBS (Old Brown Sherry) vir ‘n soetigheidjie voor die Sondagmaal.

Tokkie lees geboeid aan ‘n boek deur Jodi Piccoult waarin uitvoerig vertel hoe ‘n mooi meisie in ‘n sekssaak DNS-toetse (te ingewikkeld om te begin verduidelik) uitvoer. In vanoggend se koerant lees ek van FAS (Fetale Alkoholsindroom – nie verwant aan PMS (Pre-menstruele Spanning) soos ek aanvanklik in my onkunde gedink het nie. Op die sakeblaaie lees ek van SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging).

Die kinders leer nou op skool L.O., wat deesdae die afkorting vir Lewensoriëntering is. In ons dae was L.O. plein Liggaamsopvoeding.

Vriende is pas oor vir vir ‘n vakansie in die VSA (Verenigde State). Hulle sou eers in JFK (die internasionale lughawe J.F. Kennedy) by New York land voordat hulle na L.A. (Los Angeles) aan die verre weskus vlieg.

Vir die Bokke draf J.P. Pietersen op vleuel uit in die Wêreldbeker-eindtoernooi. Die Bokke se krieket-eweknieë, die Proteas, sluit die linkskolwer J.P. Duminy in. Op die politieke toneel word F.W. de Klerk in ‘n nuwe doktorale verhandeling ongunstig met sy voorganger, P.W. Botha, vergelyk.

Selfs sekere woorde, veral taboewoorde, word aan hul “voorletters”/afkortings geken. Die berugte k-woord het Darren Scott pas laat hop – hoef seker nie my nek uit te steek en die betekenis hier neer te pen nie. Dan is daar die goeie ou f-woord – daardie een wat rym met stok, rok en blog. Om goeie redes wat nie nou hier ter sake is nie, dink ek deesdae heelwat aan die f-woord.

Een van die eerbiedwaardigste mense wat ek geken het, was Wynand Mouton, rektor van Kovsies, voorsitter van die SAUK en aftakelaar van SA se kernarsenaal. Ek het hom een keer (net een keer) die f-woord hoor gebruik. In die voorportaal van die Burgersentrum op Oudtshoorn het ek hom raakgeloop toe ons by die KKNK (KKNK, ja) albei net mooi genoeg gehad het van ‘n Clarabelle van Niekerk-konsert (Akkedis, akkedis, jy is wat jy is!). Die f-woord het gevlieg in die verhoogtaal daardie aand.

In die gees van die konsert deel prof. Wynand toe mee: “Hier f.k ek weg!” In die gees van die konsert antwoord ek: “Ja-nee, wat te f…en erg is, is te f….n erg!”

Ek dink die laaste paar dae aan die f-woord in ‘n ander verband. Kom ons se maar: om spesifiek opborrelende negatiewe gevoelens (frustrasie, irritasie, gebelgdheid) te betuig. Ek brand om vir sekere mense toe te voeg (toe te snou): Ag, f.k julle!”

Wat my weerhou, is dat dit darem nie as beskaafd geag word nie. Ordentlike mense praat nie so lelik nie, hoewel ek pas verneem het van ‘n kleinkind van ‘n pastoriepaar wat f.k as een van sy eerste woordjies ge-uiter het. Het dit glo by Ouma (‘n vurige dame met rooi hare) geleer. Dit kom dus van geslag tot geslag in die beste families voor.

Dan herinner iemand my hulpvaardig dat my Tukkie-tydgenoot Johan Combrink, in lewe ‘n beroemde Afrikaans-professor op Maties en voorsitter van die Taalkommissie van die S.A. Akademie, ‘n geleerde akademiese dissertasie* oor die veelsydigheid van daardie woord geskryf het.

Ek het die pyprokende professor se insiggewende stuk weer noukeurig gaan lees. Daarna was ek finaal oortuig dat ek, in die heersende omstandighede, maar “Ag, fok julle” hardop mag sê. Toe sê ek dit. Ek herhaal dit ‘n tweede keer só hard dat Tokkie uit die kombuis vra: “Wat is dit?”

* Vir diegene wat nie daarmee vertroud is nie, bied ek hier as toegif Johan Combrink se (feitlik) volledige pennevrug oor “Die unieke Afrikaanse ’fok’” aan. Ek doen dit uit akademiese oorwegings. Onthou net: ouerbeheer (PG – Parental Guidance) word aanbeveel. Hy skryf:

Een van die interessantste, kleurvolste woorde in Afrikaans, is die leenwoord fok en sy familie. Dis ‘n towerwoord wat, bloot deur sy klank, vreugde of pyn, liefde of haat, ontdekking of frustrasie kan weergee.

Fok is een van die min woorde wat die funksie van byna alle woordsoorte kan vervul.
Dit word as oorganklike werkwoord gebruik (Fok die hele spul), en as onoorganklike werkwoord (Ag fok), as bevel (Fok dit!), in die bedrywende vorm (Dit het my gefok), sowel as die lydende vorm (Nou is jy heeltemal gefok), as die hoofelement in ‘n hele reeks skeibare werkwoorde (aanfok,opfok, uitfok, toefok, voortfok, byfok, agteroorfok, agternafok), ens of as stam van ‘n werkwoord (Nou het jy die hele ding befok).

As abstrakte selfstandige naamwoord (Ek gee nie ‘n fok om nie), of as persoonsnaam (Het jy gesien wat die fokker probeer doen?), as nabepaling by ‘n vraagwoord (Hoe de fok, wie de fok, hoekom de fok, wanneer de fok,ens.), as byvoeglike naamwoord (Waar moet ek die fokken tyd vandaankry?), as bywoord (Dis nou ‘n fokken mooi grap), en as uitroep (O fok!).

Selfs ook as invoegsel (Onge-fokken-looflik). Dit kan ook in homself ingevoeg word (Nou is jy be-fokken-fok). Hierdie Afrikaanse woord kan gebruik word om wyd uiteenlopende situasies te beskryf:
•Verrassing: Hoe de fok gaan dit met jou?
•Bedrog: Die motorhawe het my befok.
•Ontsteltenis: Ag fokkit!
•Moeilikheid: Nou is ek in my moer in gefok.
•Aggressie: Fok jou!
•Meer Aggressie: Ek gaan jou opfok!
•Moedeloosheid: Hoe de fok moet ek dit regkry?
•Walging: Fok my!
•Wanbegrip: Ek fokken verstaan nie.
•Inkompetensie: Hy fok alles op.
•Gesag: Wat de fok dink jy doen jy?
•Verdwaal: Nou weet ek nie ‘n fok waar ek is nie.
•Oortuiging: Onge-fokken-twyfeld.
Dit kan horlosietyd beskryf (Presies half-fokken-vyf), of omstandighede (Hoe het ek in hierdie fokken job beland?), of persone (Jan Fokken Smuts), of dinge (Kyk hoe lyk jou fokken skoene!), of plekke (Tot in fokken Durban ), of dit kan die siel van ‘n uitnodiging wees wat van hartlikheid drup (Fok u!).

Fok is in Afrikaans onge-fokken-ewenaard!

Tot so ver, Johan Combrink. Van HvD se kant: “Dankie, Johan – hierna voel ek sommer minder fokken-beswaard! (HvD) ”